Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 10/1 bl. 13-18
  • Maak Jehovah se ewigdurende arms jou hulp

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Maak Jehovah se ewigdurende arms jou hulp
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom so baie ontberinge?
  • Onderskraging tydens siekte
  • Vertroosting vir die depressiewes
  • Jehovah help ons om droefheid te verduur
  • Hulp wanneer ons foute begaan
  • Verlos van die benoudhede wat ons teister
  • Jehovah se barmhartigheid red ons van wanhoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Jehovah—‘Die Een wat ontkoming verskaf’ het in Bybeltye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Stel jy werklik geloof in die goeie nuus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Werp altyd jou sorge op Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 10/1 bl. 13-18

Maak Jehovah se ewigdurende arms jou hulp

“Die ewige God is jou woonplek, en daaronder is die ewigdurende arms.”—DEUTERONOMIUM 33:27, American Standard Version.

1, 2. Waarom kan Jehovah se volk verseker wees van sy hulp?

JEHOVAH sorg vir sy volk. Ja, tydens al die benoudheid van die Israeliete “was Hy benoud”! In liefde en medelyde het hy “hulle opgehef en hulle gedra” (Jesaja 63:7-9). As ons aan God getrou is, kan ons dus verseker wees van sy hulp.

2 Die profeet Moses het gesê: “Die ewige God is ’n woning, en onder—ewige arms” (Deuteronomium 33:27). ’n Ander vertaling stel dit só: “Die ewige God is jou woonplek, en daaronder is die ewigdurende arms” (American Standard Version). Maar hoe ondersteun God se arms sy knegte?

Waarom so baie ontberinge?

3. Wanneer sal die gehoorsame mensdom “die glorieryke vryheid van die kinders van God” ten volle geniet?

3 Die feit dat ons Jehovah dien, beskut ons nie teen die ontberinge wat deur alle onvolmaakte mense ondervind word nie. God se kneg Job het gesê: “Die mens uit ’n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus” (Job 14:1). En wat “die dae van ons jare” betref, het die psalmis gesê: “Die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet” (Psalm 90:10). Die lewe sal só voortgaan totdat ‘die skepping vrygemaak is van die slawerny van die verderflikheid en die glorieryke vryheid van die kinders van God geniet’ (Romeine 8:19-22, NW). Dit sal gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy plaasvind. Op grond van Jesus se losprysoffer sal menslike onderdane van die Koninkryk dan van sonde en die dood verlos word. Teen die einde van die Millennium sal Christus en dié wat saam met hom as koning-priesters dien die gehoorsame mensdom gehelp het om volmaaktheid te bereik, en die name van diegene wat gedurende die finale toets deur Satan en sy demone lojaal aan God bly, sal permanent in “die boek van die lewe” geskryf word (Openbaring 20:12-15). Dan sal hulle die glorieryke vryheid van die kinders van God ten volle geniet.

4. Wat moet ons doen pleks van ons lot in die lewe te bekla?

4 Pleks van ons lot in die lewe te bekla, moet ons in die tussentyd op Jehovah vertrou (1 Samuel 12:22; Judas 16). Laat ons ook dankbaar wees vir ons Hoëpriester, Jesus, deur wie ons God kan nader “sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:14-16). Ons moet nooit soos Adam wees nie. Hy het Jehovah in werklikheid valslik daarvan beskuldig dat Jehovah vir hom ’n slegte vrou gegee het deur te sê: “Die vrou wat U my gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet” (Genesis 3:12). God gee goeie dinge en bring nie ontberinge oor ons nie (Mattheüs 5:45; Jakobus 1:17). Teëspoed is dikwels die gevolg van ons eie gebrek aan wysheid of van iemand anders se foute. Dit kan ons ook tref omdat ons sondig is en in ’n wêreld lewe wat in Satan se mag lê (Spreuke 19:3; 1 Johannes 5:19). Maar Jehovah se ewigdurende arms ondersteun altyd sy lojale knegte wat biddend op hom vertrou en die raad in sy Woord persoonlik toepas.—Psalm 37:5; 119:105.

Onderskraging tydens siekte

5. Watter bemoediging kan siekes uit Psalm 41:1-3 put?

5 Die meeste van ons ly van tyd tot tyd weens siekte. Desondanks het Dawid gesê: “Gelukkig is elkeen wat bedagsaam teenoor die geringe optree; op die dag van rampspoed sal Jehovah hom ontvlugting verleen; Jehovah self sal hom behoed en hom in die lewe hou. Hy sal gelukkig verklaar word op die aarde; en u kan hom onmoontlik aan die siel van sy vyande oorlewer. Jehovah self sal hom op ’n siekbed onderskraag; sy hele bed sal u sekerlik tydens sy siekte verander.”—Psalm 41:1-3, NW.

6, 7. Hoe het God Dawid gehelp toe hy op ’n siekbed was, en hoe kan dit Jehovah se knegte vandag bemoedig?

6 ’n Bedagsame persoon help die behoeftiges. “Die dag van rampspoed” kan enige rampspoedige gebeurtenis of lang tydperk van swaarkry wees wat ’n mens verswak. So ’n persoon vertrou op God om hom tydens swakheid te behoed, en ander ‘verklaar hom gelukkig op die aarde’ deur die nuus van Jehovah se barmhartige optrede teenoor hom bekend te maak. Dit was moontlik gedurende die spanningsvolle tyd toe Dawid se seun Absalom die troon van Israel wederregtelik sy eie wou maak dat God Dawid “op ’n siekbed” onderskraag het.—2 Samuel 15:1-6.

7 Aangesien Dawid bedagsaamheid teenoor die geringes getoon het, het hy oortuig gevoel dat God hom sou onderskraag terwyl hy hulpeloos op ’n siekbed lê (Psalm 18:24-26). Hoewel hy dodelik siek was, was hy vol vertroue dat God ‘sy bed sou verander’, nie deur die siekte op ’n wonderdadige wyse te laat verdwyn nie, maar deur hom met vertroostende gedagtes te versterk. Dit sou wees asof Jehovah sy bed verander van ’n siekbed tot een van herstel. Wanneer ons, as God se knegte, siekte moet verduur, sal Jehovah se ewigdurende arms ons insgelyks onderskraag.

Vertroosting vir die depressiewes

8. Hoe het een siek Christen sy afhanklikheid van God getoon?

8 Siekte kan tot depressie lei. ’n Christen wat ernstig siek is en wat soms nie eers die krag het om te lees nie, vertel: “Dit bring talle depressieverwante emosies, ’n gevoel van nutteloosheid en selfs trane mee.” Omdat hy besef dat Satan hom deur mismoedigheid wil onderkry, veg hy terug in die wete dat hy met Jehovah se hulp nie sal faal nie (Jakobus 4:7). Hierdie man is ’n bemoediging vir ander wat weet dat hy op God vertrou (Psalm 29:11). Selfs wanneer hy in die hospitaal is, bel hy siekes en ander om hulle geestelik op te bou. Hy self word bemoedig deur na kassetopnames van Koninkryksmelodieë en artikels uit hierdie tydskrif en sy medetydskrif, die Ontwaak!, te luister, asook deur sy omgang met mede-Christene. Hierdie broer sê: “Ek praat gereeld met Jehovah in gebed en vra dat hy my krag, leiding, troos en hulp gee om te volhard.” As jy ’n Christen met ernstige gesondheidsprobleme is, moet jy altyd op Jehovah vertrou en sy ewigdurende arms jou hulp maak.

9. Watter voorbeelde toon dat godvrugtige persone soms deur depressie gekwel word?

9 Depressie is ’n ou probleem. Terwyl Job beproewing ondergaan het, het hy soos iemand gepraat wat gedink het dat God hom verlaat het (Job 29:2-5). Besorgdheid oor die vervalle toestand van Jerusalem en sy mure het Nehemia droefgeestig laat voel, en Petrus was so terneergedruk omdat hy Christus verloën het dat hy bitterlik geween het (Nehemia 2:1-8; Lukas 22:62). Epafroditus was terneergedruk omdat Christene in Filippi gehoor het dat hy siek geword het (Filippense 2:25, 26, NW). Terneergedruktheid het sommige Christene in Thessalonika geteister, want Paulus het die broers daar aangespoor om ‘bemoedigend tot die terneergedrukte siele te spreek’ (1 Thessalonicense 5:14, NW). Maar hoe help God sulke mense?

10. Wat kan ons help wanneer ons met depressie worstel?

10 ’n Persoonlike besluit moet oor behandeling vir ernstige depressie geneem worda (Galasiërs 6:5). Genoeg rus en gebalanseerde aktiwiteit kan help. Pleks van etlike probleme saam as ’n enkele ernstige toestand te beskou, sal ’n depressiewe persoon dit dalk nuttig vind om die probleme een vir een te probeer oplos. Vertroostende hulp van gemeentelike ouere manne kan baie nuttig wees, veral as hierdie gesondheidsprobleem besorgdheid oor die sieke se geestelikheid veroorsaak (Jakobus 5:13-15). Bowenal is dit noodsaaklik om op Jehovah te vertrou, en om ‘al ons bekommernis op Hom te werp, omdat Hy vir ons sorg’. Aanhoudende en hartgrondige gebed kan ons ‘die vrede van God gee, wat ons harte en sinne in Christus Jesus sal bewaar’.—1 Petrus 5:6-11; Filippense 4:6, 7.

Jehovah help ons om droefheid te verduur

11-13. Wat kan help om smart oor die dood van ’n geliefde te verlig?

11 Nog ’n kwellende ondervinding is die dood van ’n geliefde. Abraham het oor die dood van sy vrou Sara gerouklaag (Genesis 23:2). Dawid was diep bedroef toe sy seun Absalom gesterf het (2 Samuel 18:33). Ja, selfs die volmaakte man Jesus “het geween” oor die dood van sy vriend Lasarus! (Johannes 11:35). Hartseer gaan dus altyd met die dood van ’n geliefde gepaard. Maar wat kan help om hierdie smart te verlig?

12 God help sy volk om die geweldige droefheid na die dood van ’n geliefde te verduur. Sy Woord sê dat daar ’n opstanding gaan wees. Daarom treur ons nie “soos die ander wat geen hoop het nie” (1 Thessalonicense 4:13; Handelinge 24:15). Jehovah se gees help ons om vrede en geloof te hê en om oor die wonderlike toekoms wat in sy Woord beloof word te peins sodat ons nie heeltemal oorweldig word deur treurgedagtes oor ’n afgestorwe geliefde nie. Ons kry ook vertroosting wanneer ons die Skrif lees en tot “die God van alle vertroosting” bid.—2 Korinthiërs 1:3, 4; Psalm 68:5-7.

13 Net soos godvrugtige Job kan ons vertroosting put uit die opstandingshoop. Hy het uitgeroep: “Ag, as U [Jehovah] my maar in die doderyk wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn bedaar het, my ’n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink! As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom; U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job 14:13-15). Ons is gewoonlik nie baie hartseer wanneer ’n geliefde vriend op reis gaan nie, want ons verwag om hom weer te sien. Die diepe droefheid wat deur die dood van ’n geliefde veroorsaak word, kan ietwat verminder word as ons ’n soortgelyke beskouing van die dood van ’n getroue Christen het. As hy ’n aardse hoop gehad het, sal hy gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy hier op aarde uit die doodslaap gewek word (Johannes 5:28, 29; Openbaring 20:11-13). En as ons hoop om vir ewig op die aarde te lewe, sal ons moontlik hier wees om ons opgewekte geliefde terug te verwelkom.

14. Hoe het twee Christenweduwees die dood van hulle mans verwerk?

14 Ná haar man se dood het een suster besef dat sy met haar lewe in God se diens moet voortgaan. Sy het haar nie net besig gehou deur ‘oorvloedig te wees in die werk van die Here’ nie, maar het ook ’n lappiesdeken van 800 stukke gemaak (1 Korinthiërs 15:58). “Dit was ’n goeie projek”, sê sy, “want ek kon die hele tyd terwyl ek gewerk het na Koninkryksmelodieë en Bybelkassette luister, en dit het my gedagtes besig gehou.” Haar hart klop nou nog warm as sy terugdink aan ’n sekere besoek deur ’n ervare ouere man en sy vrou. Die ouere man het vir haar in die Bybel gewys dat God werklik vir weduwees omgee (Jakobus 1:27). ’n Ander Christin het ook nie voor selfbejammering geswig toe haar man dood is nie. Sy het die ondersteuning van vriende waardeer en groter belangstelling in ander begin toon. “Ek het gereelder gebid en ’n intiemer verhouding met Jehovah ontwikkel”, sê sy. En wat ’n seën is dit tog om die hulp van God se ewigdurende arms te hê!

Hulp wanneer ons foute begaan

15. Wat is die inhoud van Dawid se woorde in Psalm 19:7-13?

15 Hoewel ons Jehovah se wet liefhet, begaan ons soms foute. Dit ontstel ons ongetwyfeld, net soos vir Dawid, vir wie God se wette, herinneringe, gebooie, en regterlike beslissings begeerliker as goud was. Hy het gesê: “U eie kneg [is] daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is daar ’n groot beloning. Foute—wie kan [hulle] onderskei? Verklaar my onskuldig aan verborge sondes. Hou u kneg ook terug van aanmatigende dade; laat hulle my nie beheers nie. In daardie geval sal ek volkome wees, en ek sou onskuldig gebly het aan vele oortredinge” (Psalm 19:7-13, NW). Kom ons ontleed hierdie woorde.

16. Waarom moet ons dit vermy om aanmatigend te wees?

16 Aanmatigende dade is baie ernstiger sondes as foute. Saul is as koning verwerp omdat hy aanmatigend brandoffers geoffer het en Amalekitiese koning Agag en die beste van die buit gespaar het ondanks God se bevel dat die Amalekiete met die banvloek getref moes word (1 Samuel 13:8-14; 15:8-19). Koning Ussia is met melaatsheid geslaan omdat hy aanmatigend die priesterlike funksies op homself geneem het (2 Kronieke 26:16-21). Toe die verbondsark na Jerusalem geneem is en die beeste wat die wa getrek het die ark byna laat omkantel het, het God Ussa met die dood getref omdat hy oneerbiedig die ark vasgegryp het om dit te keer (2 Samuel 6:6, 7). As ons dus nie weet wat om te doen of wat ons mag doen nie, moet ons beskeidenheid aan die dag lê en diegene raadpleeg wat oor die nodige onderskeidingsvermoë beskik (Spreuke 11:2; 13:10). As ons al ooit aanmatigend was, moet ons natuurlik om vergifnis bid en God vra om ons teen verdere aanmatigende optrede te help waak.

17. Watter uitwerking kan verborge sondes op ’n mens hê, maar hoe kan vergifnis en verligting verkry word?

17 Verborge sondes kan groot kwelling veroorsaak. Volgens Psalm 32:1-5 het Dawid probeer om sy sonde te verberg, maar hy het gesê: “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed.” Dawid is vermoei toe hy ’n skuldige gewete probeer onderdruk het, en benoudheid het sy lewenskrag uitgeput net soos ’n boom gedurende ’n droogte of in die hitte van ’n somersdag lewegewende vog verloor. Klaarblyklik het hy geestelik en fisies slegte gevolge ervaar en het hy sy vreugde verloor omdat hy nie sy sonde bely het nie. Slegs belydenis teenoor God sou vergifnis en verligting bring. Dawid het gesê: “Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. . . . My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.” Liefdevolle hulp van Christen- ouere manne kan geestelike herstel bevorder.—Spreuke 28:13; Jakobus 5:13-20.

18. Watter bewys is daar dat sonde langdurige gevolge kan hê, maar wat kan onder sulke omstandighede ’n bron van vertroosting wees?

18 Sonde kan langdurige gevolge hê. Dit was die geval met Dawid toe hy met Batseba owerspel gepleeg, haar man se dood bewerkstellig en met die swanger weduwee getrou het (2 Samuel 11:1-27). Hoewel God barmhartig was vanweë die Koninkryksverbond, Dawid se berou en sy barmhartige behandeling van ander, het Dawid ‘onheil uit sy eie huis’ ervaar (2 Samuel 12:1-12). Die buite-egtelike kind het gesterf. Dawid se seun Amnon het sy halfsuster Tamar verkrag en is op bevel van haar broer Absalom om die lewe gebring (2 Samuel 12:15-23; 13:1-33). Absalom het oneer op Dawid gebring deur geslagsomgang met Dawid se byvroue te hê. Hy het wederregtelik probeer om die troon oor te neem maar het sy lewe verloor (2 Samuel 15:1–18:33). Sonde het steeds nagevolge. ’n Uitgesettene kan byvoorbeeld berou toon en in die gemeente herstel word, maar dit kan jare duur om die geskonde reputasie en die emosionele trauma wat deur sonde veroorsaak is af te skud. Hoe vertroostend is dit tog in die tussentyd om Jehovah se vergifnis en die hulp van sy ewigdurende arms te kan geniet!

Verlos van die benoudhede wat ons teister

19. Hoe kan God se gees ons help as ons hewig beproef word?

19 Wanneer ons hewig beproef word, ontbreek dit ons moontlik aan die nodige wysheid en krag om ’n besluit te neem en dit deur te voer. In so ’n geval kom God se gees “ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge” (Romeine 8:26). As Jehovah ’n verandering in omstandighede teweegbring, moet ons dankbaar wees. Maar dalk red sy arm ons op ’n ander manier. As ons om wysheid bid, sal Jehovah moontlik deur sy gees vir ons aandui wat om te doen en ons die krag gee om dit deur te voer (Jakobus 1:5-8). Met sy hulp kan ons volhard wanneer ons “allerhande beproewinge” moet verduur en daarna ’n beproefde en versterkte geloof hê.—1 Petrus 1:6-8.

20. Wat sal ons geniet as ons waarlik Jehovah se ewigdurende arms ons hulp maak?

20 Laat ons nooit moeg word om ons in gebed tot God te wend nie. “My oë is altyddeur op die HERE, want Hý sal my voete uit die net uitlei”, het Dawid gesê. “Wend U tot my en wees my genadig, want ek is eensaam en ellendig. Die benoudhede van my hart is wyd uitgestrek; lei my uit my angste. Aanskou my ellende en my moeite, en vergeef al my sondes” (Psalm 25:15-18). Net soos Dawid sal ons goddelike verlossing, guns en vergifnis geniet as ons werklik Jehovah se ewigdurende arms ons hulp maak.

[Voetnoot]

a Sien die artikels oor depressie in die Ontwaak! van 22 Oktober 1987, bladsye 2-16, en 8 November 1987, bladsye 12-16.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe help Jehovah sy knegte wat siek is?

◻ Wat kan ons help as ons met depressie worstel?

◻ Wat kan help om droefheid oor die dood van ’n geliefde te verlig?

◻ Hoe kan diegene wat hulle sondes verberg verligting verkry?

◻ Watter hulp is beskikbaar wanneer lede van Jehovah se volk hewig beproef word?

[Prent op bladsy 16, 17]

Net soos godvrugtige Job kan ons vertroosting put uit die opstandingshoop

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel