Jehovah luister na ons dringende hulpgeroep
HULP was dringend nodig. Dit was duidelik omdat die skinker van die koning baie bedroef was. Toe die skinker gevra is wat skort, het hy gesê dat hy hartseer is oor die verwoeste toestand van Jerusalem en sy mure. Toe is die vraag geopper: ‘Wat is jou begeerte?’ “Ek het tot die God van die hemel gebid”, het die skinker Nehemia later geskryf. Dit was ’n vinnige, stil, dringende hulpgeroep tot Jehovah. En die gevolg? Wel, die Persiese koning Artasasta het Nehemia onmiddellik die reg gegee om Jerusalem se mure te herbou!—Nehemia 2:1-6.
Ja, God luister na die dringende smeekbede van diegene wat hom liefhet (Psalm 65:3). As ’n beproewing dus groter lyk as wat jy kan dra, kan jy bid soos die psalmis Dawid in Psalm 70 toe hy goddelike hulp dringend nodig gehad het. Die opskrif van hierdie psalm toon dat die doel daarvan is “om in herinnering te bring” (NW). Dit herhaal Psalm 40:14-18 met geringe veranderinge. Maar hoe kan die 70ste Psalm ons as Jehovah se volk help?
’n Smeekbede om onmiddellik verlos te word
Dawid begin met die smeekbede: “o God, maak tog gou om my te red, o HERE, om my te help” (Psalm 70:2). Wanneer ons in nood verkeer, kan ons bid dat God ons te hulp snel. Jehovah versoek ons nie met bose dinge nie, en hy “weet om mense van godvrugtige toegewydheid uit versoeking te verlos” (2 Petrus 2:9, NW; Jakobus 1:13, NW). Maar sê nou hy laat toe dat ’n versoeking voortduur, miskien om ons iets te leer? Dan kan ons hom om wysheid vra om dit die hoof te bied. As ons in die geloof bid, gee hy ons wysheid (Jakobus 1:5-8). God gee ons ook die nodige krag om ons versoekings te verdra. Hy ondersteun ons byvoorbeeld ‘op die siekbed’.—Psalm 41:2-4; Hebreërs 10:36.
Ons inherente sondige neigings, asook voortdurende blootstelling aan versoeking en die Duiwel se pogings om ons verhouding met Jehovah te vernietig, moet ons beweeg om elke dag God se hulp te vra (Psalm 51:3-7; Romeine 5:12; 12:12). Die woorde van Jesus se modelgebed is betekenisvol: “Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” (Mattheüs 6:13). Ja, ons kan God vra om nie toe te laat dat ons swig wanneer ons versoek word om aan hom ongehoorsaam te wees nie en dat Hy Satan, “die Bose”, verhoed om die oorhand op ons te kry. Maar laat ons bede om verlossing gepaard gaan met stappe om situasies te vermy wat ons onnodig aan versoeking en Satan se strikke sal blootstel.—2 Korinthiërs 2:11, NAV.
Diegene wat sê: “Ha!”
Ons kan erg beproef word omdat vyande ons as gevolg van ons geloof smaad. As dit met jou sou gebeur, moet jy oor Dawid se woorde nadink: “Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en rooi van skaamte word; laat hulle wat behae het in my ongeluk, agteruitwyk en in die skande kom. Laat hulle wat sê: Ha, ha! teruggaan vanweë hul beskaming” (Psalm 70:3, 4). Dawid se vyande wou sien dat hy sterf; hulle het ‘sy lewe gesoek’. Pleks van weerwraak te probeer neem, het hy egter geglo dat God hulle beskaamd sou maak. Dawid het gebid dat sy vyande ‘beskaamd moet staan en rooi van skaamte moet word’—verleë, verbysterd, verbouereerd, gefrustreerd wanneer hulle hul bose planne probeer uitvoer. Ja, laat diegene verwar word wat hom skade wil berokken en behae in sy ongeluk het, en laat dit hulle tot oneer strek.
As ons leedvermaak, oftewel boosaardige vreugde, ervaar wanneer ons vyand deur teenspoed getref word, sal ons teenoor Jehovah verantwoording moet doen vir ons sonde (Spreuke 17:5; 24:17, 18). Maar wanneer vyande God en sy volk smaad, kan ons bid dat Jehovah ter wille van sy heilige naam ‘hulle agteruit laat wyk en in skande laat kom’ voor die mense wie se eer hulle soek (Psalm 106:8). Die wraak kom God toe, en hy kan sy vyande en ons s’n fnuik en verneder (Deuteronomium 32:35). Die Nazi-leier Adolf Hitler het byvoorbeeld probeer om Jehovah se Getuies in Duitsland uit te wis. Hoe hopeloos het hy tog gefaal, want derduisende van hulle verkondig nou die Koninkryksboodskap aldaar!
Ons vyande kan minagtend spot en sê: “Ha, ha!” Aangesien hulle God en sy volk bespot, moet daardie sondaars “teruggaan vanweë hul beskaming” en oneer ly. Laat ons, terwyl dit ons bede is, ons onkreukbaarheid handhaaf en Jehovah se hart verbly sodat hy Satan en enigiemand anders wat Hom smaad, kan antwoord gee (Spreuke 27:11). En ons moet nooit ons hoogmoedige vyande vrees nie, want “hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word” (Spreuke 29:25). Die trotse Babiloniese koning Nebukadnesar, wat God se volk gevange geneem het, het oneer gely en moes erken dat ‘die Koning van die hemel dié wat in hulle trotsheid wandel, kan verneder’.—Daniël 4:37.
“Groot is God!”
Hoewel vyande vir ons moeilikheid kan veroorsaak, moet ons Jehovah altyd saam met ons mede-aanbidders loof. Pleks van toe te laat dat hy so deur benoudheid oorweldig word dat hy God nie verheerlik nie, het Dawid gesê: “Laat in U vrolik en bly wees almal wat U soek; en laat die liefhebbers van u heil altyddeur sê: Groot is God!” (Psalm 70:5). Jehovah se volk hou aan om baie vreugdevol te wees omdat hulle in hom “vrolik en bly” is. As sy toegewyde, gedoopte Getuies het hulle die groot vreugde wat uit ’n intieme verhouding met hom spruit (Psalm 25:14, NW). Hulle kan nietemin beskou word as nederige soekers na God. Omdat hulle gelowiges is wat God se gebooie hou, soek hulle voortdurend meer kennis van hom en sy Woord.—Prediker 3:11; 12:13, 14; Jesaja 54:13.
Wanneer Jehovah se Getuies die goeie nuus verkondig, sê hulle in werklikheid voortdurend: “Groot is God!” Hulle prys Jehovah en het die grootste agting vir hom. Hulle help waarheidsoekers met vreugde om van God te leer en om hom ook te verheerlik. In teenstelling met wêreldse liefhebbers van genot is Jehovah se volk ‘liefhebbers van sy heil’ (2 Timotheüs 3:1-5). Aangesien hulle bewus is van hulle inherente sondige neigings is hulle innig dankbaar vir Jehovah God se liefdevolle voorsiening van redding tot die ewige lewe, wat moontlik gemaak is deur die soenoffer van sy geliefde Seun, Jesus Christus (Johannes 3:16; Romeine 5:8; 1 Johannes 2:1, 2, NW). Verheerlik jy God en toon jy dat jy ‘’n liefhebber van sy heil’ is deur ware aanbidding tot lof van hom te beoefen?—Johannes 4:23, 24.
Vertrou die Redder
Toe Dawid hom in hierdie psalm uitgespreek het, het hy so wanhopig gevoel dat hy gesê het: “Maar ek is ellendig en behoeftig: o God, kom tog gou na my! U is my hulp en my redder; HERE, vertoef tog nie!” (Psalm 70:6). Aangesien ons geteister word deur die beproewinge wat oor gelowiges kom—beproewinge soos vervolging, versoekings en aanvalle deur Satan—lyk ons “behoeftig”. Hoewel ons nie verlate is nie, lyk ons weerloos teen gewetenlose vyande. Maar ons kan die vertroue hê dat Jehovah ons as sy getroue knegte kan en sal red.—Psalm 9:17-20, NW.
Jehovah is die “redder” wanneer ons dit nodig het. Ons eie tekortkominge het ons dalk in ’n situasie laat beland waar ons beproef word. Maar as ‘ons sotheid ons weg bederwe het’, moet ons nie ons hart ‘vertoorn op die HERE’ laat word nie (Spreuke 19:3). Hy kan nie geblameer word nie, en hy is bereid om ons te help as ons in geloof tot hom bid (Psalm 37:5). Maar sê nou ons worstel om sonde te vermy? Dan moet ons spesifiek hieroor in ons gebede wees en goddelike hulp vra sodat ons voortgaan om ’n weg van geregtigheid te volg (Mattheüs 5:6; Romeine 7:21-26). God sal ons opregte gebede verhoor, en ons sal geestelik vooruitgaan as ons ons aan die leiding van sy heilige gees onderwerp.—Psalm 51:19; Efesiërs 4:30.
Wanneer ons worstel met ’n toets van ons geloof, dink ons dalk dat ons dit nie langer kan verdra nie. Aangesien ons sondige vlees swak is, smag dit dalk na ’n spoedige verlossing (Markus 14:38). Ons kan dus smeek: “HERE, vertoef tog nie.” Ons kan, veral as ons besorg is oor die smaad op God se naam, beweeg word om soos die profeet Daniël te bid: “Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor . . . u volk uitgeroep” (Daniël 9:19). Ons kan vertrou dat ons hemelse Vader nie te laat sal wees nie, want die apostel Paulus het hierdie versekering gegee: “Laat ons . . . met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”—Hebreërs 4:16.
Moet nooit vergeet dat Jehovah die redder is nie. As sy knegte sal dit ons help om dít en die ander smeekgedagtes van Psalm 70 te onthou. Soms sal ons dalk herhaaldelik moet bid oor ’n saak waaroor ons diep besorg is (1 Thessalonicense 5:17). Dit lyk dalk of daar geen oplossing vir ’n sekere probleem is nie, geen manier om uit ons dilemma te kom nie. Maar ons liefdevolle hemelse Vader sal ons versterk en sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. Daarom moet ons nooit moeg word om met opregte gebede voor die troon van die Ewige Koning te kom nie (1 Korinthiërs 10:13; Filippense 4:6, 7, 13, NAV; Openbaring 15:3, NW). Bid in geloof en vertrou volkome op hom, want Jehovah luister na ons dringende hulpgeroep.