’n Geleerde man
“LET op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie” (1 Korinthiërs 1:26). Soos hierdie woorde aandui, hou beheptheid met wêreldse wysheid of die genieting van hoë sosiale aansien gevaar in. Sulke dinge kan verhinder dat ’n mens die goeie nuus aanneem.—Spreuke 16:5; Markus 10:25.
In Paulus se dag het sommige wyses na die vlees nietemin die waarheid aangeneem, en Paulus was self een van hulle. Paulus, wat ’n goeie geleerdheid gehad het en blykbaar uit ’n vooraanstaande familie gekom het, was ’n ywerige evangelis. Hy het sodoende gewys dat bevoorregtes in hierdie wêreld Jehovah kan dien mits hulle hartsgesindheid reg is. Hulle kan selfs hulle sekulêre bekwaamhede in Jehovah se diens gebruik.—Lukas 16:9.
’n Boorling van Tarsus
Paulus is gebore in Tarsus, ‘geen onvermaarde stad nie’ soos hy dit later beskryf het (Handelinge 21:39). Dit is moontlik daar waar hy ’n kennis van tale opgedoen het—in die besonder Grieks goed magtig geword het—wat van onskatbare waarde in sy sendingwerk was. Die lewe in Tarsus het Paulus nie net met die Joodse lewenswyse in aanraking laat kom nie maar ook met nie-Joodse kulture, ondervinding wat hom in latere jare as die apostel van die nasies goed te pas gekom het. Hy het geweet hoe om die waarheid só oor te dra dat hulle dit kon verstaan (1 Korinthiërs 9:21). Neem byvoorbeeld sy redevoering voor die Atheners soos opgeteken in Handelinge hoofstuk 17. Daar het hy met bedrewenheid verwysings na die Atheners se godsdiens en selfs ’n aanhaling uit een van hulle digters in sy verduideliking van die waarheid ingeweef.
’n Romeinse burger
Paulus het nog ’n sekulêre voordeel geniet. Hy was ’n Romeinse burger en hy het ook dít gebruik om die goeie nuus te bevorder. Hy en sy metgeselle is in Filippi sonder ’n verhoor geslaan en in die gevangenis gewerp. Dit was onwettig om so iets aan ’n Romeinse burger te doen, en toe Paulus dit onder die aandag van die owerhede bring, het hulle hom toegelaat om in die stad te bly en die gemeente te bedien voordat hy na sy volgende bestemming vertrek het.—Handelinge 16:37-40.
Toe Paulus later voor goewerneur Festus verskyn het, het hy sy Romeinse burgerskap gebruik om hom op die keiser te beroep. Gevolglik het hy die goeie nuus voor die hoogste gesag van die Romeinse Ryk verdedig.—Handelinge 25:11, 12; Filippense 1:7.
Paulus het praktiese opleiding ontvang wat hom later goed te pas gekom het. Hy is geleer om tente te maak, bes moontlik deur sy vader. Danksy hierdie ambag kon hy homself in die bediening onderhou toe fondse skraps was (Handelinge 18:1-3). Hy het ook intensiewe godsdiensopleiding ontvang. Hy is grootgemaak as “’n Fariseër, die seun van ’n Fariseër” (Handelinge 23:6). Trouens, hy het studeer aan die voete van Gamaliël, een van die beroemdste Joodse leermeesters (Handelinge 22:3). Só ’n opvoeding, wat miskien gelykstaande was aan ’n hedendaagse keuruniversiteitsopleiding, dui daarop dat sy familie baie vernaam was.
’n Behoorlike beskouing
Paulus se agtergrond en opleiding het aan hom ’n rooskleurige toekoms in Judaïsme gebied. Hy kon dit ver daarin gebring het. Maar toe Paulus Jesus as die Messias aangeneem het, het sy doelwitte verander. In sy brief aan die Filippense het hy van sy vorige voordele wat hy in die wêreld geniet het, opgenoem en gesê: “Wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here.”—Filippense 3:7, 8.
Hierdie geleerde man het nie met verlange teruggekyk na wat hy met sy sekulêre opvoeding kon bereik het nie; hy het ook nie sy “groot geleerdheid” gebruik om ander met sy gesag te imponeer nie (Handelinge 26:24; 1 Korinthiërs 2:1-4). Hy het eerder volle geloof in Jehovah God gestel en na sy vorige vooruitsigte verwys en gesê: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Filippense 3:13, 14). Paulus het ’n waardering vir geestelike dinge gehad.
Paulus het nietemin daardie opleiding wat hy tevore ontvang het in Jehovah se diens gebruik. Toe hy van die Jode gesê het: “Ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het”, het hy uit eie ondervinding gepraat (Romeine 10:2). As ’n aktiewe Fariseër het hy ongetwyfeld ’n ywer vir God en vir die Skrif gehad. Nadat Paulus ’n Christen geword het, is sy ywer deur juiste kennis getemper en kon hy sy jeugopleiding vir ’n regverdige doel gebruik. In die boek Hebreërs het hy byvoorbeeld sy grondige kennis van Israel se geskiedenis en die aanbidding by die tempel gebruik om die verhewenheid van die Christelike stelsel toe te lig.
Vandag neem sommige wyses na die vlees ook die goeie nuus aan. Mense met allerlei opvoedkundige kwalifikasies, asook lede van allerlei beroepe en ambagte, het die waarheid aangeneem en hulle vorige opleiding in Jehovah se diens gebruik. Maar Christene verloor, ongeag hulle sekulêre opleiding, nooit die feit uit die oog dat dit geestelike kwalifikasies is wat noodsaaklik is nie. Dit is “die belangriker dinge” omdat dit ons na die ewige lewe kan lei.—Filippense 1:10, NW.