Hoe kan ons Jehovah vergoed?
JEHOVAH GOD voorsien ons van die beste voorbeeld van vrygewigheid. Hy het die hele mensdom “lewe en asem en alles” gegee (Handelinge 17:25). God laat sy son oor goddelose sowel as regverdige mense skyn (Mattheüs 5:45). Ja, ‘Jehovah gee vir ons reën van die hemel en vrugbare tye en vervul ons harte met voedsel en vrolikheid’ (Handelinge 14:15-17). “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal [immers] van bo af neer, van die Vader van die ligte”!—Jakobus 1:17.
Benewens al God se materiële gawes stuur hy ook geestelike lig en waarheid uit (Psalm 43:3). Jehovah se lojale knegte word ryklik geseën met die geestelike voedsel wat hy op die regte tyd deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien (Mattheüs 24:45-47). Ons kan baat vind by God se geestelike voorsienings omdat hy dit moontlik gemaak het dat sondige en sterwende mense met hom versoen kan word. Hoe? Deur die dood van sy Seun, Jesus Christus, wat sy lewe as ’n losprys vir baie gegee het (Mattheüs 20:28; Romeine 5:8-12). Wat ’n gawe is dit tog van die liefdevolle God, Jehovah, af!—Johannes 3:16.
Is enige vergoeding moontlik?
Eeue voordat die losprys voorsien is, het ’n geïnspireerde psalmis die godgegewe barmhartigheid, verlossing en hulp so diep waardeer dat hy gesê het: “Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my? Met ’n drankoffer sal ek van sy redding getuig en die Naam van die Here aanroep. My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk.”—Psalm 116:12-14, NAV.
As ons heelhartig aan Jehovah toegewy is, roep ons sy naam in geloof aan en betaal ons ons geloftes aan hom. As Getuies van Jehovah kan ons God loof deur altyd goed van hom te praat en die boodskap van sy Koninkryk te verkondig (Psalm 145:1, 2, 10-13; Mattheüs 24:14). Maar ons kan Jehovah, wat alle dinge besit, nie verryk of hom vergoed vir al die weldade wat hy aan ons bewys nie.—1 Kronieke 29:14-17.
Skenkings ter bevordering van Koninkryksbelange is nie ’n manier om Jehovah te vergoed of te verryk nie. Sulke skenkings bied ons egter die geleentheid om ons liefde vir God te betoon. Bydraes wat gegee word in ’n vrygewige gees en om ware aanbidding te bevorder, nie om selfsugtige beweegredes of ter wille van publisiteit of eer nie, bring vir die gewer vreugde sowel as Jehovah se seën (Mattheüs 6:1-4; Handelinge 20:35). As jy gereeld van jou materiële besittings opsysit om ware aanbidding te ondersteun en om diegene te help aan wie dit toekom, sal jy sekerlik ’n aandeel hê in sulke gawes en in die blydskap wat daarmee gepaard gaan (1 Korinthiërs 16:1, 2). Behoort dit gedoen te word deur tiendes te betaal?
Behoort jy tiendes te betaal?
Jehovah het deur sy profeet Maleagi gesê: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin . . . of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.”—Maleagi 3:10.
’n Tiende is die 10 persent wat as ’n heffing gegee of betaal word. Tiendes word hoofsaaklik vir godsdienstige doeleindes gegee. Dit behels dat ’n mens ’n tiende van jou inkomste gee om aanbidding te bevorder.
Die aartsvader Abraham (Abram) het vir Melgisedek, die koning-priester van Salem, een tiende van die buit uit die oorwinning oor Kedor-Laomer en sy bondgenote gegee (Genesis 14:18-20; Hebreërs 7:4-10). Later het Jakob ’n gelofte gedoen om een tiende van sy besittings aan God te gee (Genesis 28:20-22). In elke geval is die tiende vrywillig gegee, want daardie vroeë Hebreërs het nie wette gehad wat hulle verplig het om tiendes te gee nie.
Tiendeheffing onder die wet
As Jehovah se volk het die Israeliete wette oor tiendes ontvang. Dit het klaarblyklik twee tiendes van die jaarlikse inkomste behels, hoewel party geleerdes meen dat daar net een jaarlikse tiendeheffing was. Geen tiende is gedurende ’n Sabbatsjaar betaal nie, aangesien daar in daardie jaar geen inkomste verwag is nie (Levitikus 25:1-12). Tiendes is gegee benewens die eerste vrugte wat aan God geoffer is.—Exodus 23:19.
Een tiende van die opbrengs van die land en van die vrugtebome en blykbaar van die vermeerdering in die kuddes en troppe is na die heiligdom geneem en aan die Leviete, wat geen erfdeel in die land ontvang het nie, gegee. Hulle het weer ’n tiende van wat hulle ontvang het, gegee om die Aäronitiese priesterdom te ondersteun. Die graan is klaarblyklik gedors en die vrug van die wingerd en die olyfboom tot wyn en olie verwerk vóór dit as tiendes gegee is. As ’n Israeliet geld pleks van opbrengs wou gee, kon hy dit doen, op voorwaarde dat hy ’n vyfde van die waarde byvoeg.—Levitikus 27:30-33; Numeri 18:21-30.
Nóg ’n tiende is blykbaar opsygesit. Dit is gewoonlik deur gesinne gebruik wanneer die volk vir feeste byeengekom het. Maar wat kon hulle doen as die afstand na Jerusalem te groot was om hierdie tiende gerieflik te vervoer? Dan is die graan, nuwe wyn, olie en diere in geld omgesit wat maklik gedra kon word (Deuteronomium 12:4-18; 14:22-27). Aan die einde van elke derde en sesde jaar van die sabbatsiklus van sewe jaar is ’n tiende opsygesit vir die Leviete, vreemdelinge, weduwees en wese.—Deuteronomium 14:28, 29; 26:12.
Daar was geen straf in die wet vir iemand wat versuim het om sy tiendes te betaal nie. Pleks daarvan het Jehovah die volk onder ’n sterk morele verpligting geplaas om tiendes te gee. By tye moes hulle voor hom verklaar dat die tiende ten volle betaal is (Deuteronomium 26:13-15). Enigiets wat wederregtelik weerhou is, is beskou as iets wat van God gesteel is.—Maleagi 3:7-9.
Die heffing van tiendes was nie ’n beswarende reëling nie. Trouens, wanneer die Israeliete hierdie wette gehoorsaam het, het hulle gefloreer. Die tiendeheffing het ware aanbidding bevorder sonder om onnodig te beklemtoon hoe materiële voorsiening daarvoor gemaak moes word. Die reëling van tiendeheffing het gevolglik tot die heil van die hele Israel bygedra. Maar moet Christene tiendes gee?
Moet Christene tiendes gee?
Tiendeheffing was ’n tyd lank ’n algemene gebruik in die Christendom. The Encyclopedia Americana sê: “Dit . . . het geleidelik teen die 6de eeu ’n algemene gebruik geword. Die Konsilie van Tours in 567 en die tweede Konsilie van Macon in 585 het tiendeheffing voorgestaan. . . . Misbruike het algemeen begin voorkom, veral toe die reg om tiendes in te samel in baie gevalle aan leke gegee of verkoop is. Sedert die tyd van pous Gregorius VII is dié gebruik onwettig verklaar. Baie leke het toe hulle reg om tiendes te hef aan kloosters en katedraalkapittels gegee. Die Hervorming het nie tot die afskaffing van tiendeheffings gelei nie, en die gebruik is in die Rooms-Katolieke Kerk en in Protestantse lande voortgesit.” Tiendeheffing is gaandeweg in verskillende lande afgeskaf of vervang, en net enkele godsdienste beoefen dit nog.
Is Christene dus onder verpligting om tiendes te gee? Alexander Cruden het in sy Bybelkonkordansie gesê: “Nóg ons Verlosser, nóg sy apostels het enigiets in verband met tiendes beveel.” Christene word inderdaad nie beveel om tiendes te betaal nie. God het self ’n einde gemaak aan die Mosaïese Wet met sy reëlings vir die betaling van tiendes deur dit aan Jesus se folterpaal vas te nael (Romeine 6:14; Kolossense 2:13, 14). Pleks dat daar van hulle verwag word om ’n spesifieke bedrag te gee om gemeentelike uitgawes te dek, gee Christene dus vrywillige bydraes.
Eer Jehovah met jou waardevolle dinge
Indien ’n Christen natuurlik vrywillig besluit om ’n tiende van sy inkomste te gee om ware aanbidding te bevorder, sal daar geen skriftuurlike beswaar teen sulke skenkings wees nie. In ’n brief wat sy skenking vergesel het, het ’n 15-jarige seun uit Papoea-Nieu-Guinee geskryf: “Toe ek nog klein was, het my pa altyd vir my gesê: ‘Wanneer jy begin werk, moet jy die eerste vrugte aan Jehovah gee.’ Ek onthou die woorde in Spreuke 3:1, 9 wat sê dat ons die eerste vrugte aan Jehovah moet gee om hom te eer. Gevolglik het ek beloof om dit te doen, en nou moet ek my belofte hou. Ek is baie bly dat ek hierdie geld kan stuur om met die Koninkrykswerk te help.” Die Bybel vereis nie van Christene om sulke beloftes te maak nie. Vrygewigheid is egter ’n goeie manier om ywerige belangstelling in die bevordering van ware aanbidding te toon.
’n Christen verkies dalk om geen spesifieke perk te stel op die skenkings wat hy maak om die aanbidding van Jehovah God te bevorder nie. Ter toeligting: Terwyl twee bejaarde susters by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies was, het hulle gesels oor skenkings wat ten behoewe van die Koninkrykswerk gemaak kan word. Een van die susters, wat 87 jaar oud is, het gevra hoeveel die voedsel kos wat by die byeenkomsterrein verkry kan word sodat sy daardie bedrag kon bydra. Die ander suster, wat 90 is, het gesê: ‘Gee net wat jy dink dit werd is—en ’n bietjie meer.’ Wat ’n prysenswaardige gesindheid het hierdie bejaarde suster aan die dag gelê!
Aangesien Jehovah se volk hulleself en alles wat hulle het aan hom toegewy het, gee hulle graag geldelike skenkings en ander bydraes om ware aanbidding te bevorder. (Vergelyk 2 Korinthiërs 8:12.) Trouens, die Christelike manier van gee, bied geleenthede om ’n diep waardering vir die aanbidding van Jehovah te toon. Sulke skenkings is nie tot ’n tiende beperk nie, en daar kan geleenthede wees wanneer ’n persoon graag meer wil gee om Koninkryksbelange te bevorder.—Mattheüs 6:33.
Die apostel Paulus het gesê: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korinthiërs 9:7). As jy blymoedig en vrygewig ter ondersteuning van ware aanbidding gee, sal jy voorspoedig wees, want ’n wyse spreuk sê: “Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste; dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.”—Spreuke 3:9, 10.
Ons kan nie die Allerhoogste verryk nie. Aan hom behoort al die goud en silwer, die wild op duisend berge en waardevolle dinge sonder tal (Psalm 50:10-12). Ons kan God nooit vergoed vir al sy weldade aan ons nie. Maar ons kan toon dat ons diep waardering het vir hom en vir die voorreg om heilige diens tot sy eer te kan lewer. En ons kan seker wees dat ryk seëninge diegene te beurt val wat vryelik gee om ware aanbidding te bevorder en om die liefdevolle en vrygewige God, Jehovah, te vereer.—2 Korinthiërs 9:11.
[Venster op bladsy 29]
HOE PARTY TOT DIE KONINKRYKSWERK BYDRA
◻ SKENKINGS: Vrywillige geldelike bydraes kan regstreeks aan die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, 25 Columbia Heights, Brooklyn, New York 11201, of aan die Genootskap se plaaslike takkantoor, gestuur word. Juwele of ander kosbare artikels kan ook geskenk word. ’n Kort briefie wat meld dat dit ’n onvoorwaardelike skenking is, moet hierdie bydraes vergesel.
◻ REËLING VIR VOORWAARDELIKE SKENKINGS: Geld kan aan die Wagtoringgenootskap gegee word om in trust beheer te word tot die skenker se dood, op voorwaarde dat dit aan die skenker terugbetaal sal word, indien hy dit nodig sou kry.
◻ VERSEKERING: Die Wagtoringgenootskap kan benoem word as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenskema. Die Genootskap moet van sulke reëlings in kennis gestel word.
◻ EFFEKTE EN OBLIGASIES: Effekte en obligasies kan aan die Wagtoringgenootskap geskenk word, hetsy as ’n regstreekse skenking, of ooreenkomstig ’n reëling waarvolgens die inkomste steeds aan die skenker betaal word.
◻ VASTE EIENDOM: Verkoopbare vaste eiendom kan aan die Wagtoringgenootskap geskenk word, hetsy deur ’n regstreekse skenking, of met die terughouding van lewenslange vruggebruik deur die skenker, wat steeds vir die duur van sy of haar lewe daarin kan bly. Die Genootskap moet geraadpleeg word voordat enige skenkingsakte van vaste eiendom aan die Genootskap gemaak word.
◻ TESTEMENTE: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania bemaak word. ’n Kopie van die testament moet aan die Genootskap gestuur word. (In Suid-Afrika moet testamente Jehovah se Getuies van Suid-Afrika as begunstigde benoem.)
Skryf aan die Tesourierskantoor, Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, Privaatsak 2067, Krugersdorp, 1740, of aan die Genootskap se plaaslike takkantoor, vir nadere inligting oor sulke aangeleenthede.