Jehovah vergewe ryklik
“Laat die goddelose sy weg verlaat en die man van skadelikheid sy gedagtes; en laat hy terugkeer tot Jehovah, . . . want hy sal ryklik vergewe.”—JESAJA 55:7, NW.
1. Waarmee word ontvangers van Jehovah se vergifnis nou geseën?
JEHOVAH vergewe berouvolle oortreders en maak dit nou vir hulle moontlik om gemoedsrus in ’n geestelike paradys te geniet. Dit is omdat hulle aan die volgende vereistes voldoen: “Soek Jehovah terwyl hy te vinde is. Roep tot hom terwyl hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die man van skadelikheid sy gedagtes; en laat hy terugkeer tot Jehovah, wat hom barmhartig sal wees, en tot onse God, want hy sal ryklik vergewe.”—Jesaja 55:6, 7, NW.
2. (a) Wat beteken dit om, soos Jesaja 55:6, 7 sê, ‘na Jehovah te soek’ en ‘tot hom terug te keer’? (b) Waarom moes Joodse bannelinge in Babilon tot Jehovah terugkeer, en wat het met sommige van hulle gebeur?
2 As ’n goddelose persoon ‘Jehovah wil soek’ en hom op ’n aanvaarbare wyse wil aanroep, moet hy afsien van sy verkeerde weg en enige gedagtes om ander kwaad aan te doen. Die feit dat die oortreder moet “terugkeer tot Jehovah” toon dat hy God, met wie hy vroeër ’n intieme verhouding gehad het, verlaat het. Dit was die geval met Juda se inwoners, wie se ontrouheid aan God uiteindelik tot hulle ballingskap in Babilon gelei het. Die Joodse bannelinge moes tot Jehovah terugkeer deur berou te hê oor die wandade wat aanleiding gegee het tot hulle Babiloniese gevangenskap en hulle geboorteland se voorspelde verlatenheid van 70 jaar. In 537 v.G.J. het ’n godvresende Joodse oorblyfsel weer in daardie land gaan woon nadat hulle op regeringsbevel uit Babilon vrygelaat is (Esra 1:1-8; Daniël 9:1-4). Die resultaat van daardie herstel was so uitsonderlik dat die land Juda met die Edeniese Paradys vergelyk is.—Esegiël 36:33-36.
3. In watter opsig het die oorblyfsel van geestelike Israel ’n soortgelyke ondervinding gehad as die godvresende bannelinge wat na Juda teruggekeer het?
3 Geestelike Israeliete het ’n soortgelyke ondervinding gehad as daardie godvresende Jode wat ná hulle Babiloniese ballingskap na Juda teruggekeer het (Galasiërs 6:16). Die oorblyfsel van geestelike Israel het direk ná die Eerste Wêreldoorlog sommige van hulle weë en hulle gedagtes verander. Hulle is in 1919 bevry uit hulle ballingskap in Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, waar hulle nie God se volle guns geniet het nie. Omdat hulle berou gehad het oor sondes soos mensevrees en onbedrywigheid in Jehovah se diens het hy hulle uit Babilon die Grote bevry, hulle tot hulle regmatige geestelike staat herstel en hulle weer begin gebruik om die Koninkryksboodskap te verkondig. Sedertdien floreer daar ’n geestelike paradys onder God se volk tot eer van sy heilige naam (Jesaja 55:8-13). In die eertydse prototipe en die hedendaagse antitipe het ons dus duidelike bewys dat seëninge op Goddelike vergifnis volg en dat Jehovah berouvolle persone inderdaad ryklik vergewe.
4. Watter vrees het sommige knegte van Jehovah?
4 Jehovah se hedendaagse knegte kan derhalwe op sy vergifnis vertrou. Tog voel sommige van hulle neerslagtig oor foute wat hulle in die verlede gemaak het, en hulle word amper oorweldig deur skuldgevoelens. Hulle dink dat hulle nie waardig is om deel van die geestelike paradys te wees nie. Trouens, sommige vrees dat hulle die onvergeeflike sonde gepleeg het en dat hulle nooit Jehovah se vergifnis sal ontvang nie. Is dit moontlik?
Sommige sondes is onvergeeflik
5. Waarom kan daar gesê word dat sommige sondes onvergeeflik is?
5 Sommige sondes is wel onvergeeflik. Jesus Christus het gesê: “Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie” (Mattheüs 12:31). Lastering teen God se heilige gees, of werkende krag, sal dus nie vergewe word nie. Die apostel Paulus het van sulke sonde gepraat toe hy geskryf het: “Dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het . . . en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig [“aan ’n folterpaal nael”, NW] en openlik tot skande maak.”—Hebreërs 6:4-6.
6. Wat bepaal of ’n sonde vergewe kan word of nie?
6 Slegs God weet of iemand die onvergeeflike sonde gepleeg het. Maar Paulus het lig op hierdie saak gewerp toe hy geskryf het: “As ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel” (Hebreërs 10:26, 27). ’n Eiewyse persoon tree moedswillig op, of is “hardnekkig en dikwels onredelik eiesinnig” (Webster’s New Collegiate Dictionary). Enigeen wat opsetlik en hardnekkig aanhou om sonde te pleeg nadat hy die waarheid geleer het, word nie vergewe nie. Derhalwe is dit nie soseer die sonde self nie as die hartstoestand, die graad van opsetlikheid wat daarby betrokke is, wat bepaal of die sonde vergewe kan word of nie. Wat is daarenteen waarskynlik die geval wanneer ’n Christen wat gesondig het diep gekwel is oor sy oortreding? Sy groot besorgdheid toon waarskynlik dat hy in werklikheid nie ’n onvergeeflike sonde gepleeg het nie.
Hulle sondes was onvergeeflik
7. Waarom kan ons sê dat sommige van die godsdiensleiers wat Jesus teengestaan het onvergeeflike sonde gepleeg het?
7 Sekere Joodse godsdiensleiers wat Jesus teengestaan het, het opsetlike, en dus onvergeeflike, sonde gepleeg. Hoewel hulle God se heilige gees in Jesus sien werk het toe hy goeie dinge gedoen en wonderwerke verrig het, het daardie geestelikes sy mag aan Beëlsebul, of Satan die Duiwel, toegeskryf. Hulle het gesondig ondanks die feit dat hulle die onbetwisbare werking van God se gees duidelik kon sien. Hulle het gevolglik onvergeeflike sonde gepleeg, want Jesus het gesê: “Elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie”.—Mattheüs 12:22-32.
8. Waarom was die sonde van Judas Iskariot onvergeeflik?
8 Judas Iskariot se sonde was ook onvergeeflik. Sy verraad teenoor Jesus was die opsetlike, moedswillige klimaks van ’n handelswyse van skynheiligheid en oneerlikheid. Toe Judas byvoorbeeld gesien het hoe Maria Jesus met duur olie salf, het hy gevra: “Waarom is hierdie salf nie vir driehonderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie?” Die apostel Johannes het bygevoeg: “En dit het [Judas] gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy ’n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het.” Kort daarna het Judas Jesus vir 30 silwerstukke verraai (Johannes 12:1-6; Mattheüs 26:6-16). Judas het weliswaar gewetenswroeging ondervind en selfmoord gepleeg (Mattheüs 27:1-5). Hy is egter nie vergewe nie aangesien sy opsetlike, volgehoue selfsugtige optrede en sy verraderlike daad sy sonde teen die heilige gees weerspieël het. Hoe gepas is dit tog dat Jesus Judas “die seun van die verderf” noem!—Johannes 17:12; Markus 3:29; 14:21.
Hulle sondes is vergewe
9. Waarom het God Dawid se sonde met Batseba vergewe?
9 Opsetlike sondes vorm ’n skerp teenstelling met die oortredings van diegene wat deur God vergewe word. Neem koning Dawid van Israel as ’n voorbeeld. Hy het owerspel met Batseba, Uria se vrou, gepleeg en Joab later beveel om Uria se dood tydens ’n veldslag te bewerkstellig (2 Samuel 11:1-27). Waarom was God Dawid barmhartig? Hoofsaaklik ter wille van die Koninkryksverbond, maar ook vanweë Dawid se eie barmhartigheid en sy opregte berou.—1 Samuel 24:4-7; 2 Samuel 7:12; 12:13.
10. Waarom het God Petrus vergewe, hoewel hy ernstig gesondig het?
10 Beskou ook die geval van die apostel Petrus. Hy het ernstig gesondig deur Jesus herhaaldelik te verloën. Waarom het God Petrus vergewe? In teenstelling met Judas Iskariot het Petrus eerlikheid in sy diens aan God en Christus geopenbaar. Hierdie apostel se sonde was aan vleeslike swakheid te wyte, en hy was waarlik berouvol en het “bitterlik geween”.—Mattheüs 26:69-75.
11. Hoe sal jy “berou” definieer, en wat moet iemand doen as hy opreg berouvol is?
11 Die voorgaande voorbeelde toon dat selfs ’n persoon wat ernstig sondig Jehovah God se vergifnis kan verkry. Maar watter gesindheid is nodig om vergifnis te verkry? Opregte berou is noodsaaklik as ’n Christen wat gesondig het vergifnis van God wil ontvang. Om berou te hê, beteken “om jou van sonde weg te keer omdat jy spyt het oor vorige oortredinge” of “om spyt of gewetenswroeging te hê oor wat jy gedoen of nie gedoen het nie” (Webster’s Third New International Dictionary). Iemand wat opreg berouvol is, sal gewetenswroeging hê oor enige oneer, verdriet of probleme wat sy sonde oor Jehovah se naam en organisasie gebring het. Die berouvolle oortreder sal ook ooreenstemmende vrugte voortbring en werke doen wat by berou pas (Mattheüs 3:8, NW; Handelinge 26:20, NW). As hy byvoorbeeld bedrog gepleeg het, sal hy redelike stappe doen om vir die verlies te vergoed (Lukas 19:8). So ’n berouvolle Christen het grondige skriftuurlike redes om vol vertroue te wees dat Jehovah hom ryklik sal vergewe. Wat is hierdie redes?
Redes vir vertroue in God se vergifnis
12. Op grond waarvan toon Psalm 25:11 kan ’n berouvolle persoon om vergifnis bid?
12 ’n Berouvolle oortreder kan met vrymoedigheid om vergifnis bid op grond van Jehovah se naam. Dawid het gesmeek: “Om u Naam ontwil, HERE [Jehovah], vergeef my ongeregtigheid, want dit is groot” (Psalm 25:11, vgl. NW). Sulke gebede, saam met berou vir enige oneer wat die oortreder oor God se naam gebring het, moet die persoon ook in die toekoms daarvan weerhou om enige growwe sonde te pleeg.
13. Watter rol speel gebed in Goddelike vergifnis?
13 Jehovah God verhoor die hartgrondige gebede van sy knegte wat sondig, maar berouvol is. Jehovah het byvoorbeeld nie Dawid se hartgrondige gebed geïgnoreer nadat hy besef het hoe groot sy sonde met Batseba was nie. Trouens, Dawid se woorde in Psalm 51 druk baie smekelinge se gedagtes uit. Hy het gesmeek: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Die offers van God is ’n gebroke gees; ’n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!”—Psalm 51:3, 4, 19.
14. Hoe voorsien die Skrif gerusstelling dat God diegene vergewe wat geloof in Jesus se losprysoffer beoefen?
14 God vergewe diegene wat geloof in Jesus se losprysoffer beoefen. Paulus het geskryf: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Efesiërs 1:7). Die apostel Johannes het iets soortgelyks geskryf: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”—1 Johannes 2:1, 2.
15. Wat moet ’n berouvolle sondaar doen as hy wil aanhou om God se barmhartigheid te geniet?
15 Jehovah se barmhartigheid gee ’n berouvolle oortreder ’n grondslag vir vertroue dat hy vergewe kan word. Nehemia het gesê: “U is ’n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid.” (Nehemia 9:17; vergelyk Exodus 34:6, 7.) As die sondaar wil aanhou om Goddelike barmhartigheid te geniet, moet hy natuurlik daarna streef om God se wet te onderhou. Dit is soos die psalmis gesê het: “Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging. HERE, u barmhartighede is menigvuldig; maak my lewend volgens u verordeninge.”—Psalm 119:77, 156.
16. Watter vertroosting is daar in die feit dat Jehovah ons sondige toestand in ag neem?
16 Die feit dat Jehovah ons sondige toestand in ag neem, vertroos ook ’n berouvolle oortreder en gee hom rede om met vertroue te bid dat God hom sal vergewe (Psalm 51:5; Romeine 5:12). Die psalmis Dawid het bemoedigende gerusstelling gegee toe hy gesê het: “Hy [Jehovah God] handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is” (Psalm 103:10-14). Ja, ons hemelse Vader is selfs barmhartiger en medelydender as ’n menslike ouer.
17. Hoe hou ’n mens se getroue diens aan God in die verlede verband met vergifnis?
17 ’n Berouvolle sondaar kan om vergifnis bid met die vertroue dat Jehovah nie sy getroue diens van die verlede sal ignoreer nie. Nehemia het nie om vergifnis vir sy sondes gepleit nie, maar hy het wel gesê: “Dink aan my, my God, ten goede!” (Nehemia 13:31). ’n Berouvolle Christen kan vertroosting put uit dié woorde: “God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam.”—Hebreërs 6:10.
Hulp van die ouere manne
18. Wat behoort gedoen te word as ’n Christen se sonde hom geestelik siek gemaak het?
18 Sê nou ’n Christen meen dat hy nie meer geskik is om in die geestelike paradys te wees nie of dat hy nie kan bid nie omdat sy sonde hom geestelik siek gemaak het? “Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het”, het die dissipel Jakobus geskryf. “En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.” Ja, gemeentelike ouere manne kan met welslae saam met en vir ’n berouvolle medegelowige bid in die hoop dat hulle hom tot goeie geestelike gesondheid kan herstel.—Jakobus 5:14-16.
19. Wat moet iemand wat uitgesit is, doen om vergewe en herstel te word?
19 Al word ’n onberouvolle sondaar deur ’n regterlike komitee uitgesit, is dit nie te sê dat hy die onvergeeflike sonde gepleeg het nie. As hy egter vergewe en herstel wil word, moet hy God se wette nederig gehoorsaam, vrugte voortbring wat by berou pas en by die ouere manne aansoek doen om herstel te word. Nadat ’n hoereerder uit die gemeente in eertydse Korinthe gesit is, het Paulus geskryf: “Vir so iemand is daardie bestraffing deur die meerderheid genoeg; sodat julle daarenteen hom liewer moet vergewe en vertroos, dat so iemand nie miskien deur alte groot droefheid verteer word nie. Daarom vermaan ek julle om die liefde aan hom te bevestig.”—2 Korinthiërs 2:6-8; 1 Korinthiërs 5:1-13.
God gee krag
20, 21. Wat kan ’n persoon doen wat bekommerd is dat hy moontlik ’n onvergeeflike sonde gepleeg het?
20 As ’n mens weens swak gesondheid of stres bekommerd is dat jy dalk ’n onvergeeflike sonde gepleeg het, kan genoeg rus en slaap nuttig wees. Maar ’n mens moet veral Petrus se woorde onthou: “Werp al julle sorge op [God], want Hy sorg vir julle.” En moet nooit toelaat dat Satan jou ontmoedig nie, want Petrus het bygevoeg: “Hou julle sinne bymekaar, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Maar neem julle standpunt teen hom in, vas in die geloof, wetende dat dieselfde dinge in die vorm van lyding aan die hele gemeenskap van julle broers in die wêreld voltrek word. Maar nadat julle ’n kort tyd gely het, sal die God van onverdiende goedheid . . . self julle opleiding voltooi, hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak.”—1 Petrus 5:6-10, NW.
21 As jy dus berouvol is, maar bang is dat jy jou aan ’n onvergeeflike sonde skuldig gemaak het, moet jy onthou dat God se weë wys, regverdig en liefdevol is. Bid dus tot hom in geloof. Hou aan om die geestelike voedsel in te neem wat hy deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien (Mattheüs 24:45-47). Gaan met medegelowiges om en neem gereeld aan die Christelike bediening deel. Dit sal jou geloof versterk en jou bevry van die vrees dat God jou sonde dalk nie vergewe het nie.
22. Wat gaan ons vervolgens bespreek?
22 Almal wat deel van die geestelike paradys is, kan vertroosting put uit die wete dat Jehovah ryklik vergewe. Tog is hulle lewe vandag nie sonder probleme nie. Hulle is dalk terneergedruk omdat ’n geliefde gesterf het of omdat ’n dierbare vriend ernstig siek is. Soos ons sal sien, help en lei Jehovah sy volk onder hierdie en ander omstandighede deur middel van sy heilige gees.
Wat is jou antwoorde?
◻ Watter bewys is daar dat Jehovah ‘ryklik vergewe’?
◻ Vir watter sonde is daar geen vergifnis nie?
◻ Onder watter omstandighede word ’n mens se sondes vergewe?
◻ Waarom kan berouvolle oortreders vertroue in God se vergifnis hê?
◻ Watter hulp is vir berouvolle oortreders beskikbaar?
[Prente op bladsy 10]
Weet jy waarom Dawid en Petrus vergewe is, maar nie Judas Iskariot nie?
[Prent op bladsy 12]
Hulp deur gemeentelike ouere manne kan van groot waarde wees om ’n Christen geestelik te help