Ons Grootse Skepper en sy werke
HOE LUISTERRYK! Die bruisende Iguaçú- of Niagara-waterval, die indrukwekkende canyons van Arizona of Hawaii, die pragtige fjords van Noorweë of Nieu-Seeland—watter uitroepe van bewondering lok hierdie natuurwonders tog nie uit nie! Maar is hulle bloot die toevallige produkte van ’n sogenoemde Moeder Natuur? Nee, hulle is veel meer as dit! Hulle is die ontsagwekkende werke van ’n Grootse Skepper, ’n liefdevolle hemelse Vader oor wie die wyse koning Salomo geskryf het: “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu [“onbepaalde tyd”, NW] in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind” (Prediker 3:11). Dit sal mense ongetwyfeld ’n ewigheid neem om al die glorieryke werke waarmee ons Skepper die heelal gevul het te ondersoek.
Wat ’n Grootse Skepper het ons tog! En hoe bly is ons dat hierdie almagtige God “in hierdie laaste dae tot ons gespreek [het] deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het” (Hebreërs 1:1, 2). Hierdie Seun, Jesus Christus, het die pragtige dinge van sy Vader se skepping waardeer. Hy het dikwels die aandag daarop gevestig ter toeligting van sy Vader se voornemens en wanneer hy sy luisteraars met woorde bemoedig het (Mattheüs 6:28-30; Johannes 4:35, 36). “Deur die geloof” het baie verstaan dat die skeppingswonders “deur die woord van God toeberei is” (Hebreërs 11:3). Ons daaglikse lewe moet sulke geloof weerspieël.—Jakobus 2:14, 26.
Die skeppingswerke van ons God is inderdaad groots. Hulle weerspieël op ’n wonderlike wyse sy wysheid, sy krag, sy regverdigheid en sy liefde. Hy het byvoorbeeld ons aarde effens gekantel en dit in ’n wentelbaan om die son gestel sodat sy toekomstige skeppingswerk, die mens, die genotvolle opeenvolging van seisoene kan geniet. God het gesê: “Al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag [sal] nie ophou nie” (Genesis 8:22). God het boonop ons aarde voorsien van ’n oorvloed van waardevolle minerale. Hy het veral ’n oorvloed van water voorsien, wat later ’n noodsaaklike komponent en ’n onderhouer van alle lewe op die aarde geword het.
“Die Gees [“werkende krag”, NW] van God” het in ’n ordelike reeks van ses ‘skeppingsdae’, wat elk duisende jare lank was, die aarde voorberei om deur die mens bewoon te word. Die lig wat ons in staat stel om te sien, die lug wat ons inasem, die droë land waarop ons leef, die plantegroei, die opeenvolging van dag en nag, die visse, die voëls, die diere—alles is opeenvolgend deur ons Grootse Skepper voortgebring tot nut en genot van die mens (Genesis 1:2-25). Ons kan inderdaad saam met die psalmis uitroep: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”—Psalm 104:24.
God se skeppingsmeesterstuk
Aan die einde van die sesde ‘skeppingsdag’ het God die man en toe sy helper-maat, die vrou, gemaak. Wat ’n meesterlike klimaks tot die aardse skepping, soveel wonderliker as al die fisiese skeppingswerke wat voor dit geskep is! Psalm 115:16 sê vir ons: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee.” Jehovah het ons as mense gevolglik so ontwerp dat ons genot kan put uit sy vroeë skeppingswerke op die aarde en daarvan gebruik kan maak. Hoe dankbaar moet ons tog nie vir ons oë wees nie—ingewikkelder as die beste kamera—waarmee ons die kleurryke wêreld om ons kan sien! Ons het ons ore—beter as enige mensgemaakte klankstelsel—wat ons help om gesprekke, musiek en die melodieuse gesang van die voëls te geniet. Ons het ’n ingeboude praatmeganisme wat die tong, met sy baie gebruike, insluit. Die tong se smaakknoppies, tesame met ons reuksin, laat ons ook die smaak van ’n eindelose verskeidenheid kossoorte geniet. En hoe waardeer ons tog nie die tere aanraking van ’n hand nie! Ons kan ongetwyfeld ons Skepper dank, soos die psalmis wat gesê het: “Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.”—Psalm 139:14.
Ons Skepper se liefderyke goedhartigheid
Die psalmis het geskryf: “Loof die HERE, want Hy is goed, . . . wat alleen groot wonders doen, want sy goedertierenheid [“liefderyke goedhartigheid”, NW] is tot in ewigheid” (Psalm 136:1-4). Daardie liefderyke goedhartigheid spoor hom nou aan om wonderlike dinge te doen wat veel groter is as al die skeppingswerke wat ons so pas beskryf het. Ja, selfs terwyl hy van sy materiële skeppingswerke rus, skep hy op ’n geestelike vlak. Hy doen dít in antwoord op ’n goddelose uitdaging wat openlik tot hom gerig is. Hoe so?
Die eerste man en vrou is in ’n pragtige paradys, Eden, geplaas. Maar ’n afvallige engel, Satan, het homself as ’n god voorgedoen en veroorsaak dat daardie mensepaar in opstand teen Jehovah kom. God het hulle met reg ter dood veroordeel, met die gevolg dat hulle kinders, die hele menseras, in ’n sondige, sterwende toestand voortgebring word (Psalm 51:7). Die Bybelverslag aangaande Job toon dat Satan God uitgedaag het deur te sê dat niemand onder beproewing aan Hom getrou kan bly nie. Maar Job het bewys dat Satan ’n gemene leuenaar is, soos baie ander getroue knegte van God in Bybeltye en tot in ons dag ook gedoen het (Job 1:7-12; 2:2-5, 9, 10; 27:5). Jesus was, as ’n volmaakte mens, ’n toonbeeld van weergalose onkreukbaarheid.—1 Petrus 2:21-23.
Jesus kon gevolglik sê: “Die owerste van hierdie wêreld [Satan] . . . het aan My niks nie” (Johannes 14:30). Tog “[lê] die hele wêreld” tot vandag toe “in die mag van die Bose” (1 Johannes 5:19). Nadat Satan die regverdigheid van Jehovah se soewereiniteit betwis het, het hy ongeveer 6 000 jaar ontvang om te toon of sy eie heerskappy oor die mensdom kan slaag. Hoe jammerlik het hy tog nie misluk nie, soos verslegtende wêreldtoestande voortdurend toon! Ons liefdevolle God, Jehovah, sal binnekort hierdie verdorwe wêreldgemeenskap uit die weg ruim en sy regmatige soewereiniteit oor die aarde uitoefen. Watter vreugdevolle verligting sal dit tog bring vir mense wat na ’n vreedsame, regverdige heerskappy hunker!—Psalm 37:9-11; 83:17, 18.
Maar dit is nie al nie! God se liefderyke goedhartigheid sal verder betoon word op grond van Jesus se woorde in Johannes 3:16: “So lief het God die wêreld [van die mensdom] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Die feit dat die mens weer die vooruitsig het om vir ewig op die aarde te leef, beteken dat nuwe dinge geskep moet word. Wat is hierdie dinge? Hoe vind die sugtende mensdom daarby baat? Ons volgende artikel sal dit bespreek.