Doop! Doop! Doop!—Maar waarom?
“EK HET binne ’n paar maande meer as tienduisend mans, vroue en kinders gedoop.” Dit is wat die Jesuïetesendeling Franciscus Xaverius oor sy werk in die ryk van Travancore, Indië, geskryf het. “Ek het van dorp tot dorp gegaan en hulle Christene gemaak. En oral waar ek gegaan het, het ek ’n afskrif van ons gebede en gebooie in hulle moedertaal agtergelaat.”
Koning Johan van Portugal was so beïndruk deur Franciscus Xaverius se briewe dat hy beveel het dat hulle deur sy hele ryk hardop van elke preekstoel af gelees moet word. Die brief van Januarie 1545 wat so pas aangehaal is, is selfs vir publikasie goedgekeur. Met watter gevolge? “Kort voor lank wou die helfte van die studente in Europa wat ‘op hulle knieë geval en vurige trane gestort het’ met alle mag Indië toe gaan en die heidene bekeer”, skryf Manfred Barthel in sy boek The Jesuits—History & Legend of the Society of Jesus. Hy het bygevoeg: “Die gedagte dat dit dalk meer as ’n paar mense wat wywater sprinkel en ’n tas vol traktate sou verg om ’n hele ryk te bekeer, het blykbaar nie destyds by baie opgekom nie.”
Wat het sulke massabekerings nou eintlik bereik? Die Jesuïet Nicolas Lancilloto het ’n realistiese verslag aan Rome gelewer: “Die meeste wat gedoop word, het ’n bedekte beweegrede. Die slawe van die Arabiere en die Hindoes hoop om daardeur hulle vryheid te verkry of teen ’n verdrukkende meester beskerm te word of bloot ’n nuwe kleed of ’n tulband te kry. Baie doen dit om die een of ander straf vry te spring. . . . Enigeen wat deur sy oortuiging beweeg word om verlossing in ons leer te soek, word as ’n mal mens beskou. Kort nadat hulle gedoop is, raak baie afvallig en keer hulle terug na hulle heidense gebruike van vroeër.”
Die Europese ontdekkingsreisigers van daardie era wou ook die heidene bekeer en doop. Christophorus Columbus het glo die eerste “Indiërs” wat hy op die Karibiese Eilande teëgekom het, gedoop. “Volgens die amptelike beleid van die Spaanse Kroon was die bekering van die inboorlinge van die allergrootste belang”, sê The Oxford Illustrated History of Christianity. “Teen die einde van die sestiende eeu was die 7 000 000 Indiane van die Spaanse ryk ten minste in naam Christene. Waar ons statistiek oor bekerings het (Pedro de Gante, ’n bloedverwant van keiser Karel V, wat by die sendelinge aangesluit het, het vertel hoe hy in een dag met die hulp van een metgesel 14 000 gedoop het), is dit duidelik dat geen noemenswaardige onderrigting vooraf moontlik was nie.” Sulke oppervlakkige bekerings het dikwels met wrede, onmenslike en verdrukkende behandeling van die inboorlinge gepaardgegaan.
Die waarde wat aan doop geheg is, het hierdie ontdekkingsreisigers en sendelinge aangevuur. In 1439 het pous Eugenius IV ’n dekreet by die Konsilie van Florence uitgevaardig waarin hy gesê het: “Die Heilige Doop beklee die eerste plek onder die sakramente, omdat dit die deur tot die geestelike lewe is; want deur middel daarvan word ons lede van Christus gemaak en by die Kerk ingelyf. En aangesien die dood deur die eerste mens tot almal deurgedring het, kan ons nie in die koninkryk van die Hemel ingaan nie tensy ons weer gebore word uit water en die Heilige Gees.”
Onenigheid het egter ontstaan oor wie se doop nou eintlik geldig is. “Omdat dit ook die fundamentele ritus is waardeur ’n mens in die kerkgemeenskap opgeneem kan word, het verskeie mededingende kerke, wat elkeen hulleself ortodoks genoem het en die ander van kettery en sektevorming beskuldig het, dit gou as hulle uitsluitlike reg opgeëis. Dit was onvermydelik dat die verskillende sektes die doopritusse sou wysig”, sê The Encyclopedia of Religion.
Maar die doopgebruik het reeds voor die Christelike geloof bestaan. Dit is in Babilon beoefen en in antieke Egipte waar mense geglo het dat die koue water van die Nyl hulle versterk en hulle onsterflik maak. Die Grieke het ook geglo dat die doop hernuwing kan meebring of vir die ingewyde onsterflikheid kan verseker. Die Joodse sekte by Qumran het mense by hulle gemeenskap ingelyf deur hulle te doop. Daar is vereis dat nie-Jode wat hulle tot die Judaïsme bekeer, besny word en sewe dae later voor getuies deur onderdompeling gedoop word.
Dit is duidelik dat daar deur die eeue heen groot waarde aan die doop geheg is. Maar wat van vandag? Is dit in hierdie moderne tye nodig? Indien wel, waarom? Trouens, moet jý gedoop word?