Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 10/1 bl. 23-28
  • ‘Gelukkig is almal wat op Jehovah bly wag’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Gelukkig is almal wat op Jehovah bly wag’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die saad vir sendingwerk word gesaai
  • Probleme in Spanje
  • Die predikingswerk onder ’n Katolieke diktatuur
  • Vervolging en uitsettings
  • ’n Ander gebied, ’n ander taal
  • Moeilike tye begin
  • Die predikingswerk in Islamitiese Marokko
  • ’n Korttermyntoewysing?
  • Toetse en seëninge
  • Uitbreiding in El Salvador
  • ’n Lewe vol verrassings in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Van volslae armoede tot die grootste rykdom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Ons het God se onverdiende goedhartigheid op baie maniere ondervind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 10/1 bl. 23-28

‘Gelukkig is almal wat op Jehovah bly wag’

SOOS VERTEL DEUR DOMENICK PICCONE

My ouers het gedurende die vroeë twintigerjare van Italië na die Verenigde State geïmmigreer en het hulle uiteindelik in Suid-Philadelphia gevestig, wat destyds Klein Italië genoem is. Teen 1927 het hulle met die Bybelstudente geassosieer, wat later as Jehovah se Getuies bekend geword het.

EK IS in 1929 gebore en is dus van kleins af die Bybelwaarheid geleer. Ek kan onthou dat Getuies in ons huis bymekaargekom het voordat hulle gaan preek het in streng Rooms-Katolieke dorpies in die steenkoolmynstreek van Pennsilvanië, waar die broers dikwels gearresteer is. Ek is in 1941 gedoop by die byeenkoms van Jehovah se Getuies in St. Louis, Missouri. Toe het sake verkeerd begin loop.

Ek het met die verkeerde soort jongmense in die buurt deurmekaargeraak en het op die straathoeke begin rook en dobbel. Gelukkig het my ouers gesien dat hulle beheer oor my begin verloor het, en hulle het besluit om na ’n ander deel van die stad te trek. Ek was ongelukkig hieroor, aangesien ek al my straatvriende verloor het. Maar vandag kyk ek terug en is ek baie dankbaar teenoor my vader. Hy het werklik ’n finansiële opoffering gemaak toe hy my uit daardie omgewing geneem het. Voorheen kon hy werk toe loop, maar nou moes hy ’n lang ent met die moltrein ry. Maar hierdie stap het my in ’n teokratiese omgewing teruggebring.

Die saad vir sendingwerk word gesaai

Ons het feitlik elke jaar na South Lansing, New York, gereis om die gradeplegtigheid van die Wagtoring- Bybelskool Gilead by te woon. Die begeerte vir sendingdiens is in my hart gesaai toe ek gesien het hoe daardie sendelinge na alle wêrelddele gestuur word. Daarom het ek my as ’n gewone pionier ingeskryf toe ek my hoërskoolopleiding voltooi het en in Mei 1947 begin.

’n Ander jong pionier in ons gemeente was Elsa Schwarz, en sy was baie ywerig in die predikingswerk. Haar ouers het haar altyd aangemoedig om ’n sendeling te wees; dus kan jy raai wat die uiteinde was. Ons is in 1951 getroud. Terwyl ons saam as pioniers in Pennsilvanië gedien het, het ons aansoek gedoen om die Gileadsendingskool by te woon. In 1953 is ons na die 23ste klas van Gilead genooi. Ná vyf maande van intensiewe studie en voorbereiding in Gilead het ons by ’n byeenkoms in Toronto, Kanada, gegradueer en ons toewysing ontvang—Spanje!

Probleme in Spanje

Terwyl ons in 1955 voorbereidsels getref het om na ons sendinggebied te vertrek, het ek en Elsa baie vrae gehad. Spanje! Hoe sou dit wees? Die nasie was onder die bewind van die Katolieke diktator Generalissimo Francisco Franco, en die werk van Jehovah se Getuies was verbied. Hoe sou ons onder sulke omstandighede vaar?

Ons is deur die broers by die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn meegedeel dat Frederick Franz, destyds vise-president van die Wagtoringgenootskap, en Alvaro Berecochea, ’n sendeling van Argentinië, saam met talle ander broers in hegtenis geneem is. ’n Geheime byeenkoms is gereël in die woude naby Barcelona. Maar die polisie het van hierdie geheime byeenkoms te wete gekom en het die meeste van dié wat teenwoordig was in hegtenis geneem.a

Daar is aan ons gesê dat daar miskien niemand sal wees om ons te ontmoet wanneer ons in Barcelona aankom nie. Ons instruksies was: “Soek ’n hotel en laat die Genootskap in New York dan weet wat die adres is.” Ons het die woorde van Jesaja in gedagte gehou: “Gelukkig is almal wat op [Jehovah] bly wag. En jou eie ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop’” (Jesaja 30:18, 21, NW). Ons sou net op Jehovah moes bly wag en die leiding van sy organisasie moes volg.

Ons het afskeid geneem van ons ouers en vriende wat New York toe gekom het om vir ons totsiens te sê, en ons skip, die Saturnia, het spoedig met die Hudsonrivier langs na die Atlantiese oseaan gevaar. Dit was die laaste keer dat ek my vader gesien het. Twee jaar later, terwyl ek oorsee was, het hy na ’n lang siekbed gesterf.

Ons het uiteindelik by ons toewysing, die hawestad Barcelona, aangekom. Dit was ’n triestige, reënerige dag, maar toe ons deur die doeane loop, het ons die “sonskyn” van stralende gesigte gesien. Alvaro Berecochea was daar saam met van die Spaanse broers om ons te ontmoet. Ons was werklik bly om te weet dat ons broers vrygelaat is.

Nou moes ons Spaans leer. Destyds moes sendelinge tale op die moeilike manier leer—sonder leerboeke of onderwysers. Daar was toe geen taalkursusse nie. Ons moes die uurvereiste in die predikingswerk nakom en terselfdertyd die taal leer—as ’t ware in werksure.

Die predikingswerk onder ’n Katolieke diktatuur

Jehovah se organisasie was destyds in sy kinderskoene in Spanje. In 1955 was daar ’n hoogtepunt van 366 verkondigers in ’n land met ongeveer 28 miljoen mense. Daar was net tien gemeentes in die hele land. Sou dit lank so bly? Toe ek en my vrou eers met die predikingswerk van huis tot huis begin, het ons gevind dat Spanje soos ’n paradys was vir diegene wat die goeie nuus verkondig. Ja, die mense het gehonger na die waarheid.

Maar hoe is die predikingswerk gedoen, aangesien dit verbied was? Gewoonlik het ons nie elke huis in ’n straat en ook nie al die woonstelle in ’n gebou besoek nie. Barcelona het baie woonstelgeboue van vyf en ses verdiepings, en ons is aangesê om op die boonste verdieping te begin en dan na onder te werk. Soms het ons net een woonstel op elke verdieping besoek of selfs ’n paar verdiepings oorgeslaan. Hierdie metode het dit moeilik gemaak vir die polisie om ons te vang as ’n fanatiese huisbewoner die polisie oor ons ingelig het.

Gemeentelike vergaderinge is in privaat huise gehou, aangesien gemeentes uit drie tot vier boekstudiegroepe bestaan het. Dit het die gemeentekneg in staat gestel om elk van hierdie boekstudies een keer per maand te besoek. Die boekstudiehouer moes al die vergaderinge behartig, wat op twee verskillende aande van die week vir klein groepe van 10 tot 20 mense gehou is.

Ons moes ’n nuwe leefwyse aanleer. Daar was destyds geen reëlings vir sendinghuise in Spanje nie. Wanneer dit moontlik was, het ons by die broers in hulle huise gewoon. Dit was vir Elsa ’n groot uitdaging om op ’n houtskoolbrander te leer kook! Ons kon later ’n klein paraffienstofie met een vlammetjie koop, wat werklik ’n verbetering was.

Vervolging en uitsettings

Na ’n ruk het ons verneem dat ’n vlaag van vervolging in Andalusia uitgebreek het, waar ’n spesiale pionier in hegtenis geneem is. Hy het ongelukkig ’n boekie by hom gehad met die name en adresse van broers in alle dele van die land. Ons het gedurig berigte ontvang dat ons broers in die een stad na die ander in hegtenis geneem is. Die klopjagte het al hoe nader aan Barcelona gekom. Uiteindelik het vervolging in Barcelona uitgebreek.

’n Paar maande vantevore het die polisie my na hulle hoofkwartier geneem vir ondervraging. Na ’n paar uur is ek vrygelaat, en ek het gedink dat dit die einde van die saak was. Toe het die Amerikaanse Ambassade met my in verbinding getree en my aangeraai om die land vrywillig te verlaat as ek die vernedering wou vermy om uit die land gesit te word. Kort daarna het die polisie ons in kennis gestel dat ons die land binne tien dae moes verlaat. Wat moes ons doen, aangesien ons geen tyd gehad het om aan die Wagtoringgenootskap te skryf nie? Die omstandighede het daarop gedui dat ons na die naaste sendingveld buite Spanje—Portugal, in die weste—moes gaan.

’n Ander gebied, ’n ander taal

Toe ons in Julie 1957 in Lissabon, Portugal, aankom, is ons as sendelinge na Porto gestuur, ’n stad ver noord van Lissabon. Dit is as die tweede hoofstad van die land beskou en is in ’n streek geleë wat bekend is vir sy portwyn. ’n Florerende gemeente het sy vergaderinge in die kelderverdieping van ’n gebou in die middestad gehou. Die predikingswerk was ook in Portugal verbied, aangesien die land onder die diktatuur van Salazar was. Tog was die omstandighede heeltemal anders as dié in Spanje. Die vergaderinge is in die broers se huise gehou, en groepe van 40 tot 60 het dit bygewoon. Daar was geen aanduidings dat die huise vergaderplekke van Jehovah se Getuies was nie. Hoewel ek geen Portugees gepraat het nie, is ek as gemeentekneg aangestel. Ons het weer ’n nuwe taal op die moeilike manier geleer.

Ongeveer ’n jaar later is ons na Lissabon gestuur. Hier het ons vir die eerste keer ons eie plekkie gehad, ’n woonstel wat oor die stad Lissabon uitkyk. ’n Kring is aan ons toegewys—die hele Republiek van Portugal. Toe ons in Portugal gekom het, was daar net 305 verkondigers en vyf gemeentes.

Moeilike tye begin

Op party kaarte van Portugal en sy kolonies was daar altyd die gesegde: “Die son gaan nooit onder oor Portugese gebied nie.” Dit was die geval, aangesien Portugal kolonies in talle wêrelddele gehad het, waarvan twee van die grootste Mosambiek en Angola in Afrika was. In 1961 was daar blykbaar probleme aan die broei in hierdie kolonies, en Portugal het dit nodig geag om sy weermag uit te brei.

Wat sou die jong broers nou doen as hulle opgeroep word vir militêre diens? Party kon vrystelling kry weens swak gesondheid, maar die meeste het ’n ferm standpunt ingeneem vir Christelike neutraliteit. ’n Hewige vlaag van vervolging het spoedig uitgebreek. Die tak het berigte ontvang dat spesiale pioniers in hegtenis geneem en vreeslik geslaan is deur die geheime polisie, die berugte P.I.D.E. (Polícia Internacional e Defesa do Estado). Van ons sendelinge is na die polisiehoofkwartier ontbied vir ondervraging. Toe het drie egpare 30 dae gekry om die land te verlaat. Ons almal het ’n beroep gedoen op die owerheid om daardie besluit te verander.

Die sendelingpare is een vir een na die polisiehoofkwartier ontbied vir ’n onderhoud met die hoof van die P.I.D.E. Die takkneg, Eric Britten, en sy vrou, Christina, is eers ondervra. Toe is Eric Beveridge en sy vrou, Hazel, en laastens ek en Elsa ondervra. Die polisiehoof het ons valslik daarvan beskuldig dat ons deur die Kommuniste gebruik word om die Westerse wêreld met ons leer oor neutraliteit te ondermyn. Ons pleidooie was tevergeefs.

Hoe hartseer was ons tog om 1 200 broers en susters agter te laat wat moeilike tye deurgemaak het weens die ongenaakbare heerskappy van ’n onredelike diktator! Die Beveridges het na Spanje gegaan en die Brittens terug na Engeland, maar wat sou ons volgende toewysing wees? Die Moslemland Marokko!

Die predikingswerk in Islamitiese Marokko

Ons het weer eens op Jehovah bly wag. ’n Nuwe toewysing, nuwe gebruike en nuwe tale! Arabies, Frans en Spaans was die amptelike tale van die Koninkryk van Marokko, waar daar 234 Getuies in agt gemeentes was. Die land se amptelike godsdiens was die Islam, en dit was onwettig om bekeerlinge van Moslems te maak. Ons kon dus net vir die hoofsaaklik Europese nie-Moslembevolking preek.

Nadat die sendelinge in die laat vyftigerjare daar begin aankom het, kon vermeerdering dadelik gesien word. Maar die Marokkaanse regering het druk op die Europese bevolking begin uitoefen, en daar was ’n groot uittog van buitelanders, waaronder baie broers.

Terwyl ons nie-Moslembevolking gekrimp het, was ons verplig om taktvolle maniere te vind om met die Moslems te praat, en dit het tot klagtes by die polisie gelei. Toe daar al hoe meer klagtes in Tanger en ander stede was, is ons uiteindelik meegedeel dat ons net 30 dae het om die land te verlaat. In Mei 1969 is ek en Elsa weer uit nog ’n toewysing gesit.

’n Korttermyntoewysing?

Ons is aangesê om na Brooklyn terug te keer, en ek is genooi om ’n vergadering by te woon vir takknegte wat daardie somer gehou is. Terwyl ons daar was, is ek ingelig dat ons nuwe toewysing El Salvador, Sentraal-Amerika, sou wees en dat ek daar as takkneg sou dien. Ek is meegedeel dat dit heel waarskynlik net vyf jaar lank sou wees, die maksimum tyd wat sendelinge toegelaat word om in die land te bly, aangesien ons werk daar nie wetlik erken is nie.

El Salvador—wat ’n toewysing! Daar was gemiddeld 1 290 verkondigers, waaronder 114 pioniers wat elke maand gerapporteer het. Die mense was godvresend, lief vir die Bybel en gasvry. By feitlik elke deur het hulle ons ingenooi om met hulle te praat. Binne ’n kort tydjie het ons soveel Bybelstudies gehad as wat ons kon behartig.

Terwyl ons die vermeerdering gesien het en hoe baie hulp daar nodig was, was ons hartseer dat ons hierdie gebied na net vyf jaar sou moes verlaat. Daar is dus besluit dat ons moes probeer om die werk van Jehovah se Getuies te wettig. Ons het die dokumente in Desember 1971 aan die regering voorgelê, en op 26 April 1972 was ons verheug om in die staatskoerant, die Diario Oficial, te lees dat ons versoek toegestaan is. Die sendelinge sou nie meer die land na vyf jaar hoef te verlaat nie, maar kon permanente verblyf in die land verkry.

Toetse en seëninge

Ons het deur die jare in ons onderskeie gebiede baie goeie vriende gemaak en die vrugte op ons bediening gesien. Elsa het in San Salvador ’n goeie ondervinding gehad by ’n onderwyseres en haar soldaatman. Een van die onderwyseres se vriendinne het ook in die waarheid begin belang stel. Die man het eers nie belangstelling in die Bybel getoon nie; ons het hom nogtans besoek terwyl hy in die hospitaal was, en hy was vriendelik. Hy het mettertyd die Bybel bestudeer, sy militêre loopbaan laat vaar en die predikingswerk saam met ons begin doen.

Intussen het ’n dame by die Koninkryksaal opgedaag en Elsa gevra of sy met die gewese soldaat gestudeer het. Toe het ons uitgevind dat sy sy minnares was! Sy het ook die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer. By die streekbyeenkoms is die gewese soldaat, sy vrou, haar vriendin en die gewese minnares almal gedoop!

Uitbreiding in El Salvador

As gevolg van die groot vermeerdering is baie Koninkryksale gebou, en die land het nou meer as 18 000 bedrywige Getuies. Hierdie vooruitgang was egter nie sonder sy toetse en beproewinge nie. Die broers moes tien jaar lank Jehovah se wil te midde van ’n burgeroorlog doen. Maar hulle het hulle neutraliteit gehandhaaf en lojaal gebly aan Jehovah se Koninkryk.

Ek en Elsa is saam al 85 jaar in die voltydse diens. Ons het gevind dat ons nooit teleurgestel word nie as ons op Jehovah bly wag en luister na die ‘woord agter ons wat sê: “Dit is die weg. Wandel daarop.”’ Ons het inderdaad ’n bevredigende en lonende lewe as Jehovah se voltydse knegte geniet.

[Voetnoot]

a Sien die 1978 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 177-9 vir verdere besonderhede.

[Prent op bladsy 24]

Byeenkoms in ’n woud in Spanje, 1956

[Prent op bladsy 25]

Ons het vir nie-Moslems in Marokko gepreek

[Prent op bladsy 26]

Tak in El Salvador, ons huidige toewysing

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel