Jehovah se liefdevolle gesinsreëling
“Daarom buig ek my knieë voor die Vader, aan wie elke familie in die hemel en op aarde sy naam te danke het.”—EFESIËRS 3:14, 15, NW.
1, 2. (a) Met watter doel het Jehovah die gesinseenheid tot stand gebring? (b) Watter plek behoort die gesin vandag in Jehovah se reëling te beklee?
JEHOVAH het die gesinseenheid tot stand gebring. Hy het deur middel van die gesinseenheid meer gedoen as om net die menslike behoefte aan kameraadskap, onderskraging of intimiteit te bevredig (Genesis 2:18). God sou sy glorieryke voorneme om die aarde te vul deur die gesinsreëling verwesenlik. Hy het die volgende aan die eerste getroude paartjie gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Genesis 1:28). Die menigte kinders wat vir Adam en Eva en hulle nakomelinge gebore sou word, sou by die innige en koesterende atmosfeer in die gesin baat vind.
2 Daardie eerste egpaar het egter die weg van ongehoorsaamheid gekies—met dodelike gevolge vir hulleself en hulle nakomelinge (Romeine 5:12). Die hedendaagse gesinslewe is dus ’n wanvoorstelling van wat God oorspronklik beplan het. Nietemin beklee die gesin steeds ’n belangrike plek in Jehovah se reëling en dien as ’n basiese eenheid van die Christengemeenskap. Dit word nie gesê met enige gebrek aan waardering vir die goeie werk wat die talle ongetroude Christene in ons midde doen nie. Ons erken eerder die groot bydrae wat gesinne ook tot die geestelike gesondheid van die Christenorganisasie as ’n geheel lewer. Sterk gesinne het sterk gemeentes tot gevolg. Maar hoe kan jou gesin ten spyte van vandag se druk voorspoedig wees? Kom ons kyk in antwoord hierop na wat die Bybel aangaande die gesinsreëling sê.
Die gesin in Bybeltye
3. Wat was die rol van die man en die vrou in die patriargale gesin?
3 Adam en Eva het albei God se hoofskapreëling verwerp. Maar manne van geloof, soos Noag, Abraham, Isak, Jakob en Job, het hulle regmatige plekke as gesinshoofde ingeneem (Hebreërs 7:4, vgl. NW). Die patriargale gesin was soos ’n klein regering, met die vader wat as godsdiensleier, onderrigter en regter opgetree het (Genesis 8:20; 18:19). Vrouens het ook ’n belangrike rol gespeel, nie as slawe nie, maar as diegene wat met die huishoudelike bestuur gehelp het.
4. Hoe het die gesinslewe onder die Mosaïese Wet verander, maar watter rol het ouers steeds vervul?
4 Toe Israel in 1513 v.G.J. ’n nasie geword het, het gesinsreëls ondergeskik geraak aan die nasionale Wet wat deur middel van Moses gegee is (Exodus 24:3-8). Die gesag om besluite te neem, waaronder sake van lewe en dood, is nou aan aangestelde regters gegee (Exodus 18:13-26). Die Levitiese priesterdom het die offerandes in hulle aanbidding oorgeneem (Levitikus 1:2-5). Tog het die vader steeds ’n belangrike rol gespeel. Moses het vaders vermaan: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). Moeders het aansienlike invloed gehad. Spreuke 1:8 het jongmense beveel: “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie.” Ja, die Hebreeuse vrou kon binne die raamwerk van haar man se gesag wette in die gesin skep—en sorg dat hulle uitgevoer word. Haar kinders moes haar eer selfs nadat sy oud geword het.—Spreuke 23:22.
5. Hoe het die Mosaïese Wet die plek van kinders in die gesinsreëling uiteengesit?
5 Die kinders se plek is ook duidelik deur God se Wet uiteengesit. Deuteronomium 5:16 het gesê: “Eer jou vader en jou moeder soos die HERE jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die HERE jou God aan jou gee.” Oneerbiedigheid teenoor ’n mens se ouers is as ’n uiters ernstige oortreding onder die Mosaïese Wet beskou (Exodus 21:15, 17). “Elkeen wat sy vader of moeder vloek”, het die Wet gesê, “moet sekerlik gedood word” (Levitikus 20:9). Opstand teen ’n mens se ouers het neergekom op opstand teen God self.
Die rol van Christenmans
6, 7. Waarom het Paulus se woorde in Efesiërs 5:23-29 vir sy eerste-eeuse lesers revolusionêr voorgekom?
6 Die Christelike godsdiens het lig gewerp op die gesinsreëling en veral op die rol van die man. In die eerste eeu was dit iets algemeens dat mans buite die Christengemeente hulle vrouens op ’n ongevoelige, tirannieke wyse behandel het. Vroue is basiese regte en waardigheid ontsê. The Expositor’s Bible sê: “Die ontwikkelde Griek het ’n vrou geneem om kinders voort te bring. Haar regte het geen beperking op sy seksuele begeertes geplaas nie. Liefde het nie deel uitgemaak van die huwelikskontrak nie. . . . Die slaaf-vrou het geen regte gehad nie. Haar liggaam was tot haar eienaar se beskikking.”
7 Dit was in só ’n klimaat wat Paulus die woorde in Efesiërs 5:23-29 geskryf het: “Die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. . . . Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het . . . So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit.” Vir eerste-eeuse lesers was hierdie woorde beslis revolusionêr. The Expositor’s Bible sê: “Daar was niks in die Christelike godsdiens wat in vergelyking met die losbandige sedes van die tyd vreemder en strenger gelyk het as die Christelike beskouing van die huwelik nie. . . . [Dit] het ’n nuwe era vir die mensdom ingelui.”
8, 9. Watter ongesonde gesindhede teenoor vroue kom vandag algemeen onder mans voor, en waarom is dit belangrik dat Christenmans sulke beskouings verwerp?
8 Die Bybelse raad vir mans is vandag geensins minder revolusionêr nie. Ten spyte van al die praatjies oor vrouebevryding word vroue steeds deur baie mans as blote voorwerpe vir seksuele bevrediging beskou. Baie mans glo in die mite dat vroue dit in werklikheid geniet om gedomineer, beheer of getiranniseer te word, en daarom mishandel hulle hulle vrouens fisies of emosioneel. Hoe skandelik sou dit tog wees as ’n Christenman deur wêreldse denke gelei word en sy vrou mishandel! “My man was ’n bedieningskneg en het openbare toesprake gehou”, sê een Christenvrou. Maar sy sê verder: “Hy het my geslaan.” Dit is duidelik dat sulke optrede nie met God se reëling strook nie. Daardie man was ’n seldsame uitsondering; hy moes hulp soek om sy woede te beheers as hy God se guns wou hê.—Galasiërs 5:19-21.
9 God beveel mans om hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam. As ’n mens weier om dit te doen, beteken dit dat jy teen God se reëling in opstand kom en dit kan jou verhouding met God skaad. Die apostel Petrus het dit duidelik gestel: “So moet julle, manne, verstandig met [julle vrouens] saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, . . . sodat julle gebede nie verhinder mag word nie” (1 Petrus 3:7). Wanneer ’n mens jou vrou op ’n ongevoelige wyse behandel, kan dit ook ’n vernietigende uitwerking op haar geestelikheid en die geestelikheid van jou kinders hê.
10. Wat is sommige van die maniere waarop mans hulle hoofskap op ’n Christelike wyse kan uitoefen?
10 Mans, julle gesinne sal voorspoedig wees as julle julle hoofskap op ’n Christelike wyse uitoefen. Christus was nooit ongevoelig of beledigend nie. Inteendeel, hy kon sê: “Leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Mattheüs 11:29). Kan jou gesin dit van jou sê? Christus het sy dissipels soos vriende behandel en hulle vertrou (Johannes 15:15). Gun jy jou vrou dieselfde waardigheid? Die Bybel het van die “deugsame vrou” gesê: “Die hart van haar man vertrou op haar” (Spreuke 31:10, 11). Dit beteken dat haar man haar ’n mate van vryheid en beweegruimte toelaat en haar nie met onredelike beperkings aan bande lê nie. Daarbenewens het Jesus sy dissipels aangemoedig om hulle gevoelens en menings uit te druk (Mattheüs 9:28; 16:13-15). Doen jy dieselfde met jou vrou? Of beskou jy ’n eerlike meningsverskil as ’n uitdaging van jou gesag? As jy jou vrou se gevoelens in ag neem, pleks van hulle te ignoreer, bou jy in werklikheid haar respek vir jou hoofskap op.
11. (a) Hoe kan vaders in die geestelike behoeftes van hulle kinders voorsien? (b) Waarom moet ouere manne en bedieningsknegte ’n goeie voorbeeld stel wanneer dit kom by die versorging van hulle gesin?
11 As jy ’n vader is, word daar ook van jou verwag om die leiding te neem in die voorsiening van jou kinders se geestelike, emosionele en fisiese behoeftes. Dit sluit ’n goeie geestelike roetine vir jou gesin in: om saam met hulle in die velddiens te werk, ’n tuisbybelstudie met hulle te hou en die dagteks met hulle te bespreek. Interessant genoeg toon die Bybel dat ’n ouere man of ’n bedieningskneg iemand moet wees “wat sy eie huis goed regeer”. Mans wat in hierdie hoedanighede dien, moet dus voorbeeldige gesinshoofde wees. Hoewel hulle ’n swaar las van gemeentelike verantwoordelikhede moet dra, moet hulle eie gesin voorkeur geniet. Paulus het getoon waarom: “As iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?”—1 Timotheüs 3:4, 5, 12.
Christenvroue se ondersteunende rol
12. Watter rol speel die vrou in die Christelike reëling?
12 Is jy ’n Christenvrou? Dan moet jy ook ’n baie belangrike rol in die gesinsreëling speel. Christenvrouens word vermaan om “hulle mans en kinders lief te hê, ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig” (Titus 2:4, 5). Jy moet dus daarna streef om ’n voorbeeldige huisvrou te wees, iemand wat sorg dat haar huis altyd skoon en aangenaam vir haar gesin is. Huiswerk kan soms vervelig wees, maar dit is glad nie vernederend of onbeduidend nie. As vrou ‘regeer jy oor ’n huis’, en jy geniet dalk heelwat beweegruimte in hierdie opsig (1 Timotheüs 5:14). Die “deugsame vrou” het byvoorbeeld huishoudelike voorrade aangekoop, eiendomstransaksies beklink en selfs die inkomste aangevul deur ’n klein besigheid te bestuur. Dit is geen wonder dat haar man haar geprys het nie! (Spreuke, hoofstuk 31). Natuurlik het sy so ’n ondernemingsgees aan die dag gelê binne die riglyne wat haar man as haar hoof vir haar neergelê het.
13. (a) Waarom is onderdanigheid dalk vir sommige vroue moeilik? (b) Waarom is dit vir Christenvroue voordelig om hulle aan hulle mans te onderwerp?
13 Dit is egter dalk nie altyd maklik om jou aan jou man te onderwerp nie. Nie alle mans dwing respek af nie. En jy is moontlik heel bekwaam wanneer dit kom by die hantering van finansies, beplanning of organisering. Jy het miskien ’n sekulêre werk en maak ’n aansienlike bydrae tot die gesinsinkomste. Of jy het dalk op die een of ander wyse in die verlede onder manlike oorheersing gely en vind dit dalk moeilik om jou aan ’n man te onderwerp. Nogtans toon jy respek vir God se hoofskap as jy “diep respek”, of “vrees”, vir jou man toon (Efesiërs 5:33, Kingdom Interlinear; 1 Korinthiërs 11:3). Onderdanigheid is ook uiters noodsaaklik vir die geluk van jou gesin; dit help dat jy nie jou huwelik aan onnodige spanning en druk onderwerp nie.
14. Wat kan ’n vrou doen wanneer sy nie saamstem met ’n besluit wat haar man geneem het nie?
14 Beteken dit egter dat jy moet stilbly wanneer jy meen dat jou man ’n besluit neem wat nie in die beste belang van julle gesin is nie? Nie noodwendig nie. Abraham se vrou Sara het nie stilgebly toe sy besef het dat haar seun, Isak, se welsyn bedreig word nie (Genesis 21:8-10). Net so voel jy dalk verplig om jou gevoelens by tye uit te druk. As dit op “die regte tyd” en op ’n eerbiedige wyse gedoen word, sal ’n godvrugtige Christenman luister (Spreuke 25:11, NAV). Maar sou dit nie selfverydelend wees om teen jou man se wense op te tree as hy nie jou voorstel aanvaar het nie en dit nie ’n ernstige skending van ’n Bybelbeginsel was nie? Onthou, “die waarlik wyse vrou het haar huis opgebou, maar die dwase vrou het dit met haar eie hande afgebreek” (Spreuke 14:1, NW). Een manier om jou huis op te bou, is om jou man se hoofskap te ondersteun, sy prestasies te prys, en nie ontsteld te raak wanneer hy foute begaan nie.
15. Hoe kan ’n vrou met die dissipline en opvoeding van haar kinders help?
15 Nog ’n manier waarop jy jou huis kan opbou, is om met die dissipline en opvoeding van julle kinders te help. Jy kan byvoorbeeld jou deel bydra sodat die gesinsbybelstudie gereeld gehou word en opbouend is. Laat “jou hand nie rus” wanneer dit kom by jou aandeel om by elke geleentheid God se waarhede aan julle kinders te leer nie—wanneer jy saam met hulle in die motor ry of sommer terwyl julle inkopies doen (Prediker 11:6). Help hulle om hulle kommentare vir die vergaderinge en dele op die Teokratiese Bedieningskool voor te berei. Hou ’n ogie oor hulle assosiasie (1 Korinthiërs 15:33). Laat julle kinders verstaan dat jy en jou man verenig is wanneer dit kom by dinge waarby goddelike standaarde en dissipline betrokke is. Moenie toelaat dat hulle jou teen jou man afspeel nie.
16. (a) Watter Bybelse voorbeeld dien as ’n aanmoediging vir enkelouers en diegene wat met ’n ongelowige getroud is? (b) Hoe kan ander in die gemeente sulke gesinne help?
16 As jy ’n enkelouer is of ’n ongelowige huweliksmaat het, sal jy heel waarskynlik die leiding op geestelike gebied moet neem. Dit kan moeilik en met tye selfs ontmoedigend wees. Maar moenie moed opgee nie. Timotheüs se moeder, Eunice, het daarin geslaag om hom die heilige Skrif “van kleins af” te leer, ten spyte van die feit dat sy met ’n ongelowige getroud was (2 Timotheüs 1:5; 3:15). En baie in ons midde geniet soortgelyke welslae. As jy hulp in hierdie opsig nodig het, kan jy die ouere manne van jou behoeftes vertel. Hulle kan dalk reël dat iemand jou help om by die vergaderinge te kom en in die velddiens uit te gaan. Hulle kan ander dalk aanmoedig om jou gesin by uitstappies of gesellighede in te sluit. Of hulle kan reël dat ’n ervare verkondiger jou help om ’n gesinstudie te begin.
Kinders wat waardering toon
17. (a) Hoe kan jongmense tot die gesin se welstand bydra? (b) Watter voorbeeld het Jesus in hierdie opsig gestel?
17 Christenjongmense kan tot die gesin se welstand bydra deur die raad in Efesiërs 6:1-3 te gehoorsaam: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder—dit is die eerste gebod met ’n belofte—sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.” As jy jou ouers jou samewerking gee, toon jy jou respek vir Jehovah. Jesus Christus was volmaak en kon maklik geredeneer het dat dit benede sy waardigheid is om hom aan onvolmaakte ouers te onderwerp. Maar “Hy was hulle onderdanig. . . . En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.”—Lukas 2:51, 52.
18, 19. (a) Wat beteken dit om ’n mens se ouers te eer? (b) Hoe kan die huis ’n plek van verfrissing word?
18 Moet jy nie jou ouers op dieselfde manier eer nie? Om hulle te “eer”, beteken om hulle regmatige gesag te erken. (Vergelyk 1 Petrus 2:17.) In die meeste gevalle moet sulke eer betoon word selfs al is ’n mens se ouers ongelowig of al stel hulle nie ’n goeie voorbeeld nie. Hoeveel te meer behoort jy jou ouers dan te eer as hulle voorbeeldige Christene is. Onthou ook dat die dissipline en riglyne wat jou ouers aan jou oplê nie bedoel is om jou onnodig in te perk nie. Hulle is eerder daar om jou te beskerm sodat jy kan aanhou “lewe”.—Spreuke 7:1, 2.
19 Hoe liefdevol is die gesinsreëling dus tog! Wanneer mans, vrouens en kinders almal God se reëls vir die gesinslewe nakom, word die huis ’n hawe, ’n plek van verfrissing. Daar kan nietemin probleme ontstaan wanneer dit kom by kommunikasie en kinderopvoeding. Ons volgende artikel bespreek hoe sommige van hierdie probleme opgelos kan word.
Onthou jy?
◻ Watter voorbeeld het godvresende mans, vrouens en kinders in Bybeltye gestel?
◻ Watter lig het die Christelike godsdiens op die rol van die man gewerp?
◻ Watter rol behoort die vrou in die Christengesin te speel?
◻ Hoe kan Christenjongmense tot die gesin se welstand bydra?
[Prent op bladsy 9]
“Daar was niks in die Christelike godsdiens wat in vergelyking met die losbandige sedes van die tyd vreemder en strenger gelyk het as die Christelike beskouing van die huwelik nie. . . . [Dit] het ’n nuwe era vir die mensdom ingelui”
[Prent op bladsy 10]
Christenmans moedig hulle vrouens aan om hulle gevoelens uit te spreek en neem daardie gevoelens in ag