Vrae van lesers
Moet ons uit Mattheüs 11:11 aflei dat Jesus vooruit geweet het dat Johannes die Doper voor Jesus sou sterf?
Ja, Jesus het klaarblyklik geweet dat Johannes nie lank genoeg sou leef om ’n gesalfde Christen te word nie, want Jesus het gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.”—Mattheüs 11:11.
Toe die engel Gabriël die geboorte van Johannes aangekondig het, het hy voorspel dat Johannes in “die krag van Elia . . . vir die Here ’n toegeruste volk [sou] berei”. Johannes sou ’n voorloper wees wat ’n volk vir Jehovah se Messias sou voorberei. Maar niks in daardie goddelike aankondiging het aangedui dat Johannes self ’n dissipel van die toekomstige Messias sou word nie, en daar is nie so iets te kenne gegee in die profetiese verklaring wat Johannes se vader, Sagaria, gemaak het nie.—Lukas 1:17, 67-79.
Johannes het dus, nadat hy Jesus gedoop het, aangehou om te preek en mense te doop en getrou voortgegaan om ’n volk voor te berei. Johannes het op wonderdadige wyse geweet dat Jesus ’n doop met die heilige gees sou voorsien, maar Johannes het nie gesê dat hyself heilige gees sou ontvang en ’n gesalfde Christen sou word nie (Mattheüs 3:11). Johannes het ook erken dat hy minder sou word terwyl Jesus meer sou word.—Johannes 3:22-30.
Toe Jesus dít gesê het wat ons in Mattheüs 11:11 lees, was Johannes reeds in die gevangenis. Jesus het vooruit bekend gemaak dat hierdie gevange profeet kleiner sou wees as die kleinste een wat in die toekoms as ’n koning-priester in die hemel sou dien. Maar Jesus het blykbaar ook geweet dat Johannes spoedig sou sterf en van die aardse toneel af sou verdwyn voordat die “nuwe” weg tot lewe in die hemel geopen sou word (Hebreërs 10:19, 20). Dit het beteken dat Johannes nie tot Pinkster 33 G.J. sou lewe wanneer die salwing van Jesus se dissipels met die heilige gees begin het nie. Jesus se kommentaar in Mattheüs 11:11 kan dus ook verstaan word as ’n aanduiding dat hy geweet het dat Johannes nie hemel toe sou gaan nie.