Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 5/15 bl. 26-29
  • Volg jy Jehovah volkome na?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Volg jy Jehovah volkome na?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle verken die land
  • “Jehovah is met ons”
  • Jare later steeds getrou
  • Hy het Jehovah volkome nagevolg
  • Volg Jehovah altyd volkome na
  • Die twaalf spioene
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Wat Josua onthou het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Volg Jehovah heelhartig
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2021
  • Jy moet Jehovah nie vergeet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 5/15 bl. 26-29

Volg jy Jehovah volkome na?

“DIE regverdiges is soos ’n jong leeu wat vol vertroue is” (Spreuke 28:1, NW). Hulle beoefen geloof, steun vol vertroue op God se Woord en gaan moedig vooruit in Jehovah se diens voor watter gevaar hulle ook al te staan kom.

Terwyl die Israeliete in Sinai was nadat God hulle in die 16de eeu v.G.J. uit Egiptiese slawerny verlos het, het veral twee manne getoon dat hulle so vol vertroue soos leeus was. Hulle het ook getrouheid aan Jehovah onder moeilike omstandighede geopenbaar. Een van hierdie manne was die Efraimiet Josua, wat Moses se dienaar was en later as sy opvolger aangestel is (Exodus 33:11; Numeri 13:8, 16; Deuteronomium 34:9; Josua 1:1, 2). Die ander een was Kaleb, die seun van Jefunne uit die stam van Juda.—Numeri 13:6; 32:12.

Kaleb het Jehovah se wil lojaal en ywerig gedoen. Vanweë sy lang lewe van getroue diens aan God kon hy sê dat hy ‘Jehovah volkome nagevolg het’ (Josua 14:8, NW). “Ek was geheel en al lojaal aan die HERE, my God”, sê The New American Bible. Kaleb het Jehovah God “getrou gehoorsaam” of sy “voorneme lojaal uitgevoer” (Today’s English Version; The New English Bible). Anders gestel, het Kaleb gesê: “Ek . . . het die HERE my God heelhartig nagevolg” (New International Version). Wat van jou? Volg jy Jehovah volkome na?

Hulle verken die land

Stel jou voor onder die Israeliete kort nadat Jehovah hulle uit hulle slawerny aan die Egiptenare bevry het. Kyk hoe getrou voer die profeet Moses godgegewe opdragte uit. Ja, en let op Kaleb se vertroue dat Jehovah met Sy volk is.

Dit is die tweede jaar na die Uittog uit Egipte, en die Israeliete se laer is by Kades-Barnea in die woestyn Paran opgeslaan. Hulle staan gereed op die grens van die Beloofde Land. Op God se bevel gaan Moses nou 12 spioene in Kanaän in stuur. Hy sê: “Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte. En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is; en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings; ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam.”—Numeri 13:17-20.

Die 12 manne begin hulle lewensgevaarlike sending. Hulle ekspedisie duur 40 dae. By Hebron sien hulle manne wat baie groot is. In die dal Eskol merk hulle op hoe vrugbaar die land is en besluit om van die vrugte terug te bring. Een van die druiwetrosse is so swaar dat dit aan ’n draagstok tussen twee manne gedra moet word!—Numeri 13:21-25.

Met hulle terugkeer na die Israeliete se laer, berig die spioene: “Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien. Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan” (Numeri 13:26-29). Tien spioene is nie bereid om God se bevele te aanvaar en na die Beloofde Land op te ruk nie.

“Jehovah is met ons”

Met geloof in Jehovah God spoor die onverskrokke spioen Kaleb hulle egter aan: “Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig.” Maar die tien spioene stem nie saam nie en sê dat Kanaän se inwoners sterker as die Israeliete is. Die vreesbevange en ongelowige spioene beskou hulleself as blote sprinkane in vergelyking met die inwoners van Kanaän.—Numeri 13:30-33.

“[Jehovah] is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!” spoor Kaleb en Josua hulle aan. Die volk luister nie na hulle nie. Wanneer die mense sê dat hulle hulle gaan stenig, tree God tussenbeide en spreek ’n vonnis oor die murmureerders uit: “Júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefunne, en Josua, die seun van Nun. En julle kinders . . . dié sal Ek inbring en dié sal die land leer ken wat julle verwerp het. . . . En julle kinders sal soos herders rondtrek in die woestyn, veertig jaar lank, . . . totdat julle lyke in die woestyn verteer is. Volgens die getal dae dat julle die land verken het, veertig dae, vir elke dag een jaar, moet julle jul ongeregtighede dra, veertig jaar lank.”—Numeri 14:9, 30-34.

Jare later steeds getrou

Die vonnis van 40 jaar gaan sy gang, en die dood eis ’n hele geslag murmureerders. Maar Kaleb en Josua is steeds getrou aan God. Op die vlaktes van Moab het Moses en die hoëpriester Eleasar die weerbare manne van 20 jaar en ouer getel. God benoem een man uit elke stam van Israel aan wie die verdeling van die Beloofde Land opgedra sou word. Kaleb, Josua en Eleasar is onder hulle (Numeri 34:17-29). Hoewel Kaleb nou 79 jaar oud is, is hy steeds sterk, lojaal en dapper.

Toe Moses en Aäron die mense by Sinai getel het kort voordat hulle vreesbevange geweier het om in die land Kanaän in te gaan, het Israel se soldate 603 550 getel. Na vier dekades in die woestyn was daar ’n kleiner leër van 601 730 soldate (Numeri 1:44-46; 26:51). Tog het die Israeliete, met Josua wat hulle aanvoer en getroue Kaleb in hulle midde, die Beloofde Land ingeval en die een oorwinning na die ander behaal. Soos Josua en Kaleb altyd verwag het, het Jehovah gevegte vir sy volk gewen.

Nadat die bejaarde Josua en Kaleb met Israel se soldate deur die Jordaanrivier is, het hulle hulle deel gebring in die daaropvolgende gevegte. Maar na ses jaar van oorlogvoering is daar nog ’n groot stuk land om in besit te neem. Jehovah sal die bewoners daarvan uitdrywe, maar nou beveel hy dat die land deur die lot onder die stamme van Israel verdeel moet word.—Josua 13:1-7.

Hy het Jehovah volkome nagevolg

As ’n veteraan van baie gevegte, staan Kaleb voor Josua en sê: “Veertig jaar was ek oud toe Moses, die kneg van die HERE, my uitgestuur het van Kades-Barnea af om die land te verken, en ek het hom berig gebring soos dit in my hart was; maar my broers wat saam met my opgetrek het, het die hart van die volk laat versmelt, terwyl ek [Jehovah my God volkome nagevolg het]” (Josua 14:6-8, vgl. NW). Ja, Kaleb het Jehovah volkome nagevolg en God se wil lojaal gedoen.

“En dié dag”, voeg Kaleb by, “het Moses gesweer en gesê: Waarlik, die land wat jou voet betree het, sal aan jou en aan jou kinders in ewigheid as ’n erfdeel behoort, omdat jy [Jehovah my God volkome nagevolg het, NW]. En nou, kyk, die HERE het my laat lewe, soos Hy gespreek het, nou al vyf-en-veertig jaar sedert die HERE hierdie woord met Moses gespreek het toe Israel in die woestyn getrek het; en kyk nou, ek is vandag vyf-en-tagtig jaar oud; ek is vandag nog so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het; soos my krag toe was, so is my krag nou nog, om te veg en om uit te gaan en in te gaan. Gee my dan nou hierdie bergland waarvan die HERE daardie dag gespreek het; want u self het dié dag gehoor dat dáár Enakiete is en groot versterkte stede; miskien sal die HERE met my wees, sodat ek hulle kan verdrywe, soos die HERE gespreek het.” Kaleb kry nou Hebron as ’n erfdeel.—Josua 14:9-15, vgl. NW.

Die bejaarde Kaleb het die moeilikste toewysing gekry—’n streek wat wemel van buitengewoon groot manne. Maar dit is nie te moeilik vir hierdie 85-jarige krygsman nie. Mettertyd word die afknouers wat in Hebron woon, verslaan. Otniël, die seun van Kaleb se jonger broer en ’n rigter in Israel, neem Debir in. Albei stede word later deur Leviete bewoon, en Hebron word ’n vrystad wat skuiling bied vir diegene wat iemand onopsetlik doodgemaak het.—Josua 15:13-19; 21:3, 11-16; Rigters 1:9-15, 20.

Volg Jehovah altyd volkome na

Kaleb en Josua was onvolmaakte mense. Nogtans het hulle Jehovah se wil getrou gedoen. Hulle geloof het nie verswak gedurende die 40 jaar van swaarkry in die woestyn, wat ’n gevolg van Israel se ongehoorsaamheid aan God was nie. Net so laat Jehovah se hedendaagse knegte niks toe om inbreuk te maak op hulle diens wat tot God se eer strek nie. Omdat hulle weet dat daar ’n stryd tussen God se organisasie en dié van Satan die Duiwel is, is hulle standvastig en streef hulle voortdurend daarna om hulle hemelse Vader in alle dinge te behaag.

Baie van Jehovah se volk het al byvoorbeeld die gevaar geloop van wrede mishandeling en selfs die dood om die Here se Aandmaal, of die herdenking van Jesus Christus se dood, te vier (1 Korinthiërs 11:23-26). In hierdie verband het ’n Christenvrou wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in ’n Nazi-konsentrasiekamp gevange gehou is, vertel:

“Daar is vir almal gesê om teen 11 nm. in die wassery te wees. Presies om 11 nm. was ons bymekaar, altesaam 105. Ons het styf teen mekaar in ’n sirkel om ’n voetbankie gestaan waaroor ’n wit doek met die embleme op was. ’n Kers het die kamer verlig omdat ’n elektriese lig ons dalk kon verraai. Ons het gevoel soos die vroeë Christene in die katakombes. Dit was ’n plegtige viering. Ons het weer eens ons innige belofte aan ons Vader gemaak om ons krag ten volle te gebruik om Sy heilige naam te regverdig en getrou te staan vir Die Teokrasie.”

Ondanks ons beproewinge as Jehovah se vervolgde knegte kan ons op godgegewe krag staatmaak om hom moedig te dien en eer op sy heilige naam te bring (Filippense 4:13). In ons strewe om Jehovah te behaag, kan ons Kaleb gerus onthou. Die voorbeeld wat hy gestel het deur Jehovah volkome na te volg, het ’n groot indruk op ’n jong man gemaak wat in 1921 die voltydse predikingswerk betree het. Hy skryf:

“Al het dit beteken dat ek ’n gerieflike werk by ’n moderne drukkery in Coventry [Engeland] moes prysgee toe ek ’n pionier geword het, het ek nie spyt gehad nie. Deur my toewyding was die saak reeds beslis; my lewe was aan God toegewy. Ek het gedink aan Kaleb, wat saam met Josua die Beloofde Land binnegegaan het en van wie dit gesê is: ‘Hy het Jehovah volkome nagevolg’ (Jos. 14:8). Dit het vir my na die gewenste gesindheid gelyk. Ek het geweet dat as ek God ‘volkome’ dien dit my toegewyde lewe meer betekenisvol sou maak; dit sou aan my ’n groter geleentheid verskaf om die vrug wat ’n Christen kenmerk, voort te bring.”

Kaleb was sekerlik geseën omdat hy Jehovah op ’n lojale wyse volkome nagevolg het en altyd daarna gestreef het om die Goddelike wil te doen. Soos hy, het ander ook groot vreugde en ryk seëninge in God se diens gehad. Mag dit jou ondervinding wees as iemand wat Jehovah deurentyd volkome navolg.

[Prent op bladsy 26]

Kaleb en Josua was onder beproewing getrou aan Jehovah. Is jy?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel