Die Christengesin stel geestelike dinge eerste
“Wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik.”—1 PETRUS 3:8.
1. Watter keuse het ons almal, en hoe kan ons keuse ons toekoms beïnvloed?
HOE goed is die teks hierbo tog van toepassing op die mens se oudste instelling—die gesin! En hoe belangrik is dit tog dat die ouers die leiding in hierdie dinge neem! Hulle positiewe asook hulle negatiewe eienskappe kom gewoonlik in die kinders na vore. Tog moet elke gesinslid self kies. As Christene kan ons kies of ons geestelike of vleeslike mense wil wees. Ons kan kies of ons God wil behaag of mishaag. Daardie keuse kan ’n seën, die ewige lewe en vrede—of ’n vloek, die ewige dood—tot gevolg hê.—Genesis 4:1, 2; Romeine 8:5-8; Galasiërs 5:19-23.
2. (a) Hoe het Petrus sy besorgdheid oor die gesin getoon? (b) Wat is geestelikheid? (Sien die voetnoot.)
2 Die apostel se woorde in 1 Petrus hoofstuk 3, vers 8, het onmiddellik gevolg op goeie raad wat hy aan vrouens en mans gegee het. Petrus het opreg in die welstand van Christengesinne belanggestel. Hy het geweet dat sterk geestelikheid die sleutel tot ’n verenigde, liefdevolle huisgesin is. Daarom het hy in vers 7 gesê dat as mans sy raad ignoreer dit tot ’n geestelike hindernis tussen die man en Jehovah sou lei.a Die man se gebede kan verhinder word as hy sy vrou se behoeftes verontagsaam of haar gees deur onvriendelikheid breek.
Christus—’n volmaakte voorbeeld van geestelikheid
3. Hoe het Paulus mans se aandag op Christus se voorbeeld gevestig?
3 Die geestelikheid van ’n gesin hang af van ’n goeie voorbeeld. As die man ’n bedrywige Christen is, stel hy die voorbeeld wat geestelike eienskappe betref. As die man nie gelowig is nie, probeer die moeder gewoonlik daardie verantwoordelikheid op haar neem. In albei gevalle voorsien Jesus Christus die volmaakte voorbeeld wat nagevolg moet word. Sy gedrag, sy woorde en sy denke was altyd opbouend en verkwikkend. Die apostel Paulus vestig die leser se aandag telkens op Christus se liefdevolle voorbeeld. Hy sê byvoorbeeld: “Die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.”—Efesiërs 5:23, 25, 29; Mattheüs 11:28-30; Kolossense 3:19.
4. Watter voorbeeld het Jesus ten opsigte van geestelikheid gestel?
4 Jesus was die vernaamste voorbeeld van iemand wie se geestelikheid en hoofskap met liefde, vriendelikheid en deernis gepaardgegaan het. Hy was selfopofferend, nie gemaksugtig nie. Hy het altyd sy Vader verheerlik en Sy hoofskap gerespekteer. Hy het die Vader se leiding gevolg en kon dus sê: “Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.” “Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.”—Johannes 5:30; 8:28; 1 Korinthiërs 11:3.
5. Watter voorbeeld het Jesus vir mans gestel toe hy sy volgelinge van voedsel voorsien het?
5 Wat beteken dit vir mans? Dit beteken dat hulle Christus, wat hom altyd aan sy Vader onderwerp het, se voorbeeld in alles moet navolg. Soos Jehovah byvoorbeeld alle lewensvorme op die aarde van voedsel voorsien het, het Jesus sy volgelinge van voedsel voorsien. Hy het nie van hulle basiese materiële behoeftes vergeet nie. Sy wonderwerke toe hy die 5 000 manne en die 4 000 gevoed het, lewer bewys van sy besorgdheid en sy verantwoordelikheidsin (Markus 6:35-44; 8:1-9). Verantwoordelike gesinshoofde sien eweneens vandag om na die fisiese behoeftes van hulle huisgesin. Maar hou hulle verantwoordelikheid daar op?—1 Timotheüs 5:8.
6. (a) In watter belangrike behoeftes van die gesin moet daar voorsien word? (b) Hoe kan mans en vaders begrip aan die dag lê?
6 Gesinne het ook ander, belangriker, behoeftes, soos Jesus getoon het. Hulle het geestelike en emosionele behoeftes (Deuteronomium 8:3; Mattheüs 4:4). Ons het in die gesin asook in die gemeente ’n invloed op mekaar. Ons het goeie leiding nodig om ons aan te spoor om opbouend te wees. In hierdie verband het mans en vaders ’n groot rol om te vervul—veral as hulle ouere manne of bedieningsknegte is. Enkelouers het soortgelyke eienskappe nodig wanneer hulle hulle kinders help. Ouers moet nie net verstaan wat gesinslede sê nie, maar ook wat hulle nie sê nie. Dit verg onderskeidingsvermoë, tyd en geduld. Dit is een rede waarom Petrus kon sê dat mans bedagsaam moet wees en verstandig met hulle vrou moet saamlewe.—1 Timotheüs 3:4, 5, 12; 1 Petrus 3:7.
Gevare wat vermy moet word
7, 8. (a) Wat is nodig as ’n gesin geestelike skipbreuk wil vermy? (b) Wat is nodig benewens ’n goeie begin in die Christen se loopbaan? (Mattheüs 24:13).
7 Waarom is dit so belangrik om aan die gesin se geestelikheid aandag te skenk? Ons kan ter toeligting vra: Waarom is dit belangrik dat ’n skip se stuurman noukeurig aan sy kaarte aandag skenk wanneer hy ’n skip deur gevaarlike waters met sandbanke stuur? In Augustus 1992 is die toerskip die Queen Elizabeth 2 (QE2) deur ’n gebied geneem waar daar gevaarlike sandbanke en rotse is en waar navigasiefoute blykbaar iets algemeens is. ’n Plaaslike inwoner het gesê: “’n Klomp mense het al hulle werk weens daardie gebied verloor.” Die QE2 het teen ’n onderwaterrif gebots. Dit was ’n duur fout. ’n Derde van die romp is beskadig, en die skip kon weens die herstelwerk etlike weke lank nie gebruik word nie.
8 As die gesin se “stuurman” nie die kaart, God se Woord, noukeurig bestudeer nie, kan dit sy gesin eweneens maklik geestelik benadeel. Dit kan beteken dat ’n ouere man of bedieningskneg sy voorregte in die gemeente verloor en ander gesinslede miskien ernstige skade berokken. Daarom moet elke Christen sorg dat hy nie geestelik selfvoldaan raak deur net op vorige goeie studiegewoontes en ywer staat te maak nie. In ons loopbaan as Christene is dit nie genoeg om net goed te begin nie; die reis moet met welslae voltooi word.—1 Korinthiërs 9:24-27; 1 Timotheüs 1:19.
9. (a) Hoe belangrik is persoonlike studie? (b) Watter pertinente vrae kan ons ons afvra?
9 As ons geestelike sandbanke en rotse wil vermy, moet ons op die hoogte van ons “kaarte” bly deur ’n gereelde studie van God se Woord. Ons kan nie net staatmaak op die aanvanklike studie wat ons in die waarheid gebring het nie. Ons geestelike krag hang af van ’n gereelde en gebalanseerde studie- en diensprogram. Wanneer ons byvoorbeeld die gemeente se Wagtoring-studie met hierdie einste nommer by ons bywoon, kan ons ons afvra: ‘Het ek, of het ons as ’n gesin, werklik hierdie artikel bestudeer deur die tekste na te slaan en oor hulle toepassing te peins? Of het ons net die antwoorde onderstreep? Het ons dit dalk selfs nagelaat om die artikel te lees voor ons na die vergadering toe gekom het?’ Eerlike antwoorde op hierdie vrae kan ’n mens stof tot nadenke gee en ’n begeerte wek om te verbeter—indien dit nodig is.—Hebreërs 5:12-14.
10. Waarom is selfondersoek belangrik?
10 Waarom is sulke selfondersoek belangrik? Omdat ons in ’n wêreld lewe wat deur Satan se gees oorheers word, ’n wêreld wat, op baie subtiele maniere, ons geloof in God en sy beloftes probeer ondermyn. Dit is ’n wêreld wat ons so besig wil hou dat ons geen tyd het om na ons geestelike behoeftes om te sien nie. Daarom kan ons ons afvra: ‘Is my gesin geestelik sterk? Is ek as ’n ouer so sterk as wat ek behoort te wees? Kweek ons as ’n gesin daardie geestelike krag aan wat die denke aandryf en ons help om besluite te neem wat op regverdigheid en lojaliteit gegrond is?’—Efesiërs 4:23, 24, NW.
11. Waarom is Christelike vergaderinge geestelik voordelig? Gee ’n voorbeeld.
11 Ons geestelikheid moet versterk word deur elke vergadering wat ons bywoon. Daardie kosbare ure by die Koninkryksaal of by die Gemeentelike Boekstudie help om ons te verkwik ná die lang ure wat ons noodgedwonge in Satan se vyandige wêreld moet deurbring. Hoe verkwikkend was dit byvoorbeeld tog om die boek Die grootste mens wat nog geleef het te bestudeer! Dit het ons gehelp om ’n beter begrip van Jesus, sy lewe en sy bediening te verkry. Ons het die teksverwysings noukeurig gelees, persoonlike navorsing gedoen en dus baie geleer uit die voorbeeld wat Jesus gestel het.—Hebreërs 12:1-3; 1 Petrus 2:21.
12. Hoe is die veldbediening ’n toets vir ons geestelikheid?
12 ’n Goeie toets vir ons geestelikheid is die Christelike bediening. As ons ten spyte van die publiek se onverskilligheid of teenkanting in ons formele en informele getuieniswerk wil volhard, moet ons die regte beweegrede hê, naamlik liefde vir God en liefde vir ons naaste. Niemand hou natuurlik daarvan om verwerp te word nie, en dit kan in ons veldbediening gebeur. Maar ons moet onthou dat dit die goeie nuus is wat verwerp word en nie ons as mense nie. Jesus het gesê: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. . . . Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.”—Johannes 15:18-21.
Jou woorde moet met jou dade strook
13. Hoe kan een persoon die geestelikheid van ’n gesin ondermyn?
13 Wat gebeur in ’n gesin as almal behalwe een die netheid en ordelikheid van die huis respekteer? Op ’n reënerige dag sal almal behalwe die vergeetagtige persoon sorg dat hulle nie met modderige skoene in die huis inkom nie. As daar oral modderspore lê, toon dit dat daardie persoon onbedagsaam is en beteken dit ekstra werk vir ander. Dieselfde geld vir geestelikheid. Net een selfsugtige of nalatige persoon kan die gesin se reputasie skend. Almal in die huisgesin, nie net die ouers nie, moet daarna strewe om Christus se gesindheid te weerspieël. Hoe verkwikkend is dit tog wanneer almal saamwerk met die ewige lewe in die vooruitsig! Dan is geestelikheid (maar nie selfvoldaanheid nie) die kenmerk van daardie gesin. In so ’n huisgesin is daar selde tekens van geestelike verwaarlosing.—Prediker 7:16; 1 Petrus 4:1, 2.
14. Watter materiële versoekings stel Satan voor ons?
14 Ons het almal basiese materiële behoeftes waarin daar voorsien moet word sodat ons van dag tot dag kan lewe (Mattheüs 6:11, 30-32). Maar ons wil dikwels dinge hê wat ons nie werklik nodig het nie. Satan se stelsel bied byvoorbeeld vir ons elke soort toestel en apparaat aan. As ons altyd die nuutste van alles wil hê, sal ons nooit tevrede wees nie, aangesien die nuutste gou uit die mode raak en ’n nuwe, ultramoderne model verskyn. Die handelswêreld het ’n mallemeule begin wat nooit stop nie. Dit verlok ons om voortdurend al hoe meer geld te wil hê sodat ons al hoe meer begeertes kan bevredig. Dit kan tot “baie dwase en skadelike begeerlikhede”, of “onverstandige en gevaarlike ambisies”, lei. Dit kan ’n ongebalanseerde lewe met al hoe minder tyd vir geestelike bedrywighede tot gevolg hê.—1 Timotheüs 6:9, 10; The Jerusalem Bible.
15. In watter opsig is die gesinshoof se voorbeeld belangrik?
15 Die voorbeeld wat die hoof van die Christengesin stel, is hier weer eens baie belangrik. Sy gebalanseerde gesindheid ten opsigte van sekulêre en geestelike verantwoordelikhede moet die ander gesinslede inspireer. Dit sal beslis skadelik wees as die vader uitstekende mondelinge onderrig gee, maar dan nie ooreenkomstig sy eie woorde lewe nie. Kinders kan gou agterkom as iemand die “doen soos ek sê maar nie soos ek doen nie”-gesindheid openbaar. ’n Ouere man of bedieningskneg wat ander in die huis-tot-huis-bediening aanmoedig, maar selde saam met sy gesin aan daardie bedrywigheid deelneem, sal eweneens gou sy geloofwaardigheid in die gesin asook in die gemeente verloor.—1 Korinthiërs 15:58; vergelyk Mattheüs 23:3.
16. Watter vrae kan ons ons afvra?
16 Dit sal dus nuttig wees as ons ons lewe ondersoek. Is ons besig om sekulêre sukses ten koste van geestelike vooruitgang na te streef? Maak ons opgang in die wêreld, maar gaan ons agteruit in die gemeente? Hou Paulus se raad in gedagte: “Dit is ’n betroubare woord: as iemand na ’n opsienersamp verlang, begeer hy ’n voortreflike werk” (1 Timotheüs 3:1). ’n Verantwoordelikheidsin in die gemeente sê meer oor ons geestelikheid as bevordering by die werk. Ons moet ’n goeie balans behou sodat ons werkgewers nie beheer oor ons verkry asof ons aan hulle en nie aan Jehovah toegewy is nie.—Mattheüs 6:24.
Sinvolle kommunikasie bevorder geestelikheid
17. Wat dra daartoe by dat ’n mens ware liefde in ’n gesin aankweek?
17 Miljoene huise het vandag feitlik losieshuise geword. Hoe? Gesinslede kom net slaap en eet, en dan is hulle weer weg. Hulle sit selde om ’n tafel en nuttig ’n maaltyd saam. Die gesinsbande bestaan nie meer nie. Die gevolg? Daar is ’n gebrek aan kommunikasie, en geen noemenswaardige gesprekke vind plaas nie. En dit kan lei tot ’n gebrek aan belangstelling in ander gesinslede, moontlik ’n gebrek aan ware besorgdheid. As ons mekaar liefhet, ruim ons tyd in om te gesels en te luister. Ons bemoedig en ons help. Hierdie aspek van geestelikheid behels sinvolle kommunikasie tussen huweliksmaats en tussen ouers en kinders.b Dit verg tyd en takt terwyl ons mekaar aanmoedig om te praat sodat ons ons vreugdes, ondervindinge en probleme met mekaar kan deel.—1 Korinthiërs 13:4-8; Jakobus 1:19.
18. (a) Wat kan kommunikasie dikwels belemmer? (b) Waarop word sinvolle verhoudings gebou?
18 Goeie kommunikasie verg tyd en inspanning. Dit beteken dat ’n mens tyd opsy moet sit om met mekaar te gesels en na mekaar te luister. Een van die grootste hindernisse in hierdie verband is daardie tydrowende toestel wat die ereplek in baie huise inneem—die TV. Dit bied ’n uitdaging—beheer TV jou of beheer jy dit? As ’n mens TV wil beheer, moet jy jou vas voorneem om dit te doen—en dit sluit die wilskrag in om dit af te skakel. Maar as ons dit doen, sal dit die weg daarvoor baan dat ons as gesinslede en as geestelike broers en susters op mekaar ingestel sal wees. Sinvolle verhoudings verg goeie kommunikasie, dat ons mekaar moet leer verstaan, onder andere ons behoeftes en vreugdes, en vir mekaar sê hoeveel ons al die vriendelike dinge waardeer wat vir ons gedoen word. Sinvolle kommunikasie toon met ander woorde dat ons ander nie oor die hoof sien nie.—Spreuke 31:28, 29.
19, 20. Wat sal ons doen as ons vir almal in die gesin omgee?
19 As ons dus in die gesin vir mekaar omgee—en dit behels ook dat ons na ongelowige gesinslede omsien—sal ons baie doen om ons geestelikheid op te bou en te behou. Ons sal as ’n gesin Petrus se raad volg: “Eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik. Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe.”—1 Petrus 3:8, 9.
20 Ons kan nou Jehovah se seën geniet as ons daarna strewe om ons geestelikheid te behou, en dit kan daartoe lei dat ons sy seën in die toekoms sal verkry wanneer ons die gawe van die ewige lewe op ’n paradysaarde ontvang. Daar is ander dinge wat ons as ’n gesin kan doen om mekaar geestelik te help. Die volgende artikel sal die voordele daarvan bespreek om dinge as ’n gesin saam te doen.—Lukas 23:43, NW; Openbaring 21:1-4.
[Voetnote]
a Geestelikheid word omskryf as “sensitiwiteit vir of gehegtheid aan geestelike waardes: die hoedanigheid of toestand van geestelik te wees” (Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary). ’n Geestelike mens is die teenoorgestelde van ’n vleeslike, dierlike mens.—1 Korinthiërs 2:13-16; Galasiërs 5:16, 25; Jakobus 3:14, 15, NW; Judas 19.
b Sien Die Wagtoring van 1 September 1991, bladsye 20-2, vir nog wenke oor gesinskommunikasie.
Onthou jy?
◻ Wat is geestelikheid?
◻ Hoe kan ’n gesinshoof Christus se voorbeeld navolg?
◻ Hoe kan ons dit vermy dat ons geestelikheid bedreig word?
◻ Wat kan ’n gesin se geestelikheid ondermyn?
◻ Waarom is sinvolle kommunikasie belangrik?
[Prent op bladsy 12]
Die bywoning van die Gemeentelike Boekstudie versterk die gesin geestelik