Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 7/15 bl. 13-18
  • Beoefen geloof op grond van God se beloftes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Beoefen geloof op grond van God se beloftes
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geloof en Jehovah se beloftes
  • Noodsaaklike aspekte van geloof
  • Teenoorgestelde gevolge
  • Geloof in die profetiese woord
  • Hulle het geloof in God se beloftes gestel
  • Geloof noodsaaklik vir Christene
  • Beoefen geloof in Jehovah se beloftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • So ’n groot wolk van getuies!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Beoefen geloof wat op die waarheid gegrond is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Laat ons vashou aan ons kosbare geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 7/15 bl. 13-18

Beoefen geloof op grond van God se beloftes

‘Hy [Jehovah God] het ons die grootste en kosbare beloftes geskenk.’—2 PETRUS 1:4.

1. Wat stel ons in staat om ware geloof te beoefen?

JEHOVAH wil hê dat ons geloof in sy beloftes moet beoefen. Tog is “geloof . . . nie die deel van almal nie” (2 Thessalonicense 3:2). Hierdie eienskap is ’n vrug van God se heilige gees, of werkende krag (Galasiërs 5:22). Daarom kan net diegene wat deur Jehovah se gees gelei word geloof beoefen.

2. Hoe definieer die apostel Paulus “geloof”?

2 Maar wat is geloof? Die apostel Paulus noem dit “die duidelike demonstrasie van werklikhede wat egter nie gesien word nie”. Die bewyse van hierdie werklikhede wat nie gesien word nie, is só sterk dat dit met geloof vereenselwig word. Geloof is ook “die versekerde verwagting van dinge waarop daar gehoop word”, omdat diegene wat hierdie eienskap besit ’n waarborg het dat alles wat deur Jehovah God beloof word só gewis is dat dit feitlik reeds vervul is.—Hebreërs 11:1, NW.

Geloof en Jehovah se beloftes

3. Wat sal gesalfde Christene geniet as hulle geloof beoefen?

3 As ons Jehovah wil behaag, moet ons geloof in sy beloftes beoefen. Die apostel Petrus het dit in sy tweede geïnspireerde brief getoon, wat in ongeveer 64 G.J. geskryf is. Hy het daarop gewys dat indien sy gesalfde mede-Christene geloof beoefen, hulle die vervulling van God se “grootste en kosbare beloftes” sou sien. Gevolglik sou hulle “deelgenote . . . word van die goddelike natuur” as mede-erfgename met Jesus Christus in die hemelse Koninkryk. Deur geloof en met Jehovah God se hulp was hulle nie meer in slawerny aan hierdie wêreld se verdorwe gewoontes en gebruike nie (2 Petrus 1:2-4). En stel jou voor! Diegene wat ware geloof beoefen, geniet vandag dieselfde kosbare vryheid.

4. Watter eienskappe moet ons by ons geloof voeg?

4 Geloof in Jehovah se beloftes en dankbaarheid vir ons godgegewe vryheid moet ons beweeg om ons bes te doen om voorbeeldige Christene te word. Petrus het gesê: “Deur in antwoord hierop al julle ywerige inspanning by te dra, voeg by julle geloof deug, by julle deug kennis, by julle kennis selfbeheersing, by julle selfbeheersing volharding, by julle volharding godvrugtige toegewydheid, by julle godvrugtige toegewydheid broederlike geneentheid, by julle broederlike geneentheid liefde” (2 Petrus 1:5-7, NW). Petrus gee ons dus ’n lys eienskappe wat ons gerus kan memoriseer. Kom ons ondersoek hierdie eienskappe van naderby.

Noodsaaklike aspekte van geloof

5, 6. Wat is deug, en hoe kan ons dit by ons geloof voeg?

5 Petrus het gesê dat deug, kennis, selfbeheersing, volharding, godvrugtige toegewydheid, broederlike geneentheid en liefde by mekaar en by ons geloof gevoeg moet word. Ons moet hard daaraan werk om hierdie eienskappe wesenlike aspekte van ons geloof te maak. Deug is byvoorbeeld nie ’n eienskap wat ons sonder geloof aan die dag lê nie. Leksikograaf W. E. Vine wys daarop dat 2 Petrus 1:5 “deug as ’n noodsaaklike eienskap in die beoefening van geloof noem”. Elkeen van die ander eienskappe wat deur Petrus genoem word, moet ook ’n aspek van ons geloof wees.

6 Eerstens moet ons deug by ons geloof voeg. Om deugsaam te wees, beteken om te doen wat in God se oë goed is. Sommige vertalings gebruik “goedheid” vir die Griekse woord wat hier met “deug” vertaal word (New International Version; The Jerusalem Bible; Today’s English Version). Deug beweeg ons om nie kwaad te doen of ons medemens leed aan te doen nie (Psalm 97:10). Dit spoor ons ook tot moedige dade aan sodat ons goed doen tot die geestelike, fisiese en emosionele voordeel van ander.

7. Waarom moet ons kennis by ons geloof en deug voeg?

7 Waarom spoor Petrus ons aan om kennis by ons geloof en deug te voeg? Wel, wanneer ons voor nuwe uitdagings van ons geloof te staan kom, het ons kennis nodig as ons tussen goed en kwaad wil onderskei (Hebreërs 5:14). Deur Bybelstudie en die ondervinding wat ons opdoen wanneer ons God se Woord toepas en praktiese wysheid in ons daaglikse lewe aan die dag lê, vermeerder ons ons kennis. Dit stel ons weer in staat om ons geloof te behou en aan te hou om deugsame dinge te doen wanneer ons beproewinge deurmaak.—Spreuke 2:6-8; Jakobus 1:5-8.

8. Wat is selfbeheersing, en hoe word dit met volharding gekoppel?

8 Om ons te help om beproewinge met geloof die hoof te bied, moet ons by ons kennis selfbeheersing voeg. Die Griekse woord vir “selfbeheersing” dui op die vermoë om onsself in toom te hou. Hierdie vrug van God se gees help ons om ons gedagtes, woorde en gedrag te beteuel. As ons aanhou om selfbeheersing aan die dag te lê, voeg ons volharding daarby. Die Griekse woord vir “volharding” dui op moedige standvastigheid, nie droefgeestige gelatenheid teenoor onvermydelike teenspoed nie. Dit was vir die vreugde wat hom voorgehou is dat Jesus die folterpaal verduur het (Hebreërs 12:2). Godgegewe krag wat met volharding gepaardgaan, versterk ons geloof en help ons sodat ons ons onder beproewinge kan verheug, versoeking kan weerstaan en nie sal toegee wanneer ons vervolg word nie.—Filippense 4:13.

9. (a) Wat is godvrugtige toegewydheid? (b) Waarom moet ons broederlike geneentheid by ons godvrugtige toegewydheid voeg? (c) Hoe kan ons liefde by ons broederlike geneentheid voeg?

9 Ons moet godvrugtige toegewydheid—verering en aanbidding van Jehovah, sowel as diens aan Hom—by ons volharding voeg. Ons geloof neem toe namate ons godvrugtige toegewydheid aan die dag lê en sien hoe Jehovah met sy volk handel. Maar om godsvrug aan die dag te lê, het ons broederlike geneentheid nodig. Per slot van rekening kan iemand “wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, . . . onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie” (1 Johannes 4:20, NAV). Ons hart moet ons beweeg om ware geneentheid vir ander knegte van Jehovah te toon en hulle welsyn altyd eerste te stel (Jakobus 2:14-17). Maar waarom word ons aangesê om liefde by ons broederlike geneentheid te voeg? Petrus het klaarblyklik bedoel dat ons liefde aan alle mense moet betoon, nie net aan ons broers nie. Hierdie liefde word veral getoon deur die goeie nuus te verkondig en mense geestelik te help.—Mattheüs 24:14; 28:19.

Teenoorgestelde gevolge

10. (a) Hoe sal ons optree as deug, kennis, selfbeheersing, volharding, godvrugtige toegewydheid, broederlike geneentheid en liefde by ons geloof gevoeg word? (b) Wat gebeur as ’n verklaarde Christen hierdie eienskappe nie aan die dag lê nie?

10 As ons deug, kennis, selfbeheersing, volharding, godvrugtige toegewydheid, broederlike geneentheid en liefde by ons geloof voeg, sal ons dink, praat en optree op ’n manier wat God goedkeur. Maar as ’n verklaarde Christen hierdie eienskappe nie aan die dag lê nie, word hy geestelik blind. Hy ‘sluit sy oë vir die lig’ van God af en vergeet dat hy van vorige sondes gereinig is (2 Petrus 1:8-10, vgl. NW; 2Pe 2:20-22). Ons moet nooit so iets met ons laat gebeur en sodoende geloof in God se beloftes verloor nie.

11. Wat kan ons tereg van lojale gesalfdes verwag?

11 Lojale gesalfde Christene het geloof in Jehovah se beloftes en span hulle in om sy roeping en verkiesing van hulle te verseker. Ten spyte van enige struikelblokke in hulle weg kan ons verwag dat hulle godvrugtige eienskappe sal openbaar. Aan getroue gesalfdes ‘is die ingang in die ewige koninkryk van Jesus Christus ryklik verleen’ deur hulle opstanding tot hemelse lewe as geespersone.—2 Petrus 1:11.

12. Hoe moet ons die woorde in 2 Petrus 1:12-15 verstaan?

12 Petrus het besef dat hy spoedig sou sterf, en hy het verwag om uiteindelik ’n opstanding tot hemelse lewe te ontvang. Maar so lank as wat hy in “hierdie tentwoning”—sy menseliggaam—lewend was, het hy geloof in sy medegelowiges probeer opbou en hulle ywer probeer aanwakker deur hulle te herinner aan die dinge wat hulle moet doen om Goddelike guns te geniet. Ná sy dood kon Petrus se geestelike broers en susters hulle geloof versterk deur aan sy woorde terug te dink.—2 Petrus 1:12-15.

Geloof in die profetiese woord

13. Hoe het God geloofversterkende getuienis oor Christus se koms voorsien?

13 God self het geloofversterkende getuienis gelewer oor die sekerheid van Jesus se koms “met groot krag en heerlikheid” (Mattheüs 24:30; 2 Petrus 1:16-18). Omdat heidense priesters nie bewyse gehad het nie, het hulle valshede oor hulle gode vertel, terwyl Petrus, Jakobus en Johannes ooggetuies van Christus se heerlikheid tydens die gedaanteverandering was (Mattheüs 17:1-5). Hulle het gesien hoe hy verheerlik word en het God se eie stem gehoor toe hy Jesus as Sy geliefde Seun erken het. Die glansende gedaanteverandering wat Christus toe ondergaan het, was ’n erkenning van eer en heerlikheid aan hom. Na aanleiding van hierdie Goddelike openbaring het Petrus die plek, waarskynlik op ’n uitloper van Hermon, “die heilige berg” genoem.—Vergelyk Exodus 3:4, 5.

14. Watter uitwerking behoort Jesus se gedaanteverandering op ons geloof te hê?

14 Watter uitwerking behoort Jesus se gedaanteverandering op ons geloof te hê? Petrus het gesê: “Gevolglik is die profetiese woord vir ons vaster gemaak; en julle doen goed as julle daarop ag slaan soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en ’n dagster opgaan, in julle hart” (2 Petrus 1:19, NW). Die “profetiese woord” het blykbaar nie net profesieë aangaande die Messias uit die Hebreeuse Geskrifte ingesluit nie, maar ook Jesus se verklaring dat hy “met groot krag en heerlikheid” sou kom. Hoe is die woord deur die gedaanteverandering “vaster gemaak”? Daardie gebeurtenis het die profetiese woord aangaande Christus se glorieryke koms in Koninkryksmag bevestig.

15. Wat beteken dit om op die profetiese woord ag te slaan?

15 Ons moet op die profetiese woord ag slaan om ons geloof te versterk. Dit beteken dat ons daardie woord moet bestudeer, dit by Christelike vergaderinge moet bespreek en die raad daarin moet toepas (Jakobus 1:22-27). Dit moet vir ons wees soos “’n lamp wat in ’n donker plek skyn” en moet ons hart verlig (Efesiërs 1:18, NW). Eers dan sal dit ons lei totdat die “dagster”, of “die blink môrester”, Jesus Christus, hom in sy heerlikheid openbaar (Openbaring 22:16). Daardie openbaring sal vernietiging beteken vir die ongelowiges en seëninge vir diegene wat geloof beoefen.—2 Thessalonicense 1:6-10.

16. Waarom kan ons glo dat al die profetiese beloftes in God se Woord vervul sal word?

16 God se profete was nie net slim manne wat wyse voorspellings gemaak het nie, want Petrus het gesê: “Geen profesie van die Skrif [is] ’n saak van eie uitlegging . . . nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:20, 21). Dawid het byvoorbeeld gesê: “Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong” (2 Samuel 23:1, 2). En Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Timotheüs 3:16). Aangesien God se profete deur sy gees geïnspireer is, kan ons glo dat al die beloftes in sy Woord vervul sal word.

Hulle het geloof in God se beloftes gestel

17. Watter belofte het as die grondslag vir Abel se geloof gedien?

17 Jehovah se beloftes het as ’n grondslag gedien vir die geloof van die “groot wolk” van sy getuies uit voor-Christelike tye (Hebreërs 11:1–12:1). Abel het byvoorbeeld geloof gestel in God se belofte van ’n “saad” wat “die slang” se kop sou vermorsel. God se vonnis oor Abel se ouers het bewys dat dit in vervulling begin gaan het. Buite Eden moes Adam en sy gesin brood in die sweet van hulle aangesig eet omdat die aarde vervloek was en dorings en distels voortgebring het. Abel het waarskynlik Eva se begeerte na haar man gesien en gesien hoe Adam oor haar geheers het. Sy het sekerlik oor die pyn van haar swangerskap gepraat. En die ingang na die tuin van Eden is deur gerubs en die vlammende swaard bewaak (Genesis 3:14-19, 24). Dit was alles ’n “duidelike demonstrasie” wat Abel verseker het dat verlossing deur die beloofde Saad sou kom. Abel het deur geloof gehandel en aan God ’n offer van groter waarde as dié van Kain gebring.—Hebreërs 11:1, 4.

18, 19. Hoe het Abraham en Sara geloof beoefen?

18 Die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob het ook geloof in Jehovah se beloftes gehad. Abraham het geloof in God se belofte gestel dat al die families van die aarde hulleself deur middel van hom sou seën en dat ’n land aan sy saad gegee sou word (Genesis 12:1-9, vgl. NW; Ge 15:18-21). Sy seun Isak en kleinseun Jakob was “mede-erfgename van dieselfde belofte”. Deur die geloof het Abraham “as vreemdeling gaan woon in die land van belofte” en “die stad verwag wat [“ware”, NW] fondamente het”, God se hemelse Koninkryk waaronder hy tot lewe op die aarde opgewek sou word (Hebreërs 11:8-10). Is dit die soort geloof wat jy het?

19 Abraham se vrou, Sara, was omtrent 90 jaar oud en was lank reeds verby die ouderdom om kinders te baar toe sy geloof in God se belofte gestel het en krag ontvang het “om bevrug te word” en aan Isak geboorte geskenk het. Sodoende is daar uit 100-jarige Abraham, wat “so goed as dood” was met betrekking tot sy voortplantingsvermoë, uiteindelik ‘kinders gebore soos sterre van die hemel in menigte’.—Hebreërs 11:11, 12, vgl. NW; Genesis 17:15-17; 18:11; 21:1-7.

20. Wat het die aartsvaders gedoen, hoewel hulle nie die volkome vervulling van God se beloftes aan hulle gesien het nie?

20 Die getroue aartsvaders het gesterf sonder om die volkome vervulling van God se beloftes aan hulle te sien. Maar “hulle het [die beloofde dinge] uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners [“in die land”, NW] was”. Geslagte het verbygegaan voordat die Beloofde Land deur Abraham se nageslag in besit geneem is. Deur hulle hele lewe heen het die godvresende aartsvaders egter geloof in Jehovah se beloftes beoefen. Omdat hulle nooit geloof verloor het nie, sal hulle binnekort tot lewe opgewek word in die aardse domein van die “stad” wat God vir hulle berei het, die Messiaanse Koninkryk (Hebreërs 11:13-16). Net so kan geloof ons lojaal aan Jehovah laat bly selfs wanneer ons nie die onmiddellike vervulling van al sy wonderlike beloftes sien nie. Ons geloof sal ons beweeg om God ook te gehoorsaam, soos Abraham gedoen het. En soos hy ’n geestelike erfenis aan sy nageslag nagelaat het, kan ons ons kinders help om geloof in Jehovah se kosbare beloftes te beoefen.—Hebreërs 11:17-21.

Geloof noodsaaklik vir Christene

21. Wat moet ons beoefening van geloof insluit as ons vandag vir God aanneemlik wil wees?

21 Geloof sluit natuurlik meer in as om net vertroue in die vervulling van Jehovah se beloftes te hê. Deur die hele mensegeskiedenis heen was dit nodig om op verskeie maniere geloof in God te beoefen om sy guns te kon geniet. Paulus het daarop gewys dat ‘dit sonder geloof onmoontlik is om Jehovah God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek’ (Hebreërs 11:6). Om vandag vir Jehovah aanneemlik te wees, moet ’n mens geloof stel in Jesus Christus en die losprysoffer wat God deur hom voorsien het (Romeine 5:8; Galasiërs 2:15, 16). Dit is soos Jesus self gesê het: “So lief het God die wêreld [die mensdom] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.”—Johannes 3:16, 36.

22. Watter belofte sal die Messiaanse Koninkryk vervul?

22 Jesus speel ’n noodsaaklike rol in die vervulling van God se beloftes omtrent die Koninkryk waarvoor Christene bid (Jesaja 9:5, 6; Daniël 7:13, 14; Mattheüs 6:9, 10). Soos Petrus getoon het, het die gedaanteverandering die profetiese woord omtrent Jesus se koms in Koninkryksmag en -heerlikheid bevestig. Die Messiaanse Koninkryk sal ook ’n ander belofte van God vervul, want Petrus het geskryf: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). ’n Soortgelyke profesie is vervul toe Joodse bannelinge in Babilon in 537 v.G.J. na hulle tuisland teruggekeer het onder ’n regering met Serubbabel as goewerneur en Josua as hoëpriester (Jesaja 65:17). Maar Petrus het van ’n toekomstige tyd gepraat wanneer “nuwe hemele”—die hemelse Messiaanse Koninkryk—oor “’n nuwe aarde”, ’n regverdige mensegemeenskap op hierdie aarde, sal heers.—Vergelyk Psalm 96:1.

23. Watter vrae oor deug sal ons vervolgens bespreek?

23 As lojale knegte van Jehovah en volgelinge van sy geliefde Seun, Jesus Christus, sien ons reikhalsend uit na God se nuwe wêreld. Ons weet dat dit naby is, en ons glo dat al Jehovah se kosbare beloftes vervul sal word. Om op ’n welgevallige wyse voor ons God te wandel, moet ons ons geloof versterk deur deug, kennis, selfbeheersing, volharding, godvrugtige toegewydheid, broederlike geneentheid en liefde by ons geloof te voeg.a Ons kan nou vra: Hoe kan ons deug aan die dag lê? En hoe sal ons deugsame gedrag ’n seën wees vir ons en vir ander, veral ons Christenmetgeselle wat hulle vertroue in God se beloftes stel deur geloof te beoefen?

[Voetnoot]

a Geloof en deug word in hierdie nommer van Die Wagtoring bespreek. Kennis, selfbeheersing, volharding, godvrugtige toegewydheid, broederlike geneentheid en liefde sal in toekomstige nommers breedvoeriger bespreek word.

Wat is jou antwoorde?

◻ Hoe kan “geloof” gedefinieer word?

◻ Watter eienskappe moet volgens 2 Petrus 1:5-7 by ons geloof gevoeg word?

◻ Watter uitwerking behoort Jesus se gedaanteverandering op ons geloof te hê?

◻ Watter voorbeelde van geloof is deur Abel, Abraham, Sara en ander van die ou tyd voorsien?

[Prent op bladsy 15]

Weet jy watter uitwerking Jesus se gedaanteverandering op ’n mens se geloof kan hê?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel