Kweek die nuwe persoonlikheid in jou huwelik aan
“Dat julle nuut gemaak moet word in die krag wat julle denke aandryf, en julle moet julle met die nuwe persoonlikheid beklee.”—EFESIËRS 4:23, 24, NW.
1. Waarom moet die huwelik nooit lig opgeneem word nie?
DIE huwelik is een van die ernstigste stappe wat ’n mens in jou lewe doen, dus moet dit nooit lig opgeneem word nie. Waarom is dit die geval? Omdat ’n mens ’n lewenslange verbintenis met ’n ander persoon aangaan. Dit beteken dat ’n mens jou hele lewe met daardie persoon deel. Ryp oordeel is ’n voorvereiste vir so ’n verbintenis om gesond te wees. Dit vereis ook ’n positiewe invloed wat ‘die denke aandryf en die nuwe persoonlikheid sodoende vorm’.—Efesiërs 4:23, 24; vergelyk Genesis 24:10-58; Mattheüs 19:5, 6.
2, 3. (a) Wat is nodig as jy ’n wyse keuse wil doen wanneer jy ’n huweliksmaat kies? (b) Wat behels die huwelik?
2 Daar bestaan goeie rede om jou nie oorhaastig in die huwelik te begewe omdat jy meegesleur word deur die sterk begeerte van die vlees nie. Dit neem tyd vir die volwasse persoonlikheid en karakter om te ontwikkel. Met verloop van tyd doen ’n mens ondervinding en kennis op wat as ’n fondament vir gesonde oordeel kan dien. Dan kan ’n mens met groter sukses ’n geskikte lewensmaat kies. ’n Spaanse spreuk stel dit onomwonde: “Dis beter om alleen te loop as om ongelukkig getroud te wees.”—Spreuke 21:9; Prediker 5:1.
3 Om die regte maat te kies, is natuurlik van die grootste belang vir ’n suksesvolle huwelik. Daarvoor moet die Christen Bybelse riglyne volg, en hom nie deur blote fisiese aantrekkingskrag en oormatige emosionele en romantiese druk laat lei nie. Die huwelik is meer as net die samevoeging van twee liggame. Dit is die samevoeging van twee persoonlikhede, twee gesins- en opvoedingsagtergronde, moontlik twee kulture en tale. Die samevoeging van twee persone in die huwelik beteken beslis dat die tong reg gebruik moet word; met ons spraakvermoë kan ons afbreek óf opbou. Hieruit kan ons ook die wysheid van Paulus se raad insien om ‘net in die Here te trou’, dit wil sê met ’n medegelowige.—1 Korinthiërs 7:39; Genesis 24:1-4; Spreuke 12:18; 16:24.
Wees opgewasse teen die druk in die huwelik
4. Waarom ontstaan wrywing en spanning soms in ’n huwelik?
4 Selfs met ’n goeie fondament sal daar tye van wrywing, druk en spanning wees. Dit is vir enigiemand normaal, of hulle nou getroud is of nie. Ekonomiese en gesondheidsprobleme kan in enige verhouding druk veroorsaak. Veranderinge in gemoedstemming kan in die beste huwelike tot botsings van persoonlikhede lei. Nog ’n faktor is dat niemand volmaakte beheer oor hulle tong het nie, soos Jakobus gesê het: “Ons almal struikel dikwels. As iemand in woorde nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou. . . . So is die tong ook ’n klein lid en beroem hom op groot dinge—kyk hoe ’n groot hoop hout steek ’n klein vuurtjie aan die brand.”—Jakobus 3:2, 5.
5, 6. (a) Wat is nodig wanneer ’n misverstand ontstaan? (b) Wat moet dalk gedoen word om ’n breuk te heel?
5 Hoe kan ons die situasie beheer wanneer druk in die huwelik ontstaan? Hoe kan ons keer dat ’n misverstand in ’n rusie ontwikkel en ’n rusie in ’n skeuring in die verhouding? Dit is waar die krag wat die denke aandryf hom laat geld. Hierdie motiverende gees kan positief of negatief wees, dit kan opbouend en geestelik gesind of afbrekend wees en deur vleeslike neigings beheer word. As dit opbouend is, sal die persoon iets doen om die breuk te heel, om sy of haar huwelik op koers te hou. Argumente en verskille moet nie die einde van ’n huwelik beteken nie. Die lug kan gesuiwer word en wedersydse respek en begrip herstel word as hulle Bybelraad toepas.—Romeine 14:19; Efesiërs 4:23, 26, 27.
6 Onder hierdie omstandighede is Paulus se woorde baie gepas: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.”—Kolossense 3:12-14.
7. Watter probleem het sommige dalk in hulle huwelik?
7 Dit is maklik om hierdie teks te lees, maar onder die druk van die hedendaagse lewe is dit nie altyd so maklik om dit toe te pas nie. Wat kan ’n basiese probleem wees? Soms leef ’n Christen dalk, sonder dat hy dit besef, volgens ’n dubbele standaard. By die Koninkryksaal is hy tussen broers, en hy is vriendelik en bedagsaam. Dan, wanneer hy weer by die huis is, in die huishoudelike roetine, is hy dalk geneig om van sy geestelike verhouding te vergeet. Daar is dit net man en vrou, “hy” en “sy”. En onder druk sê hy (of sy) miskien onvriendelike dinge wat nooit by ’n Koninkryksaal gesê sou word nie. Wat het gebeur? Sy (of haar) Christelike persoonlikheid het vir die oomblik verdwyn. ’n Kneg van God het vergeet dat hy (of sy) steeds ’n Christenbroer (of -suster) by die huis is. Die krag wat die denke aandryf, het negatief pleks van positief geword.—Jakobus 1:22-25.
8. Waartoe kan dit lei as die krag wat die denke aandryf negatief is?
8 Met watter gevolg? Die man ‘leef nie meer ooreenkomstig kennis met sy vrou deur haar eer te bewys as ’n swakkere vat, die vroulike, nie’. Die vrou respekteer nie meer haar man nie; sy het haar “sagmoedige en stille gees” verloor. Die krag wat die denke aandryf het fisies pleks van geestelik geword. ’n “Vleeslike gesindheid” het oorgeneem. Wat kan dan gedoen word om daardie motiverende krag geestelik en positief te hou? Ons moet ons geestelikheid opbou.—1 Petrus 3:1-4, 7, vgl. NW; Kolossense 2:18.
Versterk die krag
9. Watter keuses moet ons in ons daaglikse lewe maak?
9 Die motiverende krag is die verstandelike neiging wat ’n rol speel wanneer ons besluite moet neem en keuses moet maak. Die lewe bied ’n voortdurende reeks keuses—goed of sleg, selfsugtig of onselfsugtig, sedelik of onsedelik. Wat sal ons help om die regte besluite te neem? Die krag wat die denke aandryf indien dit op die uitvoering van Jehovah se wil ingestel is. Die psalmis het gebid: “HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar.”—Psalm 119:33; Esegiël 18:31; Romeine 12:2, NW.
10. Hoe kan ons die krag wat die denke aandryf op ’n positiewe wyse versterk?
10 ’n Sterk verhouding met Jehovah sal ons help om hom te behaag en om wat sleg is, met inbegrip van ontrouheid in die huwelik, te vermy. Israel is aangemoedig om te “doen wat goed en reg is in die oë van die HERE [hulle] God”. Maar God het ook vermaan: “o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad!” Na aanleiding van die sewende van die Tien Gebooie: “Jy mag nie egbreek nie”, moes die Israeliete owerspel haat. Daardie gebod het getoon hoe ernstig God is oor getrouheid in die huwelik.—Deuteronomium 12:28; Psalm 97:10; Exodus 20:14, NW; Levitikus 20:10.
11. Hoe kan ons die krag wat ons denke aandryf verder versterk?
11 Hoe kan ons die krag wat die denke aandryf verder versterk? Deur geestelike bedrywighede en waardes te waardeer. Dit beteken dat ons God se Woord gereeld moet bestudeer en moet leer om ons daarin te verlustig om oor Jehovah se gedagtes en raad te gesels. Ons moet dieselfde hartgrondige waardering hê as die psalmis wat gesê het: “Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar. Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte.”—Psalm 119:10, 11, 33, 34.
12. Watter dinge kan ons verenig om die sin van Christus te weerspieël?
12 ’n Mens kan hierdie waardering vir Jehovah se regverdige beginsels behou deur nie alleen die Bybel te bestudeer nie, maar ook deur Christelike vergaderinge gereeld by te woon en saam aan die Christelike bediening deel te neem. Hierdie twee kragtige invloede kan die krag wat die denke aandryf voortdurend versterk sodat ons onselfsugtige lewenswyse altyd die sin van Christus sal weerspieël.—Romeine 15:5, NW; 1 Korinthiërs 2:16.
13. (a) Waarom is gebed ’n waardevolle faktor in die versterking van die krag wat die denke aandryf? (b) Watter voorbeeld het Jesus in hierdie opsig gestel?
13 Nog ’n faktor is die een wat Paulus in sy brief aan die Efesiërs beklemtoon het: “Terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees” (Efesiërs 6:18). Egpare moet saam bid. Daardie gebede open dikwels die gemoedere en lei tot openhartige gesprekke wat enige moontlike breuk heel. In tye van beproewing en versoeking moet ons ons in gebed tot God wend, hom om hulp en geestelike krag vra om te doen wat in ooreenstemming met die sin van Christus is. Selfs die volmaakte Jesus het hom by talle geleenthede in gebed tot sy Vader gewend en om krag gevra. Sy gebede was hartgrondig en vurig. Ons kan vandag in tye van versoeking eweneens die krag vind om die regte besluit te neem deur Jehovah om hulp aan te roep sodat ons die begeerte kan onderdruk om aan die vlees toe te gee en ’n huweliksgelofte te verbreek.—Psalm 119:101, 102.
Teenoorgestelde voorbeelde van gedrag
14, 15. (a) Hoe het Josef opgetree toe hy versoek is? (b) Wat het Josef gehelp om die versoeking te weerstaan?
14 Hoe kan ons versoeking weerstaan? In hierdie opsig kan ons ’n duidelike onderskeid tref tussen die weg wat Josef ingeslaan het en dié wat Dawid ingeslaan het. Toe Potifar se vrou die aantreklike Josef, wat blykbaar op daardie tydstip ongetroud was, aanhoudend probeer verlei het, het hy haar uiteindelik geantwoord deur te sê: “Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?”—Genesis 39:6-9.
15 Wat het Josef gehelp om die regte weg in te slaan toe dit so maklik sou wees om te swig? Hy het ’n sterk krag gehad wat sy denke aangedryf het. Hy was baie bewus van sy verhouding met Jehovah. Hy het geweet dat hoerery met hierdie smoorverliefde vrou in werklikheid nie net ’n sonde teen haar man sou wees nie, maar nog belangriker, teen God.—Genesis 39:12.
16. Hoe het Dawid op ’n versoeking gereageer?
16 Wat het in teenstelling hiermee met Dawid gebeur? Hy was ’n getroude man, met etlike vroue soos deur die Wet toegelaat is. Een aand het hy van sy paleis af gekyk hoe ’n vrou ’n bad neem. Dit was die pragtige Batseba, die vrou van Uria. Dawid het duidelik voor ’n keuse gestaan—om aan te hou kyk terwyl wellus in sy hart opvlam of om weg te draai en die versoeking te verwerp. Wat was sy keuse? Hy het haar na sy paleis ontbied en met haar owerspel gepleeg. Nog erger, hy het haar man se dood bewerkstellig.—2 Samuel 11:2-4, 12-27.
17. Wat kan ons oor Dawid se geestelike toestand aflei?
17 Wat was Dawid se probleem? Ons kan uit sy latere berouvolle belydenis in Psalm 51 ’n paar feite aflei. Hy het gesê: “Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.” Dit is duidelik dat hy nie ’n rein en vaste gees gehad het toe hy versoek is nie. Miskien het hy nie meer Jehovah se Wet so gereeld gelees nie, en sy geestelikheid het gevolglik agteruitgegaan. Of hy het dalk toegelaat dat sy posisie en mag as koning sy denke beïnvloed sodat hy die slagoffer van wellustige begeerte geword het. Die krag wat sy denke op daardie tydstip aangedryf het, was beslis selfsugtig en sondig. Daarom het hy besef dat hy ‘opnuut ’n vaste gees’ moes verkry.—Psalm 51:12; Deuteronomium 17:18-20.
18. Watter raad het Jesus oor owerspel gegee?
18 Sommige Christenhuwelike is al verwoes omdat een of albei van die huweliksmaats toegelaat het dat hulle in ’n toestand van geestelike swakheid soortgelyk aan dié van koning Dawid verval. Sy voorbeeld moet vir ons as waarskuwing dien dat ons nie in hartstog na ’n ander vrou, of man, bly kyk nie, want dit kan uiteindelik tot owerspel lei. Jesus het getoon dat hy menslike emosies in hierdie opsig verstaan het, want hy het gesê: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is; Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” In so ’n geval is die krag wat die denke aandryf selfsugtig en vleeslik, nie geestelik nie. Wat kan Christene dan doen om owerspel te vermy en hulle huwelik gelukkig en bevredigend te hou?—Mattheüs 5:27, 28.
Versterk die huweliksband
19. Hoe kan ’n huwelik versterk word?
19 Koning Salomo het geskryf: “As iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en ’n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.” In ’n harmonieuse huwelik kan twee beslis tydens teenspoed saamstaan en dit beter as een die hoof bied. Maar as hulle verbintenis soos ’n driedubbele lyn is deurdat God daarin is, sal hulle huwelik onwankelbaar wees. En hoe kan God in ’n huwelik wees? Deur die egpaar se toepassing van sy beginsels en raad vir die huwelik.—Prediker 4:12.
20. Watter Bybelse raad kan ’n man help?
20 As ’n man die raad in die volgende tekste toepas, sal sy huwelik gewis ’n beter grondslag vir sukses hê:
“Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.”—1 Petrus 3:7.
“Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het. So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief.”—Efesiërs 5:25, 28.
‘Haar man tree op en hy prys haar. Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal.’—Spreuke 31:28, 29.
‘Kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry? So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan. Hy wat owerspel pleeg verwoes sy eie lewe.’—Spreuke 6:28, 29, 32.
21. Watter Bybelse raad kan ’n vrou help?
21 As ’n vrou ag gee op die volgende Bybelbeginsels sal dit tot die behoud van haar huwelik bydra:
“So moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het . . . [en julle] sagmoedige en stille gees.”—1 Petrus 3:1-4.
“Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. . . . Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir ’n bepaalde tyd.”—1 Korinthiërs 7:3-5, NAV.
22. (a) Watter ander faktore kan ’n goeie uitwerking op ’n huwelik hê? (b) Hoe beskou Jehovah egskeiding?
22 Die Bybel toon ook dat liefde, vriendelikheid, barmhartigheid, lankmoedigheid, begrip, aanmoediging en lof ander noodsaaklike fasette van die juweel van die huwelik is. ’n Huwelik sonder hierdie fasette is soos ’n plant sonder sonlig en water—dit blom selde. Laat die krag wat ons denke aandryf ons dus beweeg om mekaar in ons huwelik aan te moedig en te verkwik. Onthou dat Jehovah ‘egskeiding haat’. As Christelike liefde beoefen word, behoort dit geen ruimte te laat vir owerspel en die verbrokkeling van die huwelik nie. Waarom nie? Want “die liefde faal nimmer”.—Maleagi 2:16; 1 Korinthiërs 13:4-8, vgl. NW; Efesiërs 5:3-5.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat is van die grootste belang vir ’n gelukkige huwelik?
◻ Hoe kan die krag wat die denke aandryf ’n huwelik beïnvloed?
◻ Wat kan ons doen om die krag wat ons denke aandryf te versterk?
◻ Hoe het Josef en Dawid se optrede verskil toe hulle versoek is?
◻ Watter Bybelse raad sal mans en vrouens help om die huweliksband te versterk?
[Prente op bladsy 18]
Leef ons volgens ’n dubbele standaard—vriendelik in die gemeente en bruusk en opvlieënd by die huis?