Is godsdiens werklik nodig?
IS GODSDIENS vir jou belangrik? Is jy lid van ’n godsdiensgroep of ’n kerk? Indien wel, het jy baie gemeen met mense wat in 1844 gelewe het, die jaar toe die Duitse filosoof Karl Marx geskryf het: “Godsdiens . . . is die opium van die volk.” In daardie dae het byna almal kerk toe gegaan, en godsdiens het ’n sterk invloed op elke gemeenskapsvlak gehad. Dit het vandag drasties verander, en godsdiens het min of geen invloed op die lewe van honderde miljoene mense nie. As jy kerk toe gaan, is jy in jou gemeenskap waarskynlik in die minderheid.
Wat het die verandering teweeggebring? Om maar een ding te noem, Karl Marx het ’n antigodsdiensfilosofie ontwikkel wat mettertyd ’n groot invloed op mense gehad het. Marx het godsdiens blykbaar as ’n struikelblok in die weg van die mens se vooruitgang beskou. Hy het beweer dat materialisme, ’n filosofie wat geen ruimte vir God of vir tradisionele godsdiens gelaat het nie, die beste in die mensdom se behoeftes kan voorsien. Dit het daartoe gelei dat hy gesê het: “Die vernaamste vereiste vir die mens se geluk is die afskaffing van godsdiens.”
Marx se filosofie van materialisme is verder ontwikkel deur die Duitse sosialis Friedrich Engels en die Russiese Kommunistiese leier Vladimir Lenin. Dit het bekend geword as Marxisme-Leninisme. Tot onlangs het meer as ’n derde van die mensdom onder politieke regimes gelewe wat hierdie ateïstiese filosofie in meerdere of mindere mate gevolg het. Baie mans en vroue volg dit steeds.
Die ontwikkeling van sekularisme
Maar die verspreiding van die Kommunistiese filosofie was nie die enigste ding wat die houvas van godsdiens op die mensdom verswak het nie. Ontwikkelinge op die gebied van die wetenskap het ook ’n rol gespeel. Die popularisering van die evolusieteorie het byvoorbeeld daartoe gelei dat baie mense die bestaan van ’n Skepper in twyfel begin trek het. En daar was ander faktore.
Die Encyclopædia Britannica meld “die ontdekking van wetenskaplike verduidelikings vir verskynsels wat voorheen aan bonatuurlike oorsake toegeskryf is” en “die verwydering van die invloed van georganiseerde godsdiens uit sfere van bedrywigheid soos die geneeskunde, die onderwys en die kunste”. Sulke ontwikkelinge het tot die opgang van sekularisme gelei. Wat is sekularisme? Dit word omskryf as “’n lewensbeskouing . . . op grond van die stelling dat godsdiens en godsdienstige oorweginge geïgnoreer of met opset uitgesluit moet word”. Sekularisme het ’n sterk invloed in Kommunistiese en nie-Kommunistiese lande.
Maar dit was nie net sekularisme en Marxisme-Leninisme wat die invloed van godsdiens verswak het nie. Die kerke van die Christendom moet ook aanspreeklik gehou word. Waarom? Omdat hulle eeue lank al hulle gesag misbruik. En hulle het leerstellings geleer wat eerder op onskriftuurlike tradisies en menslike filosofieë as op die Bybel gebaseer is. Baie in hulle kuddes was derhalwe geestelik so verswak dat hulle nie teen die aanslag van sekularisme staande kon bly nie.
Verder het die kerke self in die meeste gevalle eindelik voor sekularisme geswig. In die 19de eeu het godsdiensgeleerdes in die Christendom ’n vorm van hoër kritiek geskep wat vir baie mense die geloofwaardigheid van die Bybel as die geïnspireerde Woord van God vernietig het. Kerke, die Rooms-Katolieke Kerk inkluis, het die evolusieteorie aanvaar. Ja, hulle het steeds beweer dat hulle in die skepping glo. Maar hulle het ruimte gelaat vir die moontlikheid dat die mens se liggaam geëvolueer het, terwyl slegs die siel deur God geskep is. Gedurende die sestigerjare het Protestantisme te voorskyn gekom met ’n teologie wat die “dood van God” verkondig het. Baie Protestantse geestelikes het ’n materialistiese lewenswyse vergoelik. Hulle het voorhuwelikse seks en selfs homoseksualiteit goedgekeur. Sommige Katolieke teoloë het die vryheidsteologie ontwikkel en Katolisisme met revolusionêre Marxisme vermeng.
Die agteruitgang van sekularisme
Sekularisme het derhalwe veral gedurende die sestigerjare en tot ongeveer die middel-sewentigerjare gedy. Toe het sake weer verander. Dit het gelyk of godsdiens, hoewel in die meeste gevalle nie die hoofstroomkerke nie, ’n oplewing beleef. Gedurende die laat sewentiger- en die tagtigerjare het daar oor die hele wêreld talle nuwe godsdiensgroepe ontstaan.
Waarom die herlewing van godsdiens? Franse sosioloog Gilles Kepel het gesê dat “leke met ’n sekulêre geleerdheid . . . volhou dat die sekulêre kultuur hulle in ’n doodloopstraat gebring het en dat mense, deur hulle onafhanklikheid van God te verklaar, maai wat hulle deur hulle hoogmoed en ydelheid gesaai het, naamlik misdaad, egskeiding, vigs, dwelmmisbruik, [en] selfmoord”.
Die agteruitgang van sekularisme het nuwe momentum gekry sedert die onlangse oënskynlike ineenstorting van Marxisme-Leninisme. Vir baie mense het hierdie ateïstiese filosofie in werklikheid ’n godsdiens geword. Stel jou dus die verbystering voor van diegene wat daarop vertrou het! ’n Berig uit Moskou in die Washington Post het ’n gewese rektor van die Kommunistiese Party se Skool vir Hoër Geleerdheid aangehaal wat gesê het: “’n Land lewe nie net deur sy ekonomie en instellings nie, maar ook deur sy mitologie en volksplanters. Dit is ’n verpletterende ondervinding vir enige gemeenskap om te ontdek dat hulle grootste mites nie op die waarheid nie, maar op propaganda en hersenskimme gegrond is. Maar dit is wat ons nou ondervind in die geval van Lenin en die revolusie.”
Toe die Franse sosioloog en filosoof Edgar Morin van die Kommunistiese sowel as die kapitalistiese wêrelde gepraat het, het hy erken: “Nie net het ons die ineenstorting gesien van die rooskleurige toekoms wat aan die proletariaat voorgehou is nie, maar ons het ook die ineenstorting gesien van die outomatiese en natuurlike vooruitgang van die sekulêre gemeenskap, waarin die wetenskap, die rede en die demokrasie veronderstel was om outomaties vooruit te gaan. . . . Geen vooruitgang is nou verseker nie. Die toekoms waarop ons gehoop het, het ineengestort.” Dit is die leë gevoel wat baie ondervind wat hulle vertroue op die mens se pogings gestel het om ’n beter wêreld sonder God te skep.
Hernieude belangstelling in godsdiens
Hierdie wêreldwye gevoel van ontnugtering veroorsaak dat ’n aantal opregte mense die behoefte aan ’n geestelike sy in hulle lewe erken. Hulle besef dat hulle godsdiens nodig het. Maar hulle is teleurgestel in die hoofstroomkerke, en sommige het ook bedenkinge oor die nuwe godsdienste—waaronder genesingskultusse, charismatiese groepe, esoteriese sektes en selfs groepe Satanaanbidders. Godsdiensfanatisme steek ook sy aaklige kop uit. Ja, godsdiens beleef dus die een of ander oplewing. Maar is so ’n terugkeer tot godsdiens ’n goeie ding vir die mensdom? Trouens, voorsien enige godsdiens werklik in die geestelike behoeftes van die mensdom?
[Prent op bladsy 3]
“Godsdiens is die sug van die verdrukte wese, die sentiment van ’n hartelose wêreld en die siel van ’n siellose toestand. Dit is die opium van die volk”
[Erkenning]
Photo: New York Times, Berlin—33225115
[Prent op bladsy 4]
Vladimir Lenin (hierbo) en Karl Marx het godsdiens as ’n struikelblok in die weg van menslike vooruitgang beskou
[Erkenning]
Musée d’Histoire Contemperaine—BDIC (Universitiés de Paris)
[Prent op bladsy 5]
Die Marxisties-Leninistiese ideologie het hoë verwagtinge in die harte van miljoene mense gewek
[Erkenning]
Musée d’Histoire Contemperaine—BDIC (Universitiés de Paris)
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Cover photo: Garo Nalbandian