Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 6/15 bl. 13-18
  • Leer Jehovah deur sy Woord ken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer Jehovah deur sy Woord ken
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n God met gevoelens
  • “Die ewebeeld van die wese van God”
  • Het jy “vrymoedigheid van spraak”?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Wie is Jesus Christus?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Die twee grootste liefdeblyke van alle tye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • ’n Groot Leermeester openbaar die Skepper duideliker aan ons
    Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 6/15 bl. 13-18

Leer Jehovah deur sy Woord ken

“Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—JOHANNES 17:3.

1, 2. (a) Wat is die betekenis van “ken” en “kennis” soos dit in die Skrif gebruik word? (b) Watter voorbeelde lig hierdie betekenis toe?

OM IEMAND as ’n blote kennis te ken of om op ’n oppervlakkige wyse kennis van iets te hê, skiet te kort aan die betekenis van die woorde “ken” en “kennis” soos dit in die Skrif gebruik word. In die Bybel behels dit “die daad van kennis deur ondervinding”, ’n kennis wat “’n verhouding van vertroue tussen persone” uitdruk (The New International Dictionary of New Testament Theology). Dit beteken dat ons Jehovah ken deur een van sy spesifieke dade in aanmerking te neem, soos daardie baie gevalle in die boek Esegiël waar God oordeel aan kwaaddoeners voltrek het en sê: ‘En julle sal moet weet dat Ek Jehovah is.’—Esegiël 38:23, NW.

2 Die verskillende maniere waarop “ken” en “kennis” gebruik kan word, kan deur ’n paar voorbeelde toegelig word. Jesus het vir baie van dié wat beweer het dat hulle in sy naam opgetree het, gesê: “Ek het julle nooit geken nie”; hy het bedoel dat hy nooit iets met hulle te doen gehad het nie (Mattheüs 7:23). Tweede Korinthiërs 5:21 sê dat Christus “geen sonde geken het nie”. Dit beteken nie dat hy nie van sonde bewus was nie, maar eerder dat hy nie persoonlik daarby betrokke was nie. Toe Jesus gesê het: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het”, was daar eweneens meer by betrokke as om net iets van God en Christus te weet.—Vergelyk Mattheüs 7:21.

3. Wat bewys dat Jehovah ’n identifiserende kenmerk van die ware God openbaar?

3 Ons kan baie van Jehovah se eienskappe uit sy Woord, die Bybel, leer ken. Een van hulle is sy vermoë om dinge akkuraat te voorspel. Hierdie vermoë word as ’n kenmerk van die ware God geïdentifiseer: “Laat hulle aanbring en ons te kenne gee wat gaan gebeur! Gee te kenne die vorige [“eerste”, NW] dinge, hoedanig hulle was, sodat ons daarop kan ag gee en van die afloop daarvan kan kennis neem. Of laat ons die toekomende dinge hoor! Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is” (Jesaja 41:22, 23). Jehovah vertel in sy Woord die eerste dinge aangaande die skepping van die aarde en lewe daarop. Hy het lank voor die tyd dinge voorspel wat later sou gebeur en wel gebeur het. En selfs nou gee hy “te kenne dinge wat later sal kom”, veral dinge wat in hierdie “laaste dae” gaan gebeur.—2 Timotheüs 3:1-5, 13; Genesis 1:1-30; Jesaja 53:1-12; Daniël 8:3-12, 20-25; Mattheüs 24:3-21; Openbaring 6:1-8; 11:18.

4. Hoe het Jehovah sy eienskap van krag gebruik, en hoe gaan hy dit weer gebruik?

4 ’n Ander eienskap van Jehovah is sy krag. Dit is duidelik in die hemele waar sterre, wat as groot fusie-oonde dien, lig en hitte uitstraal. Wanneer opstandige mense of engele Jehovah se soewereiniteit bevraagteken, gebruik hy sy krag as “’n krygsman” om sy goeie naam en regverdige standaarde te verdedig. By sulke geleenthede huiwer hy nie om sy krag op ’n vernietigende wyse los te laat nie, soos met die Vloed van Noag se dag, met die vernietiging van Sodom en Gomorra en met die verlossing van Israel deur die Rooi See (Exodus 15:3-7; Genesis 7:11, 12, 24; 19:24, 25). Binnekort gaan God sy krag gebruik om “die Satan . . . onder julle voete te verbrysel”.—Romeine 16:20.

5. Watter eienskap het Jehovah ook benewens sy krag?

5 Tog gaan al hierdie onbeperkte krag met nederigheid gepaard. Psalm 18:35, 36 sê: “U eie nederigheid sal my groot maak. U sal voldoende ruimte maak vir my voetstappe onder my” (NW). God se nederigheid laat toe dat hy “hom verwerdig om na die hemel en die aarde te kyk, en die geringe selfs uit die stof op te rig; hy verhef die arme uit die askuil”.—Psalm 113:6, 7, NW.

6. Watter eienskap van Jehovah kan lewens red?

6 Jehovah se barmhartigheid in sy optrede teenoor die mens is lewensreddend. Watter barmhartigheid is tog aan Manasse getoon toe hy vergewe is, hoewel hy verskriklike wandade gepleeg het! Jehovah sê: “As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en hy hom van sy sonde bekeer, en reg en geregtigheid doen. Al sy sondes wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy het reg en geregtigheid gedoen, hy sal sekerlik lewe” (Esegiël 33:14, 16; 2 Kronieke 33:1-6, 10-13). Jesus het Jehovah se gesindheid weerspieël toe hy daarop aangedring het dat ons 77 keer, selfs 7 keer op een dag, moet vergewe!—Psalm 103:8-14; Mattheüs 18:21, 22; Lukas 17:4.

’n God met gevoelens

7. Hoe verskil Jehovah van die Griekse gode, en watter kosbare voorreg word aan ons uitgehou?

7 Griekse filosowe, soos die Epikureërs, het in gode geglo, maar het die beskouing gehad dat hulle te ver van die aarde af is om enige belangstelling in die mens te hê of deur die mens se gevoelens beïnvloed te word. Hoe anders is die verhouding tussen Jehovah en sy getroue Getuies tog! “Die HERE het ’n welbehae in sy volk” (Psalm 149:4). Goddelose mense voor die Vloed het hom berou laat voel en daar was “smart in sy hart”. Israel het Jehovah deur hulle ontrouheid seergemaak en hom bedroef. Christene kan Jehovah se gees deur hulle ongehoorsaamheid bedroef; maar deur hulle getrouheid kan hulle hom vreugde verskaf. Hoe verstommend is dit tog om te dink dat nietige mense op aarde die Skepper van die heelal bedroef of bly kan laat voel! Met die oog op alles wat hy vir ons doen, hoe wonderlik is dit tog om te dink dat ons die kosbare voorreg het om hom te behaag!—Genesis 6:6; Psalm 78:40, 41, NW; Spreuke 27:11; Jesaja 63:10; Efesiërs 4:30.

8. Hoe het Abraham sy vrymoedigheid van spraak teenoor Jehovah gebruik?

8 God se Woord toon dat Jehovah se liefde ons toelaat om groot “vrymoedigheid van spraak” te hê (1 Johannes 4:17, NW). Let op die geval van Abraham toe Jehovah op die punt gestaan het om Sodom te vernietig. Abraham het vir Jehovah gesê: “Sal U werklik die regverdige saam met die goddelose ombring? Veronderstel daar is vyftig regverdiges binne-in die stad. Sal U hulle dan ombring en die plek nie spaar ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie? . . . Dit is ondenkbaar van U! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie?” Wat ’n ding om vir God te sê! Tog het Jehovah ingestem om Sodom te spaar as daar 50 regverdiges was. Abraham het voortgegaan en die getal van 50 tot 20 verminder gekry. Hy het bevrees geraak dat hy te opdringerig is. Hy het gesê: “Laat die Here tog nie toornig wees nie, en laat my net hierdie keer mag spreek. Miskien sal daar tien gevind word.” Jehovah het weer eens toegegee: “Ek sal dit ter wille van die tien nie verwoes nie.”—Genesis 18:23-33, vgl. NW.

9. Waarom het Jehovah Abraham toegelaat om te praat soos hy gedoen het, en wat kan ons hieruit leer?

9 Waarom het Jehovah Abraham sulke vrymoedigheid van spraak toegelaat om op dié manier met hom te praat? Om een rede te noem, Jehovah het geweet hoe ontsteld Abraham was. Hy het geweet dat Abraham se neef Lot in Sodom woon en dat Abraham bekommerd was oor sy veiligheid. Abraham was ook God se vriend (Jakobus 2:23). Probeer ons, wanneer iemand kortaf met ons praat, om die gevoelens agter sy woorde te bepaal en toegeeflik te wees, veral as hy ’n vriend is wat onder die een of ander emosionele druk verkeer? Is dit nie bemoedigend om te sien dat Jehovah insig het as ons vrymoedig in ons spraak is nie, net soos hy in Abraham se geval gehad het nie?

10. Hoe help vrymoedigheid van spraak ons wanneer ons bid?

10 Veral wanneer ons hom as ons “Hoorder van die gebed” nader, smag ons na hierdie vrymoedigheid van spraak om ons hart aan hom uit te stort wanneer ons uiters bekommerd en emosioneel ontsteld is (Psalm 51:19; 65:2, 3). Selfs wanneer ons met tye geen woorde kan vind nie, ‘tree die Gees self vir ons in met onuitspreeklike sugtinge’, en Jehovah luister. Hy ken ons gedagtes: “U verstaan van ver my gedagte. Daar is nog geen woord op my tong nie—of U, Here, U ken dit geheel en al.” Ons moet nietemin aanhou vra, soek en klop.—Romeine 8:26; Psalm 139:2, 4; Mattheüs 7:7, 8, NAV.

11. Hoe kan ons sien dat Jehovah werklik vir ons omgee?

11 Jehovah gee om. Hy sorg vir die lewe wat hy geskep het. “Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae” (Psalm 145:15, 16). Ons word genooi om te kyk hoe hy die wilde voëls voed. Kyk na die lelies van die veld, hoe pragtig klee hy hulle. Jesus het bygevoeg dat God net soveel en meer vir ons sal doen as wat hy vir hulle doen. Waarom moet ons ons dan kwel? (Deuteronomium 32:10; Mattheüs 6:26-32; 10:29-31). Eerste Petrus 5:7 nooi jou uit om ‘al jou bekommernis op Hom te werp, want Hy sorg vir jou’.

“Die ewebeeld van die wese van God”

12, 13. Op watter ander manier kan ons Jehovah sien en hoor, benewens deur sy skepping en sy dade wat in die Bybel opgeteken is?

12 Ons kan Jehovah God deur sy skepping sien; ons kan hom sien deur van sy dade in die Bybel te lees; ons kan hom ook sien deur die woorde en dade wat in verband met Jesus Christus opgeteken is. Jesus het self so gesê in Johannes 12:45: “Wie my aanskou, aanskou Hom wat My gestuur het.” In Johannes 14:9 sê hy weer: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” Kolossense 1:15 sê: “[Jesus] is die Beeld van die onsienlike God.” Hebreërs 1:3 sê: “[Jesus] is die ewebeeld van die wese van God.”—NAV.

13 Jehovah het sy Seun gestuur om nie net ’n losprys te voorsien nie, maar om ook ’n voorbeeld te stel wat in woord en daad nagevolg moet word. Jesus het God se woorde gespreek. Hy het in Johannes 12:50 gesê: “Wat Ek dan spreek—net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.” Hy het nie sy eie gang gegaan nie, maar hy het die dinge gedoen wat God hom gesê het om te doen. In Johannes 5:30 het hy gesê: “Ek kan uit Myself niks doen nie.”—Johannes 6:38.

14. (a) Watter dinge het Jesus gesien wat hom met medelye gevul het? (b) Waarom het Jesus se manier van praat skares na hom getrek om na hom te luister?

14 Jesus het mense gesien wat melaats, gestremd, doof, blind en demoonbesete was en diegene wat oor die dooies gerou het. Hy was met medelye gevul en het die siekes gesond gemaak en die dooies opgewek. Hy het die skares gesien wat geestelik gesproke gestroop en heen en weer gedryf was, en hy het hulle baie dinge begin leer. Hy het nie net met die regte woorde nie, maar ook met aangename woorde uit sy hart geleer, wat direk tot die harte van ander gespreek het, hulle na hom getrek het, hulle vroeg na die tempel gebring het om hom te hoor praat, gemaak het dat hulle hom aangehang en met vreugde na hom geluister het. Hulle het saamgedrom om hom te hoor praat en gesê dat hulle ‘nooit ’n mens hoor spreek het soos hierdie mens nie’. Hulle was verbaas oor die manier waarop hy geleer het (Johannes 7:46; Mattheüs 7:28, 29, NAV; Markus 11:18; 12:37; Lukas 4:22; 19:48; 21:38). En toe sy vyande hom met vrae probeer vasvra het, het hy die bordjies verhang en hulle tot swye gebring.—Mattheüs 22:41-46; Markus 12:34; Lukas 20:40.

15. Wat was die hooftema van Jesus se prediking, en in watter mate het hy ander by die verkondiging daarvan betrek?

15 Hy het verkondig dat “die koninkryk van die hemele . . . naby gekom” het en hy het sy luisteraars aangespoor om ‘eers die koninkryk van God te soek’. Hy het ander uitgestuur om te preek dat “die koninkryk van die hemele . . . naby gekom” het, om ‘dissipels van al die nasies te maak’, om getuies van Christus te wees “tot aan die uiterste van die aarde”. Vandag volg amper vier en ’n half miljoen Getuies van Jehovah in sy voetstappe deur hierdie dinge te doen.—Mattheüs 4:17; 6:33; 10:7; 28:19; Handelinge 1:8.

16. Hoe is Jehovah se eienskap van liefde aan ’n swaar toets onderwerp, maar wat het dit vir die mensdom tot stand gebring?

16 “God is liefde”, sê 1 Johannes 4:8 vir ons. Hierdie voortreflike eienskap van hom is aan die verskriklikste toets denkbaar onderwerp toe hy sy eniggebore Seun na die aarde toe gestuur het om te sterf. Die foltering wat hierdie geliefde Seun ondergaan het en die smekinge wat hy teenoor sy hemelse Vader geuiter het, moes Jehovah baie pyn veroorsaak het, al het Jesus terselfdertyd bewys dat Satan se uitdaging, dat Jehovah nie mense op aarde kon hê wat hulle onkreukbaarheid aan Hom onder swaar beproewing sou handhaaf nie, vals was. Ons moet ook die omvang van Jesus se offerande besef, want God het hom hierheen gestuur om vir ons te sterf (Johannes 3:16). Dit was nie ’n maklike, vinnige dood nie. Kom ons ondersoek die Bybelse verslag van die gebeure sodat ons kan besef wat dit van God sowel as Jesus geverg het en sodat ons sodoende kan begryp wat die omvang van die opoffering was wat hulle ten behoewe van ons gedoen het.

17-19. Hoe het Jesus die beproewing beskryf wat hy moes deurmaak?

17 Jesus het ten minste vier keer vir sy apostels beskryf wat voorlê. Net ’n paar dae voor dit gebeur het, het hy gesê: “Ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en die skrifgeleerdes, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene; en hulle sal Hom bespot en Hom gésel en op Hom spuug en Hom doodmaak.”—Markus 10:33, 34.

18 Jesus het onder druk verkeer weens die dinge wat op hom gewag het, want hy het besef hoe afgryslik die Romeinse geseling was. Stukkies metaal en skaapbeentjies is vasgesit in die leerrieme van die sweep wat vir die geseling gebruik is; tydens die geseling het die rug en bene dus repe bloeiende vlees geword. Maande voor die tyd het Jesus ’n aanduiding gegee van die emosionele spanning wat die komende beproewing in hom laat oplaai het, soos ons in Lukas 12:50 lees: “Maar Ek het ’n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is!”

19 Die spanning het toegeneem namate die tyd nader gekom het. Hy het met sy hemelse Vader daaroor gepraat: “Nou is my siel ontsteld, en wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar hierom het Ek in hierdie uur gekom” (Johannes 12:27). Hoe moes hierdie smeking van sy eniggebore Seun Jehovah tog nie geraak het nie! In Getsemane, net ure voor sy dood, was Jesus erg verontrus en het hy vir Petrus, Jakobus en Johannes gesê: “My siel is diep bedroef tot die dood toe.” Minute later het hy die laaste keer oor die onderwerp tot Jehovah gebid: “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En toe Hy in ’n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val” (Mattheüs 26:38; Lukas 22:42, 44). Dit was moontlik ’n toestand wat medies as hematidrose bekend staan. Dit is iets seldsaams, maar kan in hoogs emosionele toestande plaasvind.

20. Wat het Jesus gehelp om sy beproewing te verduur?

20 Hebreërs 5:7 sê aangaande hierdie tyd in Getsemane: “Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God” (NAV). Aangesien hy nie van die dood gered is deur “God, wat Hom uit die dood kon red” nie, kan ons vra in watter sin sy gebed verhoor is? Lukas 22:43 antwoord: “’n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.” Die gebed is verhoor aangesien die engel wat God gestuur het Jesus versterk het om onder die beproewing te volhard.

21. (a) Wat toon dat Jesus die beproewing triomfantelik deurstaan het? (b) Wat sal ons wil sê wanneer ons beproewinge toeneem?

21 Dit is duidelik as ’n mens na die resultaat kyk. Toe sy innerlike worsteling verby was, het Jesus opgestaan en teruggegaan na Petrus, Jakobus en Johannes, en gesê: “Staan op, laat ons gaan” (Markus 14:42). Hy het in werklikheid gesê: ‘Laat ek gaan om met ’n kus verraai te word, om deur ’n gepeupel gearresteer te word, om verkeerdelik veroordeel te word. Laat ek gaan om gespot, gespuug, gegesel en aan ’n folterpaal genael te word.’ Ses uur lank het hy daar gehang, in verskriklike pyn, en tot die einde toe volhard. Terwyl hy gesterf het, het hy triomfantelik uitgeroep: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). Hy het standvastig gebly en sy onkreukbaarheid gehandhaaf deur Jehovah se soewereiniteit voor te staan. Alles wat Jehovah hom gestuur het om op aarde te doen, het hy volbring. Sal ons, wanneer ons sterf of wanneer Armageddon uitbreek, aangaande ons opdrag van Jehovah kan sê: “Dit is volbring”?

22. Wat toon die omvang van die verspreiding van die kennis van Jehovah?

22 Ons kan in elk geval seker wees dat die hele aarde op Jehovah se vasgestelde tyd, wat nou vinnig nader kom, ‘vol sal wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek’.—Jesaja 11:9.

Onthou jy?

◻ Wat beteken dit om te ken en kennis te hê?

◻ Hoe is Jehovah se barmhartigheid en vergifnis in sy Woord aan ons getoon?

◻ Hoe het Abraham vrymoedigheid van spraak teenoor Jehovah gebruik?

◻ Waarom kan ons na Jesus kyk en Jehovah se eienskappe in hom sien?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel