Luister God wanneer jy bid?
’NBESTUURSHOOF besluit of hy iemand sal aanwys om ’n saak te hanteer en of hy dit self sal hanteer. Die Soewereine Heer van die heelal het eweneens die keuse om te besluit in watter mate hy persoonlik by enige saak betrokke sal raak. Die Skrif leer dat God die keuse gemaak het om persoonlik by ons gebede betrokke te raak, en daarom sê hy ons aan om gebede tot hom te rig.—Psalm 66:19; 69:14.
God se keuse in hierdie saak openbaar sy persoonlike belangstelling in die gebede van sy menseknegte. Pleks van sy volk te ontmoedig om hom met elke gedagte en probleem te nader, spoor hy hulle aan: “Bid sonder ophou”, “volhard in die gebed”, “werp jou sorg op die HERE”, “werp al julle bekommernis op [God]”.—1 Thessalonicense 5:17; Romeine 12:12; Psalm 55:23; 1 Petrus 5:7.
As God nie aan sy knegte se gebede wou aandag skenk nie, sou hy nooit voorsiening daarvoor gemaak het dat hulle hom so kan nader en sou hy nie die vrye gebruik daarvan aangemoedig het nie. God se keuse om hom so vir sy volk beskikbaar te stel, is dus een rede waarom ons seker kan wees dat hy werklik luister. Ja, hy slaan ag op elkeen van sy knegte se gebede.
Ons moet ook nie vergeet nie dat die Bybel uitdruklik sê dat God na gebed luister. Die apostel Johannes skryf byvoorbeeld: “Dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Johannes 5:14). Koning Dawid het Jehovah God die “Hoorder van die gebed” genoem en vol vertroue verklaar: “Hy hoor my stem.”—Psalm 55:18; 65:3.
Terwyl gebed op sigself ongetwyfeld voordele inhou, toon die Skrif dus dat baie meer daarby betrokke is wanneer ’n regverdige bid. Iemand luister wel. Daardie luisteraar is God.—Jakobus 5:16-18.
Gebede wat gehoor is
Die Bybel is vol verslae van mense wie se gebede wel deur God gehoor en verhoor is. Hulle ondervindinge bevestig onteenseglik dat daar baie meer voordele aan gebed verbonde is as net die terapeutiese uitwerking wat dit het om jou gedagtes agter mekaar te kry en in woorde uit te druk. Die voordele daarvan is baie meer as net ’n mens se persoonlike pogings in harmonie met sy gebede.
Toe koning Dawid byvoorbeeld te staan gekom het voor Absalom se sameswering om die koningskap van Israel wederregtelik in besit te neem, het hy gebid: “o HERE, verydel tog die raad van Agitofel [Absalom se raadgewer]!” Nie ’n geringe versoek nie, aangesien “die raad wat Agitofel . . . gegee het, was asof ’n mens die woord van God geraadpleeg het. So was elke raad van Agitofel.” Absalom het daarna die strategie verwerp wat Agitofel voorgestel het om koning Dawid te verslaan. Waarom? “Die HERE het dít beskik om die goeie raad van Agitofel te verydel, sodat die HERE die onheil oor Absalom kon bring.” Dit is duidelik dat Dawid se gebed verhoor is.—2 Samuel 15:31; 16:23; 17:14.
Hiskia het eweneens gesond geword nadat hy God gesmeek het om hom van sy ongeneeslike siekte te genees. Was dit bloot die resultaat van die sielkundige voordele wat Hiskia ontvang het omdat hy gebid het? Nee, beslis nie! Jehovah se boodskap aan Hiskia, soos oorgedra deur die profeet Jesaja, was: “Ek het jou gebed gehoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou gesond maak.”—2 Konings 20:1-6.
Daniël, wie se gebed nie so gou verhoor is soos wat hy dalk verwag het nie, is deur Jehovah se engel verseker: ‘Jou woorde is gehoor.’ Die gebede van ander, soos dié van Hanna, Jesus se dissipels en die hoofman Cornelius, is verhoor op maniere wat nie aan die mens se vermoë alleen toegeskryf kan word nie. Die Bybel leer dus duidelik dat gebede in harmonie met die goddelike wil deur God aangeneem, gehoor en verhoor word.—Daniël 10:2-14; 1 Samuel 1:1-20; Handelinge 4:24-31; 10:1-7.
Maar hoe verhoor God vandag die gebede van sy getroue knegte?
Antwoorde op gebede
Die voormelde gebede is op dramatiese, wonderdadige maniere verhoor. Hou asseblief egter in gedagte dat die meeste antwoorde op gebede, selfs in Bybeltye, nie so duidelik waarneembaar was nie. Dit is omdat hulle verband gehou het met morele krag en verligting, sodat God se knegte ’n regverdige lewenswyse kon handhaaf. Vir Christene veral het antwoorde op gebede dikwels verband gehou met sake van geestelike belang, en dit het nie met skouspelagtige of kragtige dade gepaardgegaan nie.—Kolossense 1:9.
Moet dus nie teleurgesteld wees as jou gebede nie altyd verhoor word op die manier wat jy verwag of verkies nie. God kan byvoorbeeld besluit om nie ’n beproewing weg te neem nie, maar om jou eerder “die krag wat die normale te bowe gaan” te gee om dit te kan verduur (2 Korinthiërs 4:7, NW; 2 Timotheüs 4:17). Ons moet nooit die waarde van sulke krag geringag nie, en ons moet ook nie tot die slotsom kom dat Jehovah ons gebed nie eintlik verhoor het nie.
Beskou die geval van niemand anders nie as God se Seun, Jesus Christus. Omdat Jesus bekommerd was dat hy as ’n oënskynlike godslasteraar sou sterf, het hy gebid: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem!” Het God hierdie gebed verhoor? Ja, soos Hebreërs 5:7 bevestig. Jehovah het sy Seun nie verlos van die dood aan ’n folterpaal nie. Maar “’n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk”.—Lukas 22:42, 43.
’n Dramatiese, wonderdadige antwoord? Vir enigeen van ons sal dit beslis so wees! Maar vir Jehovah God, die bron van sulke krag, was dit geen wonderwerk nie. En Jesus was, weens sy vroeëre lewe in die hemel, vertroud met voorvalle in die verlede toe engele aan mense verskyn het. Die verskyning van ’n engel sou dus nie so ’n treffende indruk op hom gemaak het as wat dit op ons sal maak nie. Nogtans het hierdie engel, wat Jesus blykbaar in Sy voormenslike bestaan persoonlik geken het, gehelp om Hom te versterk vir die beproewing wat voorgelê het.
In antwoord op die gebede van sy hedendaagse getroue knegte gee Jehovah hulle dikwels die nodige krag om te volhard. Hierdie ondersteuning kan kom in die vorm van bemoediging deur mede-aanbidders met wie ons persoonlik omgaan. Sal enigeen van ons daardie bemoediging verwerp, miskien omdat ons dink dat ons medeknegte nie in ’n posisie is om ons te versterk nie, aangesien hulle nie dieselfde beproewings as ons deurgemaak het nie? Jesus kon net so ’n beskouing gehad het teenoor die engel wat aan hom verskyn het. Hy het egter die bemoediging as Jehovah se antwoord op sy gebed aangeneem en was dus in staat om sy Vader se wil getrou uit te voer. Ons moet ook die krag wat God in antwoord op ons gebede gee goedgunstiglik aanneem. Onthou ook dat sulke tydperke van geduldige volharding dikwels deur ongetelde seëninge gevolg word.—Prediker 11:6; Jakobus 5:11.
Wees vol vertroue dat God luister
Moet nooit jou vertroue in die krag van gebed verloor as jy nie dadelik ’n antwoord kry nie. Jy moet dalk wag op antwoorde op sommige gebede, soos dié om persoonlike verligting van kwellinge of om groter verantwoordelikheid in jou diens aan God, totdat dit volgens God die regte en beste tyd daarvoor is (Lukas 18:7, 8; 1 Petrus 5:6). As jy bid aangaande ’n saak waaroor jy baie bekommerd is, moet jy deur jou volharding aan God toon dat jou begeerte intens is en dat jou beweegrede suiwer en opreg is. Jakob het hierdie gesindheid geopenbaar toe hy, nadat hy lank met ’n engel geworstel het, gesê het: “Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën” (Genesis 32:24-32). Ons moet soortgelyke vertroue hê dat ons op die regte tyd ’n seën sal ontvang as ons aanhou vra.—Lukas 11:9, NW.
Een laaste gedagte. Dit is ’n kosbare voorreg om ’n horende oor van die Soewerein van die heelal te kry. Luister ons, met die oog hierop, aandagtig wanneer Jehovah God deur sy Woord met ons oor sy vereistes praat? Namate ons gebede ons intiem nader aan ons Skepper bring, moet ons ernstig aandag skenk aan alles wat hy aan ons sê.
[Prent op bladsy 6]
God luister na gebede. Luister ons na hom deur sy Woord?