Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 6/1 bl. 15-20
  • Gebruik julle Christelike vryheid verstandig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebruik julle Christelike vryheid verstandig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Gesalf om te preek’
  • ‘Eer die koning’
  • ‘Liefde vir die broederskap’
  • Voorkoms en ontspanning
  • Sien uit na die vryheid van die kinders van God
  • ’n Vry volk maar met verantwoordelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Moenie die doel van godgegewe vryheid mis nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Dien Jehovah, die God van vryheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Die vryheid wat aanbidders van Jehovah geniet
    Aanbid die enigste ware God
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 6/1 bl. 15-20

Gebruik julle Christelike vryheid verstandig

“Wees soos vry mense, en gebruik tog julle vryheid . . . as slawe van God.”—1 PETRUS 2:16, NW.

1. Watter vryheid het Adam verloor, en watter vryheid sal Jehovah weer aan die mens gee?

TOE ons eerste ouers in die tuin van Eden gesondig het, het hulle ’n glorieryke erfenis—vryheid van sonde en verganklikheid—vir hulle kinders verloor. Gevolglik is ons almal as slawe van verganklikheid en die dood gebore. Maar gelukkig is dit Jehovah se voorneme om getroue mense weer ’n wonderlike vryheid te gee. Vandag wag regskape mense gretig op “die openbaarmaking van die [seuns] van God” waardeur hulle “vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God”.—Romeine 8:19-21, vgl. NW.

‘Gesalf om te preek’

2, 3. (a) Wie is “die seuns van God”? (b) Watter wonderlike posisie geniet hulle, en watter verantwoordelikheid bring dit mee?

2 Wie is hierdie “seuns van God”? Hulle is geesgesalfde broers van Jesus wat saam met hom in die hemelse Koninkryk sal heers. Die eerste lede van hierdie groep het gedurende die eerste eeu G.J. verskyn. Hulle het die bevrydende waarheid aangeneem wat Jesus geleer het, en van Pinkster 33 G.J. af het hulle ’n deel gehad aan die glorieryke voorregte waarvan Petrus gepraat het toe hy aan hulle geskryf het: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as ’n eiendom verkry.”—1 Petrus 2:9a; Johannes 8:32.

3 Wat ’n wonderlike seën tog om God se spesiale eiendom te wees! En die hedendaagse oorblyfsel van hierdie gesalfde seuns van God geniet dieselfde geseënde posisie voor God. Maar so ’n verhewe voorreg bring verantwoordelikhede mee. Petrus het die aandag op een van hierdie verantwoordelikhede gevestig toe hy voorts gesê het: ‘Julle moet die deugde verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.’—1 Petrus 2:9b.

4. Hoe het gesalfde Christene die verantwoordelikheid nagekom wat met hulle Christelike vryheid gepaardgaan?

4 Het gesalfde Christene hierdie verantwoordelikheid nagekom om God se deugde te verkondig? Ja. Jesaja het profeties van die gesalfdes sedert 1919 gepraat en gesê: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ’n jaar van die welbehae van die HERE en ’n dag van die wraak van onse God” (Jesaja 61:1, 2). In navolging van Jesus, op wie hierdie teks hoofsaaklik van toepassing was, verkondig die gesalfde oorblyfsel vandag ywerig die evangelie van vryheid aan ander.—Mattheüs 4:23-25; Lukas 4:14-21.

5, 6. (a) Wat was die gevolg van die entoesiastiese prediking van gesalfde Christene? (b) Watter voorregte en verantwoordelikhede geniet die groot menigte?

5 Vanweë die gesalfdes se entoesiastiese prediking het ’n groot menigte ander skape in hierdie laaste dae op die wêreldtoneel verskyn. Hulle kom uit al die nasies om hulle by die gesalfdes in Jehovah se diens aan te sluit, en die waarheid maak hulle ook vry (Sagaria 8:23; Johannes 10:16). Soos Abraham word hulle op grond van hulle geloof regverdig verklaar en geniet hulle ’n intieme verhouding met Jehovah God. En vanweë die feit dat hulle regverdig verklaar word, kom hulle, soos Ragab, in aanmerking vir oorlewing—in hulle geval oorlewing van Armageddon (Jakobus 2:23-25; Openbaring 16:14, 16). Maar sulke verhewe voorregte bring ook die verantwoordelikheid mee om ander van God se heerlikheid te vertel. Dit is waarom Johannes gesien het hoe hulle Jehovah in die openbaar loof, want “hulle het met ’n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam”.—Openbaring 7:9, 10, 14.

6 Verlede jaar het die groot menigte, wat nou meer as viermiljoen tel, sowel as die klein oorblywende groepie gesalfde Christene, byna ’n miljard uur daaraan bestee om die deugde van Jehovah te verkondig. Hulle het hulle geestelike vryheid beslis op die beste manier gebruik.

‘Eer die koning’

7, 8. Watter verantwoordelikheid ten opsigte van sekulêre gesag bring Christelike vryheid mee, en watter verkeerde gesindheid moet ons in hierdie opsig vermy?

7 Ons Christelike vryheid bring ander verantwoordelikhede mee. Petrus het getoon wat sommige daarvan is toe hy geskryf het: “Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer” (1 Petrus 2:17). Wat word bedoel met die woorde ‘eer die koning’?

8 “Die koning” verwys na sekulêre heersers. Daar het vandag ’n gees van oneerbiedigheid teenoor gesag in die wêreld ontwikkel en dit kan Christene maklik beïnvloed. ’n Christen kan selfs wonder waarom hy “die koning” moet eer, aangesien “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannes 5:19). Hy meen dalk, met die oog op hierdie woorde, dat hy wette kan oortree wat hom nie pas nie en belasting kan ontduik solank hy net nie gevang word nie. Maar dit sal indruis teen die uitdruklike bevel van Jesus om ‘aan die keiser te betaal wat die keiser toekom’. So iemand sal in werklikheid ‘sy vryheid as ’n dekmantel vir die boosheid gebruik’.—Mattheüs 22:21; 1 Petrus 2:16.

9. Watter twee goeie redes is daar om sekulêre owerhede te gehoorsaam?

9 Christene is verplig om die owerhede te eerbiedig en aan hulle onderdanig te wees—al is dit in ’n relatiewe sin (Handelinge 5:29). Waarom? In 1 Petrus 2:14, 15 vestig Petrus die aandag op drie redes wanneer hy sê dat goewerneurs “gesante [van God is], om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys”. Die vrees dat ’n mens gestraf sal word, is genoeg rede om die owerhede te gehoorsaam. Wat ’n skande sal dit tog nie wees as ’n Getuie van Jehovah beboet word of in die gevangenis beland vir aanranding, diefstal of enige ander misdaad nie! Dink net hoe party hulle daarin sal verlustig om aan so iets publisiteit te gee! Daarenteen ontvang ons lof van redelike bewindhebbers namate ons ’n reputasie van wetsgehoorsaamheid opbou. Hulle kan ons groter vryheid gee om aan te gaan met ons werk om die goeie nuus te verkondig. Verder bring ons “deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye” (1 Petrus 2:15b). Dit is ’n tweede rede waarom ons die owerhede moet gehoorsaam.—Romeine 13:3.

10. Wat is die belangrikste rede waarom sekulêre owerhede gehoorsaam moet word?

10 Maar daar is ’n belangriker rede. Die owerhede bestaan omdat Jehovah dit toelaat. Soos Petrus sê, is die politieke heersers “gesante” van Jehovah, en dit is “die wil van God” dat Christene onderdanig aan hulle moet bly (1 Petrus 2:15a). Die apostel Paulus sê eweneens: “Die [magte] wat daar is, is deur God ingestel.” Ons Bybelopgeleide gewete beweeg ons dus om die owerhede te gehoorsaam. As ons weier om ons aan hulle te onderwerp, weerstaan ons “die instelling van God” (Romeine 13:1, 2, 5). Wie van ons sal God se instelling opsetlik wil weerstaan? Wat ’n misbruik van Christelike vryheid sal dit tog wees!

‘Liefde vir die broederskap’

11, 12. (a) Watter verantwoordelikheid ten opsigte van medegelowiges gaan met ons Christelike vryheid gepaard? (b) Wie verdien veral ons liefdevolle bedagsaamheid, en waarom?

11 Petrus het ook gesê dat ’n Christen “die broederskap [moet] liefhê” (1 Petrus 2:17). Dit is nog ’n verantwoordelikheid wat met Christelike vryheid gepaardgaan. Die meeste van ons behoort aan ’n gemeente. Maar ons almal maak deel uit van die internasionale gemeenskap, of organisasie, van broers. As ons liefde aan hulle betoon, gebruik ons ons vryheid verstandig.—Johannes 15:12, 13.

12 Die apostel Paulus het die aandag gevestig op ’n groep Christene wat veral ons liefde verdien. Hy het gesê: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers [“hulle wat onder julle die leiding neem”, NW] en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie” (Hebreërs 13:17). Dit is die ouere manne wat die leiding in die gemeente neem. Hierdie manne is weliswaar nie volmaak nie. Maar hulle word onder toesig van die Bestuursliggaam aangestel. Hulle neem die leiding deur ’n goeie voorbeeld te stel en deur bedagsaam te wees, en dit is hulle taak om vir ons siele te waak. Wat ’n gewigtige toewysing tog! (Hebreërs 13:7). Gelukkig is daar in die meeste gemeentes ’n goeie gees van samewerking, en dit is met blydskap dat die ouere manne saam met hulle werk. Dit is moeiliker as individue nie wil saamwerk nie. Die ouere man doen nog sy werk, maar, soos Paulus sê, hy doen dit “al sugtende”. Ons wil tog sekerlik nie die ouere manne laat sug nie! Ons wil hê dat hulle blydskap in hulle werk moet vind sodat hulle ons kan opbou.

13. Op watter maniere kan ons met die ouere manne saamwerk?

13 Wat is sommige maniere waarop ons met die ouere manne kan saamwerk? Een manier is om met die instandhouding en skoonmaak van die Koninkryksaal te help. Nog ’n manier om ons samewerking te gee, is om siekes te besoek en diegene met gebreke te help. Daarbenewens moet ons daarna strewe om geestelik sterk te bly sodat ons nie ’n las word nie. ’n Belangrike gebied waarop ons ons samewerking moet gee, is om die gemeente sedelik en geestelik rein te hou deur ons eie gedrag sowel as deur gevalle van ernstige sonde te rapporteer as ons daarvan te wete kom.

14. Hoe moet ons ons samewerking gee wanneer die ouere manne tugmaatreëls neem?

14 Ouere manne moet soms ’n onberouvolle oortreder uit die gemeente sit om die gemeente rein te hou (1 Korinthiërs 5:1-5). Dit beskerm die gemeente. Dit kan ook die oortreder help. Sulke tugtiging het al dikwels gehelp om die oortreder tot besinning te bring. Maar gestel die uitgesette persoon is ’n intieme vriend of ’n familielid? Sê nou die persoon is ons vader of moeder of ons seun of dogter? Eerbiedig ons nietemin die ouere manne se optrede? Dit kan weliswaar moeilik wees. Maar watter misbruik van ons vryheid sal dit tog wees as ons die beslissing van die ouere manne bevraagteken en aanhou om geestelik om te gaan met iemand wat ’n verderflike invloed in die gemeente was! (2 Johannes 10, 11). Jehovah se hele volk verdien lof vanweë die wyse waarop hulle in sulke aangeleenthede saamwerk. Jehovah se organisasie bly gevolglik onbesmet in hierdie onrein wêreld.—Jakobus 1:27.

15. Wat moet ’n persoon onmiddellik doen as hy ’n ernstige sonde begaan?

15 Sê nou ons pleeg ’n ernstige sonde? Koning Dawid het diegene beskryf teenoor wie Jehovah gunstig gesind is toe hy gesê het: “Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie” (Psalm 24:3, 4). Indien ons om enige rede nie meer “rein van hande en suiwer van hart is” nie, moet ons dringend optree. Ons ewige lewe is in gevaar.

16, 17. Waarom moet iemand wat ernstige sondes begaan het nie probeer om die saak op sy eie op te los nie?

16 Sommige het al in die versoeking gekom om ernstige sondes te bedek, en hulle redeneer moontlik: ‘Ek het my sonde voor Jehovah bely en het berou getoon. Waarom dan die ouere manne daarby betrek?’ Die oortreder voel moontlik verleë of hy is bang vir wat die ouere manne kan doen. Hoewel dit net Jehovah is wat ons van sonde kan reinig, moet die oortreder egter in gedagte hou dat Jehovah hoofsaaklik die ouere manne die verantwoordelikheid gegee het om die reinheid van die gemeente te bewaar (Psalm 51:4). Hulle is daar om te genees, om “die heiliges reg te help” (Efesiërs 4:12, NW). As ons nie na hulle toe gaan wanneer ons geestelike hulp nodig het nie, handel ons soos iemand wat siek is en nie dokter toe wil gaan nie.

17 Sommige wat probeer om sake op hulle eie te hanteer, vind dat hulle gewete hulle maande of jare later nog swaar kwel. Wat nog erger is, is dat nog ander wat ’n ernstige oortreding geheim hou ’n tweede en selfs ’n derde keer sondig. Wanneer die saak eindelik onder die aandag van die ouere manne kom, is dit ’n geval van herhaaldelike oortreding. Hoeveel beter is dit tog nie om Jakobus se raad te volg nie! Hy het geskryf: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het” (Jakobus 5:14). Gaan na die ouere manne terwyl daar nog tyd vir genesing is. As ons te lank wag, kan ons in ons sondige handelswyse verhard raak.—Prediker 3:3; Jesaja 32:1, 2.

Voorkoms en ontspanning

18, 19. Waarom het ’n priester gunstige kommentaar gelewer oor Jehovah se Getuies?

18 Vyf jaar gelede het ’n Katolieke priester in Italië Jehovah se Getuies in ’n kerkblad lof toegeswaai.a Hy het gesê: “Ek hou van Jehovah se Getuies; ek erken dit openlik. . . . Dié wat ek ken, het onberispelike maniere, is saggeaard . . . [en] uiters oortuigend. Wanneer sal ons insien dat die waarheid op aanneemlike wyse aangebied moet word? Dat diegene wat die waarheid verkondig nie halfhartig, onwelriekend, verwaaid, slordig hoef te wees nie?”

19 Volgens hierdie woorde was die priester onder andere beïndruk met die manier waarop die Getuies aantrek en mense nader. Dit is duidelik dat diegene wat hy ontmoet het, ag geslaan het op die raad wat “die getroue en verstandige dienskneg” oor die jare heen gegee het (Mattheüs 24:45). Die Bybel sê dat die kleredrag van vroue ‘beskeie en ingetoë’ moet wees (1 Timotheüs 2:9). In hierdie tye van dekadensie is dit ook goeie raad vir mans. Is dit nie logies dat verteenwoordigers van God se Koninkryk ordentlik moet lyk wanneer hulle buitestanders nader nie?

20. Waarom moet ’n Christen te alle tye bewus wees van sy kleredrag?

20 Sommige sal miskien toegee dat hulle op hulle kleredrag moet let wanneer hulle vergaderinge bywoon en in die velddiens uitgaan, maar hulle dink dalk dat Bybelbeginsels op ander tye nie van toepassing is nie. Maar hou ons te eniger tyd op om verteenwoordigers van God se Koninkryk te wees? Omstandighede verskil weliswaar. As ons aan ’n Koninkryksaal help bou, sal ons anders aantrek as wanneer ons ’n vergadering in daardie selfde Koninkryksaal bywoon. Wanneer ons ontspan, sal ons waarskynlik iets dra wat by die geleentheid pas. Maar ons kleredrag moet altyd beskeie en netjies wees wanneer ander ons sien.

21, 22. Hoe word ons teen skadelike ontspanning beskerm, en hoe moet ons raad oor sulke sake beskou?

21 Nog ’n gebied wat al baie aandag ontvang het, is ontspanning. Mense—veral jongmense—het ontspanning nodig. Dit is nie ’n sonde of ’n verkwisting van tyd om ontspanning vir die gesin te reël nie. Selfs Jesus het sy dissipels genooi om ‘’n bietjie te rus’ (Markus 6:31). Maar wees versigtig dat ontspanning nie die deur open vir geestelike besoedeling nie. Ons lewe in ’n wêreld waar vermaak die klem op onsedelikheid, onverbloemde geweld, gruwelverhale en spiritisme laat val (2 Timotheüs 3:3; Openbaring 22:15). Die getroue en verstandige dienskneg is wakker vir sulke gevare en hulle waarsku ons voortdurend daarteen. Meen jy dat hierdie waarskuwings inbreuk maak op jou vryheid? Of is jy dankbaar dat Jehovah se organisasie besorg genoeg oor jou is om sulke gevare voortdurend onder jou aandag te bring?—Psalm 19:8; 119:95.

22 Hoewel dit Jehovah is wat ons ons vryheid gee, moet ons altyd onthou dat ons verantwoordelik is vir die wyse waarop ons dit gebruik. As ons goeie raad in die wind slaan en verkeerde besluite neem, kan ons niemand anders daarvoor blameer nie. Die apostel Paulus sê: “Elkeen van ons [sal] dan vir homself aan God rekenskap gee.”—Romeine 14:12; Hebreërs 4:13.

Sien uit na die vryheid van die kinders van God

23. (a) Watter seëninge ten opsigte van vryheid geniet ons nou? (b) Na watter seëninge sien ons met verlange uit?

23 Ons is inderdaad ’n geseënde volk. Ons is vry van valse godsdiens en bygeloof. Danksy die losprysoffer kan ons Jehovah met ’n rein gewete nader en is ons geestelik vry van slawerny aan sonde en die dood. En die “openbaarmaking van die [seuns] van God” sal binnekort aanbreek. Jesus se broers sal by Armageddon in hulle hemelse glorie aan mense geopenbaar word as vernietigers van Jehovah se vyande (Romeine 8:19, vgl. NW; 2 Thessalonicense 1:6-8; Openbaring 2:26, 27). Daarna sal hierdie seuns van God geopenbaar word as kanale waardeur seëninge van die troon van God af na die mensdom uitstroom (Openbaring 22:1-5). Hierdie openbaarmaking van die seuns van God sal eindelik daartoe lei dat getroue mense met die heerlike vryheid van die kinders van God geseën word. Sien jy uit na daardie tyd? Dan moet jy jou Christelike vryheid verstandig gebruik. Wees nou ’n slaaf van God, en jy sal daardie wonderlike vryheid tot in alle ewigheid geniet!

[Voetnoot]

a Die priester het later, blykbaar onder druk, hierdie lof teruggetrek.

Hersieningsvrae

◻ Hoe verheerlik die gesalfdes en die ander skape Jehovah?

◻ Waarom moet Christene die sekulêre owerheid eerbiedig?

◻ Op watter maniere kan ’n Christen met die ouere manne saamwerk?

◻ Waarom is Jehovah se Getuies opvallend anders as baie mense in die wêreld wat hulle kleredrag betref?

◻ Wat moet ons vermy wanneer dit by ontspanning kom?

[Prent op bladsy 17]

Veral die ouere manne verdien ons liefde en samewerking

[Prente op bladsy 18]

’n Christen se kleredrag moet beskeie en netjies wees en by die geleentheid pas

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel