Wees op julle hoede vir afvalliges!
Glanspunte uit die brief van Judas
JEHOVAH se knegte moet “verafsku wat sleg is” en ‘die goeie aanhang’ (Romeine 12:9). Die Bybelskrywer Judas het ander gehelp om dit te doen in sy brief wat hy in ongeveer 65 G.J. uit Palestina aan hulle gestuur het.
Judas noem homself “’n dienskneg van Jesus Christus en broer van Jakobus”. Hierdie Jakobus was klaarblyklik die welbekende halfbroer van Jesus Christus (Markus 6:3; Handelinge 15:13-21; Galasiërs 1:19). Judas was dus ook ’n halfbroer van Jesus. Maar hy het moontlik gedink dat dit onvanpas sou wees om melding te maak van hierdie vleeslike verwantskap, aangesien Christus toe reeds ’n verheerlikte geespersoon in die hemel was. Die raad in Judas se brief is baie reguit, en dit kan ons help om ‘die goeie aan te hang’ en op ons hoede te wees vir afvalliges.
‘Stry kragtig vir die geloof’
Hoewel Judas oor die gemeenskaplike redding van Christene wou skryf, het hy die noodsaaklikheid gevoel om sy lesers te vermaan om “kragtig te stry vir die geloof” (Verse 1-4). Waarom? Omdat goddelose mense in die gemeente ingesluip het en ‘die onverdiende goedheid van onse God verander het in ’n verontskuldiging vir losbandige gedrag’ (NW). Hulle was onder die wanbegrip dat hulle God se wette kon verbreek en nog onder sy volk kon bly. Laat ons nooit swig voor sulke goddelose redenasie nie, maar laat ons altyd die geregtigheid najaag, dankbaar dat God deur die bloed van Jesus ons genadiglik van ons sondes gereinig het.—1 Korinthiërs 6:9-11; 1 Johannes 1:7.
Waarskuwende voorbeelde wat voor ons gestel word
Dit is noodsaaklik om teen sekere gesindhede, gedrag en mense te waak (Verse 5-16). Van die Israeliete wat uit Egipte verlos is, is vernietig omdat hulle geen geloof gehad het nie. Engele wat hulle eie oorspronklike posisie verlaat het, is “vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die [geestelike] duisternis bewaar”. Gruwelike onsedelikheid het “die straf van die ewige vuur” oor Sodom en Gomorra gebring. Laat ons God derhalwe altyd behaag en nooit “die pad van die lewe” verlaat nie.—Psalm 16:11.
In teenstelling met die aartsengel Migael, wat nie eers ’n oordeel van lasterlike woorde teen die Duiwel wou uitspreek nie, het hierdie goddelose mense “heerlikes” (NW) gelaster, klaarblyklik diegene aan wie God en Christus ’n sekere mate van heerlikheid verleen het as gesalfde ouere manne. Laat ons nooit minagting vir godgegewe gesag aan die dag lê nie!
Hierdie goddelose mense het die slegte voorbeeld van Kain, Bileam en Korag gevolg. Hulle het ’n geestelike gevaar ingehou, net soos verborge rotse onder die water, en was soos waterlose wolke en dooie, ontwortelde bome wat niks goeds voortbring nie. Hierdie afvalliges was ook murmureerders, klaers en ‘bewonderaars van persoonlikhede ter wille van hulle eie voordeel’ (NW).
Hou aan om weerstand te bied
Daarna gee Judas raad oor hoe om slegte invloede te weerstaan (Verse 17-25). In “die laaste tyd” sal daar spotters wees, en ware Christene moet hulle en hulle gespot vandag verduur. Om hierdie slegte invloede te weerstaan, moet ons ons in ons “allerheiligste geloof” opbou, met heilige gees bid en ons in die liefde van God bewaar in afwagting van die barmhartigheid wat Jesus aan ons gaan betoon.
Hierdie goddelose mense het klaarblyklik as valse leraars opgetree en in sommige Christene twyfel gesaai. (Vergelyk 2 Petrus 2:1-3.) En wat het twyfelaars nodig? Wel, geestelike hulp sodat hulle uit die “vuur”, die ewige vernietiging, geruk kan word! (Mattheüs 18:8, 9). Maar die godvrugtiges hoef nie daardie bestemming te vrees nie, want Jehovah sal hulle bewaar teen “struikeling” in sonde en die vernietiging wat op die afvalliges wag.
[Venster op bladsy 31]
Verborge rotse: Judas het sy mede-Christene gewaarsku teen ‘verborge rotse onder die water op hulle liefdemaaltye’ (Judas 12, NW). Hierdie afvalliges wat liefde vir die gelowiges geveins het, was soos skerp rotse onder die water wat skepe kan laat strand of swemmers kan verskeur en dood. Liefdemaaltye was moontlik feesmaaltye waarheen Christene wat materieel welvarend was behoeftige medegelowiges genooi het. Die Kerkvader Chrysostomus (347?–407 G.J.) het gesê: “Hulle het almal by ’n gemeenskaplike fees byeengekom: die rykes het die voedsel gebring, en die behoeftiges en diegene wat niks gehad het nie, is genooi en hulle het almal saam feesgevier.” Wat die aard van die vroeë liefdemaaltye ook al was, Judas se waarskuwing het die getroues gehelp om op hulle hoede te wees vir afvallige ‘verborge rotse’ wat hulle geestelike dood kon veroorsaak. Hoewel Christene nie beveel is om liefdemaaltye te gee nie, en hulle dit vandag nie doen nie, help Jehovah se volk mekaar materieel in tye van nood en geniet hulle aangename omgang met mekaar.