Vrae van lesers
Het Farao werklik met Sara, Abraham se vrou, getrou, soos party Bybelvertalings se bewoording van Genesis 12:19 blykbaar te kenne gee?
Nee, Farao is verhinder om Sara (Sarai) tot vrou te neem. Gevolglik is Sara se eer en waardigheid nie geskend nie.
Ons kom tot hierdie gevolgtrekking wanneer ons die situasie in sy konteks ondersoek. ’n Hongersnood het Abraham (Abram) genoodsaak om Egipte ’n ruk lank sy toevlug te maak. Hy het gevrees dat sy lewe daar in gevaar sou wees vanweë sy pragtige vrou, Sara. Abraham het nog nie ’n seun by Sara gehad nie, en as hy in Egipte sou sterf, sou die lyn van die Saad dus onderbreek word, die Saad deur wie al die geslagte van die aarde geseën sou word (Genesis 12:1-3). Abraham het Sara derhalwe beveel om haar as sy suster te identifiseer, want sy was in werklikheid sy halfsuster.—Genesis 12:10-13; 20:12.
Sy vrees was nie ongegrond nie. Geleerde August Knobel het verduidelik: “Abram het Sarai gevra om haar in Egipte as sy suster voor te doen sodat hy nie vermoor sou word nie. As sy as ’n getroude vrou beskou sou word, sou ’n Egiptenaar haar alleenlik kon kry deur haar man en eienaar om die lewe te bring; as sy as ’n suster beskou sou word, kon sy moontlik op vriendskaplike wyse van die broer gewin word.”
Die Egiptiese prinse het egter nie onderhandelinge met Abraham aangeknoop oor ’n huwelik tussen Farao en Sara nie. Hulle het eenvoudig die pragtige Sara in Farao se huis ingebring, en die heerser van Egipte het haar vermeende broer, Abraham, geskenke gegee. Maar toe het Jehovah plae oor Farao se huishouding gebring. Toe die ware toedrag van sake op die een of ander onvermelde manier aan Farao geopenbaar is, het hy vir Abraham gesê: “Waarom het jy gesê: ‘Sy is my suster’, sodat ek op die punt gestaan het om haar as my vrou te neem? En nou, hier is jou vrou. Neem haar en gaan!”—Genesis 12:14-19, NW.
Die Afrikaanse Bybel en ander Bybelvertalings gee die kursiewe gedeelte van voorgaande vers met “sodat ek haar vir my as vrou geneem het” of iets dergeliks weer. Hoewel dit nie noodwendig ’n verkeerde weergawe is nie, kan so ’n bewoording die indruk skep dat Farao werklik met Sara getrou het, dat die huwelik ’n voldonge feit was. Dit is noemenswaardig dat die Hebreeuse werkwoord in Genesis 12:19 wat vertaal word met “om te neem” in die onvoltooide verlede tyd is, wat ’n handeling aandui wat nog nie voltooi is nie. Die New World Translation vertaal hierdie Hebreeuse werkwoord in ooreenstemming met die konteks en op ’n wyse wat die vorm van die werkwoord—“sodat ek op die punt gestaan het om haar as my vrou te neem”—duidelik na vore bring.a Hoewel Farao “op die punt gestaan het” om Sara as sy vrou te neem, het hy nog nie voortgegaan met watter prosedure of seremonie dit ook al behels het nie.
Abraham is al dikwels gekritiseer vir die manier waarop hy die saak benader het, maar hy het in belang van die beloofde Saad en gevolglik ook van die hele mensdom opgetree.—Genesis 3:15; 22:17, 18; Galasiërs 3:16.
In ’n soortgelyke situasie vol potensiële gevaar het Isak toegesien dat sy vrou, Rebekka, nie haar gehude staat bekend maak nie. Op daardie tydstip was hulle seun Jakob, deur wie die lyn van die Saad sou kom, reeds gebore en al ongetwyfeld ’n jong man (Genesis 25:20-27; 26:1-11). Maar die beweegrede agter hierdie opregte taktiek was heel moontlik dieselfde as Abraham s’n. Gedurende ’n hongersnood het Isak en sy gesin in die gebied van die Filistynse koning, Abimeleg, gewoon. As hy besef het dat Rebekka met Isak getroud was, kon Abimeleg probeer het om die res van Isak se gesin om die lewe te bring, wat Jakob se dood kon beteken het. In hierdie geval het Jehovah ook ingegryp om sy knegte en die lyn van die Saad te beskerm.
[Voetnoot]
a Die vertaling deur J. B. Rotherham lui: “Waarom het jy gesê: Sy is my suster; met die gevolg dat ek op die punt gestaan het om haar vir my tot vrou te neem?”