Die aanbidders word ingesamel
DIE apostel Johannes het ’n visioen ontvang van wêreldskokkende gebeure wat “op die dag van die Here” sou plaasvind. Hy het die hemelse Here Jesus Christus sien opruk na regverdige oorlogvoering, wat deur ’n wit hings afgebeeld is—“al oorwinnende en om sy oorwinning te voltooi”. Die eerste ding wat hy doen, is om God se aartsvyand, Satan, uit die hemel na die omgewing van hierdie aarde neer te werp. Satan reageer hierop deur die mensdom te teister met ongeëwenaarde slagting, hongersnood en siekte, wat deur die figuurlike ruiters en hulle perde—’n rooi perd, ’n swart perd en ’n vaal perd—afgebeeld word (Openbaring 1:10; 6:1-8, NW; 12:9-12). Hierdie weë het aanvanklik in die jaar 1914 losgebreek en het sedertdien drasties toegeneem. Hulle sal binnekort hulle klimaks bereik by wat Jesus beskryf het as die “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”.—Mattheüs 24:3-8, 21.
Hoe sal Jehovah se aanbidders gedurende daardie tyd vaar? Openbaring hoofstuk 7, verse 1 tot 10, praat van engelemagte wat die winde van vernietiging ‘vashou’ totdat hierdie aanbidders ingesamel is. Gedurende die tydperk sedert 1914 word die laaste lede van geestelike Israel, wat uit 144 000 lede bestaan, op aarde ingesamel. En dan, “kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”. Hierdie groot menigte tel reeds in die miljoene. Hulle staan goedgekeur voor God se troon omdat hulle geloof beoefen in die bloed van Jesus, wat soos ’n onskuldige lam geslag is, waardeur hulle vrygekoop word. “En hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” Hierdie ywerige aanbidders hou aan om die uitnodiging “Kom!” aan ander te rig, wat op hulle beurt vir redding deur “die groot verdrukking” heen ingesamel word.—Openbaring 7:14-17; 22:17.
“Oor die hele wêreld”
Daar kan van hierdie toegewyde aanbidders gesê word: “Hulle prediking het oor die hele wêreld weerklink, hulle woorde tot by die uithoeke van die aarde” (Romeine 10:18, NAV). Hulle harde werk is met buitengewone vrugte geseën. Byvoorbeeld:
Mexiko rapporteer tans 335 965 bedrywige aanbidders van Jehovah, ’n vermeerdering van bykans honderdduisend in slegs drie jaar! Waarom was daar so ’n groot vermeerdering? Die volgende verslag help dalk om dit te verduidelik. ’n Jong man met die naam Aurelio was die koster in ’n Katolieke kerk. Elke keer as Jehovah se Getuies in daardie dorpie ingekom het, het hy die kerkklokke gelui om almal te ontmoedig om na hulle te luister. Mettertyd het hy ’n Katolieke Jerusalem Bible gekoop en dit begin lees, maar hy het dit nie verstaan nie. Eendag sien hy toe ’n vriend met ’n eksemplaar van die New World Translation onder sy arm. Aurelio het met sy vriend geraas, vir hom gesê dat sy Bybel vals is en hom na sy eie huis geneem om hom die “ware” Bybel te wys. Sy vriend het gesê: “Lees Exodus 20”, en toe is hy daar weg.
Die koster het by Exodus hoofstuk 1 begin en gelees tot hy by hoofstuk 20, verse 4 en 5, gekom het. Wat sy Katolieke Bybel oor beelde sê, het hom geskok. Die volgende Sondag na die Mis het hy die priester met die tekste oor beelde gekonfronteer. Aanvanklik het die priester gesê dat hyself net die beelde vereer het; hy het hulle nie aanbid nie. Toe hy sien dat dit Aurelio nie tevrede stel nie, het die priester hom daarvan beskuldig dat hy saam met Jehovah se Getuies studeer. Aurelio het dit ontken, maar bygevoeg: “Nou gaan ek!”
Die volgende keer toe die Getuies na die dorpie toe gekom het, het Aurelio met hulle in aanraking gekom en die Bybel saam met hulle begin studeer. Hy het sy werk in die kerk laat vaar en binne drie maande aan die vereistes voldoen om saam met Jehovah se Getuies aan die openbare bediening deel te neem. Die eerste huis wat hy besoek het, was die priester s’n, wat nie sy oë kon glo toe hy die gewese koster in die rol van ’n Koninkryksverkondiger sien nie. Die priester het hom met ekskommunikasie gedreig, maar Aurelio het vir hom gesê dat dit nie nodig sou wees nie aangesien hy reeds die kerk verlaat het. Sy moedige weg het baie van die dorpsbewoners aangemoedig wat reeds met Jehovah se Getuies gestudeer het. Aurelio en 21 ander van daardie dorp is by die volgende streekbyeenkoms gedoop. Die groei in hierdie omgewing is so vinnig dat daar net een ouere man beskikbaar was om die vrae vir doopkandidate met hierdie groep te hersien.
“Hulle prediking het . . . weerklink”
Niemand kan die verkondiging van die Koninkryk ontduik nie. ’n Italiaanse Katoliek het gewoonlik kwaad geword elke keer wanneer Jehovah se Getuies hom besoek het. Toe sy maatskappy hom dus na Singapoer verplaas het, het hy gemeen dat hulle hom uiteindelik nie meer sou pla nie. Maar tot sy verbasing was die Getuies ook daar. Daarom het hy twee kwaai honde aangeskaf om die volgende Getuies wat daar kom, aan te val. Toe twee Getuies by sy huis aankom, het die honde uitgespring. Vreesbevange het die vroue gehardloop asof hulle lewe daarvan afhang en by ’n padkruising in verskillende rigtings gegaan. Toe een van die honde een van die Getuies inhaal, het sy desperaat twee brosjures uit haar sak gegryp en hulle in die hond se oop bek gedruk. Toe het hy opgehou om haar te jaag, omgedraai en huis toe gedraf.
Die volgende week het dieselfde twee Getuies ’n herbesoek by ’n huis oorkant die straat gedoen. Die honde se eienaar was in sy tuin, en tot hulle verbasing het hy die vroue gegroet en hulle in sy huis ingenooi. Hy het vir hulle gesê dat hy nog nooit met Jehovah se Getuies gepraat het of enige van hulle publikasies gelees het nie. Maar hy was verstom om die brosjures in die bek van een van sy honde te vind. Daardie aand het hy die brosjures gelees en was werklik beïndruk daarmee. Hoewel hy sy hele lewe lank ’n Katoliek was, het hy ’n begeerte uitgespreek om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer.
Aangesien die man terugverplaas is na Italië toe is reëlings getref sodat Jehovah se Getuies daar saam met hom kon studeer. Toe hy en sy vrou vergaderinge begin bywoon, het die plaaslike priester woedend dreigemente na hulle geslinger. Toe iemand ’n brand in hulle tuin gestig het, het die egpaar alle bande met die kerk verbreek. Hierdie man sê nou: “Ek getuig reeds vir baie van my familielede, want ek wil hê hulle moet weet dat Jehovah die enigste ware God is.”
“Tot by die uithoeke van die aarde”
Nog ’n ondervinding uit ’n uithoek van die aarde toon hoe die Koninkryksboodskap waardeer word en help om lewens te verander. Terwyl ’n Getuie in Australië voorgeboortelike klasse bygewoon het, het sy ’n vrou ontmoet wat talle slegte gewoontes gehad het en selfs geweier het om tydens haar swangerskap op te hou rook. Haar gesindheid het die Getuie baie ontstel. Toevallig het hulle hulle babas dieselfde tyd gehad en was hulle in dieselfde saal, en hulle het gevolglik ’n kans gekry om te gesels. Daardie vrou het blykbaar gedurende haar kinderjare baie probleme gehad, en haar huwelik was toe juis op die punt om te verbrokkel. Nadat die Getuie dus uit die hospitaal ontslaan is, het sy die vrou besoek en ’n Bybelstudie deur middel van die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou met haar begin.
Die vrou se man het intussen tot God gebid dat hy die ware godsdiens kon vind, maar het die voorwaarde bygevoeg: “Solank dit net nie Jehovah se Getuies is nie!” Toe hy uitvind dat sy vrou saam met die Getuies studeer, het hy nietemin begin vrae vra en is hy genooi om saam te studeer. Hy het dit gedoen en het weldra gemeentelike vergaderinge begin bywoon. Die man sowel as sy vrou is nou al gedoop, en hulle huwelik het natuurlik baie verbeter.
Tuisbybelstudies uit sulke lektuur lei daartoe dat baie nuwe aanbidders ingesamel word. In lande waar Jehovah se Getuies met revolusies, burgeroorloë of regeringsverbooie te kampe gehad het, het tuisbybelstudies toegeneem. ’n Burgeroorlog het baie jare lank in Angola gewoed, en die Getuies het baie vervolging en ontberings deurgemaak. Vroeg verlede jaar het rapporte getoon dat elke verkondiger gemiddeld bykans drie tuisbybelstudies gehou het, maar die verkondigers het min Bybellektuur gehad. Reisende opsieners het elke dag ’n klein groepie besoek en velddiens vir die dag en vergaderinge vir elke aand gereël. Wat ’n vreugde was dit tog toe vyandelikhede opgehou het en 42 ton Bybellektuur wat hulle broodnodig gehad het uit Suid-Afrika daar aangekom het! Die liefde van daardie broers sal ongetwyfeld “oorvloediger . . . word met juiste kennis en volledige onderskeidingsvermoë”, terwyl hulle hulle nou “van die belangriker dinge [kan] vergewis” (Filippense 1:9, 10, NW). Wat ’n aansporing is dit tog vir diegene wat volop Bybelstudiehulpe beskikbaar het om die voorsiening wat Jehovah so goedgunstiglik beskikbaar stel ten volle te benut!—1 Timotheüs 4:15, 16.
Die vreugde van hierdie getroue aanbidders herinner ons aan Jesus se woorde in die Bergpredikasie: “Gelukkig is diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. . . . Gelukkig is diegene wat ter wille van die regverdigheid vervolg word, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. . . . Verheug julle en spring van vreugde, want julle beloning is groot in die hemele” (Mattheüs 5:3-12, NW). Wat ’n oes word daar tog nie reeds in Angola ingesamel nie!
In ander dele van die wêreld is beperkings op die bedrywighede van Jehovah se Getuies ook verslap of verwyder. Jesus het in sy dag gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min” (Mattheüs 9:37). Hoe waar is dit tog vandag! Die behoefte aan meer werkers is altyd daar. Ons is bly dat ons aanbidding die insameling van die oes insluit. Daar is vandag op aarde niks wat groter vreugde meebring as ons vrugbare, toegewyde diens aan Jehovah God nie.
Maar wat spoor Jehovah se aanbidders aan om sulke vreugde en ywer aan die dag te lê? Ons sal nog sien.