Waarom moet ’n mens ’n fout erken?
DIT was een van die uitsonderlikste ontmoetings in die militêre geskiedenis. ’n Ongewapende vroulike gesant het 400 taai soldate, wat vasbeslote was om oor ’n belediging wraak te neem, laat omdraai. Nadat daardie manne se leier na die dringende versoek van net een moedige vrou geluister het, het hy sy sending laat vaar.
Daardie leier was Dawid, wat later Israel se koning geword het. Hy het na die vrou Abigail geluister omdat hy God wou behaag. Toe sy hom taktvol daarop gewys het dat wraakneming op haar man, Nabal, tot bloedskuld sou lei, het Dawid uitgeroep: “Geseënd is die HERE, die God van Israel, wat jou vandag my tegemoet gestuur het! En geseënd jou verstandigheid en geseënd jy self wat my vandag teëgehou het om in bloedskuld te geraak en my met eie hand te help.” Dawid was dankbaar dat God Abigail gebruik het om te keer dat hy ’n ernstige fout begaan.—1 Samuel 25:9-35.
Dawid het in ’n psalm gevra: “Foute—wie kan [hulle] onderskei?” (Psalm 19:12, NW). Soos hy, is ons moontlik nie bewus van ons foute tensy iemand ons daarop wys nie. Ander kere dwing onaangename gevolge ons om te besef dat ons ’n fout begaan het, onverstandig opgetree het of onvriendelik was.
Geen rede tot wanhoop nie
Hoewel ons almal foute begaan, hoef dit ons nie wanhopig te maak nie. Die diplomaat Edward John Phelps het opgemerk: “Die mens wat nooit ’n fout maak nie, doen gewoonlik niks.” En die Christendissipel Jakobus het gesê: “Ons almal struikel dikwels” (Jakobus 3:2). Sal ’n kind leer loop sonder om ooit te struikel? Nee, want ’n kind leer uit foute en hou aan probeer totdat hy homself kan balanseer.
As ons ’n gebalanseerde lewe wil lei, moet ons ook uit ons foute en dié van ander leer. Aangesien die Bybel die ondervindinge vertel van baie mense wie se omstandighede moontlik met ons eie ooreenkom, kan dit ons help om te voorkom dat ons dieselfde foute as hulle begaan. Wat kan ons dan uit hulle foute leer?
Nederigheid is ’n noodsaaklike eienskap
Een les is dat God nie almal veroordeel wat foute begaan nie, maar hy oordeel net dié wat weier om, indien dit moontlik is, hulle foute reg te stel. Israel se koning Saul was ongehoorsaam aan Jehovah se instruksies oor die uitwissing van die Amalekiete. Toe die profeet Samuel hom daarmee gekonfronteer het, het Saul sake eers as gering voorgestel en toe het hy ander die skuld probeer gee. Dit was vir hom belangriker om nie aansien voor sy manne te verloor nie as om die fout reg te stel. Daarom het ‘Jehovah hom as koning verwerp’.—1 Samuel 15:20-23, 30.
Hoewel Saul se opvolger, Dawid, ernstige foute begaan het, het hy vergifnis ontvang omdat hy raad en dissipline nederig aanvaar het. Dawid se nederigheid het hom beweeg om op Abigail se woorde ag te slaan. Sy troepe was slaggereed. Tog het Dawid voor sy manskappe erken dat hy ’n oorhaastige besluit geneem het. Hierdie nederigheid het Dawid deur sy hele lewe gehelp om vergifnis te vra en sy foute reg te stel.
Nederigheid beweeg ook Jehovah se knegte om ondeurdagte opmerkings reg te stel. Tydens ’n verhoor voor die Sanhedrin het die hoëpriester beveel dat Paulus geslaan moet word. Die apostel het teëgekap: “God sal u slaan, gewitte muur!” (Handelinge 23:3). Paulus het dalk vanweë sy swak oë nie besef met wie hy gepraat het nie totdat omstanders gevra het: “Skel jy die hoëpriester van God uit?” Daarop het Paulus dadelik sy fout erken en gesê: “Ek het nie geweet, broeders, dat hy hoëpriester is nie, want daar staan geskrywe: Van ’n owerste van jou volk mag jy nie kwaad spreek nie” (Handelinge 23:4, 5; Exodus 22:28). Ja, Paulus het sy fout nederig erken.
Hulle het hulle foute erken
Die Bybel toon ook dat sommige hulle verkeerde denkwyse reggestel het. Beskou byvoorbeeld die psalmis Asaf. Aangesien dit gelyk het asof die goddeloses voorspoedig is, het hy gesê: “Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou.” Maar Asaf het weer tot besinning gekom nadat hy na Jehovah se huis toe gegaan en oor die voordele van ware aanbidding gepeins het. Daarbenewens het hy sy fout in Psalm 73 erken.
Jona het ook toegelaat dat ’n verkeerde denkwyse sy beskouing vertroebel. Nadat hy in Ninevé gepreek het, was hy meer besorg oor persoonlike regverdiging as oor die redding van daardie stad se inwoners. Jona was ontevrede toe Jehovah nie die mense van Ninevé gestraf het toe hulle berou getoon het nie, maar God het hom tereggewys. Jona het besef dat sy sienswyse verkeerd was, want in die Bybelboek wat sy naam dra, word sy foute openhartig erken.—Jona 3:10–4:11.
Die man Job het verkeerdelik aangeneem dat Jehovah God, nie Satan die Duiwel nie, vir sy ellende verantwoordelik was, en daarom het hy probeer bewys dat hy nie sy lyding verdien nie. Hy was nie bewus van die groter geskil nie: Sou God se knegte onder beproewing aan hom lojaal bly? (Job 1:9-12). Nadat Elihu, en daarna Jehovah, Job gehelp het om te sien dat hy ’n fout begaan het, het hy erken: “So het ek dan gespreek sonder om te verstaan . . . Daarom herroep ek en het berou in stof en as.”—Job 42:3, 6.
As ons ons foute erken, help dit ons om ’n goeie verhouding met God te behou. Soos die voorgaande voorbeelde toon, sal hy ons nie vir ons foute veroordeel as ons hulle erken en doen wat ons kan om ons verkeerde denkwyse, ondeurdagte woorde of onverskillige optrede reg te stel nie. Hoe kan ons hierdie kennis toepas?
Ons moet iets omtrent ons foute doen
As ons ’n fout nederig erken en iets daaromtrent doen, kan dit gesinsbande verstewig. Byvoorbeeld: ’n Ouer wat moeg of geïrriteerd was, het dalk sy kind baie streng gedissiplineer. As die ouer weier om hierdie fout reg te stel, kan dit slegte gevolge hê. Daarom het die apostel Paulus geskryf: “Vaders, moet julle kinders nie irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.”—Efesiërs 6:4.
’n Jong Christen met die naam Paul sê met aangename herinneringe: “Pa het altyd om verskoning gevra as hy gevoel het dat hy oorgereageer het. Dit het my gehelp om hom te respekteer.” Of ’n mens in ’n spesifieke situasie verskoning moet vra, is ’n persoonlike besluit. Maar as ’n mens om verskoning gevra het, moet jy ernstige pogings aanwend om soortgelyke foute in die toekoms te vermy.
Sê nou ’n man of sy vrou begaan ’n fout wat ongelukkigheid veroorsaak? Dit sal hulle help om hulle liefdevolle verhouding te behou as hulle hulle fout openhartig erken, opreg om verskoning vra en vergewensgesind is (Efesiërs 5:33; Kolossense 3:13). Jesús, ’n Spanjaard met ’n sterk persoonlikheid wat in die vyftig is, is nie te trots om sy vrou, Albina, om verskoning te vra nie. “Ons vra mekaar altyd om verskoning wanneer ons mekaar te na gekom het”, sê sy. “Dit help ons om in liefde met mekaar oor die weg te kom.”
Wanneer ’n ouere man ’n fout begaan
Christen- ouere manne sal ook eensgesind kan saamwerk en ‘eer aan mekaar kan betoon’ as hulle hulle foute erken en opreg om verskoning vra (Romeine 12:10). ’n Ouere man is moontlik teësinnig om ’n fout te erken omdat hy bang is dat dit sy gesag in die gemeente sal ondermyn. Maar dit is baie waarskynliker dat ander hulle vertroue in sy opsienerskap sal verloor as hy probeer om ’n fout te regverdig, te ignoreer of as gering voor te stel. ’n Ryp broer wat nederig om verskoning vra, moontlik vir die een of ander ondeurdagte opmerking, dwing die respek van ander af.
Fernando, ’n ouere man in Spanje, onthou nog toe ’n kringopsiener wat die voorsitter tydens ’n groot oueremanvergadering was ’n verkeerde stelling gemaak het oor hoe ’n vergadering gehou moet word. Toe ’n broer hom op eerbiedige wyse reggehelp het, het die kringopsiener dadelik erken dat hy ’n fout begaan het. Fernando sê: “Toe ek gesien het hoe hy sy fout voor al daardie ouere manne erken, was ek baie beïndruk. Ek het baie meer respek vir hom gehad ná hy so om verskoning gevra het. Sy voorbeeld het my geleer hoe belangrik dit is om my eie tekortkominge te erken.”
Wees gou om ’n fout te erken
Dit word gewoonlik waardeer wanneer iemand om verskoning vra, veral as hy dit sonder uitstel doen. Trouens, hoe gouer ons ’n fout erken, hoe beter. Ter toeligting: Op 31 Oktober 1992 het pous Johannes Paulus II erken dat die Inkwisisie “verkeerd” opgetree het toe dit Galileo 360 jaar gelede gestraf het omdat hy gesê het dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie. Maar as ’n mens só lank wag voordat jy om verskoning vra, kan dit afbreuk doen aan die waarde daarvan.
Dieselfde geld vir persoonlike verhoudings. As jy gou om verskoning vra, kan dit ’n wond genees wat deur ’n onvriendelike woord of daad veroorsaak is. Jesus het ons aangespoor om die vrede sonder versuim te herstel en het gesê: “As jy . . . jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe” (Mattheüs 5:23, 24). Al wat dit dikwels verg om die vrede te herstel, is dat ons erken dat ons sake verkeerd benader het en om vergifnis vra. Hoe langer ons wag voor ons dit doen, hoe moeiliker raak dit.
Ons moet ons foute geredelik erken
Soos die voorbeelde van Saul en Dawid toon, kan die wyse waarop ons optree as ons foute begaan het ons lewe beïnvloed. Saul het raad hardkoppig weerstaan en sy foute het toegeneem, en dit het eindelik daartoe gelei dat hy in onguns by God gesterf het. Maar ondanks Dawid se foute en sondes het hy op berouvolle wyse tugtiging aanvaar en getrou aan Jehovah gebly. (Vergelyk Psalm 32:3-5.) Is dit nie ook ons begeerte nie?
Die grootste beloning daarvoor as ’n mens ’n fout erken en regstel of ’n sonde bely, is die wete dat God jou vergewe. “Welgeluksalig is hy . . . wie se sonde bedek is”, het Dawid gesê. “Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie” (Psalm 32:1, 2). Hoe verstandig is dit dan tog om ’n fout te erken!
[Prent op bladsy 29]
Sal ’n kind leer loop sonder om ooit te struikel?