Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 12/1 bl. 24-27
  • Bly na aan God se organisasie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bly na aan God se organisasie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Tyd van beproewing
  • Aanpassings om pionierdiens te kan doen
  • Pionierdiens in die Suide
  • Betheldiens
  • ’n Werksverandering
  • Dankbaar vir ’n genotvolle lewe van diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • ’n Ryk lewe in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 12/1 bl. 24-27

Bly na aan God se organisasie

SOOS VERTEL DEUR ROY A. RYAN

Sandhill, Missouri, se naam het hom gepas, want dit was nie veel meer as ’n groot sandhoop in die wye heuwelagtige platteland nie. Dié kruispaddorpie was vyf kilometer wes van Rutledge geleë en het net agt of nege huise, ’n Metodistekerk en ’n grofsmidwinkeltjie gehad. Daar is ek op 25 Oktober 1900 gebore.

MY PA was die dorpie se grofsmid. Hoewel my ouers selde kerk toe gegaan het, het Moeder my na die Metodistekerk se Sondagskool toe begin stuur. Ek het nie van die naam Metodis gehou nie, want ek het geglo dat ’n mens ’n Christen genoem behoort te word; maar ek het tog ’n dors na Bybelwaarheid en ’n belangstelling in die ewige lewe ontwikkel.

Toe ek 16 was, het ek vir die Santa Fe-spoorweë gaan werk. ’n Man met die naam Jim, een van die Internasionale Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds genoem is), het op ons spoorwegspan begin werk, en ek en hy het dikwels saamgewerk. Jim het gepraat, en ek het geluister na wat hy oor die Bybel te sê gehad het. Dit het vir my goed geklink, en daarom het ek hom gevra of ek een van sy boeke kon leen.

Jim het vir my die eerste deel van Studies in the Scriptures geleen, wat uitgegee is deur C. T. Russell van die International Bible Students Association. Toe ek dit teruggegee het, het ek hom gevra om vir my nog dele te kry. Jim het die spoorweë kort daarna verlaat, en die volgende keer wat ek hom gesien het, was op straat in Rutledge waar hy besig was om bestellings te neem vir die geïllustreerde boek Scenario of the Photo-Drama of Creation. Hy het my later na die groepvergaderinge genooi wat in sy huis gehou is. Ek het elke Sondag die vyf kilometer na Rutledge toe geloop vir die vergadering.

Toe die tydskrif Golden Age (nou Ontwaak!) in 1919 bekend gestel is, wou ek aan die veldbediening begin deelneem. Ek en ’n ander nuwe Bybelstudent was vasbeslote om dié tydskrif van huis tot huis te versprei. Ons was nogal skrikkerig om mense in ons tuisdorp te besoek, en is dus per trein na ’n nabygeleë dorp toe. Toe ons die oggend daar aankom, het ons elkeen sy eie koers ingeslaan en tot die middag toe aan deure geklop, al het ons geen opleiding in hierdie werk gehad nie. Ek het bestellings gekry vir twee intekeninge, die een by ’n man wat saam met my op die spoorweë gewerk het.

Op 10 Oktober 1920 is ek in ’n dammetjie naby Rutledge gedoop. My ouers was gekant teen my toenemende betrokkenheid by die bedrywighede van die Internasionale Bybelstudente. Dit was as gevolg van die teenkanting, onder aanstigting van die geestelikes, wat die Bybelstudente gedurende die oorlogsjare van 1914-18 ondervind het. My pa het egter later party van die Bybelstudente se vergaderinge begin bywoon en ook The Golden Age gelees. Voor haar dood was my ma meer goedgesind teenoor ons begrip van die Bybelwaarhede. Maar nie een van my gesin het ooit hierdie waarhede hulle eie gemaak nie.

’n Tyd van beproewing

Behalwe ek, was daar in daardie vroeë dae net drie ander wat die Bybelstudievergaderinge in Rutledge gereeld bygewoon het. Hierdie drie het later die organisasie verlaat. Die een was ’n uitstekende spreker wat gereeld Bybeltoesprake in die gebied gehou het. Hy het egter hoogmoedig geword omdat hy so bekwaam was en het dit benede sy waardigheid beskou om, soos die vroeë Christene, aan die prediking van huis tot huis deel te neem.—Handelinge 5:42; 20:20, vgl. NW.

Toe hierdie drie opgehou het om met die Internasionale Bybelstudente te assosieer, kan ek onthou dat ek soos die apostel Petrus gevoel het toe Jesus vir die mense gesê het dat hulle ‘Jesus se vlees moes eet en sy bloed moes drink’. Omdat hulle aanstoot aan sy leer geneem het, het baie hom toe verlaat. Daarom het Jesus vir die apostels gevra: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Petrus het geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.”—Johannes 6:67, 68.

Al het Petrus nie mooi verstaan wat Jesus daarmee bedoel het dat hulle ‘Jesus se vlees moes eet en sy bloed moes drink’ nie, het hy geweet dat Jesus die woorde van die lewe gehad het. Dit is hoe ek oor die organisasie gevoel het. Ek het geweet dat die organisasie die waarheid het, al het ek nie altyd alles wat ek in die publikasies gelees het heeltemal verstaan nie. Tog het ek nooit daarteen gestry as daar iets gesê is wat ek nie verstaan het nie. Later is die saak verduidelik of soms is die beskouing reggestel. Ek was altyd bly dat ek geduldig op die verduideliking gewag het.—Spreuke 4:18.

Aanpassings om pionierdiens te kan doen

In Julie 1924 het ek ’n internasionale byeenkoms in Columbus, Ohio, bygewoon. The Golden Age het dit beskryf as “die grootste byeenkoms van Bybelstudente wat tot nog toe gehou is”. By die geleentheid is die kragtige resolusie “Indictment” aangeneem. Die informasie wat ons by daardie byeenkoms ontvang het, en die gees wat daar geopenbaar is, het my aangespoor om ’n voltydse dienaar, of pionier, te word.

Toe ek van die byeenkoms af terugkom, het ek uit my werk by die spoorweë bedank, en ek en ’n mede-Bybelstudent het saam aan die pionierdiens begin deelneem. Omtrent ’n jaar later het my ouers se gesondheid egter so versleg dat hulle my hulp nodig gehad het. Ek het opgehou om as pionier te dien en het by ’n pypleidingsmaatskappy gaan werk, maar aangesien die mense wat daar gewerk het nie goeie omgang was nie, het ek uit dié werk bedank en met bye begin boer en die heuning verkoop.

Teen die herfs van 1933 was albei my ouers oorlede, en dit het my sonder enige verpligtinge gelaat. Gevolglik het ek in die lente van 1934 my bye aan iemand anders se sorg toevertrou, ’n woonwa gebou waarin ek kon bly en weer as ’n pionier in die voltydse diens begin. Ek het eers saam met ’n bejaarde Getuie in die omgewing van Quincy, Illinois, gewerk. Later het ek teruggetrek Missouri toe waar ek saam met ’n groep pioniers gewerk het.

In 1935 was daar ’n kwaai droogte in die Midde-Weste, en aangesien ons in ’n gebied gewerk het wat uitsluitlik ’n landbougebied was, het dit moeilik gegaan. Niemand het geld gehad nie, met die gevolg dat erkentlike persone vir ons eetware en ander artikels gegee het wanneer ons lektuur by hulle gelaat het.

Pionierdiens in die Suide

Daardie winter is ons na Arkansas toe om die koue weer vry te spring. In daardie gebied kon ons meer lektuur versprei, en ons het soveel blikkieskos ontvang as wat ons kon gebruik. Ons het dikwels ander goed aanvaar wat ons kon verkoop, soos ou aluminiumware, ou geelkoper of koper, ou motorverkoelers en -batterye. Dit het ons brandstofgeld gegee vir my model A-Ford wat ons in die bediening gebruik het.

Ons het in Newton, Searcy en Carroll gedien, wat distrikte in die bergagtige Ozark-hoogvlakte is. ’n Mens sou ’n boek kon skryf oor al die ondervindings wat ons gehad het terwyl ons vir die mense in die berge van Arkansas gepreek het. Aangesien paaie destyds primitief was of glad nie bestaan het nie, het ons baie van ons werk te voet gedoen. Party pioniers in ons groep het perde gebruik om die mense in die hoërliggende gebiede in die berge te bereik.

Eenkeer het ons van ’n belangstellende met die naam Sam te hore gekom. Ons het hom uiteindelik opgespoor waar hy bo-op ’n berg gewoon het. Hy het ons met oop arms verwelkom en ons met graagte daar laat oornag. Al het Sam se vrou nie in ons boodskap belanggestel nie, het sy 16-jarige seun Rex wel belanggestel. Toe ons vertrek, het Sam ons genooi om weer te kom. Twee weke later het ons weer by hulle tuisgegaan.

Toe ons die tweede keer vertrek, was dit Sam se vrou wat ons genooi het om weer te kom. Sy het gesê dat ons ’n goeie invloed op Rex gehad het. “Hy vloek verskriklik”, het sy gesê, “en ek dink nie hy het naastenby so baie gevloek vandat julle hier was nie.” Ek het Rex jare later weer ontmoet toe hy die Gilead-sendingskool in South Lansing, New York, bygewoon het. Ondervindings soos hierdie het vir my deur die jare baie bevrediging gebring.

Betheldiens

Toe ek aansoek gedoen het om as pionier aangestel te word, het ek ook aansoek gedoen om by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York, wat Bethel genoem word, te dien. In die lente van 1935 is ek in kennis gestel dat my aansoek aanvaar is en dat ek by die Wagtoringgenootskap se Kingdom Farm in South Lansing, New York, moes aanmeld vir Betheldiens. Ek het dadelik gereël dat ’n mede-Getuie my woonwa, wat ek in die pionierdiens gebruik het, sou oorneem.

Met my model A-Ford is ek New York toe en het op 3 Mei 1935, omtrent halfelf die oggend, daar aangekom. Omstreeks eenuur daardie middag is ek aangesê om hout te kap. Die volgende dag moes ek by die melkstal aanmeld om te help koeie melk. Ek het etlike jare lank in die melkery gewerk en het soms die koeie soggens en saans gemelk en gedurende die dag saam met die spanne in die tuine en landerye gewerk. Ek het ook die bye versorg en heuning vir die Bethelgesin ingesamel. In 1953 is ek na die kaasmakery oorgeplaas.

Een persoon wat weens sy prysenswaardige voorbeeld van nederigheid, getrouheid en gehoorsaamheid aan Jehovah ’n invloed op my lewe gehad het, was Walter John “Pappy” Thorn. Hy was een van 21 Bybelstudente wat in 1894 aangestel is as die eerste pelgrims—manne wat ’n werk gedoen het soortgelyk aan dié van vandag se kringopsieners—naamlik om ’n aantal gemeentes te besoek en hulle op te bou. Na baie jare in die reisende werk het broer Thorn na Kingdom Farm toe gekom waar hy in die hoenderhok gewerk het. Ek het hom dikwels hoor sê: “Wanneer ek ook al baie van myself begin dink, laat ek my in ’n hoekie staan, om dit so uit te druk, en sê: ‘Jou klein stofspikkeltjie. Wat het jy om hoogmoedig oor te wees?’”

Nog ’n beskeie persoon wat vir my ’n rolmodel was, is John Booth, tans ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Sy woorde is al dikwels deur die jare heen aangehaal: “Dit is nie soveel wáár jy dien nie, maar wíe jy dien wat werklik van belang is.” Dit is ’n eenvoudige stelling, maar hoe waar is dit tog nie! Dit is die allergrootste voorreg om Jehovah te dien!

Een van die hoogtepunte van my Betheldiens was die opening van die Gilead-sendingskool in 1943 by Kingdom Farm. Dit was werklik opwindend om met pioniers uit baie dele van die wêreld te assosieer. Destyds was daar omtrent honderd studente in elke klas, met die gevolg dat daar elke ses maande honderd nuwelinge na Kingdom Farm toe gekom het. Graduerings het duisende mense na hierdie opvoedkundige sentrum in die landelike gebied van die staat New York gelok.

’n Werksverandering

Toe Gileadskool na Brooklyn toe verskuif is en die hoofkompleks by South Lansing, wat die woon- en skoolgeriewe gehuisves het, verkoop is, is die melkery na Watchtower Farms in Wallkill, New York, verskuif. In die herfs van 1969 is ek dus oorgeplaas na die plaas by Wallkill en het tot in 1983 kaas gemaak. Toe is my werk verander, en ek het begin om tuine uit te lê.

Tydens ’n onderhoud ’n tyd gelede is ek gevra hoe ek daaroor gevoel het om, nadat ek 30 jaar lank kaas gemaak het, ’n verandering van werk te kry. “Dit het my nie gepla nie”, het ek ronduit gesê, “want ek het in elk geval nie daarvan gehou om kaas te maak nie.” Die punt was dat ons in enige toewysing in Jehovah se diens gelukkig kan wees as ons die regte perspektief behou en ons nederig aan teokratiese leiding onderwerp. Al het ek dus nie eintlik daarvan gehou om kaas te maak nie, het ek my toewysing geniet omdat dit die Bethelgesin gehelp het. As ons ons groot God, Jehovah, getrou en sonder klagte dien, kan ons in enige toewysing gelukkig wees, maak nie saak wat dit is nie.

Ek dink nie dat ek in my oudag beter daaraan toe kon wees as om in Bethel te dien nie. Ek word goed versorg, en ek kon nog altyd my werktoewysings uitvoer al is ek 90 jaar oud. Ek geniet reeds baie jare lank die voorreg om my beurt te neem om die Bethelgesin se oggendgodsdiensprogram hier by Watchtower Farms te lei. Wanneer ek die geleentheid kry, moedig ek nuwelinge by Bethel aan om al die diensvoorregte wat hulle kry te benut, en om te leer om tevrede en gelukkig daarin te wees.

Deur die jare heen kon ek verskillende kere vreemde plekke besoek—Indië, Nepal, die Verre-Ooste en Europa. Die volgende raad kan lede van Jehovah se volk deur die hele wêreld in hulle verskillende gemeentes help: Wees gelukkig en tevrede in julle huidige omstandighede en floreer geestelik in die grond waarin julle geplant is.

Ek het besluit om ongetroud te bly, want dit het my toegelaat om my diens aan God ongehinderd voort te sit. As ’n beloning vir getrouheid het ons groot God ons die vooruitsig van die ewige lewe gegee. Vir baie sal dit eindelose lewe in ’n paradystuiste hier op aarde beteken. Ander van ons sien uit na eindelose lewe in die hemele waar ons ons sal besig hou met watter toewysing ons ook al gegee word.

Party mense sal dink dat my 90 jaar ’n lang, vol lewe was. My lewe was vol, maar nie lank genoeg nie. Deur na aan God se organisasie en sy woorde van waarheid te bly, kan ons ons lewe vir ewig verleng.a

[Voetnoot]

a Terwyl Roy Ryan besig was om sy lewensondervindinge op te teken, het sy gesondheid skielik versleg. Hy het sy aardse lewe op 5 Julie 1991 voltooi, nie lank nadat hy sy gebruiklike beurt geneem het om die oggendgodsdiens by Watchtower Farms te lei nie.

[Prent op bladsy 26]

Broer Ryan in sy vroeër jare langs ’n model T-Ford

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel