Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 8/15 bl. 8-11
  • Waarom jy Christelike vergaderinge moet bywoon

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom jy Christelike vergaderinge moet bywoon
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe Christene mekaar “slyp”
  • Hoe om in moeilike tye geestelike voedsel te vind
  • Jehovah se vermanings—soos ’n stem agter jou
  • Heilige gees deur die gemeente ontvang
  • Opleiding wat deur die gemeente voorsien word
  • Vind veiligheid onder God se volk
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Woon “des te meer” vergaderinge by
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • Wat is jou gewoonte?
    Ons Koninkryksbediening—1990
  • Waarom moet ons vir aanbidding bymekaarkom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 8/15 bl. 8-11

Waarom jy Christelike vergaderinge moet bywoon

MAANDE lank het Rosario, wat in Suid-Amerika woon, haar Bybelstudie met Elizabeth geniet. Rosario was verheug om te leer van God se Koninkryk en hoe dit Paradystoestande op die aarde sal teweegbring. Tog het sy die aanbod elke keer van die hand gewys wanneer Elizabeth haar genooi het om vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon. Sy het gemeen dat sy die Bybel tuis kon bestudeer en wat sy leer, kon toepas sonder om gemeentelike vergaderinge by te woon. Het jy ook al gewonder of Christelike vergaderinge vir jou waarlik van nut is? Waarom reël God dat sy volk vergader?

Aangesien Christene in die eerste eeu soveel van die mense om hulle verskil het, was die regte omgang noodsaaklik vir hulle behoud. Die apostel Paulus het aan een gemeente van vroeë Christene geskryf: ‘Julle het onberispelik en opreg geword te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle soos ligte in die wêreld skyn’ (Filippense 2:15). Veral die Christene in Judea het swaar gekry, en Paulus het aan hulle geskryf: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Hoe gee ons op mekaar ag om tot liefde en goeie werke aan te spoor wanneer ons vergader?

Hoe Christene mekaar “slyp”

Die Griekse woord wat Paulus gebruik het en wat met ‘aanspoor’ vertaal is, beteken letterlik “’n slyping”. ’n Bybelspreuk verduidelik hoe Christene mekaar “slyp” wanneer dit sê: “Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van die ander” (Spreuke 27:17; Prediker 10:10). Ons is soos instrumente wat gereeld geslyp moet word. Aangesien ons anders as die wêreld is omdat ons ons liefde teenoor Jehovah betoon en besluite neem wat op ons geloof gegrond is, moet ons voortdurend anders as die meeste ander mense optree.

Die voortdurende inspanning om anders te wees, kan ons in ywer vir goeie werke laat afneem. Maar wanneer ons omgaan met ander wat Jehovah liefhet, slyp ons mekaar—ons spoor mekaar tot liefde en goeie werke aan. Wanneer ons egter alleen is, is ons geneig om meer aan onsself te dink. Onsedelike, selfsugtige of dwase gedagtes kan in ons verstand ontstaan. “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte; hy bestry alles wat waarlik tot voordeel strek” (Spreuke 18:1). Daarom het Paulus aan die gemeente in die stad Thessalonika geskryf: “Bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.”—1 Thessalonicense 5:11.

Al was Rosario klaar met haar studie van die Bybel se grondleerstellings het sy steeds nie met die gemeente omgegaan nie. Aangesien Elizabeth haar nie verder kon help nie, het sy opgehou om haar te besoek. ’n Paar maande later het ’n reisende opsiener Rosario besoek en gevra: “Selfs as elke lid van ’n gesin goeie voedsel kon kry deur uit te eet, wat sou al die lede mis omdat hulle nie tuis saam eet nie?” Rosario het geantwoord: “Hulle sal die samesyn van die gesin mis.” Sy het gesnap wat hy bedoel het en die vergaderinge gereeld begin bywoon. Sy het dit so voordelig gevind dat sy sedertdien byna elke vergadering bywoon.

Dit is bemoedigend om te hoor hoe ander mense geloof bely in dieselfde dinge waarin jy glo en ook hoe sulke geloof hulle lewe verander het. Paulus het dit uit eie ondervinding geweet, en hy het aan die gemeente in Rome geskryf: “Ek verlang om julle te sien, om julle een of ander geestelike genadegawe mee te deel, sodat julle versterk kan word; dit is, dat ek saam bemoedig kan word onder julle deur die gemeenskaplike geloof, van julle sowel as van my” (Romeine 1:11, 12). Trouens, dit was jare voordat Paulus Rome kon besoek, en toe hy dit wel gedoen het, was dit as ’n Romeinse gevangene. Maar toe Paulus broers uit Rome sien wat meer as 60 kilometer van die stad af geloop het om hom te sien, “het hy God gedank en moed gevat”.—Handelinge 28:15.

Hoe om in moeilike tye geestelike voedsel te vind

Terwyl Paulus in Rome onder huisarres geplaas is, het hy aan die Hebreërs geskryf om nie hulle onderlinge byeenkoms te versuim nie. Dit is vir ons van belang dat hy dié woorde bygevoeg het: “Dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:25). Jehovah se Getuies het nog altyd uit die Skrif getoon dat die jaar 1914 die begin van hierdie wêreld se tyd van die einde kenmerk en dat “die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense” naby gekom het (2 Petrus 3:7). Toe die Duiwel, volgens die Bybelboek Openbaring, aan die begin van die tyd van die einde uit die hemel gewerp is, was hy woedend en het hy ‘weggegaan om oorlog te voer teen ander wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou’ (Openbaring 12:7-17). Daarom is dit so moeilik om veral nou God se gebooie te onderhou; dit is nou nóg belangriker om saam met medegelowiges te vergader. Vergaderinge sal ons help om ons geloof en ons liefde vir God te versterk sodat ons ondanks die Duiwel se aanvalle staande kan bly.

Liefde vir God en geloof is nie soos geboue wat ná hulle oprigting permanent is nie. Hulle is eerder soos lewende dinge wat deur voortdurende voeding stadig groei, maar wat verwelk en doodgaan as hulle honger ly. Daarom voorsien Jehovah gereeld geestelike voedsel om sy volk te versterk. Ons het almal sulke voedsel nodig, maar waar kan ons dit kry behalwe by God se organisasie en sy vergaderinge? Nêrens.—Deuteronomium 32:2; Mattheüs 4:4; 5:3, NW.

Jesus het ’n vraag gestel wat ons kan help om te sien hoe hy die Christengemeente voed. Hy het gevra: “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind” (Mattheüs 24:45, 46). Wie het Jesus in die eerste eeu aangestel om sy volgelinge te voed, en wie het hy met sy terugkeer in Koninkryksmag gevind wat hulle getrou voed? Dit is vanselfsprekend dat geen mens deur al daardie eeue heen geleef het nie. Die bewyse dui daarop dat die dienskneg die gemeente van geesgesalfde Christene is, net soos die nasie Israel God se dienskneg in voor-Christelike tye was (Jesaja 43:10). Ja, Jesus voorsien ons van geestelike voedsel deur daardie wêreldwye liggaam van geesgesalfde Christene wat vandag geestelike voedsel deur die plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies voorsien.

Jesus se voorsieningskanaal vir geestelike voedsel is verder deur die apostel Paulus beskryf: “Toe hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes [in] mense gegee. . . . Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.”—Efesiërs 4:8, 11-13, vgl. NW.

Dit was hoofsaaklik in die plaaslike gemeentes—by die vergaderinge—dat hierdie “gawes in mense” die broers versterk het. In Antiochië het “Judas en Silas, wat self ook profete was”, byvoorbeeld “die broeders met baie woorde bemoedig en versterk” (Handelinge 15:32). Vandag sal toesprake deur manne wat geestelik bekwaam is ook ons geloof voed sodat dit nie verwelk of doodgaan nie.

Ons kan weliswaar vanweë die persoonlike hulp van ’n gemeentelid goeie vooruitgang maak al het ons moontlik nog nie vergaderinge begin bywoon nie. Die Bybel sê daar is ’n tyd wanneer julle ‘nodig het dat ’n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer en julle behoefte het aan melk en nie aan vaste spys nie’ (Hebreërs 5:12). Maar ’n mens kan nie vir ewig by die melkstadium bly nie. Christelike vergaderinge voorsien ’n onophoudelike program van Bybelonderrigting wat ontwerp is om ’n mens se liefde vir God en jou geloof in hom lewend te hou, en voorsien ook praktiese hulp om “die hele raad van God” toe te pas (Handelinge 20:27). Dit is meer as net “melk”. Die Bybel sê voorts: “Vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Hebreërs 5:14). By die vergaderinge word baie onderwerpe bespreek wat moontlik nie deel uitmaak van basiese tuisbybelonderrigting nie, soos vers-vir-vers-studies van belangrike Bybelprofesieë en omvattende besprekings oor hoe ons God in ons lewe kan navolg.

Jehovah se vermanings—soos ’n stem agter jou

Deur sulke gemeentelike studies vermaan Jehovah ons gereeld oor watter soort mense ons behoort te wees. Sulke vermanings is noodsaaklik. Daarsonder is ons maklik geneig tot selfsug, trots en hebsug. Vermanings uit die Skrif sal ons help om ’n goeie verhouding met ander mense en met God self te geniet. “Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u vermanings”, het die skrywer van Psalm 119:59 erken (vgl. NW).

Terwyl ons Christelike vergaderinge gereeld bywoon, ondervind ons die vervulling van Jehovah se profesie deur Jesaja wat sê: “Jou Grootse Onderrigter sal homself nie meer verberg nie, en jou oë moet oë word wat jou Grootse Onderrigter sien. En jou eie ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop.’” Jehovah let op ons vooruitgang en help ons liefdevol reg as ons ’n verkeerde stap doen (Jesaja 30:20, 21, NW; Galasiërs 6:1). En hy voorsien selfs meer hulp as dit.

Heilige gees deur die gemeente ontvang

Deur gereeld Christelike vergaderinge saam met Getuies van Jehovah by te woon, word ons versterk deur God se heilige gees wat op sy volk rus (1 Petrus 4:14). Die Christenopsieners in die gemeente word ook deur heilige gees aangestel (Handelinge 20:28). Hierdie werkende krag van God oefen ’n kragtige invloed op ’n Christen uit. Die Bybel sê: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22). Heilige gees, wat deur God se organisasie werk, sal ons ook help om ’n verbasend heldere begrip te verkry van wat Jehovah beloof aan diegene wat hom liefhet. Nadat Paulus verduidelik het dat vername mense in hierdie stelsel van dinge God se voornemens nie kan verstaan nie, het hy geskryf: “God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar.”—1 Korinthiërs 2:8-10.

Buiten geloofversterkende geestelike voedsel word opleiding voorsien aan diegene wat aan die gemeente se hoofbedrywigheid wil deelneem. Wat is dit?

Opleiding wat deur die gemeente voorsien word

Die Christengemeente is nie ’n sosiale klub waar mense net vermaak geniet en mekaar miskien aanmoedig om ’n beter lewe te lei nie. Jesus het die gemeente die opdrag gegee om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig aan diegene wat in geestelike duisternis verkeer (Handelinge 1:8; 1 Petrus 2:9). Die gemeente was sedert sy stigting op Pinkster 33 G.J. ’n organisasie van predikers (Handelinge 2:4). Het jy al iemand van Jehovah se voornemens probeer vertel, maar nie daarin geslaag om hom te oortuig nie? Gemeentelike vergaderinge voorsien persoonlike opleiding in die onderrigkuns. Deur Bybelse voorbeelde te ondersoek, leer ons hoe om ’n gemeenskaplike grondslag te lê op grond waarvan ons kan redeneer, hoe om die Skrif vir ’n logiese argument te gebruik en hoe om ander te help redeneer deur vrae en illustrasies te gebruik. Sulke vaardighede kan jou help om die onuitspreeklike vreugde te smaak om ’n ander mens Bybelwaarhede te help verstaan.

In hierdie onsedelike wêreld met sy tweedrag is die Christelike gemeente waarlik ’n geestelike toevlugsoord. Hoewel dit uit onvolmaakte mense bestaan, is dit ’n toevlugsoord van vrede en liefde. Daarom moet jy al die vergaderinge gereeld bywoon en self ondervind hoe waar die psalmis se woorde is: ‘Sien! Hoe goed en hoe aangenaam is dit as broers in eenheid saamwoon! Jehovah gebied die seën, selfs lewe tot in ewigheid.’—Psalm 133:1, 3, NW.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel