Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 2/15 bl. 8-11
  • Wat is verkeerd met ’n liefde vir geld?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is verkeerd met ’n liefde vir geld?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gebalanseerde beskouing van geld
  • ’n Les uit die verlede
  • Vreugdes wat geld nie kan koop nie
  • ‘Dit maak vlerke en vlieg’
  • Die bron van blywende geluk
  • ’n Gebalanseerde beskouing van geld
    Ontwaak!—2015
  • Is geld die wortel van alle kwaad?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wat is die verstandige beskouing van geld?
    Ontwaak!—2007
  • Geld
    Ontwaak!—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 2/15 bl. 8-11

Wat is verkeerd met ’n liefde vir geld?

PAUL en Mary het ’n supermark in ’n arm gemeenskap in Afrika bestuur.a Deur dag en nag hard te werk, het hulle baie geld gemaak. Mary kon mettertyd met ’n groot nuwe huis vol weelderige meubels spog. Paul weer kon in ’n luuksemotor rondry.

Eendag het ’n opposisiegroep na Paul toe gekom. Hulle het geëis: “Ons wil hê dat jou onderneming elke maand R250 skenk om ons saak te steun.” Aangesien Paul en Mary nie kant wou kies in die politieke stryd nie het hulle moedig geweier. Weens hulle neutraliteit is hulle daarvan verdink dat hulle finansiële steun van die regering ontvang. Een naweek, terwyl Paul en Mary uitstedig was, is hulle winkel geplunder en hulle motor en pragtige huis aan die brand gesteek.

Dit is weliswaar ’n treurige verhaal, maar kan ons daaruit leer? Baie wat hard gewerk het om ryk te word, is moontlik nie deur ’n ramp getref wat hulle van hulle rykdom beroof het nie, maar wat van die toekoms? Waarom sê die Bybel “die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang”?—1 Timotheüs 6:9.

’n Gebalanseerde beskouing van geld

Volgens die Bybel moet ’n ware Christen in die materiële behoeftes van sy of haar afhanklike gesinslede voorsien. Omstandighede, soos werkloosheid of gesondheidsprobleme, kan dít soms bemoeilik. Daarenteen het ’n Christen wat opsetlik versuim om vir sy gesin te sorg “die geloof verloën en is [hy] slegter as ’n ongelowige”.—1 Timotheüs 5:8.

In party plattelandse gemeenskappe voer mense ’n bestaan deur hulle eie voedsel te kweek en met vee te boer. Party maak maar min van geld gebruik en verkry die lewensbenodigdhede deur ruiltransaksies vir goedere en dienste aan te gaan. Maar die algemeenste manier waarop broodwinners vir hulle gesin sorg, is deur die een of ander werk teen betaling te verrig. Hulle gebruik dié geld om voedsel en ander artikels te koop wat tot die welsyn van hulle gesin bydra. Boonop kan geld wat verstandig gespaar is ’n mate van beskerming bied in moeilike of rampspoedige tye. Dit kan byvoorbeeld gebruik word om mediese uitgawes te dek of belangrike herstelwerk aan jou huis te doen. Daarom sê die Bybel prakties dat ‘geld ’n beskutting is’ en dat ‘alles geld kos’.—Prediker 7:12; 10:19.

Aangesien geld so baie doen, bestaan die gevaar dat ’n mens ’n onrealistiese beskouing van die mag daarvan kan aankweek. ’n Christen moet bewus wees van geld se beperkings in vergelyking met ander belangriker dinge. Die Bybel vergelyk byvoorbeeld die waarde van geld met Goddelike wysheid deur te sê: “Wysheid is ’n beskutting, geld is ’n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe” (Prediker 7:12). Hoe geniet Goddelike wysheid hierdie voordeel bo geld?

’n Les uit die verlede

Dinge wat in die jaar 66 G.J. in Jerusalem gebeur het, lig toe watter voordeel Goddelike wysheid bo geld het. Nadat die Jode in Jerusalem die aanvallende Romeinse leërs teruggedryf het, het hulle blykbaar geglo dat handelsvooruitsigte goed lyk. Trouens, hulle het begin om hulle eie geld te munt ter viering van hulle nuutgevonde vryheid. Op hulle munte was Hebreeuse uitdrukkings soos “Om die vryheid van Sion” en “Jerusalem die Heilige” gedruk. Elke nuwe jaar het hulle nuwe munte gemaak met inskripsies wat toon dat hulle in “jaar twee”, “jaar drie” en “jaar vier” gemunt is. Argeoloë het selfs al ’n paar seldsame munte opgegrawe met die inskripsie “jaar vyf”, wat met die jaar 70 G.J. ooreenkom. Het Joodse Christene die nuwe Joodse geld as ’n ware simbool van blywende vryheid beskou?

Nee. Want hulle het hulle Meester se wyse woorde in gedagte gehou. Jesus het die Romeinse inval voorspel wat in 66 G.J. plaasgevind het. Hy het vir sy volgelinge gesê dat ‘die wat in Jerusalem is, moet uitgaan’ wanneer dit gebeur (Lukas 21:20-22). Die geskiedenis toon dat Joodse Christene presies dit gedoen het. Hulle was klaarblyklik bereid om eiendom, besittings en sakegeleenthede te verloor omdat hulle Jerusalem moes verlaat. Vier jaar later het die Romeinse leërs teruggekeer en die stad beleër.

“Daar was baie goud in die Stad”, volgens ’n ooggetuie, die geskiedskrywer Josephus. Maar groot bedrae geld kon Jerusalem nie van hongersnood red nie, ’n hongersnood wat voortdurend “vererger” het en “hele huishoudings en gesinne uitgewis het”. Party inwoners het goue munte ingesluk en uit die stad probeer vlug. Maar hulle is deur hulle vyande doodgemaak, wat hulle maag oopgesny het om die geld uit te haal. “Wat die rykes betref”, verduidelik Josephus, “dit was net so gevaarlik om in die Stad te bly as om dit te verlaat; want baie mans is onder die voorwendsel dat hulle afvalliges is vir hulle geld doodgemaak.”

Minder as ses maande nadat die beleg begin het, is Jerusalem vernietig en meer as eenmiljoen van sy inwoners is deur hongersnood, pessiektes en die swaard gedood. Die liefde vir geld het baie verblind, wat vir hulle vernietiging en verderf beteken het, terwyl Joodse Christene kon vlug omdat hulle die wyse woorde toegepas het.

Dit was nie die enigste keer in die geskiedenis dat geld mense in ’n krisistyd in die steek gelaat het nie. Wat ’n wrede meester kan die liefde vir geld tog wees! (Mattheüs 6:24, NW). Dit kan jou boonop ook van teenswoordige geluk beroof.

Vreugdes wat geld nie kan koop nie

Die obsessie om ryk te word, kan ’n persoon verblind sodat hy die baie vreugdes wat min geld kos, nie raaksien nie. Dink byvoorbeeld aan gelukkige gesinsverhoudinge, ware vriende, natuurwonders, ’n skouspelagtige sonsondergang, ’n indrukwekkende donderstorm, die sterbesaaide hemel, die manewales van diere of die blomme en bome in ’n ongerepte woud.

Party ryk mense het weliswaar meer tyd om die vreugdes wat hierbo gemeld word, te geniet, maar die meeste van hulle is druk besig om hulle rykdom te probeer bewaar of vermeerder. Dit klink moontlik snaaks om te hoor dat geluk dikwels selfs diegene met vrye tyd ontwyk. Dit verbaas hedendaagse navorsers. “Hoe kan ons verduidelik dat iets wat soveel mense so graag wil hê, en wat as ’n soort wondermiddel beskou word, wanneer dit verkry word so ’n verskeidenheid gevolge het wat van teleurstelling tot trauma strek?” vra Thomas Wiseman in sy boek The Money Motive—A Study of an Obsession.

Een ding wat ’n ryk mens van geluk kan beroof, is dat dit moeilik is om te weet wie sy ware vriende is. Ryk koning Salomo het gevind “as die goed baie word, word die eters baie” (Prediker 5:10). Talle ryk mense ondervind ook bekommernis omdat hulle probeer om hulle rykdom in stand te hou of die waarde daarvan te verhoog. Dit beroof hulle dikwels van genotvolle slaap. Die Bybel verduidelik: “Soet is die slaap van die arbeider, of hy min en of hy baie eet; maar die oorversadiging van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie.”—Prediker 5:11.

Die liefde vir geld kan verhoudinge tussen die gesin en tussen vriende skaad omdat dit iemand in die versoeking kan lei om oneerlike dinge te doen en misdaad te pleeg. Liefhebbers van geld begin dikwels dobbel. Ongelukkig het die begeerte na net nog een dobbelondervinding baie al in die skuld gedompel. “Teen die tyd dat hulle my kom spreek”, het ’n Suid-Afrikaanse psigiater gesê, “kan [kompulsiewe dobbelaars] gewoonlik nie meer verander of gehelp word nie, het hulle hulle werk, onderneming en huis verloor, en dikwels het hulle gesin hulle verlaat.” Hoe waar is die Bybel se waarskuwing tog: “’n Betroubare man is ryk aan seëninge; maar hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie.”—Spreuke 28:20.

‘Dit maak vlerke en vlieg’

Nog ’n rede waarom die liefde vir geld so gevaarlik is, is dat menseregerings nie ten volle kan saamwerk of kan verseker dat geld internasionaal stabiel bly nie; hulle kan ook nie resessies, depressies en die ineenstorting van aandelemarkte verhoed nie. Bedrog, diefstal en inflasie toon ook hoe waar die geïnspireerde woorde is: “Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid. Sou jy jou oë daarop laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe.”—Spreuke 23:4, 5.

Inflasie. Daardie probleem kom beslis nie net in arm lande voor nie. Vroeër in hierdie eeu het wegholinflasie die nywerheidslande van Sentraal-Europa getref. Voor die Eerste Wêreldoorlog was ’n Duitse mark amper gelykstaande aan ’n Britse sjieling, ’n Franse frank of ’n Italiaanse lira. Tien jaar later was die sjieling, die frank en die lira min of meer gelyk aan 1 000 000 000 000 mark. Watter uitwerking het stygende inflasie op mense in ryk gemeenskappe? “As ons moet oordeel na wat met die verslane Sentrale Magte aan die begin van die twintigerjare gebeur het”, sê Adam Fergusson in sy boek When Money Dies, “dan lei [die ineenstorting van die geldwaarde] tot sulke hebsug, geweld, ongelukkigheid en haat, wat hoofsaaklik uit vrees voortspruit, dat geen gemeenskap dit kan oorleef sonder om vermink en veranderd te wees nie.”

In 1923 het Duitsland sy geldstelsel herwaardeer deur van 12 nulle ontslae te raak sodat 1 000 000 000 000 ou mark skielik aan een nuwe mark gelyk was. Hierdie besluit het die inflasie gestuit, maar het ander verwoestende gevolge gehad. Adam Fergusson verduidelik: “Die herstel van monetêre stabiliteit wat vir duisende bankrotskap beteken het, wat miljoene van hulle lewensonderhoud beroof het en die vooruitsigte van miljoene ander tot niet gemaak het, het indirek ’n verskrikliker gevolg gehad wat die hele wêreld geraak het.” Die “verskrikliker gevolg” waarvan die skrywer gepraat het, was blykbaar die opkoms van Nazisme en die Tweede Wêreldoorlog.

Die feit dat groot bankrekeninge so baie mense in die verlede in die steek gelaat het, moet in hierdie tye van wêreldwye ekonomiese onsekerheid ’n ernstige waarskuwing wees. God se Seun het self gewaarsku dat geld sou faal, wat dit beslis al herhaalde kere gedoen het (Lukas 16:9, NW). Maar die grootste en wydverspreidste monetêre ineenstorting sal plaasvind wanneer Jehovah God hierdie goddelose wêreld oordeel. “Goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie, maar geregtigheid red van die dood.”—Spreuke 11:4.

Daarom is dit so belangrik dat ons almal probeer om ’n regverdige posisie voor ons ware Vriende, Jehovah God en Jesus Christus, te behou!

Die bron van blywende geluk

Paul en Mary, van wie ons aan die begin gepraat het, was Getuies van Jehovah. Hulle het baie jare lank aan die voltydse evangelisasiewerk deelgeneem. Maar hulle begeerte na rykdom het veroorsaak dat hulle nie meer vergaderinge van die Christengemeente bygewoon het nie, en hulle het nie meer vir ander in die openbare bediening van hulle geloof vertel nie. Maar hulle het wakker geskrik. “Nou kan ek sien hoe sinloos dit was om al my tyd en energie te gebruik vir iets wat binne ’n paar minute kan verdwyn”, het Mary gesê na hulle beroof en haar huis geplunder is. Gelukkig het hierdie paartjie ’n les geleer voordat dit te laat was. Ja, die grootste skade wat die liefde vir geld kan aanrig, is om ’n mens te beroof van ’n goedgekeurde verhouding met Jehovah God en Jesus Christus. Watter vooruitsig kan ons hê om sonder hierdie Vriende die einde van hierdie goddelose stelsel te oorleef sodat ons in die beloofde nuwe wêreld van regverdigheid kan ingaan?—Mattheüs 6:19-21, 31-34; 2 Petrus 3:13.

Jy moet dus daarteen waak om ’n liefde vir geld te ontwikkel, ongeag of jy jouself as ryk of arm beskou. Probeer jou bes om die grootste skat—’n goedgekeurde posisie voor Jehovah God—te verkry en te behou. Jy kan dit doen deur voortdurend op die dringende uitnodiging te let: “Die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”—Openbaring 22:17.

[Voetnoot]

a Hulle regte name word nie gebruik nie.

[Prente op bladsy 8, 9]

Albei kante van ’n munt wat gedurende die Joodse opstand gemunt is en die inskripsie “jaar twee” bevat

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel