Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 5/15 bl. 8-11
  • Waarom moet ons Jehovah dien?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moet ons Jehovah dien?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die regte beweegrede is nodig
  • Diens met die regte beweegredes
  • Plig en voorreg
  • Dankbaarheid dien as aansporing
  • Verheerlik Jehovah en Sy Koningskap
  • Vreugde en bevrediging
  • Waarom dien jy God?
  • Loof Jehovah se heilige naam!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Besluit om Jehovah te dien terwyl jy jonk is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Dien Jehovah met vreugde van hart
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Jehovah verdien ewige lof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 5/15 bl. 8-11

Waarom moet ons Jehovah dien?

“JEHOVAH se dag is op hande! Die ‘groot verdrukking’ is naby, en jy sal dit nie oorleef as jy God nie dien nie.” Hoe sal jy reageer as iemand dít vir jou sê?—Sefanja 2:2, 3; Mattheüs 24:21.

Ons moet weliswaar Jehovah se dag in gedagte hou, en oorlewing deur die naderende groot verdrukking heen hang van getroue diens aan God af. Maar moet hierdie feite die belangrikste redes wees waarom ons heilige diens aan Jehovah God verrig? Waarom dien jy Jehovah?

Die regte beweegrede is nodig

As ’n mens God nie met die regte beweegrede dien nie, sal jy moontlik tou opgooi as jou verwagtinge nie binne ’n sekere tydperk ’n werklikheid word nie. Party mense het byvoorbeeld verwag dat Jesus Christus in 1843 of 1844 sou terugkeer; datums wat verbygegaan het sonder dat hulle verwagtinge vervul is. Iets interessants hieroor is wat George Storrs geskryf het, uitgewer van die Bible Examiner en later ’n kennis van Charles Taze Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap. In die Bible Examiner vir September 1846 het George Storrs geskryf:

“Die verpligting om God te dien, behels baie meer as net die feit dat die dag amper verby is. . . . Die reaksie wat sal plaasvind as ’46 en ’47 verbygaan soos dit moontlik die geval sal wees sonder dat die tweede koms plaasvind, sal so teleurstellend wees dat dit alle begrip te bowe sal gaan. Ondervinding bewys dit—ek praat van die ondervinding van ’43 en ’44. Waar is die oorgrote meerderheid van diegene nou wat beweer het dat hulle ‘beweeg is om God te dien’ soos hulle behoort deur daardie verklaring dat dit tyd is vir die Here se koms? En eggo sê—WAAR!!! Daar is skaars een uit tien van hulle wat nou nog in die geloof wandel waardeur hulle hulle Christelike belydenis eerbiedig. Waarom nie? Hulle is deur verkeerde beweegredes aangespoor. Hulle selfsugtigheid was die belangrikste ding waarop hulle hulle beroep het en wat aangevuur is. Hulle was net soos die sondaar wat siek of in ’n storm op see is en dink dat hy binnekort gaan sterf. As hy moet sterf, sal hy ’n Christen word. As hy geweet het dat hy buite gevaar is, sal hy so onverskillig soos voorheen wees.”

Diens met die regte beweegredes

Selfsugtigheid en ’n vrees vir vernietiging kan party beweeg om vormdiens te verrig in die uitvoering van Jehovah se wil. Ander is dalk so deur die hoop op lewe in ’n Paradys aangegryp dat hulle God bloot om daardie rede sal dien. Maar as mense wat hoofsaaklik deur sulke beweegredes aangespoor word, dink dat Jehovah se dag en die groot verdrukking nie so naby is nie, sal hulle dalk nie geneig wees om God ywerig te dien nie.

Dit is natuurlik nie selfsugtig om jou te verheug in God se beloftes en voorspelde seëninge nie. Hy wil hê dat ons bly moet wees oor die vooruitsigte wat voor ons gestel is as volgelinge van sy Seun, Jesus Christus. “Verbly julle in die hoop”, het die apostel Paulus gesê en bygevoeg: “Wees geduldig in die verdrukking. Volhard in die gebed” (Romeine 12:12). Tesame met gebed help “die blydskap in die HERE” ons om beproewinge te verduur en geduldig te wag totdat God se beloftes ’n werklikheid word (Nehemia 8:11). Ons het intussen baie redes om Jehovah te dien. Wat is party hiervan?

Plig en voorreg

As die Universele Soewerein verdien en vereis Jehovah uitsluitlike toegewydheid (Exodus 20:4, 5). Elke Christen het dus dieselfde mate van verpligting teenoor God ongeag of die groot verdrukking nou môre, volgende jaar of later aanbreek. Hy is verplig om Jehovah onselfsugtig te dien omdat hy God uit sy hele hart, siel, verstand en krag liefhet (Markus 12:30). Party van die vroeë Christene het gedink dat Jehovah se dag op hande was, maar hulle verwagting het nie ’n werklikheid geword nie en hulle het gesterf sonder om daardie gebeurtenis te sien (1 Thessalonicense 5:1-5; 2 Thessalonicense 2:1-5). Maar as hulle tot die dood getrou was, het daardie gesalfde volgelinge van Christus uiteindelik die beloning van ’n opstanding tot ’n hemelse lewe ontvang.—Openbaring 2:10.

Gedoopte Getuies van Jehovah moet hom getrou dien omdat hulle vrywillig die verpligting aangeneem het om sy wil te doen. Dink net! Ons kan, soos die heilige engele, die wil van die Universele Soewerein doen (Psalm 103:20, 21). Jesus het hierdie voorreg so hooggeskat dat hy gesê het: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). As ons dieselfde gesindheid het, sal ons ywerig Jehovah se lofprysinge verklaar en ander vertel van sy voornemens, soos dit in die Skrif geopenbaar is. Só het ons ook die voorreg om ander geestelik te help. En om God se wil uit liefde vir hom te doen, is beslis ’n wonderlike voorreg, ongeag wanneer Jehovah se dag begin.

Dankbaarheid dien as aansporing

Dankbaarheid vir God se liefde deur sy voorsiening van die losprysoffer van sy Seun moet ons ook beweeg om Jehovah te dien. Ons was op een tydstip weens sonde van Jehovah God vervreemd. Maar Jesus het gesê: “So lief het God die wêreld [van mense] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Jehovah het in hierdie opsig die voortou geneem, soos Paulus geskryf het: “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Romeine 5:8). Dankbaarheid vir hierdie blyk van God se liefde moet ons beweeg om hom heelhartig te dien.

Waardering vir Jehovah se geestelike en materiële voorsienings gee ons verdere rede om hom getrou te dien. God se Woord is ’n betroubare gids—’n lig vir ons pad. Publikasies wat deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien word, help ons om ons lewe in ooreenstemming met die Goddelike wil te bring (Mattheüs 24:45-47; Psalm 119:105). En omdat ons eers die Koninkryk soek, voorsien Jehovah ook in ons materiële behoeftes (Mattheüs 6:25-34). Toon jy jou waardering vir hierdie dinge?

Waardering vir godgegewe vryheid van valse godsdiens bied nog ’n rede om Jehovah getrou te dien. Die godsdienshoer Babilon die Grote ‘sit op die baie waters’, wat “volke en menigtes en nasies en tale” beteken (Openbaring 17:1, 15). Maar sy sit nie op Jehovah se knegte nie, wat beteken dat sy hulle nie op godsdiensgebied beïnvloed en beheer nie. Hulle verwerp byvoorbeeld die valse godsdiensleerstelling dat die mensesiel onsterflik is. Hulle weet dat die mens as “’n lewende siel” geskep is, dat die dooies ‘glad niks weet nie’ en dat daar ’n opstanding sal wees (Genesis 2:7; Prediker 9:5, 10; Handelinge 24:15). Hulle het dus nie ’n vrees vir die dooies nie en hulle aanbid hulle ook nie. Beweeg dankbaarheid vir sulke geestelike vryheid jou om afvalligheid te weerstaan en die suiwer aanbidding van Jehovah aan te hang?—Johannes 8:32.

Waardering vir Jehovah se daaglikse ondersteuning moet ons nog meer vasbeslote maak om hom lojaal te dien. Die psalmis Dawid het gesê: “Geloofd sy die Here! Dag ná dag dra Hy ons” (Psalm 68:20). Op ’n ander plek het die psalmis gesê: “Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem” (Psalm 27:10). Ja, iemand wat Jehovah getrou dien, kan sy figuurlike las, soos bekommernisse en beproewinge, op God werp. Toon jy waardering vir Jehovah se volgehoue ondersteuning deur hom getrou te dien?—Psalm 145:14.

Verheerlik Jehovah en Sy Koningskap

’n Begeerte om Jehovah te verheerlik, moet ons ook beweeg om hom te dien. Hemelse skepsele word voorgestel as verheerlikers van God met die woorde: “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape” (Openbaring 4:11). Koning Dawid het God verheerlik deur te sê: “Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit . . . aan U, HERE, kom toe die koningskap . . . die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles . . . ons loof U, en ons prys u heerlike Naam” (1 Kronieke 29:10-13). Kan ons, as Jehovah se knegte, nie verplig voel om hom te verheerlik in woord en in daad nie terwyl ons wag op die vervulling van sy beloftes?—1 Korinthiërs 10:31.

’n Sterk begeerte om oor God se Koninkryk te praat, bied nog ’n rede om Jehovah te dien. Daardie heilsame beweegrede word goed uitgedruk in die psalmis se woorde: “Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag, om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk. U koninkryk is ’n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte” (Psalm 145:10-13). Die verkondiging van die Koninkryksboodskap is die Christen se opdrag en die belangrikste werk wat in ons dag gedoen word (Mattheüs 24:14; 28:19). Het jy ’n brandende begeerte om Jehovah te prys en ander van sy Koninkryk te vertel?

Die heiliging van Jehovah se naam en die regverdiging van sy soewereiniteit moet vir ons so belangrik wees dat ons hom getrou wil dien. Ons kan bid om die heiliging van Jehovah se naam en om die regverdiging van sy soewereiniteit (Mattheüs 6:9). Ons kan in ooreenstemming met ons gebede optree deur gereeld aan die Christelike bediening deel te neem en deur die waarheid oor sulke allerbelangrike sake te verkondig.—Esegiël 36:23; 39:7.

Vreugde en bevrediging

Deur Jehovah getrou te dien, het ons die bevrediging dat ons sy hart verheug en bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is. Hoewel Satan valslik beweer dat mense God net om selfsugtige redes dien, bewys ons lojale diens aan Jehovah, wat uit liefde verrig word, dat daardie smader se bewering vals is (Job 1:8-12). Dit verskaf vir ons goeie rede om aan te hou met wat in Spreuke 27:11 staan: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee.” En wanneer ons Jehovah lojaal dien ten spyte van alles wat Satan doen om ons te verhinder, sal ons weg van onkreukbaarheid medegelowiges moontlik versterk.—Filippense 1:12-14.

Die vreugde en bevrediging wat ons uit ons deelname aan die geestelike oes kry, moet ons ook aanspoor om Jehovah getrou te dien. Jesus het vreugde daaruit geput om mense te help, veral op geestelike maniere. Mattheüs 9:35-38 sê: “Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur.” As die oeswerk langer duur as wat ons verwag het, sal dit ons verdere geleenthede bied om vreugde en bevrediging daaruit te put om ander geestelik te help. Dit is ook ’n manier waarop ons die verpligte liefde vir ons naaste kan openbaar.—Mattheüs 22:39.

Waarom dien jy God?

Ons het net ’n paar van die dwingende redes ondersoek om Jehovah getrou te dien. Dit is goed as ons ons persoonlike redes waarom ons God dien biddend oorweeg, want elkeen van ons sal aan hom rekenskap moet gee (Romeine 14:12; Hebreërs 4:13). En diegene wat aanhou om net selfsugtige beweegredes te hê, sal nie Goddelike goedkeuring geniet nie.

Wat kan ons verwag as ons hoofsaaklik begaan is oor die heiliging van Jehovah se naam en as ons met onselfsugtige beweegredes heilige diens aan God verrig? Jehovah sal ons en ons bediening beslis seën! (Spreuke 10:22). Ons sal ook die ewige lewe ontvang omdat ons Jehovah getrou gedien het.

[Prent op bladsy 9]

Duisende dien Jehovah in Japan

[Prent op bladsy 10]

Jehovah word in Côte d’Ivoire gedien

[Foto-erkenning op bladsy 8]

SIX SERMONS, by George Storrs (1855)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel