Die waarde van die Nash-papirus
HOE kan jy ’n ou Hebreeuse Bybelmanuskrip akkuraat dateer? Dit was die probleem waarvoor dr. John C. Trever in 1948 te staan gekom het toe hy die Dooie See-rol van Jesaja vir die eerste keer gesien het. Die vorm van die Hebreeuse letters het hom geïnteresseer. Hy het geweet dat die ouderdom in die letters opgesluit was, maar waarmee kon hy hulle vergelyk? Hy het tereg tot die gevolgtrekking gekom: Slegs met die skrif van die Nash-papirus. Waarom? Wat is hierdie manuskrip, en waar kom dit vandaan?
Die Nash-papirus bestaan uit net vier fragmente van 24 reëls Hebreeuse teks, wat ongeveer 7,5 by 12,5 sentimeter groot is. Dit is vernoem na W. L. Nash, die sekretaris van die Genootskap van Bybelargeologie, wat dit in 1902 by ’n Egiptiese handelaar bekom het. Die volgende jaar is dit deur S. A. Cooke in daardie genootskap se Proceedings gepubliseer en aan die Cambridge-universiteitsbiblioteek, in Engeland, geskenk waar dit steeds is. Hierdie papirusfragment se waarde lê in sy ouderdom. Volgens kenners dateer dit uit die eerste of tweede eeu v.G.J., wat dit die oudste Hebreeuse manuskrip maak wat nog gevind is.
Toe dr. Trever ’n kleurskyfie van die Nash-papirus met die rol voor hom vergelyk het, het hy noukeurig gekyk na die vorm en voorkoms van individuele letters. Hulle het ongetwyfeld baie dieselfde gelyk. Nogtans was dit vir hom ongelooflik dat die groot, pas ontdekte manuskrip moontlik uit ’n tyd so vroeg soos die Nash-papirus kon dateer. Mettertyd het dit egter geblyk dat hy reg was. Die Dooie See-rol van Jesaja het uit die tweede eeu v.G.J gedateer!
Die inhoud van die Nash-papirus
’n Ontleding van die Nash-papirusteks toon dat al 24 reëls onvolledig is met ’n woord of letters wat aan albei kante ontbreek. Dit bevat dele van die Tien Gebooie uit Exodus hoofstuk 20, asook ’n paar verse uit Deuteronomium hoofstukke 5 en 6. Dit is dus nie ’n gewone Bybelmanuskrip nie, maar ’n gemengde teks met ’n spesiale doel. Dit was blykbaar ’n deel van ’n onderrigtingsversameling om ’n Jood aan sy plig teenoor God te herinner. ’n Deel van die teks wat met Deuteronomium 6:4 begin en die Sjema genoem word, word dikwels herhaal. Daardie vers lui: “Hoor, o Israel: Jehovah ons God is een Jehovah.”—NW.
Die Tetragrammaton, JHWH, “Jehovah”, kan twee keer in hierdie vers op die laaste reël van die papirus gesien word, en dit kom op vyf ander plekke voor. Dit kom ook eenkeer voor waar die eerste letter ontbreek.
Die Sjema was in besonder bedoel om “die enkelvoudige persoonlikheid van God” te beklemtoon. Die laaste woord, ʼE·chadhʹ (“Een”), volgens die Joodse Talmoed (Berakoth 19a), “moes uitdruklik beklemtoon word deur elke lettergreep afsonderlik uit te spreek” (W. O. E. Oesterley en G. H. Box). Waar dit betrekking op God het, het hierdie verlengde ʼE·chadhʹ ook sy enigheid verklaar.
Vandag is daar baie rolle wat uit dieselfde tydperk as die Nash-papirus dateer, veral onder dié wat in grotte langs die kus van die Dooie See naby Qumran gevind is. Uitvoerige navorsing het bevestig dat baie van hierdie manuskripte uit die eerste en tweede eeu v.G.J. dateer.a Hoewel die Nash-papirus nie meer die oudste Hebreeuse manuskrip bekend is nie, is dit steeds van groot belang. Dit is steeds die enigste Hebreeuse Bybelmanuskrip wat in Egipte ontdek is en uit so ’n vroeë tydperk dateer.
[Voetnoot]