Jaag altyd liefderyke goedhartigheid na
“Hy wat geregtigheid en liefderyke goedhartigheid najaag, sal die lewe, regverdigheid en heerlikheid vind.”—SPREUKE 21:21, NW.
1. Waarom moet ons verwag dat diegene wat deur God se gees gelei word goedhartigheid aan die dag lê?
JEHOVAH is goedhartig en medelydend. Hy is ’n “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid [“liefderyke goedhartigheid”, NW] en trou” (Exodus 34:6, 7). Dit is dus verstaanbaar dat die vrug van sy heilige gees liefde en goedhartigheid insluit.—Galasiërs 5:22, 23, NW.
2. Watter voorbeelde gaan ons nou bespreek?
2 Diegene wat deur Jehovah se heilige gees, of werkende krag, gelei word, lê goedhartigheid, een van sy vrugte, aan die dag. Hulle betoon liefderyke goedhartigheid in hulle verhoudings met ander. Ja, hulle volg die apostel Paulus se voorbeeld en beveel hulle “deur goedhartigheid” en op ander maniere as God se bedienaars aan (2 Korinthiërs 6:3-10, NW). Hulle goedhartige, medelydende gees van vergewensgesindheid is in ooreenstemming met Jehovah se persoonlikheid, wat “groot van liefderyke goedhartigheid” is en in wie se Woord baie voorbeelde van goedhartigheid genoem word (Psalm 86:15, NW; Efesiërs 4:32). Wat kan ons uit party van hierdie voorbeelde leer?
Goedhartigheid maak ons onselfsugtig en gasvry
3. Hoe was Abraham voorbeeldig in die betoning van goedhartigheid, en watter aanmoediging gee Paulus in hierdie verband?
3 Die aartsvader Abraham (Abram)—“’n vriend van God” en “die vader . . . van almal wat glo”—het ’n goeie voorbeeld gestel in die betoning van goedhartigheid (Jakobus 2:23; Romeine 4:11). Hy en sy familie, onder andere sy neef Lot, het die Chaldese stad Ur verlaat en op God se bevel na Kanaän getrek. Al was Abraham ouer as Lot en die hoof van die familie, was hy goedhartig en onselfsugtig deur Lot die beste weilande te laat neem, en hy het maar geneem wat oorgebly het (Genesis 13:5-18). Sulke goedhartigheid kan maak dat ons toelaat dat ander ten koste van ons bevoordeel word. Sulke onselfsugtige goedhartigheid is in ooreenstemming met die apostel Paulus se raad: “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ’n ander.” Paulus self ‘het almal in alles behaag en nie sy eie voordeel gesoek nie, maar dié van baie, sodat hulle gered kan word’.—1 Korinthiërs 10:24, 33.
4. Hoe is Abraham en Sara beloon omdat hulle goedhartigheid in die vorm van gasvryheid aan die dag gelê het?
4 Soms neem goedhartigheid die vorm van hartlike gasvryheid aan. Abraham en sy vrou, Sara, was goedhartig en gasvry teenoor drie vreemdelinge wat een dag daar verbygekom het. Abraham het by hulle aangedring om ’n rukkie te vertoef terwyl hy en Sara gou vir hulle ’n goeie ete berei het. Daardie vreemdelinge was Jehovah se engele, en een van hulle het die belofte oorgedra dat die bejaarde en kinderlose Sara ’n seun sou hê (Genesis 18:1-15). Wat ’n beloning was dit tog vir goedhartige gasvryheid!
5. Hoe het Gajus goedhartigheid aan die dag gelê, en hoe kan ons iets soortgelyks doen?
5 Een manier waarop alle Christene goedhartigheid kan betoon, is om gasvry te wees (Romeine 12:13; 1 Timotheüs 3:1, 2). Knegte van Jehovah betoon gevolglik goedhartige gasvryheid teenoor reisende opsieners. Dit herinner ons aan die goedhartigheid wat die eerste-eeuse Christen Gajus aan die dag gelê het. Hy het ‘getrou gehandel’ deur besoekende broers gasvry te ontvang—en hulle was “vreemdelinge” wat hy nie voorheen geken het nie (3 Johannes 5-8). Ons ken gewoonlik diegene teenoor wie ons goedhartige gasvryheid kan betoon. Ons sien miskien dat ’n geestelike suster terneergedruk is. Haar eggenoot is dalk ’n ongelowige of selfs iemand wat uitgesit is. Wat ’n geleentheid is dit tog om goedhartigheid aan die dag te lê deur haar af en toe te nooi om geestelike omgang en ’n ete saam met ons gesin te geniet! Ons sit miskien nie ’n feesmaal voor nie, maar ons gesin sal beslis vreugde daaruit put as ons goedhartigheid teenoor so ’n suster betoon. (Vergelyk Spreuke 15:17.) En sy sal haar dank ongetwyfeld òf mondelings òf deur ’n vriendelike dankiebriefie oordra.
6. Hoe het Lidia goedhartigheid aan die dag gelê, en waarom is dit belangrik om waardering vir goedhartige dade te betoon?
6 Ná die vroom vrou Lidia gedoop is, “het sy by [hulle] aangedring en gesê: As u [Paulus en sy metgeselle] oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing”, het Lukas gesê. Lidia se goedhartigheid is ongetwyfeld op prys gestel (Handelinge 16:14, 15, 40). Maar as ’n mens nalaat om waardering te betoon, kan dit ander baie seermaak. Eenkeer het ’n 80-jarige suster wat beperkte krag en middele het goedhartig ’n ete vir ’n paar gaste berei. Sy was veral teleurgesteld toe een jong man haar nie eers laat weet het dat hy nie kan kom nie. By ’n ander geleentheid het twee susters ’n ete gemis wat ’n jong vrou spesiaal vir hulle berei het. “Ek was verpletter”, het sy gesê, “want nie een van hulle het daarvan vergeet nie. . . . Ek sou verkies het om te hoor dat hulle vergeet het van die ete, maar pleks daarvan was nie een van die twee susters goedhartig of liefdevol genoeg om my te bel nie.” Sou die heilige gees se vrug van goedhartigheid jou beweeg om in soortgelyke omstandighede waardering te betoon en bedagsaam te wees?
Goedhartigheid maak ons bedagsaam
7. Watter punt met betrekking tot goedhartigheid word toegelig deur die moeite wat gedoen is om Jakob se wense ten opsigte van sy begrafnis te vervul?
7 Goedhartigheid behoort te maak dat ons bedagsaam teenoor ander is en hulle regmatige wense respekteer. Ter toeligting: Jakob (Israel) het sy seun Josef gevra om liefderyke goedhartigheid teenoor hom te bewys deur hom nie in Egipte te begrawe nie. Al het dit beteken dat Jakob se liggaam baie ver vervoer moes word, het Josef en Jakob se ander seuns “hom weggebring na die land Kanaän en hom begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpela, die stuk grond wat Abraham as eiendomsgraf gekoop het van Efron, die Hetiet, oos van Mamre” (Genesis 47:29; 49:29-31; 50:12, 13). Behoort liefderyke goedhartigheid ons nie, na aanleiding van daardie voorbeeld, te beweeg om skriftuurlik aanvaarbare begrafnisreëlings namens ’n Christelike familielid na te kom nie?
8. Wat leer die geval van Ragab ons oor die vergoeding vir goedhartigheid?
8 Behoort ons nie waardering uit te spreek wanneer ander liefderyke goedhartigheid teenoor ons betoon, of op die een of ander manier ’n wederdiens te bewys nie? Ons moet beslis. Ragab die hoer het goedhartigheid aan die dag gelê deur die Israelitiese verkenners weg te steek. Gevolglik het die Israeliete liefderyke goedhartigheid aan haar bewys deur haar en haar huisgesin te spaar toe hulle die stad Jerigo vernietig het (Josua 2:1-21; 6:20-23). Wat ’n goeie voorbeeld van hoe ons goedhartigheid wat teenoor ons bewys is, moet vergoed deur self bedagsaam en goedhartig te wees!
9. Waarom sou jy sê dat dit gepas is om te vra dat iemand liefderyke goedhartigheid teenoor ons betoon?
9 Trouens, dit is gepas om iemand te vra om liefderyke goedhartigheid teenoor ons te betoon. Jonatan, ’n seun van Israel se eerste koning, Saul, het dit gedoen. Jonatan het sy geliefde jonger vriend Dawid gevra om liefderyke goedhartigheid teenoor hom en sy huisgesin te betoon (1 Samuel 20:14, 15; 2 Samuel 9:3-7). Dawid het dit onthou toe hy die Gibeoniete gewreek het wat deur Saul veronreg is. Dawid het “die eed by die HERE” tussen hom en Jonatan onthou en het liefderyke goedhartigheid betoon deur die lewe van Jonatan se seun Mefiboset te spaar (2 Samuel 21:7, 8). Laat ons eweneens ook ‘ons ja ja wees’? (Jakobus 5:12). En as ons gemeentelike ouere manne is, is ons ook medelydend wanneer liefderyke goedhartigheid aan medegelowiges betoon moet word?
Goedhartigheid verstewig bande
10. Hoe is Rut se liefderyke goedhartigheid geseën?
10 Liefderyke goedhartigheid verstewig gesinsbande en bevorder geluk. Dit is in die geval van die Moabitiese vrou Rut getoon. Sy het in die bejaarde Boas se landerye naby Betlehem are opgetel om voedsel te voorsien vir haar en haar behoeftige skoonmoeder, die weduwee Naomi (Rut 2:14-18). Boas het later vir Rut gesê: “Jy het jou liefderyke goedhartigheid in die laaste geval nog beter tot uitdrukking gebring as in die eerste geval, deur nie agter die jong manne, hetsy gering of ryk, aan te loop nie” (Rut 3:10, NW). Rut het ten eerste liefderyke goedhartigheid aan Naomi betoon. “In die laaste geval” het die Moabitiese vrou liefderyke goedhartigheid getoon deur gewillig met die bejaarde Boas te trou sodat sy ’n nageslag kon verwek vir haar gestorwe man en die bejaarde Naomi. Deur Boas het Rut die moeder van Dawid se oupa Obed geword. En God het haar die ‘volkome loon’ gegee deurdat sy ’n voorouer van Jesus Christus geword het (Rut 2:12; 4:13-17; Mattheüs 1:3-6, 16; Lukas 3:23, 31-33). Tot watter seëninge het Rut se liefderyke goedhartigheid tog vir haar en haar familie gelei! Vandag kan seëninge, geluk en ’n verstewiging van gesinsbande ook daaruit voortvloei wanneer liefderyke goedhartigheid in godvrugtige huise heers.
11. Watter uitwerking het Filemon se goedhartigheid gehad?
11 Goedhartigheid verstewig bande in gemeentes van Jehovah se volk. Die Christen Filemon was bekend daarvoor dat hy liefderyke goedhartigheid aan medegelowiges betoon het. Paulus het vir hom gesê: “Ek dank God altyd wanneer ek aan jou in my gebede dink, omdat ek van jou liefde en geloof hoor, wat jy met betrekking tot die Here Jesus en al die heiliges het . . . Ons het groot blydskap en troos oor jou liefde, omdat deur jou, broeder, die harte van die heiliges verkwik is” (Filemon 4-7). Die Skrif sê nie hoe die harte van die heiliges deur Filemon verkwik is nie. Maar hy het liefderyke goedhartigheid op verskeie maniere aan medegesalfdes betoon en hulle sodoende verkwik, en dit het ongetwyfeld die bande tussen hulle verstewig. Soortgelyke dinge vind plaas wanneer Christene vandag liefderyke goedhartigheid aan die dag lê.
12. Wat was die resultaat van die goedhartigheid wat deur Onesiforus aan die dag gelê is?
12 Die goedhartigheid van Onesiforus het ook ’n goeie uitwerking gehad. “Mag die Here aan die huis van Onesiforus barmhartigheid bewys”, het Paulus gesê, “want hy het my dikwels verkwik en hom oor my kettings nie geskaam nie; maar toe hy in Rome gekom het, het hy my baie ywerig gesoek en gevind. Mag die Here hom skenk dat hy barmhartigheid mag verkry van die Here in dié dag! En jy weet baie goed hoeveel dienste hy in Efese bewys het” (2 Timotheüs 1:16-18). As ons ons inspan om liefderyke goedhartigheid teenoor mede-aanbidders te betoon, sal ons gelukkig wees en sal ons die bande van broederliefde in die Christengemeente verstewig.
13, 14. In watter opsig was die gemeente in Filippi voorbeeldig, en hoe het Paulus op hulle goedhartigheid gereageer?
13 Wanneer ’n hele gemeente liefderyke goedhartigheid teenoor mede-aanbidders betoon, verstewig dit die band tussen hulle. So ’n hegte band het tussen Paulus en die gemeente in die stad Filippi bestaan. Trouens, een rede waarom hy sy brief aan die Filippense geskryf het, was om hulle te bedank vir hulle goedhartigheid en materiële hulp. Hy het geskryf: “In die begin van die evangelie, toe ek van Macedonië vertrek het, [het] geen gemeente deel gehad . . . in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. Want ook in Thessalonika het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. . . . Ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafroditus ontvang het wat deur julle gestuur is, ’n lieflike geur, ’n welgevallige offer, welgehaaglik by God.”—Filippense 4:15-18.
14 Dit is geen wonder dat die goedhartige Filippense in Paulus se gebede was nie! Hy het gesê: “Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink—en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap—oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe” (Filippense 1:3-5). Sulke goedhartige en vrygewige ondersteuning van die werk om die Koninkryk te verkondig verarm nooit ’n gemeente nie. Ná die Filippense goedhartig in hierdie opsig gedoen het wat hulle kon, het Paulus hulle verseker: “En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus” (Filippense 4:19). Ja, God vergoed goedhartigheid en vrygewigheid. Sy Woord sê: “Julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang.”—Efesiërs 6:8.
Wanneer vroue goedhartigheid betoon
15, 16. (a) Hoe is Dorkas vergoed vir haar goedhartigheid, en wat het gebeur toe sy gesterf het? (b) Hoe is goedhartige Christinne vandag oorvloedig in goeie werke?
15 Die liefderyke goedhartigheid van die dissipel Dorkas (Tabita) van Joppe het nie sonder beloning verbygegaan nie. “Sy was oorvloedig in goeie werke en aalmoese”, en toe sy “siek geword en gesterwe” het, het die dissipels Petrus uit Lidda laat roep. Toe hy daar aankom, “bring hulle hom in die bovertrek; en al die weduwees kom by hom staan en ween en wys hom die onder- en bo-klere wat Dorkas alles gemaak het toe sy nog by hulle was.” Stel jou die toneel voor: Hartseer, wenende weduwees het die apostel vertel hoe goedhartig Dorkas was en het hom daardie klere gewys as bewys van haar liefde en goedhartigheid. Petrus het almal weggestuur en het in gebed gekniel en na die lyk gedraai. Luister! Hy het gesê: “Tabita, staan op!” En kyk! “Sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle” (Handelinge 9:36-41). Wat ’n seëning van God!
16 Dit was die eerste verslag van iemand wat deur ’n apostel van Jesus Christus opgewek is. En die omstandighede wat tot hierdie besondere wonderwerk gelei het, het uit goedhartigheid voortgespruit. Wie weet of Dorkas opgewek sou geword het as sy nie oorvloedig was in goeie werke en aalmoese nie—as sy nie oorgeloop het van liefderyke goedhartigheid nie? Nie alleen is Dorkas en daardie weduwees geseën nie, maar die wonderwerk van haar opstanding het ook ’n getuienis vir God se heerlikheid voorsien. Ja, “dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo” (Handelinge 9:42). Vandag is goedhartige Christinne ook oorvloedig in goeie werke—hulle maak dalk klere vir medegelowiges, kook etes vir die bejaardes onder ons en betoon gasvryheid teenoor ander (1 Timotheüs 5:9, 10). Wat ’n getuienis is dit tog vir buitestaanders! Hoe gelukkig maak dit ons bowendien dat godvrugtige toegewydheid en liefderyke goedhartigheid hierdie ‘groot skare vroue beweeg om die goeie tyding te bring’ tot eer van ons God, Jehovah.—Psalm 68:12.
Hou aan om liefderyke goedhartigheid na te jaag
17. Wat sê Spreuke 21:21, en hoe is hierdie woorde op godvresende persone van toepassing?
17 Almal wat God se guns wil hê, moet liefderyke goedhartigheid najaag. “Hy wat geregtigheid en liefderyke goedhartigheid najaag, sal die lewe, regverdigheid en heerlikheid vind”, is die woorde van ’n wyse spreuk (Spreuke 21:21, NW). ’n Godvresende persoon jaag God se geregtigheid ywerig na en word altyd deur goddelike standaarde gerig (Mattheüs 6:33). Hy betoon voortdurend lojale liefde, of liefderyke goedhartigheid, in materiële en veral geestelike opsigte teenoor ander. Gevolglik vind hy geregtigheid, want Jehovah se gees help hom om regverdig te lewe. Trouens, ‘geregtigheid is sy kleed’ soos dit vir die godvresende man Job was (Job 29:14). So iemand soek nie sy eie heerlikheid nie (Spreuke 25:27, NAV). Hy kry eerder watter eer Jehovah ook al toelaat dat hy ontvang, moontlik in die vorm van die respek van sy medemens wat deur God beweeg word om goedhartig teenoor hom op te tree weens sy liefderyke goedhartigheid teenoor hulle. Daarbenewens sal diegene wat lojaal God se wil doen die lewe verkry—nie net vir ’n paar kortstondige jare nie, maar vir ewig.
18. Waarom moet ons liefderyke goedhartigheid najaag?
18 Laat almal wat Jehovah God liefhet gevolglik aanhou om liefderyke goedhartigheid na te jaag. Hierdie eienskap maak ons vir God en ander mense aantreklik. Dit bevorder gasvryheid en maak ons bedagsaam. Goedhartigheid verstewig bande in die gesin en in die Christengemeente. Vroue wat liefderyke goedhartigheid aan die dag lê, word op prys gestel en hooggeag. En almal wat hierdie voortreflike eienskap najaag, bring eer op die God van liefderyke goedhartigheid, Jehovah.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Hoe was Abraham voorbeeldig in die betoning van goedhartigheid?
◻ Wat toon Ragab se geval ons oor die vergoeding vir goedhartigheid?
◻ Hoe het die gemeente in Filippi goedhartigheid aan die dag gelê?
◻ Hoe kan goedhartige Christinne vandag oorvloedig wees in goeie werke?
◻ Waarom moet ons goedhartigheid najaag?