Vrees Jehovah en verheerlik sy heilige naam
“Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, want u alleen is lojaal?”—OPENBARING 15:4, NW.
1, 2. (a) Hoe het Jehovah gedurende 1991 die sluise van die hemel geopen? (b) Watter lewensondervinding het ’n getroue sendeling die raad “Vrees Jehovah” laat gee? (Sien ook jaarboek vir 1991, bladsye 187-9.)
JEHOVAH ‘het die sluise van die hemel geopen en waarlik ’n seën uitgegiet totdat daar geen gebrek meer was nie’. In die laaste tyd kon daardie woorde keer op keer op Jehovah se Getuies toegepas word (Maleagi 3:10, NW). Byvoorbeeld, gedurende die 1991-diensjaar het besoekende Getuies en plaaslike byeenkomsgangers oorgeloop van entoesiasme terwyl hulle Christelike omgang geniet het tydens spesiale streekbyeenkomste wat wêreldwyd gehou is—van die “Suiwer-Taal”-Streekbyeenkomste in Buenos Aires in Suid-Amerika; en Manila, Taipei en Bangkok in die Ooste; tot die “Liefhebbers van Vryheid”-Streekbyeenkomste in Boedapest, Praag en Zagreb (16-18 Augustus 1991) in Oos-Europa.
2 Wat ’n vreugde was dit nie vir oorsese byeenkomsgangers om Getuies te ontmoet wat al jare getrou in daardie plekke dien nie! In Bangkok het Frank Dewar—op een tydstip die enigste Koninkryksverkondiger in Thailand—byvoorbeeld vertel van sy 58 jaar van sendingwerk. Sy bedrywighede het gestrek van die eilande van die Stille Oseaan tot in Suidoos-Asië, en selfs tot in China. Hy het voor gevare, soos skipbreuk, wilde diere in die oerwoude, tropiese siektes en die wrede bewind van die Japannese krygshere, te staan gekom. Toe hy gevra is watter raad hy vir byeenkomsgangers het, was sy antwoord eenvoudig: “Vrees Jehovah!”
3. Waarom moet ons godvrugtige vrees aan die dag lê?
3 “Vrees Jehovah!” Hoe belangrik is dit tog vir ons almal om daardie heilsame vrees aan te kweek! “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid” (Psalm 111:10). Hierdie vrees is nie ’n morbiede angs vir Jehovah nie. Dit is eerder ’n diepe respek vir sy ontsagwekkende majesteit en goddelike eienskappe en is gegrond op die insig wat ons deur ’n studie van God se Woord opdoen. In Openbaring 15:3, 4 verklaar die lied van Moses en van die Lam: “Groot en wonderbaar is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid. Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, want u alleen is lojaal?” (NW). In lojaliteit teenoor sy aanbidders laat Jehovah “’n gedenkboek voor sy aangesig [skryf] vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer”. Hulle word met die ewige lewe beloon.—Maleagi 3:16; Openbaring 20:12, 15.
Godvrugtige vrees triomfeer
4. Watter eertydse verlossingsdaad behoort ons aan te moedig om Jehovah te vrees?
4 Toe Israel uit Farao se Egipte getrek het, het Moses duidelik getoon dat hy slegs Jehovah vrees. Kort voor lank was die Israeliete vasgekeer tussen die Rooi See en Egipte se magtige militêre masjien. Wat het hulle te doen gestaan? “Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” Op wonderbaarlike wyse het Jehovah die water gekloof. Die Israeliete het op die seebedding deurgetrek. Toe het die water weer teruggestort. Farao se leër is uitgewis. Jehovah het daardie godvresende nasie gered en terselfdertyd oordeel voltrek aan die godonterende Egipte. Net so sal hy in ons dag sy lojaliteit toon deur sy godvresende Getuies uit Satan se wêreld te verlos.—Exodus 14:13, 14; Romeine 15:4.
5, 6. Watter gebeure in Josua se tyd toon dat ons Jehovah eerder as die mens moet vrees?
5 Na die uittog uit Egipte het Moses 12 spioene die Beloofde Land ingestuur. Tien van hulle was verskrik toe hulle die reusagtige inwoners van die land sien en het Israel probeer oorhaal om nie die land in te gaan nie. Maar die ander twee, Josua en Kaleb, het hierdie verslag gegee: “[Dit] is ’n buitengewoon goeie land. As die HERE ’n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!”—Numeri 14:7-9.
6 Die Israeliete het egter voor mensevrees geswig. Gevolglik het hulle nooit die land van die belofte bereik nie. Maar Josua en Kaleb, tesame met ’n nuwe geslag Israeliete, het die voorreg gehad om daardie uitgesoekte land binne te gaan en sy wingerde en olyfoorde te bewerk. In sy afskeidstoespraak aan die vergaderde volk van Israel het Josua hierdie raad gegee: “Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid.” En hy het bygevoeg: “Maar ek en my huis, ons sal die HERE dien” (Josua 24:14, 15). Hoe bemoedig hierdie woorde gesinshoofde en alle ander persone tog om Jehovah te vrees terwyl ons ons voorberei om God se regverdige nuwe wêreld binne te gaan!
7. Hoe het Dawid die belangrikheid van vrees vir God beklemtoon?
7 Die jong skaapherder Dawid het ook voorbeeldige vrees vir Jehovah getoon toe hy Goliat in God se naam uitgedaag het (1 Samuel 17:45, 47). Op sy sterfbed kon Dawid verklaar: “Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong. Die God van Israel het gesê, die Rots van Israel het tot my gespreek: ’n Heerser oor mense, ’n regverdige, ’n heerser in die vrees van God, is soos die môrelig by sonsopgang, ’n môre sonder wolke” (2 Samuel 23:2-4). Dit is duidelik dat hierdie vrees vir God onder die wêreld se heersers ontbreek, en hoe tragies is die gevolge nie! Hoe anders sal dit tog wees wanneer Jesus, “die Seun van Dawid”, die aarde in die vrees vir Jehovah regeer!—Mattheüs 21:9.
Hoe party in die vrees vir Jehovah opgetree het
8. Waarom het Juda voorspoed onder Josafat geniet, en waarop dui dit vandag?
8 Sowat honderd jaar na Dawid se dood het Josafat koning van Juda geword. Hier was weer ’n koning wat in die vrees vir Jehovah gedien het. Hy het teokratiese orde in Juda herstel, regters in alle dele van die land aangestel en hulle hierdie instruksies gegee: “Julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die HERE; en Hy is by julle in die regspraak. Mag die skrik vir die HERE dan nou op julle wees; handel nougeset, want by die HERE onse God is geen onreg of partydigheid of aanneming van geskenke nie. . . . So moet julle handel in die vrees van die HERE, met getrouheid en met ’n volkome hart” (2 Kronieke 19:6-9). Juda het gevolglik voorspoed geniet in die vrees vir Jehovah, net soos God se volk vandag baat vind by die diens van medelydende opsieners.
9, 10. Hoe het Josafat in die vrees vir Jehovah getriomfeer?
9 Maar Juda het vyande gehad. Hierdie vyande het hulle voorgeneem om God se volk uit te wis. Die gekombineerde militêre magte van Ammon, Moab en van die gebergte Seïr het die gebied van Juda binnegestroom en Jerusalem bedreig. Dit was ’n geweldige leërmag. Josafat het hom in gebed tot Jehovah gewend terwyl “die hele Juda . . . voor die HERE gestaan [het], ook hulle kinders, hulle vroue en hulle seuns”. Toe, in antwoord op daardie gebed, het Jehovah se gees op die Leviet Jahasiël gekom, en hy het gesê: “So sê die HERE aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God. Trek môre af teen hulle. . . . Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees.”—2 Kronieke 20:5-17.
10 Die volgende oggend het die manne van Juda vroeg opgestaan. Terwyl hulle gehoorsaam die vyand tegemoetgegaan het, het Josafat opgestaan en gesê: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees.” Sangers het voor die gewapende manne uitgegaan en in ’n koor tot Jehovah gesing: “Loof die HERE, want sy goedertierenheid [“liefderyke goedhartigheid”, NW] is tot in ewigheid!” Jehovah het daardie liefderyke goedhartigheid geopenbaar deur soveel verwarring onder die vyandelike magte te saai dat hulle mekaar verdelg het. Toe die manne van Juda by die wagtoring in die wildernis aankom, was daar net lyke.—2 Kronieke 20:20-24.
11. Watter verskil is daar tussen die nasies en God se volk ten opsigte van vrees?
11 Toe die naburige nasies van hierdie wonderbaarlike verlossing hoor, het “die skrik vir God” op hulle gekom. Hierteenoor het die nasie wat gehoorsaam was in die vrees vir Jehovah nou ‘rus rondom’ geniet (2 Kronieke 20:29, 30). Wanneer Jehovah by Armageddon die oordeel voltrek, sal “die skrik vir God” en vir sy Skerpregter-Seun, Jesus Christus, insgelyks op die nasies wees, en hulle sal nie staande kan bly op die groot dag van goddelike wraak nie.—Openbaring 6:15-17.
12. Hoe is die vrees vir Jehovah in vroeër tye beloon?
12 ’n Heilsame vrees vir Jehovah bring ryk belonings mee. Noag het “met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin” (Hebreërs 11:7). Wat die eerste-eeuse Christene betref, is dit opgeteken dat die gemeente ná ’n tydperk van vervolging “vrede gehad [het]; en terwyl hulle opgebou is en gewandel het in die vrees van die Here en die vertroosting van die Heilige Gees, het hulle vermeerder”—baie soos dit vandag in Oos-Europa die geval is.—Handelinge 9:31.
Wees lief vir wat goed is, haat wat sleg is
13. Wat is die enigste manier waarop ons Jehovah se seën kan geniet?
13 Jehovah is geheel en al goed. Gevolglik beteken “die vrees vir Jehovah . . . om die kwaad te haat” (Spreuke 8:13, NW). Van Jesus is daar geskryf: “U het geregtigheid liefgehad en wetteloosheid gehaat. Daarom het God, u God, u gesalf met die olie van uitbundige vreugde” (Hebreërs 1:9, NW). As ons, net soos Jesus, Jehovah se seën wil geniet, moet ons die boosheid, die onsedelikheid, die gewelddadigheid en die hebsug van Satan se trotse wêreld verafsku. (Vergelyk Spreuke 6:16-19.) Ons moet liefhê wat Jehovah liefhet en haat wat hy haat. Ons moet vrees om enigiets te doen wat Jehovah sal mishaag. “Deur die vrees van die HERE wyk ’n mens af van die kwaad.”—Spreuke 16:6.
14. Hoe is Jesus vir ons ’n voorbeeld?
14 Jesus het vir ons ’n voorbeeld nagelaat sodat ons sy voetstappe noukeurig kan navolg. ‘Toe hy uitgeskel is, het hy nie terug uitgeskel nie; toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar dit oorgegee aan hom wat regverdig oordeel’ (1 Petrus 2:21-23). Ons kan ook in die vrees vir Jehovah die beskuldigings, die bespottings en die vervolgings verduur wat Satan se wêreld oor ons bring.
15. Waarom moet ons eerder Jehovah vrees as diegene wat die liggaam kan doodmaak?
15 In Mattheüs 10:28 het Jesus ons vermaan: “Moenie bevrees word vir dié wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees hom liewer wat siel sowel as liggaam in Gehenna kan vernietig” (NW). Selfs al sou iemand wat Jehovah vrees deur die vyand doodgemaak word, is die smarte van die dood slegs kortstondig (Hosea 13:14). Wanneer hy opgewek word, sal so iemand kan sê: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”—1 Korinthiërs 15:55.
16. Hoe het Jesus vrees vir Jehovah getoon en hom verheerlik?
16 Jesus self voorsien ’n skitterende voorbeeld vir almal wat Jehovah se geregtigheid liefhet en haat wat sleg is. Sy vrees vir Jehovah word weerspieël in sy laaste woorde aan sy dissipels, wat in Johannes 16:33 opgeteken is: “Dit het ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” Johannes se verslag sê voorts: “Dit het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik . . . Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het.”—Johannes 17:1-6.
Vrees Jehovah en loof hom
17. Op watter maniere kan ons Jesus se voorbeeld navolg?
17 Kan ons vandag Jesus se moedige voorbeeld navolg? In die vrees vir Jehovah kan ons beslis! Jesus het Jehovah se roemryke naam en eienskappe aan ons bekend gemaak. Omdat ons Jehovah as ons Soewereine Heer vrees, verheerlik ons hom hoog bo alle ander gode, met inbegrip van die naamlose, mistieke Drie-eenheid van die Christendom. Jesus het Jehovah met ’n heilsame vrees gedien en het geweier om vasgevang te word in die strik van vrees vir sterflike mense. “In die dae van sy vlees het Christus smeekbedes en ook smekinge opgedra aan die Een wat hom uit die dood kon red, met sterk geroep en trane, en hy is gunstig verhoor weens sy godvrugtige vrees.” Laat ons, net soos Jesus, Jehovah vrees terwyl ons aanhou om gehoorsaamheid te leer uit die dinge wat ons ly—altyd met ewige redding as ons doel.—Hebreërs 5:7-9, NW.
18. Hoe kan ons met godvrugtige vrees heilige diens aan God verrig?
18 Later in daardie brief aan die Hebreeuse Christene vermaan Paulus gesalfde Christene: “Omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.” Die “groot menigte” neem vandag aan daardie heilige diens deel. En wat behels dit? Ná Paulus se bespreking van Jehovah se onverdiende goedhartigheid deur sy Seun, Jesus Christus, as ’n offerande te voorsien, sê Paulus: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely” (Hebreërs 12:28; 13:12, 15). Uit waardering vir Jehovah se onverdiende goedhartigheid behoort ons elke uur wat ons moontlik kan aan sy heilige diens te wil wy. As lojale metgeselle van die oorblywende gesalfde Christene verrig die groot menigte vandag verreweg die grootste deel van daardie diens. Hulle skryf hulle verlossing toe aan God en Christus, terwyl hulle figuurlik gesproke voor die troon van God staan en hom “dag en nag” dien.—Openbaring 7:9, 10, 15.
Verheerlik Jehovah tot in ewigheid
19, 20. Watter twee soorte vrees sal in die ‘dag van Jehovah’ duidelik te sien wees?
19 Die glorieryke dag van Jehovah se regverdiging kom vinnig nader! “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ’n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare.” Daardie katastrofiese tyd is “die groot en vreeslike dag van die HERE” (Maleagi 4:1, 5). Dit sal die goddeloses se hart met “skrik” vervul, en hulle “sal sekerlik nie ontvlug nie”.—Jeremia 8:15; 1 Thessalonicense 5:3.
20 Jehovah se volk word egter deur ’n ander soort vrees aangedryf. Die engel wat met “ewige goeie nuus” toevertrou is, het hulle met ’n sterk stem ontbied en gesê: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom” (Openbaring 14:6, 7, vgl. NW). Ons sal met ontsag vervul word vir daardie oordeel wanneer die verskroeiende hitte van Armageddon Satan se wêreld verbrand. Heilsame vrees vir Jehovah sal onuitwisbaar op ons harte geskryf word. Mag ons dan begunstig wees om ons te bevind onder die ‘gereddes wat die Naam van Jehovah aangeroep het’!—Joël 2:31, 32; Romeine 10:13.
21. Watter seëninge sal die vrees vir Jehovah tot gevolg hê?
21 Wonderlike seëninge sal hierop volg, met inbegrip van “jare van lewe” wat tot in alle ewigheid sal voortduur! (Spreuke 9:11; Psalm 37:9-11, 29). Laat ons dus, hetsy ons die hoop het om die Koninkryk te beërwe of om onder die Koninkryk se invloedsfeer op die aarde te dien, nou aanhou om met godvrugtige vrees en ontsag heilige diens aan God te verrig. Laat ons aanhou om sy heilige naam te verheerlik. En met watter geseënde gevolg? Ewige dankbaarheid dat ons die wyse raad om Jehovah te vrees ter harte geneem het!
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat word bedoel met “die vrees vir Jehovah”?
◻ Hoe het vrees vir God sy eertydse volk tot voordeel gestrek?
◻ Watter voorbeeld van godvrugtige vrees het Jesus vir ons nagelaat?
◻ Hoe kan ons in die vrees vir Jehovah ons onkreukbaarheid behou?
[Prent op bladsy 18]
In die boek Openbaring word Jesus se broers uitgebeeld waar hulle ‘die lied van Moses’ sing, ’n lied wat Jehovah loof
[Prent op bladsy 20]
Josafat se leër triomfeer in die vrees vir Jehovah
[Prent op bladsy 23]
Jare van lewe wat tot in alle ewigheid sal voortduur, sal die beloning wees vir diegene wat Jehovah vrees