Die verborgenheid van die grootste naam word onthul
Dit is interessant dat die Moslems se Koran sowel as die Christene se Bybel van die grootste naam praat. Hierdie bespreking verduidelik die betekenis en belangrikheid van die grootste naam. Dit toon ook hoe daardie naam die hele mensdom en ons toekoms hier op aarde raak.
MILJOENE mans en vroue het al op hierdie aarde geleef en gesterf. In die meeste gevalle het hulle naam saam met hulle gesterf en is hulle nagedagtenis vergeet. Maar ’n paar groot name—soos Avicenna, Edison, Pasteur, Beethoven, Gandhi en Newton—leef voort. Hierdie name word gekoppel aan die prestasies, ontdekkings en uitvindings van die mense aan wie die name behoort het.
Daar is egter ’n naam wat groter as alle ander name is. Al die wonders in die ganse heelal van die verlede sowel as die hede hou daarmee verband. Trouens, die mensdom se hoop op ’n lang en gelukkige lewe hou met hierdie naam verband!
Baie wou al hierdie naam leer ken. Hulle het daarna gesoek en daarna gevra, maar hulle het dit nie gevind nie. Vir hulle het dit ’n verborgenheid gebly. Om die waarheid te sê, geen mens kan uitvind wat hierdie naam is tensy die Eienaar daarvan dit aan hom openbaar nie. Gelukkig is die verborgenheid van hierdie weergalose naam onthul. God self het dit gedoen sodat diegene wat in hom glo hom sou ken. Hy het sy naam aan Adam, toe aan Abraham, aan Moses en aan Sy ander getroue knegte van die ou tyd geopenbaar.
Die soeke na die grootste naam
Die Koran vertel van iemand “wat kennis van die Boek gehad het” (27:40). Ter verduideliking van hierdie vers sê ’n kommentaar met die titel Tafsīr Jalālayn: “Asaf die seun van Barkhiyā was ’n regverdige man. Hy het God se grootste naam geken, en wanneer hy dit aangeroep het, is hy verhoor.” Dit herinner ons aan die Bybelskrywer Asaf, wat in Psalm 83:18 gesê het: “Sodat mense kan weet dat U, wie se naam Jehovah is, alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.”—NW.
In Koran 17:2 lees ons: “Ons het Moses die Boek gegee en dit ’n rigsnoer vir die kinders van Israel gemaak.” In daardie Boek spreek Moses God aan en sê: “Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam?—wat moet ek hulle antwoord?” God het Moses geantwoord deur te sê: “Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: [Jehovah], die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig.”—Exodus 3:13, 15.
In die ou tyd het die Israeliete hierdie groot naam van God geken. Dit is selfs as ’n deel van hulle eie name gebruik. Net soos ’n mens vandag die naam Abdullah kry, wat “Kneg van God” beteken, het die mense van eertydse Israel die naam Obadja gehad, wat “Kneg van Jehovah” beteken. Die moeder van die profeet Moses se naam was Jogebed, wat moontlik “Jehovah is heerlikheid” beteken. Die naam Johannes beteken “Jehovah het goedgunstig opgetree”. En die naam van die profeet Elia beteken “My God is Jehovah”.
Die profete het hierdie groot naam geken en dit met diepe eerbied gebruik. Dit kom meer as 7 000 keer in die Heilige Skrif voor. Jesus Christus, die seun van Maria, het die aandag op daardie naam gevestig toe hy in sy gebed tot God gesê het: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het . . . Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle” (Johannes 17:6, 26). In sy bekende kommentaar oor die Koran sê Bayḍāwī in verband met Koran 2:87 dat Jesus “dooie mense deur middel van God se grootste naam opgewek” het.
Hoe het daardie naam dan ’n verborgenheid geword? Wat het daardie naam met ons elkeen se toekoms te doen?
Hoe het die naam ’n verborgenheid geword?
Party mense dink dat “Jehovah” in Hebreeus “Allah” (God) beteken. Maar “Allah” kom ooreen met die Hebreeuse ʼElo·himʹ, die meervoud van majesteit van die woord ʼelohʹah (god). ’n Bygeloof het onder die Jode ontstaan wat hulle verhinder het om die Goddelike naam, Jehovah, uit te spreek. Wanneer hulle toe die Heilige Skrif gelees het en die naam Jehovah gesien het, het dit hulle gewoonte geword om ʼAdho·naiʹ te sê, wat “Here” beteken. Op party plekke het hulle selfs “Jehovah” in die oorspronklike Hebreeuse teks na ʼAdho·naiʹ verander.
Godsdiensleiers van die Christendom het dieselfde gedoen. Hulle het die naam Jehovah met “God” (“Allah” in Arabies) en “Here” vervang. Dit het bygedra tot die ontwikkeling van die valse Drie-eenheidsleer, wat glad nie deur die Heilige Skrif ondersteun word nie. Gevolglik is daar miljoene wat Jesus en die heilige gees verkeerdelik aanbid en hulle as gelyk aan God beskou.a
Die leiers van die Judaïsme en van die Christendom dra dus ewe veel skuld vir die feit dat soveel mense nie die grootste naam ken nie. Maar God het voorspel: “Ek sal sekerlik my groot naam heilig, . . . en die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is.” Ja, Jehovah gaan sy naam onder al die nasies bekend maak. Waarom? Omdat hy nie net die God van die Jode of enige ander individuele nasie of volk is nie. Jehovah is die God van die hele mensdom.—Esegiël 36:23, NW; Genesis 22:18; Psalm 145:21; Maleagi 1:11.
Die grootste naam en ons toekoms
Die Heilige Skrif sê: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word” (Romeine 10:13, NW). Ons redding op die dag van oordeel sal daarvan afhang of ons God se naam ken. Om sy naam te ken, beteken onder andere dat ons sy eienskappe, werke en voornemens ken en volgens sy hoë beginsels lewe. Abraham het byvoorbeeld God se naam geken en daardie naam aangeroep. Hy het gevolglik ’n goeie verhouding met God gehad, geloof in hom beoefen, op hom vertrou en hom gehoorsaam. Abraham het derhalwe God se vriend geword. As ons God se naam ken, bring dit ons eweneens nader aan hom en help dit ons om ’n persoonlike verhouding met hom aan te kweek, terwyl ons sy liefde aankleef.—Genesis 12:8; Psalm 9:11; Spreuke 18:10; Jakobus 2:23.
Ons lees in die Bybel: “Jehovah het bly aandag skenk en luister. En daar is begin om ’n gedenkboek voor hom op te skryf vir diegene wat Jehovah vrees en vir diegene wat aan sy naam dink” (Maleagi 3:16, NW). Waarom moet ons aan die grootste naam “dink”? Die naam Jehovah beteken letterlik “Hy laat word”. Dit toon dat Jehovah die Een is wat homself die Vervuller van beloftes laat word. Hy vervul altyd sy voornemens. Hy is die almagtige God, die enigste Skepper, wat elke goeie eienskap besit. Daar bestaan eenvoudig nie ’n woord wat God se Goddelike natuur volkome kan beskryf nie. Maar God het vir homself die grootste naam—Jehovah—gekies, en dit laat ’n mens aan al sy hoedanighede, eienskappe en voornemens dink.
In die Heilige Skrif vertel God ons van sy voornemens vir die mensdom. Jehovah God het die mens geskep om vir ewig gelukkig in die Paradys te lewe. Sy wil vir die mensdom is dat alle mense deel moet uitmaak van een gesin wat in liefde en vrede verenig is. Die God van liefde sal hierdie voorneme in die nabye toekoms verwesenlik.—Mattheüs 24:3-14, 32-42; 1 Johannes 4:14-21.
God verduidelik waarom die mensdom lyding deurmaak en toon dat redding moontlik is (Openbaring 21:4). In Psalm 37:10, 11 lees ons: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Sien ook Koran 21:105.
Ja, God sal onder sy groot naam bekend staan. Die nasies sal moet weet dat hy Jehovah is. Wat ’n wonderlike voorreg is dit tog om die grootste naam te ken, daarvan te getuig en dit aan te kleef! Op daardie manier sal God se vreugdevolle voorneme in elkeen van ons vervul word: “Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; . . . Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.”—Psalm 91:14-16.
[Voetnoot]
a Sien die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, wat in 1989 deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee is, vir bewyse dat die Drie-eenheid nie ’n Bybelse leerstelling is nie.
[Prent op bladsy 5]
By die brandende bos het God hom aan Moses as ‘Jehovah, die God van Abraham,’ geïdentifiseer
[Erkenning]
Moses and the Burning Bush, by W. Thomas, Sr.