Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 11/1 bl. 18-23
  • Migael, die Groot Vors, se finale oorwinning

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Migael, die Groot Vors, se finale oorwinning
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “In die tyd van die einde”
  • “Egipteland sal nie vrykom nie”
  • Die noordelike koning se finale veldtog
  • ’n Gerug uit die ooste
  • ’n Gerug uit die noorde
  • ’n Derde koning
  • Die strydende konings nader hulle einde
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • ‘Geen vrede vir die goddeloses nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Wie is vandag “die koning van die noorde”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • “Die koning van die noorde” in die tyd van die einde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 11/1 bl. 18-23

Migael, die Groot Vors, se finale oorwinning

“Gedurende daardie tyd sal Migael opstaan, die groot vors wat ten behoewe van die seuns van jou volk staan.”—DANIËL 12:1, NW.

1. Watter gesindheid het baie wêreldheersers al ten opsigte van Jehovah se soewereiniteit geopenbaar, en hoe was die koning van die noorde geen uitsondering nie?

“WIE is [Jehovah] na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek?” (Exodus 5:2). Dit was Farao se uittartende woorde aan Moses. Farao het geweier om te erken dat Jehovah die allerhoogste God is en was vasbeslote om Israel in slawerny te hou. Ander heersers het al soortgelyke minagting vir Jehovah getoon, en die konings van Daniël se profesie is geen uitsondering nie (Jesaja 36:13-20). Die koning van die noorde het selfs verder gegaan. Die engel sê: “[Hy sal] homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; . . . En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie, en op die liefling van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou.”—Daniël 11:36, 37.

2, 3. Hoe het die koning van die noorde “die God van sy vaders” verwerp sodat hy ’n ander “god” kon dien?

2 Die koning van die noorde het hierdie profetiese woorde vervul toe hy “die gode van sy vaders” (of, “die God van sy vaders”, NW) verwerp het—of dit nou die heidense gode van Rome of die Trinitariese godheid van die Christendom is. Hitler het die Christendom vir sy eie doel gebruik, maar was blykbaar van plan om hulle met ’n nuwe, Duitse kerk te vervang. Sy opvolger het absolute ateïsme bevorder. Die koning van die noorde het homself dus ’n god gemaak deur ‘homself bo alles groot te hou’.

3 Die profesie sê verder: “In plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer” (Daniël 11:38). Die koning van die noorde het inderdaad op die moderne krygswetenskap, “die god van die vestings”, vertrou. Gedurende die tyd van die einde het hy deurentyd op hierdie “god” vir redding staatgemaak deur ontsaglike offers van rykdom op sy altaar te bring.

4. Watter welslae het die koning van die noorde behaal?

4 “So sal hy dan [“doeltreffend”, NW] optree teen die versterkte vestings met behulp van ’n vreemde god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel” (Daniël 11:39). Omdat die koning van die noorde op sy militaristiese “vreemde god” vertrou het, het hy uiters “doeltreffend” opgetree en getoon dat hy in “die laaste dae” ’n gedugte militêre mag was (2 Timotheüs 3:1). Diegene wat sy ideologie ondersteun het, is op politieke, geldelike en soms militêre gebied daarvoor beloon.

“In die tyd van die einde”

5, 6. Hoe het die koning van die suide met die koning van die noorde “in botsing” gekom, en hoe het laasgenoemde daarop gereageer?

5 Daniël 11:40a lui: “In die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom.” Daar is eers gedink dat hierdie vers en die volgende verse in ons toekoms in vervulling sou gaan. Maar as “die tyd van die einde” hier dieselfde as in Daniël 12:4, 9 beteken, moet ons die vervulling van hierdie woorde gedurende die laaste dae soek. Het die koning van die suide gedurende hierdie tyd met die koning van die noorde “in botsing” gekom? Ja, beslis. Ná die Eerste Wêreldoorlog was die strawwe vredesverdrag beslis ’n “botsing”, ’n aansporing tot vergelding. Ná die koning van die suide se oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog het hy vreeswekkende kernwapens op sy mededinger gerig en ’n magtige militêre alliansie, NAVO, teen hom georganiseer. Met die verloop van die jare het sy “botsing” hipertegnologiese spioenasie sowel as diplomatieke en militêre offensiewe ingesluit.

6 Hoe het die koning van die noorde gereageer? “Die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei” (Daniël 11:40b). Die geskiedenis van die laaste dae is deur die ekspansionisme van die koning van die noorde gekenmerk. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi-“koning” oor sy grense in die omliggende lande ingestroom. Aan die einde van daardie oorlog het die nuwe “koning” ’n magtige ryk buite sy eie grense opgebou. Gedurende die Koue Oorlog het die koning van die noorde deur middel van sy ondersteuners se oorloë sowel as deur oproerigheid in Afrika, Asië en Latyns-Amerika teen sy mededinger geveg. Hy het ware Christene vervolg en hulle bedrywighede beperk (maar glad nie stopgesit nie). En sy militêre en politieke offensiewe het ’n hele aantal lande onder sy beheer gebring. Dit is presies wat die engel voorspel het: “Hy sal ook kom in die Pragtige Land [die geestelike grondgebied van God se volk], en baie sal struikel.”—Daniël 11:41a.

7. Watter perke was daar aan die ekspansionisme van die koning van die noorde?

7 Hoewel die koning van die noorde—vanuit sy mededinger se oogpunt—op ’n onheilspellende wyse na vore getree het, kon hy nie die wêreld verower nie. “Hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon” (Daniël 11:41b). Edom, Moab en Ammon was in die ou tyd min of meer tussen Egipte en Sirië geleë. Hulle kan beskou word as ’n afbeelding van hedendaagse volke en organisasies op wie die koning van die noorde sy oog gehad het, maar oor wie hy nie sy invloed kon uitbrei nie.

“Egipteland sal nie vrykom nie”

8, 9. Hoe is die invloed van die koning van die noorde gevoel, selfs deur sy vernaamste mededinger?

8 Die engel sê verder: “Hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie. En hy sal mag hê oor die [“versteekte”, NW] skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Libiërs en die Kusiete [“Ethiopiërs”, NW] sy voetstappe volg” (Daniël 11:42, 43). Nie eers die koning van die suide, “Egipte”, het die gevolge van die koning van die noorde se ekspansionistiese beleidsrigtings vrygespring nie. Die koning van die suide het byvoorbeeld ’n opmerklike nederlaag in Viëtnam gelei. En wat van ‘die Libiërs en die Ethiopiërs’? Hierdie buurlande van die eertydse Egipte skadu waarskynlik nasies af wat, geografies gesproke, buurlande van die hedendaagse “Egipte” is en soms volgelinge van die koning van die noorde was, oftewel ‘sy voetstappe gevolg’ het.

9 Het die koning van die noorde oor ‘die versteekte skatte van Egipte’ mag gehad? Wel, hy het beslis nie die koning van die suide verower nie, en tot in 1993 het die wêreldsituasie dit onwaarskynlik laat lyk dat hy dit sal doen. Maar hy het ’n kragtige invloed gehad op die wyse waarop die koning van die suide sy geldmiddele gebruik het. As gevolg van die koning van die suide se vrees vir sy mededinger het hy elke jaar ontsaglike somme geld daaraan bestee om ’n gedugte leër, vloot en lugmag in stand te hou. In hierdie sin kan daar gesê word dat die koning van die noorde “mag”, of beheer, oor die verdeling van die koning van die suide se rykdom gehad het.

Die noordelike koning se finale veldtog

10. Hoe beskryf die engel die einde van die mededinging tussen die twee konings?

10 Hou die mededinging tussen die twee konings onbepaald aan? Nee. Die engel het vir Daniël gesê: “Gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom [die koning van die noorde] verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref. En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.”—Daniël 11:44, 45.

11, 12. Watter onlangse politieke gebeure het met die mededinging tussen die koning van die noorde en die koning van die suide te doen, en wat moet ons nog uitvind?

11 Hierdie dinge moet nog in die toekoms gebeur, en ons kan dus nie in besonderhede sê hoe die profesie vervul gaan word nie. Die politieke situasie met betrekking tot die twee konings het onlangs verander. Die kwaai mededinging tussen die Verenigde State en die Oos-Europese lande het afgeneem. Daarbenewens is die Sowjetunie in 1991 ontbind en bestaan dit nie meer nie.—Sien Die Wagtoring van 1 Maart 1992, bladsye 4, 5.

12 Wie is dan nou die koning van die noorde? Hou sy identiteit verband met een van die lande wat deel van die ou Sowjetunie uitgemaak het? Of gaan sy identiteit heeltemal verander, soos voorheen al ’n paar keer gebeur het? Ons weet nie. Wie sal die koning van die noorde wees wanneer Daniël 11:44, 45 vervul is? Sal die mededinging tussen die twee konings weer opvlam? En wat van die ontsaglike kernopslagplekke wat nog in ’n aantal lande bestaan? Net die tyd sal die antwoorde op hierdie vrae voorsien.

13, 14. Wat weet ons van die toekoms van die twee konings?

13 Een ding weet ons wel. Die koning van die noorde sal binnekort ’n offensiewe veldtog onderneem wat veroorsaak sal word deur ‘gerugte uit die ooste en uit die noorde wat hom sal verskrik’. Hierdie veldtog sal sy “einde” onmiddellik voorafgaan. Ons kan meer oor hierdie “gerugte” uitvind as ons ander Bybelprofesieë ondersoek.

14 Maar let eerstens daarop dat daar nie gesê word dat hierdie optrede van die koning van die noorde teen die koning van die suide gerig is nie. Hy kom nie deur die toedoen van sy groot mededinger aan sy einde nie. Die koning van die suide word eweneens nie deur die koning van die noorde vernietig nie. Die suidelike koning (wat in ander profesieë voorgestel word as die finale horing wat op ’n dier verskyn) word “sonder toedoen van mensehand” deur God se Koninkryk vernietig (Daniël 7:26; 8:25). Trouens, God se Koninkryk gaan uiteindelik al die aardse konings tydens die slag van Armageddon vernietig, en dit is klaarblyklik wat met die koning van die noorde gebeur (Daniël 2:44; 12:1; Openbaring 16:14, 16). Daniël 11:44, 45 beskryf die gebeure wat tot daardie finale slag aanleiding gee. Dit is geen wonder dat ‘daar geen helper sal wees’ wanneer die koning van die noorde aan sy einde kom nie!

15. Watter belangrike vrae moet nog bespreek word?

15 Watter ander profesieë werp dan lig op die “gerugte” wat die koning van die noorde aanspoor om “baie mense te verdelg”? En wie is die “baie mense” wat hy sal wil verdelg?

’n Gerug uit die ooste

16. (a) Watter uitsonderlike gebeurtenis moet voor Armageddon plaasvind? (b) Wie is “die konings wat van die Ooste af kom”?

16 Voor die finale slag, Armageddon, moet ’n groot vyand van ware aanbidding vernietig word—die hoeragtige Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens (Openbaring 18:3-8). Haar vernietiging word voorafgeskadu deur die uitgieting van die sesde skaal van God se wraak op die simboliese Eufraatrivier. Die rivier droog op “sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak [kan] word” (Openbaring 16:12). Wie is hierdie konings? Niemand anders as Jehovah God en Jesus Christus nie!a

17. (a) Wat sê die Bybel vir ons oor die vernietiging van Babilon die Grote? (b) Wat sal die gerug “uit die ooste” moontlik wees?

17 Die vernietiging van Babilon die Grote word treffend in die boek Openbaring beskryf: “Die tien horings [die ‘konings’ wat in die tyd van die einde heers] wat jy op die dier [die skarlakenrooi dier, wat die Verenigde Nasies verteenwoordig] gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Openbaring 17:16). Die nasies ‘vernietig inderdaad baie vlees’! (Daniël 7:5). Maar waarom sal die heersers, onder andere die koning van die noorde, Babilon die Grote vernietig? Omdat ‘God dit in hulle harte gee om sy bedoeling uit te voer’ (Openbaring 17:17). Die gerug “uit die ooste” verwys heel waarskynlik na hierdie daad van Jehovah wanneer hy, op sy manier, dit in die harte van menseleiers gee om die groot godsdienshoer uit te wis.—Daniël 11:44.

’n Gerug uit die noorde

18. Watter ander teiken het die koning van die noorde, en waar plaas dit hom wanneer hy aan sy einde kom?

18 Maar daar is nog ’n teiken vir die wraak van die koning van die noorde. Die engel sê hy sal “sy paleistente opslaan tussen die [“groot”, NW] see en die berg van die heilige Prag” (Daniël 11:45). In Daniël se tyd was die groot see die Middellandse See, en die heilige berg was Sion, waar God se tempel eers gestaan het. Die woedende koning van die noorde onderneem gevolglik in die vervulling van die profesie ’n militêre veldtog teen God se volk! Hy bevind hom vandag in ’n geestelike sin ‘tussen die groot see en die berg van die heilige Prag’, die geestelike grondgebied van God se gesalfde knegte wat uit die “see” van die vervreemde mensdom gekom het en die hoop het om saam met Jesus Christus op die hemelse berg Sion te regeer.—Jesaja 57:20; Hebreërs 12:22; Openbaring 14:1.

19. Hoe kan ons, volgens Esegiël se profesie, die gerug identifiseer wat Gog aanspoor om sy aanval te doen? (Sien voetnoot.)

19 Esegiël, ’n tydgenoot van Daniël, het ook voorspel dat daar “aan die einde van die dae” ’n aanval op God se volk sou plaasvind. Hy het gesê dat Gog van Magog, wat Satan die Duiwel verteenwoordig, die vyandelikhede sou aanstig (Esegiël 38:16). Uit watter rigting kom Gog simbolies gesproke? Jehovah sê deur Esegiël: “Dan sal jy kom uit jou woonplek, uit die agterhoeke van die Noorde” (Esegiël 38:15). Die gerug “uit die noorde” sal dus heel waarskynlik Satan se propaganda wees waarmee hy die koning van die noorde en al die ander konings aanspoor om Jehovah se volk aan te val.b—Vergelyk Openbaring 16:13, 14; 17:14.

20, 21. (a) Waarom sal Gog die nasies, onder andere die koning van die noorde, aanspoor om God se volk aan te val? (b) Sal sy aanval suksesvol wees?

20 Gog reël hierdie hewige aanval as gevolg van die voorspoed van “die Israel van God” wat, saam met die ander skape, nie meer ’n deel van sy wêreld is nie (Galasiërs 6:16; Johannes 10:16; 17:15, 16; 1 Johannes 5:19). Gog bejeën ‘’n volk wat uit die nasies versamel is, wat [geestelike] rykdom en besittings verwerf het’, met agterdog (Esegiël 38:12, vgl. NW; Openbaring 5:9; 7:9). Ter vervulling van hierdie woorde is Jehovah se volk vandag voorspoediger as ooit tevore. In baie lande in Europa, Afrika en Asië waar hulle werk eers verbied was, aanbid hulle nou vryelik. Tussen 1987 en 1992 het daar baie meer as ’n miljoen “begeerlike dinge” uit die nasies na Jehovah se huis van ware aanbidding gekom. Hulle is geestelik gesproke ryk en vreedsaam.—Haggai 2:7, NW; Jesaja 2:2-4; 2 Korinthiërs 8:9.

21 Omdat Gog die Christelike geestelike grondgebied beskou as “land wat ooplê” en wat maklik verower kan word, wend hy ’n uiterste poging aan om hierdie struikelblok uit te wis sodat hy algehele beheer oor die mensdom kan kry (Esegiël 38:11). Maar hy faal. Wanneer die konings van die aarde Jehovah se volk aanval, sal hulle ‘aan hulle einde kom’. Hoe?

’n Derde koning

22, 23. Wie staan ten behoewe van God se volk op wanneer Gog tot die aanval oorgaan, en met watter gevolge?

22 Esegiël sê dat Gog se aanval die teken vir Jehovah God is om ten behoewe van sy volk op te staan en Gog se magte “op die berge van Israel” te vernietig (Esegiël 38:18; 39:4). Dit herinner ons aan wat die engel vir Daniël sê: “En gedurende daardie tyd sal Migael opstaan, die groot vors wat ten behoewe van die seuns van jou volk staan. En daar sal stellig ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie teweeggebring is sedert ’n nasie ontstaan het tot op daardie tyd nie. En gedurende daardie tyd sal jou volk ontkom, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.”—Daniël 12:1, NW.

23 In 1914 het Jesus—die hemelse stryder Migael—Koning van God se hemelse Koninkryk geword (Openbaring 11:15; 12:7-9). Sedertdien staan hy ‘ten behoewe van die seuns van Daniël se volk’. Maar hy sal binnekort in Jehovah se naam “opstaan” as ’n onoorwinlike Stryder-Koning en “wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie” (2 Thessalonicense 1:8). Al die nasies van die aarde, die konings van Daniël se profesie inkluis, sal “rou bedryf” (Mattheüs 24:30). Onderwyl hulle nog bose gedagtes teenoor ‘Daniël se volk’ in hulle hart koester, sal hulle vir ewig deur ‘Migael, die groot vors,’ se toedoen vergaan.—Openbaring 19:11-21.

24. Watter uitwerking moet hierdie studie van Daniël se profesie op ons hê?

24 Sien ons nie uit na daardie groot oorwinning van Migael en van sy God, Jehovah, nie? Want daardie oorwinning sal beteken dat ware Christene “ontkom”, of standhou. (Vergelyk Maleagi 4:1-3.) Terwyl ons dus met gretige afwagting na die toekoms uitsien, hou ons die woorde van die apostel Paulus in gedagte: “Verkondig die woord, hou jou dringend daarmee besig, in gunstige tyd, in moeilike tyd” (2 Timotheüs 4:2, NW). Laat ons stewig aan die Woord van die lewe vashou en ywerig na Jehovah se skape soek terwyl die tyd nog gunstig is. Ons is op die laaste skof van die wedloop om die lewe. Die beloning is in sig. Mag almal vasbeslote wees om tot die einde toe te volhard en sodoende onder diegene te wees wat gered sal word.—Mattheüs 24:13; Hebreërs 12:1.

[Voetnote]

a Sien Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 229-30, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.

b So nie, kan die gerug “uit die noorde” by Jehovah ontstaan, in die lig van sy woorde aan Gog: “Ek sal . . . hake in jou kakebene sit en jou laat uittrek.” “Ek sal . . . jou laat optrek uit die agterhoeke van die Noorde en jou laat kom op die berge van Israel.”—Esegiël 38:4; 39:2; vergelyk Psalm 48:3.

Verstaan jy?

◻ Hoe het die koning van die suide gedurende die tyd van die einde deurentyd met die koning van die noorde in botsing gekom?

◻ Wat moet ons nog uitvind oor die afloop van die mededinging tussen die twee konings?

◻ By watter twee gebeure voor Armageddon sal die koning van die noorde beslis betrokke wees?

◻ Hoe sal ‘Migael, die groot vors,’ God se volk beskerm?

◻ Hoe moet ons op ons studie van Daniël se profesie reageer?

[Prente op bladsy 19]

Die koning van die noorde het ’n ander god as die gode van sy voorgangers aanbid

[Erkennings]

Top left and middle: UPI/Bettmann; bottom left: Reuters/ Bettmann; bottom right: Jasmin/Gamma Liaison

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel