Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 10/1 bl. 8-13
  • Vertrou op Jehovah se reddende arm

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertrou op Jehovah se reddende arm
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se reddende arm in aksie
  • Hulp in die gemeente
  • Hulp tydens versoeking
  • Hulp in persoonlike sake
  • Uit alle benoudhede
  • Hoe om menslike swakheid te oorwin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • 1 Korintiërs 10:13 – “God is getrou”
    Verduidelikings van Bybelverse
  • Hoe om versoeking te weerstaan
    Ontwaak!—2014
  • “Sodat julle nie in versoeking kom nie”
    Hou aan waak!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 10/1 bl. 8-13

Vertrou op Jehovah se reddende arm

“O Jehovah . . . word elke môre ons arm, ja, ons redding in die tyd van benoudheid.”—JESAJA 33:2, NW.

1. In watter sin het Jehovah ’n magtige arm?

JEHOVAH het ’n magtige arm. ‘God is ’n Gees’ en daarom is sy arm natuurlik nie vleeslik nie (Johannes 4:24). In die Bybel verteenwoordig die figuurlike arm die vermoë om krag uit te oefen. God verlos sy volk dus deur sy arm. Ja, ‘soos ’n herder laat God sy kudde wei. Hy vergader sy lammers in sy arm en dra hulle aan sy bors’ (Jesaja 40:11; Psalm 23:1-4). Hoe veilig voel Jehovah se volk tog in sy liefdevolle arm!—Vergelyk Deuteronomium 3:24, NW.

2. Watter vrae kan ons met vrug oorweeg?

2 Hoe het Jehovah se arm sy volk, van die hede sowel as die verlede, gered? Watter hulp voorsien God aan hulle as ’n gemeente? En waarom kan sy volk in al hulle benoudhede op sy reddende arm vertrou?

God se reddende arm in aksie

3. Waaraan skryf die Skrif Israel se verlossing uit Egipte toe?

3 Voordat God die Israeliete 3 500 jaar gelede uit Egiptiese slawerny verlos het, het hy vir sy profeet Moses gesê: “Sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ’n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte” (Exodus 6:5). Volgens die apostel Paulus het God die Israeliete “met ’n hoë arm” uit Egipte gebring (Handelinge 13:17). Korag se seuns het die verowering van die Beloofde Land aan God toegeskryf en gesê: “Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U ’n welbehae in hulle gehad het.”—Psalm 44:4.

4. Hoe is vertroue in Jehovah se reddende arm tydens ’n Assiriese aanval beloon?

4 Jehovah se arm het sy volk ook tydens ’n Assiriese aanval te hulp gekom. By daardie geleentheid het die profeet Jesaja gebid: “O Jehovah, betoon ons guns. Op u het ons gehoop. Word elke môre ons arm, ja, ons redding in die tyd van benoudheid” (Jesaja 33:2, NW). Daardie gebed is verhoor toe God se engel 185 000 man in die Assiriese laer om die lewe gebring het, wat koning Sanherib “met ’n beskaamde aangesig” van Jerusalem af laat wegtrek het (2 Kronieke 32:21; Jesaja 37:33-37). Vertroue op Jehovah se reddende arm word altyd beloon.

5. Wat het God se magtige arm aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog vir vervolgde Christene gedoen?

5 Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog het God se magtige arm gesalfde Christene gered wat vervolg is. In 1918 het hulle vyande op die Bestuursliggaam se hoofkwartier toegesak en is bekende broers in die gevangenis gewerp. Omdat hulle die wêreldse magte gevrees het, het die gesalfdes hulle getuieniswerk feitlik heeltemal gestaak. Maar hulle het gebid dat dit sou herlewe en dat hulle van die sonde van onbedrywigheid en die onreinheid van vrees gereinig sou word. God het hulle verhoor deur sake só te rig dat die gevange broers vrygelaat is, en kort daarna is hulle vrygespreek. As gevolg van waarhede wat in 1919 by hulle byeenkoms uitgebring is sowel as die uitgieting van God se aktiverende gees is die gesalfdes verlewendig vir onverskrokke diens aan Jehovah as ’n finale vervulling van Joël 2:28-32.—Openbaring 11:7-12.

Hulp in die gemeente

6. Hoe weet ons dat dit moontlik is om ’n beproewende situasie in ’n gemeente te verduur?

6 Net soos God sy organisasie as ’n geheel ondersteun, onderskraag sy arm ook individuele lede daarvan. Geen gemeente geniet natuurlik volmaakte omstandighede nie, omdat alle mense onvolmaak is (Romeine 5:12). Daarom sal party van Jehovah se knegte van tyd tot tyd ’n beproewende situasie in ’n gemeente ondervind. Byvoorbeeld, hoewel Gajus ‘getrou gehandel’ het deur besoekende broers gasvry te ontvang, het Diotrefes hulle nie ontvang nie en wou hy selfs die gasvry broers uit die gemeente sit (3 Johannes 5, 9, 10). Nogtans het Jehovah Gajus en andere gehelp om ter ondersteuning van die Koninkrykspredikingswerk gasvryheid te bly toon. Biddende vertroue op God behoort ons te help om te volhard in getroue werke, terwyl ons op hom wag om ’n situasie reg te stel wat ons geloof kan beproef.

7. Ondanks watter omstandighede in die Korinthiese gemeente het lojale Christene hulle toewyding aan God nageleef?

7 Veronderstel jy was ’n lid van die eerste-eeuse gemeente in Korinthe. Op een tydstip is die eenheid van die gemeente deur partyskappe bedreig en is sy gees deur die toelating van onsedelikheid in gevaar gestel (1 Korinthiërs 1:10, 11; 5:1-5). Gelowiges het mekaar voor wêreldse howe gedaag en party het oor verskillende sake rusie gemaak (1 Korinthiërs 6:1-8; 8:1-13). Twis, jaloesie, toornigheid en wanorde het die lewe moeilik gemaak. Party het selfs Paulus se gesag in twyfel getrek en sy bekwaamheid as spreker verkleineer (2 Korinthiërs 10:10). Maar getroue broers in daardie gemeente het nietemin gedurende daardie moeilike tydperk hulle toewyding aan God nageleef.

8, 9. Wat moet ons doen wanneer ons voor ’n beproewende situasie in ’n gemeente te staan kom?

8 As ’n moeilike situasie opduik, moet ons getrou bly aan God se volk. (Vergelyk Johannes 6:66-69.) Laat ons geduldig met mekaar wees in die besef dat dit party mense langer as ander neem om “die nuwe persoonlikheid” aan te kweek en hulle te beklee met medelye, goedhartigheid, ootmoedigheid van gees, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Aangesien God se knegte ook verskillende agtergronde het, moet ons almal liefde toon en vergewensgesind wees.—Kolossense 3:10-14, NW.

9 Na baie jare se diens aan Jehovah het een broer gesê: “As daar een ding is wat nog altyd vir my van die grootste belang was, dan is dit om na aan Jehovah se sigbare organisasie te bly. Ek het reeds vroeg geleer hoe misleidend dit is om op menslike redenasie te vertrou. Toe ek dít eers besef het, het ek my voorgeneem om altyd by die getroue organisasie te bly. Hoe anders kan ’n mens Jehovah se guns en seën verkry?” Koester jy insgelyks jou voorreg om Jehovah saam met sy vreugdevolle volk te dien? (Psalm 100:2). As dit die geval is, sal jy nie toelaat dat enigiets jou God se organisasie die rug laat toekeer of dat enigiets jou verhouding verbreek met die Een wie se arm almal red wat hom liefhet nie.

Hulp tydens versoeking

10. (a) Hoe help gebed God se volk om versoeking die hoof te bied? (b) Watter versekering het Paulus in 1 Korinthiërs 10:13 gegee?

10 As getroue lede van God se organisasie ontvang ons sy hulp in tye van beproewing. Hy help ons byvoorbeeld om ons onkreukbaarheid teenoor hom te handhaaf wanneer ons voor versoeking te staan kom. Ons moet natuurlik in ooreenstemming met Jesus se woorde bid: “Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose”, Satan die Duiwel (Mattheüs 6:9-13). Sodoende vra ons God in werklikheid om nie toe te laat dat ons swig wanneer ons in versoeking kom om ongehoorsaam aan hom te wees nie. Hy verhoor ook ons gebede waarin ons wysheid vra om beproewinge te bowe te kan kom (Jakobus 1:5-8). En Jehovah se knegte kan seker wees van sy hulp, want Paulus het gesê: “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13). Wat is die bron van sulke versoeking, en hoe gee God die uitkoms?

11, 12. Voor watter versoekings het die Israeliete geswig, en hoe kan ons by hulle ondervindings baat vind?

11 Versoeking ontstaan uit omstandighede wat daartoe kan lei dat ons ontrou aan God is. Paulus het gesê: “Hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos [die Israeliete] begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie-en-twintigduisend geval. En laat ons [Jehovah] nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom.”—1 Korinthiërs 10:6-10, vgl. NW.

12 Die Israeliete het slegte dinge begeer toe hulle voor die versoeking geswig het om op hebsugtige wyse kwartels, wat wonderdadig deur God voorsien is, te versamel en te eet (Numeri 11:19, 20, 31-35). By ’n vorige geleentheid het hulle afgodedienaars geword toe Moses se afwesigheid die versoeking laat ontstaan het om aan kalfaanbidding deel te neem (Exodus 32:1-6). Duisende het omgekom omdat hulle voor die versoeking geswig en met Moabitiese vroue hoerery gepleeg het (Numeri 25:1-9). Toe die Israeliete voor die versoeking geswig en gemurmureer het oor die verdelging van die opstandige Korag, Datan, Abiram en hulle metgeselle het 14 700 van hulle deur ’n plaag omgekom wat God gestuur het (Numeri 16:41-49). Ons kan baat vind by ondervindings soos hierdie as ons besef dat nie een van hierdie versoekings só groot was dat die Israeliete dit nie kon weerstaan het nie. Hulle kon dit gedoen het as hulle geloof beoefen het, dankbaar vir God se liefdevolle sorg was en die regtheid van sy Wet waardeer het. Dan sou Jehovah se arm hulle kon red, net soos dit ons kan red.

13, 14. Hoe gee Jehovah die uitkoms wanneer sy knegte voor versoeking te staan kom?

13 As Christene kom ons voor dieselfde versoekings as alle ander mense te staan. Ons kan nietemin aan God getrou bly deur sy hulp in gebed te vra en stappe te doen om versoeking te weerstaan. God is getrou, en hy sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. As ons lojaal is aan Jehovah sal dit nooit vir ons onmoontlik wees om sy wil te doen nie. Hy gee die uitkoms deur ons te versterk sodat ons versoeking kan weerstaan. Wanneer ons byvoorbeeld vervolg word, kan die versoeking ontstaan om ’n kompromis aan te gaan in die hoop dat ons marteling of die dood sal vryspring. Maar as ons op Jehovah se magtige arm vertrou, bereik die versoeking nooit die punt waar Hy nie ons geloof kan versterk en ons genoeg krag kan gee om ons onkreukbaarheid te handhaaf nie. Dit is soos die apostel Paulus gesê het: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”—2 Korinthiërs 4:8, 9.

14 Jehovah versterk sy volk ook deur sy gees as ’n herinneraar en ’n onderrigter te gebruik. Dit herinner ons aan skriftuurlike gedagtes en help ons om te onderskei hoe hulle toegepas moet word om versoeking te kan weerstaan (Johannes 14:26). Jehovah se getroue knegte verstaan die geskille wat by ’n versoeking betrokke is en word nie mislei om ’n verkeerde koers in te slaan nie. God gee die uitkoms deur hulle in staat te stel om tot die dood te volhard sonder om voor versoeking te swig (Openbaring 2:10). Daarbenewens help Jehovah sy knegte nie net deur sy gees nie, maar gebruik hy ook sy engele ten behoewe van sy organisasie.—Hebreërs 1:14.

Hulp in persoonlike sake

15. Watter persoonlike hulp kan ons in die Hooglied van Salomo vind?

15 Lede van Jehovah se organisasie geniet sy hulp in sake van ’n persoonlike aard. Byvoorbeeld, iemand wil moontlik graag ’n Christenhuweliksmaat hê (1 Korinthiërs 7:39). As hy ’n liefdesteleurstelling ervaar, kan dit nuttig wees om na te dink oor koning Salomo van Israel. Ten spyte van al sy toenaderings het ’n jong Sulammitiese meisie geweier om met hom in die huwelik te tree omdat sy ’n nederige herder liefgehad het. Die koning se verslag van hierdie gebeurtenis kan eintlik Die lied van Salomo se gefrustreerde liefde genoem word. Ons sal heel moontlik hartseer wees as ons eie romantiese pogings in ’n bepaalde geval tevergeefs is, maar Salomo het sy teleurstelling te bowe gekom, en ons kan ook. God se gees kan ons help om selfbeheersing en ander godvrugtige eienskappe aan die dag te lê. Sy Woord help ons om die dikwels pynlike feit te aanvaar dat ’n mens nie sommer vir énigiemand romantiese liefde kan hê nie (Hooglied 2:7; 3:5). Die Hooglied van Salomo toon nietemin dat dit wel moontlik is om ’n medegelowige te vind wat ons innig liefhet. Nog belangriker is die feit dat hierdie “hoog verhewe lied” vervul word in die liefde van die Goeie Herder, Jesus Christus, vir sy “bruid” van 144 000 gesalfde volgelinge.—Hooglied 1:1, NW; Openbaring 14:1-4; 21:2, 9; Johannes 10:14.

16. Wat kan die “verdrukking . . . vir die vlees”, wat deur getroude Christene ondervind word, insluit?

16 Selfs diegene wat met ’n gelowige trou, sal “verdrukking hê vir die vlees” (1 Korinthiërs 7:28). Daar sal sorge en bekommernisse wees wat die man en vrou sowel as hulle kinders raak (1 Korinthiërs 7:32-35). Siekte kan laste en spanning veroorsaak. Vervolging of ekonomiese teenspoed kan dit moeilik maak vir ’n Christenvader om sy gesin van die nodige lewensmiddele te voorsien. Ouers en kinders kan deur gevangenskap van mekaar geskei word, en sommige kan gemartel en selfs om die lewe gebring word. Maar as ons werklik op Jehovah se reddende arm vertrou, kan ons onder al sulke moeilike omstandighede die versoeking weerstaan om die geloof te versaak.—Psalm 145:14.

17. Watter gesinsprobleem het God Isak en Rebekka help verduur?

17 Soms moet ons sekere beproewinge vir ’n lang tyd verduur. ’n Seun kan byvoorbeeld groot kwelling vir sy godvrugtige ouers veroorsaak deur met ’n ongelowige te trou. Dit het in die gesin van die patriarg Isak en sy vrou Rebekka gebeur. Hulle 40-jarige seun Esau het met twee Hetitiese vroue getrou wat “vir Isak en Rebekka ’n bitter verdriet” was. Trouens, Rebekka het vir Isak gesê: “Ek is moeg vir my lewe vanweë die dogters van Het. As Jakob [hulle ander seun] ’n vrou neem uit die dogters van Het, soos húlle is, uit die dogters van die land—waarvoor lewe ek dan?” (Genesis 26:34, 35; 27:46). Rebekka se regverdige siel is klaarblyklik deur hierdie voortdurende probleem gepynig. (Vergelyk 2 Petrus 2:7, 8.) Jehovah se arm het Isak en Rebekka nietemin ondersteun en hulle in staat gestel om hierdie beproewing te verduur terwyl hulle ’n sterk verhouding met Hom behou het.

18. Watter persoonlike beproewing het C. T. Russell met God se hulp verduur?

18 Dit bring kommer mee wanneer ’n gedoopte gesinslid al hoe minder in God se diens begin doen. (Vergelyk 2 Timotheüs 2:15.) En tog moes party, soos Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, selfs die geestelike verlies van ’n huweliksmaat verduur. Sy vrou het haar bande met die Genootskap verbreek en hom in 1897, ná ’n huwelik van bykans 18 jaar, verlaat. In 1903 het sy ’n regsgeding aanhangig gemaak, en in 1908 is ’n geregtelike skeiding toegestaan. Sy droefheid het duidelik geblyk uit een van sy briewe wat hy kort daarna aan haar geskryf het: “Ek het vurig om jou onthalwe tot die Here gebid. . . . Ek sal jou nie belas met ’n verslag van my leed, of probeer om jou simpatie te wek deur my emosies aan jou te beskryf, wanneer ek van tyd tot tyd op jou rokke en ander goed afkom wat die persoon wat jy eers was helder voor my geestesoog laat verskyn nie—so vol liefde en simpatie en hulpvaardigheid—die gees van Christus. . . . O, dink tog biddend na oor wat ek nou gaan sê. En wees daarvan verseker dat die pynlikste sy van my droefheid, die ding wat my die diepste tref, nie my eensaamheid vir die res van die lewenspad is nie, maar jou val, my liefling, jou ewige verlies, soos dit vir my lyk.” Ondanks hierdie hartseer het Russell God se ondersteuning tot aan die einde van sy aardse lewe geniet (Psalm 116:12-15). Jehovah ondersteun altyd sy getroue dienaars.

Uit alle benoudhede

19. Wat moet ons onthou as kwellende probleme voortduur?

19 Jehovah se volk ken hom as “’n God van reddingsdade”, Een wat “daagliks die vrag vir ons dra” (Psalm 68:19, 20, NW). Daarom moet ons, as toegewyde lede van sy aardse organisasie, nooit voor wanhoop swig wanneer kwellende probleme voortduur nie. Onthou, “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef” (Psalm 46:2). Ons vertroue in hom word altyd beloon. “Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord”, het Dawid gesê, “en my uit al my vrees gered. . . . Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.”—Psalm 34:5-7.

20. Watter vraag moet nog bespreek word?

20 Ja, ons hemelse Vader verlos sy volk uit alle benoudhede. Hy ondersteun sy aardse organisasie deur in gemeentelike aangeleenthede en in persoonlike sake hulp te voorsien. Dit ly geen twyfel nie, “die HERE sal sy volk nie verwerp” nie (Psalm 94:14). Maar kom ons ondersoek nou ander maniere waarop Jehovah sy volk as individue help. Hoe onderskraag ons hemelse Vader sy knegte wat siek of depressief is, wat bedroef is weens die dood van ’n geliefde of wat hulle oor hulle eie foute kwel? Soos ons sal sien, het ons goeie rede om ook in hierdie dinge op Jehovah se magtige arm te vertrou.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe het Jehovah se arm in die verlede redding gebring?

◻ Hoe help Jehovah sy volk in die hedendaagse gemeente?

◻ Watter hulp voorsien God in persoonlike sake?

◻ Wat moet ons doen as kwellende probleme voortduur?

[Prent op bladsy 8, 9]

God het die Israeliete “met ’n hoë arm” uit Egipte gebring

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel