Die verering van beelde—’n geskilpunt
IEWERS in Pole is ’n man byna gereed om sy reis aan te pak. Maar hy moet nog aan een belangrike saak aandag gee. Hy kniel voor ’n beeld van Jesus, bring ’n offer en bid om beskerming gedurende sy reise.
In Bangkok, Thailand, duisende kilometer daarvandaan, kan jy tydens volmaan in Mei die eerste feesviering van die Boeddhistiese jaarsiklus aanskou. Gedurende die feesviering word ’n beeld van die Boeddha in die strate rondgedra.
Jy is ongetwyfeld daarvan bewus dat die verering van beelde, soos dit so pas hier beskryf is, algemeen voorkom. Letterlik miljarde mense buig hulle voor beelde neer. Beelde word al millenniums lank beskou as ’n belangrike manier om nader aan God te kom.
Wat dink jy van die gebruik van beelde in aanbidding? Is dit reg of verkeerd om beelde te vereer? Hoe voel God daaroor? Is daar enige bewys dat hy sulke aanbidding goedkeur? Miskien het jy nog nie veel oor hierdie vrae nagedink nie. Maar as jy waarde heg aan ’n verhouding met God is dit belangrik dat jy die antwoorde daarop kry.
Dit was weliswaar vir baie nie ’n maklike saak om oor te besluit nie. Trouens, dit is al duisende jare lank die onderwerp van vurige en soms gewelddadige geskille. In die jaar 1513 v.G.J. het die Hebreeuse leier Moses byvoorbeeld ’n goue beeld van ’n kalf vernietig en sowat 3 000 man wat dit vereer het met die swaard laat ombring.—Exodus, hoofstuk 32.
Teenstand teen die gebruik van godsdiensbeelde is nie beperk tot die Jode nie. Wêreldlike geskiedskrywers van die ou tyd het die legende bewaar van Takhmūrūp, ’n Persiese heerser wat na bewering honderde jare voor Moses uitgebreide veldtogte teen die verering van beelde onderneem het. Daar word gesê dat ’n legendariese koning in China ’n militêre aanval op die standbeelde van verskillende gode gedoen het. Nadat die standbeelde vernietig is, het hy die verering van gode van klei as dwaasheid veroordeel. Later, toe Muhammad nog ’n kind was, was daar Arabiere wat die gebruik van beelde in aanbidding teengestaan het. Hulle invloed op Muhammad het in latere jare bygedra tot sy gesindheid teenoor afgodediens. Muhammad leer in die Koran dat afgodediens ’n onvergeeflike sonde is, dat daar nie vir afgodedienaars gebid moet word nie en dat ’n huwelik met ’n afgodedienaar ongeoorloof is.
Selfs in die Christendom het vooraanstaande godsdienspersoonlikhede van die tweede, derde, vierde en vyfde eeu G.J., soos Ireneus, Origenes, Eusebius van Cesarea, Epiphanius en Augustinus, die gebruik van beelde in aanbidding teengestaan. Omstreeks die begin van die vierde eeu G.J. het ’n groep biskoppe in Elvira, Spanje, ’n aantal belangrike resolusies teen die verering van beelde geformuleer. Hierdie bekende Konsilie van Elvira het gelei tot die verbod op beelde in kerke en tot die instelling van drastiese strafmaatreëls teen aanbidders van beelde.
Die Ikonoklaste
Hierdie ontwikkelings het die weg gebaan vir een van die grootste geskilpunte in die geskiedenis: die ikonoklastiese geskil van die agtste en negende eeu. Een Geskiedskrywer sê dat hierdie “bittere geskil anderhalf eeu geduur het en eindelose lyding tot gevolg gehad het” en dat dit “een van die regstreekse oorsake van die skeiding tussen die Oosterse en Westerse ryke” was.
Die woord “ikonoklas” kom van die Griekse woorde eikon, wat “beeld” beteken, en klastes, wat “verbreker” beteken. Getrou aan sy naam het hierdie beweging wat teen beelde gekant was dwarsdeur Europa beelde verwyder en vernietig. Talle wette wat beelde verbied, is uitgevaardig om die gebruik van beelde in aanbidding af te skaf. Die verering van beelde het ’n vurige politieke geskil geword wat keisers en pouse, generaals en biskoppe betrek het by wat eintlik ’n teologiese oorlog was.
En dit was meer as ’n woordestryd. Nadat keiser Leo III ’n edik teen die gebruik van beelde in kerke uitgevaardig het, het “mense in groot getalle teen die edik in opstand gekom en [het] gewelddadige onluste, veral in Konstantinopel”, ’n daaglikse verskynsel geword, sê McClintock en Strong se Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature. Botsings tussen die keiserlike magte en die mense het teregstellings en bloedbaddens tot gevolg gehad. Monikke is wreed vervolg. Honderde jare later, gedurende die 16de eeu, is ’n aantal openbare debatte in Zürich, Switserland, oor die kwessie van die gebruik van beelde in kerke gehou. As gevolg daarvan is ’n dekreet uitgevaardig wat die verwydering van alle beelde uit die kerke geëis het. Party hervormers was bekend vir hulle intense en dikwels gewelddadige veroordeling van die aanbidding van beelde.
Selfs vandag is daar groot verdeeldheid onder teoloë oor die gebruik van beelde in aanbidding. Die volgende artikel sal jou help om te besluit of beelde die mens werklik kan help om nader aan God te kom.