Die Drie-eenheid—Word dit in die Bybel geleer?
“Die Katolieke Geloof is die volgende: Ons aanbid een God in ’n Drie-eenheid en ’n Drie-eenheid in Eenheid. . . . Die Vader is dus God, die Seun is God, en die Heilige Gees is God. Tog is daar nie Drie Gode nie, maar Een God.”
MET hierdie woorde beskryf die Athanasiaanse Geloofsbelydenis die Christendom se sentrale leerstelling—die Drie-eenheid.a As jy ’n kerklidmaat is, hetsy Katoliek of Protestant, word daar moontlik vir jou gesê dat hierdie die belangrikste leerstelling is waaraan jy moet glo. Maar kan jy die leerstelling verduidelik? Sommige van die grootste denkers in die Christendom het al erken dat hulle die Drie-eenheid nie kan verstaan nie.
Waarom glo hulle dan daaraan? Is dit omdat die Bybel die leerstelling leer? Die Anglikaanse biskop, wyle John Robinson, het in sy treffer Honest to God ’n gedagteprikkelende antwoord op hierdie vraag gegee. Hy het geskryf:
“In die praktyk word daar in die algemene prediking en onderrigting ’n bonatuurlike beskouing van Christus voorgehou wat nie uit die Nuwe Testament bewys kan word nie. Dit sê bloot dat Jesus God was en dit word op so ’n manier gesê dat die begrippe ‘Christus’ en ‘God’ uitruilbaar is. Maar dit is nêrens in die Bybelse gebruik die geval nie. Die Nuwe Testament sê dat Jesus die Woord van God was, dit sê dat God in Christus was, dit sê dat Jesus die Seun van God is; maar dit sê nêrens dat Jesus God was nie.”
John Robinson was ’n kontroversiële figuur in die Anglikaanse Kerk. Het hy nietemin gelyk gehad toe hy gesê het dat die “Nuwe Testament” nêrens sê dat “Jesus God was” nie?
Wat die Bybel wel sê
Party mense sal daardie vraag moontlik beantwoord deur die vers aan die begin van Johannes se Evangelie aan te haal: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Johannes 1:1, King James Version). Weerspreek dit nie wat die Anglikaanse biskop gesê het nie? Nie werklik nie. John Robinson was ongetwyfeld bewus daarvan dat sommige hedendaagse vertalers met die King James Version se weergawe van daardie teks verskil. Waarom? Omdat die bepalende lidwoord “die” nie in die oorspronklike Grieks saam met die woord vir “God” in die uitdrukking “die Woord was God” voorkom nie. In die voorafgaande uitdrukking “die Woord was by God” is die woord vir “God” bepaald, dit wil sê, die bepalende lidwoord kom wel voor. Dit maak dit onwaarskynlik dat die twee woorde dieselfde betekenis het.
Party vertalings bring derhalwe die kwalitatiewe aspek na vore. Party gee die uitdrukking byvoorbeeld weer as “die Woord was goddelik” (An American Translation, Schonfield). Moffat gee dit weer as “die Logos was goddelik”. Maar John Robinson en die Britse tekskritikus sir Frederick Kenyon het getoon dat “goddelik” nie die mees gepaste weergawe hier sal wees nie en albei het daarop gewys dat Johannes, indien hy dit wou beklemtoon het, die Griekse woord vir “goddelik”, theiʹos, kon gebruik het. Die New World Translation beskou die woord “God” tereg as onbepaald, en dit beklemtoon die kwalitatiewe aspek wat deur die Griekse konstruksie aangedui word en gebruik gevolglik die onbepaalde lidwoord in Engels: “Die Woord was ’n god.”
Professor C. H. Dodd, direkteur van die New English Bible-projek, het met verwysing na hierdie benadering gesê: “’n Moontlike vertaling . . . sou wees: ‘Die Woord was ’n god.’ As ’n woordelikse vertaling kan daar nie fout mee gevind word nie.” The New English Bible gee egter nie die vers so weer nie. In Johannes 1:1 sê daardie weergawe: “Toe alle dinge begin het, was die Woord reeds daar. Die Woord het by God gewoon en wat God was, was die Woord.” Waarom het die vertaalkomitee nie die eenvoudiger weergawe gekies nie? Professor Dodd antwoord: “Die rede waarom dit onaanvaarbaar is, is dat dit indruis teen die stroom van Johanneïese denke en inderdaad teen die Christelike denkwyse in sy geheel.”—Technical Papers for the Bible Translator, Deel 28, Januarie 1977.
Die duidelike betekenis van die Skrif
Sou ons sê dat die gedagte dat Jesus ’n god was, en nie dieselfde as God die Skepper nie, strydig is met Johanneïese (dit wil sê die apostel Johannes se) denke asook met die Christelike denkwyse in sy geheel? Kom ons ondersoek enkele Bybeltekste wat na Jesus en na God verwys om te sien hoe sommige kommentators wat voor die formulering van die Athanasiaanse Geloofsbelydenis geleef het daardie tekste beskou het.
“Ek en die Vader is een.”—JOHANNES 10:30.
Novatianus (ca. 200-258 G.J.) het hierop kommentaar gelewer: “Aangesien Hy gesê het ‘een’ ding [b] moet die ketters verstaan dat Hy nie gesê het ‘een’ persoon nie. Omdat een onsydig is, gee dit sosiale eenstemmigheid te kenne, nie eenheid van persoon nie. . . . Die feit dat Hy sê een het bowendien betrekking op die ooreenstemming en gelykheid van oordeel en op die liefdevolle omgang self, aangesien die Vader en Seun redelikerwys een is met betrekking tot eenstemmigheid, tot liefde en tot toegeneentheid.”—Treatise Concerning the Trinity, hoofstuk 27.
“Die Vader [is] groter as Ek.”—JOHANNES 14:28, NAV.
Ireneus (ca. 130-200 G.J.): “Ons kan deur Hom (Christus) leer dat die Vader bo alle dinge is. Want ‘die Vader’, sê Hy, ‘is groter as Ek’. Ons Here het derhalwe verklaar dat die Vader met betrekking tot kennis alles oortref.”—Against Heresies, Boek II, hoofstuk 28.8.
“Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—JOHANNES 17:3.
Clemens van Alexandrië (ca. 150-215 G.J.): “Om die ewige God, die gewer van dit wat ewig is, te ken en om God, wat eerste en hoogste en een en goed is, deur kennis en begrip te besit. . . . Hy dan wat die ware lewe wil lei, word in die eerste plek gelas om Hom te ken ‘wie niemand ken nie, tensy die Seun (Hom) openbaar’ (Matt. 11:27). Daarna moet die grootheid van die Verlosser wat ná Hom kom, leer ken word.”—Who Is the Rich Man That Shall Be Saved? VII, VIII.
“Een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.”—EFESIËRS 4:6.
Ireneus: “En só word een God die Vader bekend gemaak, wat oor almal en deur almal en in almal is. Die Vader is inderdaad oor almal, en Hy is die Hoof van Christus.”—Against Heresies, Boek V, hoofstuk 18.2.
Dit is duidelik dat hierdie vroeë skrywers verstaan het dat hierdie verse die Vader as oppermagtig beskryf, verhewe bo alles en almal, met inbegrip van Jesus Christus. Hulle kommentare toon geensins dat hulle in ’n Drie-eenheid geglo het nie.
Die heilige gees openbaar die hele waarheid
Jesus het sy dissipels beloof dat die heilige gees ná sy dood en opstanding as ’n helper aan hulle gegee sou word. Hy het beloof: “Wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; . . . en [Hy sal] die toekomstige dinge aan julle verkondig.”—Johannes 14:16, 17; 15:26; 16:13.
Ná Jesus se dood is daardie belofte vervul. Die Bybel toon hoe nuwe leerstellings met behulp van die heilige gees aan die Christengemeente geopenbaar of duidelik gemaak is. Hierdie nuwe leringe is opgeteken in die boeke wat later die tweede deel van die Bybel, die Christelike Griekse Geskrifte, of “Nuwe Testament”, geword het. Is daar hoegenaamd enige openbaring van die bestaan van ’n Drie-eenheid in hierdie vloedgolf van nuwe lig? Nee. Die heilige gees openbaar iets totaal anders aangaande God en Jesus.
Met Pinkster 33 G.J., nadat die heilige gees oor die dissipels gekom het wat in Jerusalem vergader was, het die apostel Petrus byvoorbeeld vir die skare buite aangaande Jesus getuig. Het hy van ’n Drie-eenheid gepraat? Let op ’n paar van die dinge wat hy gesê het en oordeel self: “Jesus . . . , ’n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het.” “Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is.” “God [het] Hom Here en Christus gemaak . . . hierdie Jesus wat julle gekruisig [“aan die paal gehang”, NW] het” (Handelinge 2:22, 32, 36). Die geesgevulde Petrus beklemtoon veel eerder Jesus se ondergeskiktheid aan sy Vader en die feit dat hy ’n instrument in die uitvoering van God se wil is as wat hy ’n Drie-eenheid leer.
Kort hierna het ’n ander getroue Christen van Jesus gepraat. Stefanus is voor die Sanhedrin gebring om beskuldigings te beantwoord. Pleks daarvan het Stefanus die situasie omgeswaai en sy aanklaers daarvan beskuldig dat hulle net soos hulle weerspannige voorouers was. Die verslag sê ten slotte: “Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan” (Handelinge 7:55, 56). Waarom het die heilige gees Jesus bloot geopenbaar as die “Seun van die mens” wat aan God se regterhand staan en nie as ’n deel van ’n godheid wat gelyk aan sy Vader is nie? Stefanus het klaarblyklik geen begrip van ’n Drie-eenheid gehad nie.
Toe Petrus die goeie nuus aangaande Jesus na Cornelius geneem het, was daar nog ’n geleentheid om die Drie-eenheidsleerstelling te openbaar. Wat het gebeur? Petrus het verduidelik dat Jesus “Here van almal” is. Maar hy het voortgegaan om te verduidelik dat hierdie mag van ’n hoër bron afkomstig was. Jesus is “deur God bestem . . . as Regter van lewende en dode”. Ná Jesus se opstanding het sy Vader “Hom laat [toegelaat om te] verskyn” aan sy volgelinge. En die heilige gees? Dit word wel in hierdie gesprek genoem, maar nie as die derde persoon van ’n Drie-eenheid nie. In plaas daarvan het “God [Jesus] gesalf . . . met die Heilige Gees en met krag”. Daar word dus getoon dat die heilige gees, wat alles behalwe ’n persoon is, as iets onpersoonliks uitgebeeld word, soos die “krag” wat ook in daardie vers genoem word (Handelinge 10:36, 38, 40, 42, vgl. NAV). Gaan die Bybel gerus noukeurig na en jy sal nog bewyse vind dat die heilige gees nie ’n persoon is nie, maar ’n werkende krag wat mense kan vervul, hulle kan dryf, hulle vurig van gees kan maak en op hulle uitgestort kan word.
Ten slotte het die apostel Paulus ’n goeie geleentheid gehad om die Drie-eenheid te verduidelik—indien dit ’n ware leerstelling was—toe hy vir die Atheners gepreek het. In sy toespraak het hy na hulle altaar “Aan ’n onbekende God” verwys en gesê: “Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.” Het hy ’n Drie-eenheid verkondig? Nee. Hy het die “God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is”, beskryf. Maar wat van Jesus? “[God het] ’n dag bepaal . . . waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het” (Handelinge 17:23, 24, 31). Hier is geen sprake van ’n Drie-eenheid nie!
Trouens, Paulus het iets aangaande God se voornemens verduidelik wat dit onmoontlik maak vir Jesus en sy Vader om gelyke dele van ’n Drie-eenheid te wees. Hy het geskryf: “[God] het alles aan sy [Jesus se] voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees” (1 Korinthiërs 15:27, 28). God sal dus steeds oor almal, met inbegrip van Jesus, wees.
Word die Drie-eenheid dus in die Bybel geleer? Nee. John Robinson het gelyk gehad. Dit kom nie in die Bybel voor nie, en dit is ook nie ’n deel van die “Christelike denkwyse” nie. Beskou jy hierdie feit as iets wat vir jou aanbidding belangrik is? Jy behoort. Jesus het gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). As ons aanbidding van God vir ons belangrik is, is dit noodsaaklik dat ons hom ken soos hy werklik is, soos hy hom aan ons geopenbaar het. Slegs dan kan ons waarlik sê dat ons onder die “ware aanbidders” is wat “die Vader in gees en waarheid . . . aanbid”.—Johannes 4:23.
[Voetnote]
a Volgens The Catholic Encyclopedia, 1907-uitgawe, deel 2, bladsy 33.
b Novatianus verwys na die feit dat die woord vir “een” in hierdie vers in die onsydige geslag is. Die natuurlike betekenis is dus “een ding”. Vergelyk Johannes 17:21 waar die Griekse woord vir “een” op presies dieselfde manier gebruik word. Interessant genoeg, die New Catholic Encyclopedia (1967-uitgawe) keur Novatianus se De Trinitate oor die algemeen goed, hoewel dit meld dat “die Heilige Gees nie [daarin] as ’n goddelike Persoon beskou word nie”.
[Lokteks op bladsy 28]
Dit is duidelik uit die redelikheid van die Skrif dat Jesus en sy Vader nie een God is nie
[Lokteks op bladsy 29]
Waarom het die heilige gees nie ná Pinkster 33 G.J. geopenbaar dat Jesus God is nie?