Herders en skape in ’n teokrasie
“Die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons Koning: Hý sal ons verlos.”—JESAJA 33:22.
1. Waarom kan die eerste-eeuse Christene en hedendaagse Christene ’n teokrasie genoem word?
TEOKRASIE beteken ’n heerskappy deur God. Dit behels dat ons Jehovah se gesag aanvaar en op sy riglyne en opdragte ag slaan in die groot en klein besluite wat ons in die lewe neem. Die eerste-eeuse gemeente was ’n ware teokrasie. Daardie Christene kon opreg sê: “Die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons Koning” (Jesaja 33:22). Jehovah God se hedendaagse organisasie, met die gesalfde oorblyfsel as die kern daarvan, is eweneens ’n ware teokrasie.
Hoe is ons vandag ’n teokrasie?
2. Wat is een manier waarop Jehovah se Getuies hulle aan Jehovah se heerskappy onderwerp?
2 Waarom kan ons sê dat Jehovah se aardse organisasie ’n teokrasie is? Omdat diegene wat deel daarvan uitmaak hulle inderdaad aan Jehovah se heerskappy onderwerp. En hulle volg die leiding van Jesus Christus, die een wat deur Jehovah as Koning op die troon geplaas is. Gedurende die tyd van die einde gee die Groot Teokraat byvoorbeeld hierdie regstreekse opdrag aan Jesus: “Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het” (Openbaring 14:15). Jesus gee daaraan gehoor en begin die oes van die aarde insamel. Christene ondersteun hulle Koning in hierdie belangrike werk deur ywerig die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak (Mattheüs 28:19; Markus 13:10; Handelinge 1:8). Hulle is sodoende ook medewerkers van Jehovah, die Groot Teokraat.—1 Korinthiërs 3:9.
3. Hoe onderwerp Christene hulle aan teokrasie wat sedelike aangeleenthede betref?
3 Christene toon ook hulle onderworpenheid aan God se heerskappy deur hulle gedrag. Jesus het gesê: “Hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in [“ooreenstemming met”, NW] God gedoen is” (Johannes 3:21). Daar word vandag gedurig oor sedes gedebatteer, maar hierdie geskille hoort nie onder Christene nie. Hulle beskou as onsedelik wat Jehovah sê onsedelik is, en hulle vermy dit soos die pes! Hulle sien ook na hulle gesinne om, gehoorsaam hulle ouers en is onderdanig aan die hoër owerhede (Efesiërs 5:3-5, 22-33; 6:1-4; 1 Timotheüs 5:8; Titus 3:1). Hulle tree dus teokraties, in ooreenstemming met God, op.
4. Watter verkeerde gesindhede het Adam en Eva en Saul geopenbaar, en hoe toon Christene ’n ander gesindheid?
4 Adam en Eva het die Paradys verloor omdat hulle self wou besluit wat reg en wat verkeerd is. Jesus was presies die teenoorgestelde. Hy het gesê: ‘Ek soek nie my wil nie, maar die wil van die Vader wat my gestuur het.’ Christene soek eweneens nie hulle eie wil nie (Johannes 5:30; Lukas 22:42; Romeine 12:2; Hebreërs 10:7). Saul, die eerste koning van Israel, het Jehovah gehoorsaam—maar net gedeeltelik. Hy is as gevolg daarvan verwerp. Samuel het vir hom gesê: “Om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme” (1 Samuel 15:22). Is dit teokraties om Jehovah se wil in sekere opsigte te volg, moontlik deur gereeld in die predikingswerk uit te gaan of gereeld vergaderinge by te woon, en dan in sedelike aangeleenthede of op ’n ander manier ontrou te wees? Natuurlik nie! Ons strewe daarna om ‘die wil van God van harte te doen’ (Efesiërs 6:6; 1 Petrus 4:1, 2). In teenstelling met Saul onderwerp ons ons ten volle aan God se heerskappy.
’n Hedendaagse teokrasie
5, 6. Hoe handel Jehovah vandag met die mensdom, en waartoe lei dit as ons met hierdie reëling saamwerk?
5 In die verlede het Jehovah deur individue, soos profete, konings en apostels, geheers en waarhede geopenbaar. Vandag is dit nie meer so nie; daar is nie meer geïnspireerde profete of apostels nie. Jesus het eerder gesê dat hy tydens sy koninklike teenwoordigheid ’n getroue liggaam van volgelinge, ’n “getroue en verstandige dienskneg”, sou aanwys en daardie dienskneg oor al sy besittings sou aanstel (Mattheüs 24:45-47; Jesaja 43:10). In 1919 is daardie dienskneg as die oorblyfsel van gesalfde Christene geïdentifiseer. Dit is sedertdien die middelpunt van teokrasie op aarde en word deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies verteenwoordig. Die Bestuursliggaam word reg rondom die wêreld deur Takkomitees, reisende opsieners en gemeentelike ouere manne verteenwoordig.
6 ’n Noodsaaklike aspek van onderworpenheid aan teokrasie is dat ’n mens jou samewerking ten opsigte van teokratiese organisasie moet gee. Sulke samewerking bevorder eenheid en orde in die hele wêreldwye “broederskap” (1 Petrus 2:17). Dít behaag weer Jehovah, wat “nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” is.—1 Korinthiërs 14:33.
Ouere manne in ’n teokrasie
7. Waarom kan daar gesê word dat ouere manne teokraties aangestel word?
7 Alle aangestelde ouere manne, ongeag watter gesagsposisie hulle beklee, voldoen aan die vereistes wat in die Bybel vir die amp van opsiener, of ouere man, uiteengesit word (1 Timotheüs 3:1-7; Titus 1:5-9, vgl. NW). En Paulus se woorde aan die Efesiese ouere manne is op alle ouere manne van toepassing: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg” (Handelinge 20:28). Ja, die ouere manne word aangestel deur die heilige gees, wat van Jehovah God af kom (Johannes 14:26). Hulle word teokraties aangestel. Daarbenewens tree hulle as herders van God se kudde op. Die kudde behoort aan Jehovah, nie aan die ouere manne nie. Dit is ’n teokrasie.
8. Wat is die algemene verantwoordelikhede van hedendaagse ouere manne?
8 Die apostel Paulus het in sy brief aan die Efesiërs die ouere manne se algemene verantwoordelikhede soos volg uiteengesit: “Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus” (Efesiërs 4:11, 12). Die amp van apostel en profeet het in die vroeë dae van “die liggaam van Christus” tot niet gegaan. (Vergelyk 1 Korinthiërs 13:8.) Maar ouere manne is steeds baie besig met evangelisasiewerk, herderswerk en onderrigtingswerk.—2 Timotheüs 4:2; Titus 1:9.
9. Hoe moet ouere manne hulle voorberei om God se wil in die gemeente te verteenwoordig?
9 Aangesien teokrasie heerskappy deur God is, is bekwame ouere manne deeglik met God se wil vertroud. Josua is beveel om die Wet elke dag te lees. Ouere manne moet eweneens die Skrif gereeld bestudeer en raadpleeg en moet deeglik vertroud wees met Bybellektuur wat deur die getroue en verstandige dienskneg uitgegee word (2 Timotheüs 3:14, 15). Dit sluit Die Wagtoring en die Ontwaak! sowel as ander publikasies in wat toon hoe Bybelbeginsels in spesifieke situasies van toepassing is.a Hoewel dit belangrik is dat ’n ouere man die riglyne in die Wagtoringgenootskap se lektuur ken en volg, moet hy egter ook deeglik vertroud wees met die skriftuurlike beginsels waarop hulle gegrond is. Dan sal hy skriftuurlike riglyne met begrip en medelye kan toepas.—Vergelyk Miga 6:8.
Dien met ’n Christelike gesindheid
10. Teen watter verkeerde gesindheid moet ouere manne waak, en hoe?
10 Die apostel Paulus het in ongeveer 55 G.J. sy eerste brief aan die gemeente in Korinthe geskryf. Een van die probleme wat hy hanteer het, het te doen gehad met sekere manne wat prominent in die gemeente wou wees. Paulus het geskryf: “Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers. Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!” (1 Korinthiërs 4:8). In die eerste eeu G.J. het alle Christene die hoop gehad om as konings en priesters saam met Jesus in die hemel te heers (Openbaring 20:4, 6). Maar party in Korinthe het blykbaar vergeet dat daar geen konings in die Christenteokrasie op aarde is nie. Christenherders tree nie soos die konings van hierdie wêreld op nie, maar kweek eerder nederigheid aan, ’n eienskap waarin Jehovah behae skep.—Psalm 138:6; Lukas 22:25-27.
11. (a) Wat is ’n paar voortreflike voorbeelde van nederigheid? (b) Hoe moet ouere manne en alle ander Christene hulleself beskou?
11 Is nederigheid ’n swakheid? Hoegenaamd nie! Jehovah self word as nederig beskryf (Psalm 18:35, NW). Die konings van Israel het leërs in gevegte gelei en onder leiding van Jehovah oor die volk geheers. Nogtans moes elkeen versigtig wees dat “sy hart hom nie verhef oor sy broers nie” (Deuteronomium 17:20). Die verrese Jesus is ’n hemelse Koning. Maar toe hy op die aarde was, het hy sy dissipels se voete gewas. Watter nederigheid tog! En om te toon dat hy dieselfde nederigheid van sy apostels verwag het, het hy gesê: “As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was” (Johannes 13:14; Filippense 2:5-8). Alle heerlikheid en lof moet aan Jehovah gegee word, en nie aan enige mens nie (Openbaring 4:11). Alle Christene, of hulle nou ouere manne is of nie, moet hulleself in die lig van Jesus se woorde beskou: “Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen” (Lukas 17:10). Enige ander beskouing is onteokraties.
12. Waarom is dit noodsaaklik dat ’n Christen- ouere man liefde aankweek?
12 Buiten nederigheid moet Christen- ouere manne liefde aankweek. Die apostel Johannes het getoon hoe belangrik liefde is toe hy gesê het: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde” (1 Johannes 4:8). Liefdelose mense is onteokraties. Hulle ken Jehovah nie. Die Bybel sê aangaande die Seun van God: ‘Jesus het, omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe’ (Johannes 13:1). Toe Jesus met 11 manne gepraat het wat lede van die bestuursliggaam in die Christengemeente sou word, het hy gesê: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het” (Johannes 15:12). Liefde is die kenmerk van die ware Christelike geloof. Die gebrokenes van hart, die treurendes en dié wat in geestelike gevangenskap verkeer en na vryheid hunker, word daardeur aangetrek (Jesaja 61:1, 2; Johannes 13:35). Ouere manne moet voorbeeldig wees in die betoning van liefde.
13. Hoe kan ’n ouere man, ondanks die feit dat daar vandag ingewikkelde probleme is, in alle situasies ’n krag ten goede wees?
13 Vandag word ouere manne dikwels gevra om met ingewikkelde probleme te help. Huweliksprobleme kan diepgewortel wees en herhaaldelik opduik. Jongmense het probleme wat volwassenes dalk moeilik vind om te verstaan. Dit is dikwels moeilik om emosionele siektes te begryp. ’n Ouere man wat sulke probleme moet hanteer, kan dalk onseker wees oor wat hy moet doen. Maar hy kan vol vertroue wees dat hy selfs in die moeilikste situasie ’n krag ten goede sal wees as hy biddend op Jehovah se wysheid steun, as hy navorsing in die Bybel doen sowel as in inligting wat deur die getroue en verstandige dienskneg uitgegee word en as hy nederig en liefdevol in sy handelinge met die skape is.
14, 15. Wat is sommige kommentare wat toon dat Jehovah sy volk met talle goeie ouere manne geseën het?
14 Jehovah het sy organisasie ryklik met “gawes in mense” geseën (Efesiërs 4:8, NW). Die Wagtoringgenootskap ontvang van tyd tot tyd hartverblydende briewe wat getuig van die liefde wat betoon word deur nederige ouere manne wat met medelye as herders van God se skape dien. ’n Gemeentelike ouere man skryf byvoorbeeld: “Ons het nog nooit ’n kringbesoek gehad wat so ’n diep indruk op my gemaak het of waaroor daar so lank in die gemeente gepraat is nie. Die kringopsiener het my help besef hoe belangrik dit is om ’n positiewe gesindheid in ons handelinge met die broers te hê, en hy het beklemtoon dat ons hulle moet prys.”
15 ’n Suster wat vir behandeling na ’n verafgeleë kliniek moes reis, skryf: “Hoe vertroostend was dit tog om daardie eerste angsvolle aand in ’n hospitaal so ver van die huis af deur ’n ouere man besoek te word! Hy en ander broers het baie tyd by my deurgebring. Selfs mense in die wêreld wat bewus was van wat ek op daardie tydstip deurgemaak het, het gesê dat ek dit nooit sonder die vertroosting, sorg en gebede van daardie liefdevolle en getroue broers sou oorleef het nie.” Nog ’n suster skryf: “Ek lewe nog vandag omdat die liggaam van ouere manne my tydens my stryd teen ernstige depressie geduldig bygestaan het. . . . Een broer en sy vrou het nie geweet wat om vir my te sê nie. . . . Maar wat my die meeste ontroer het, was hulle liefdevolle besorgdheid oor my, al het hulle nie heeltemal verstaan wat ek deurmaak nie.”
16. Watter vermaning gee Petrus aan ouere manne?
16 Ja, baie ouere manne pas die apostel Petrus se vermaning toe: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” (1 Petrus 5:1-3). Wat ’n seën is sulke teokratiese ouere manne tog nie!
Skape in die teokrasie
17. Noem ’n paar van die eienskappe wat alle gemeentelede moet aankweek.
17 ’n Teokrasie bestaan egter nie net uit ouere manne nie. As die herders teokraties moet wees, moet die skape dit ook wees. In watter opsigte? Wel, dieselfde beginsels wat die herders lei, moet die skape ook lei. Alle Christene, nie net ouere manne nie, moet nederig wees as hulle Jehovah se seën wil ontvang (Jakobus 4:6). Almal moet liefde aankweek, want daarsonder dra ons offers aan Jehovah nie sy goedkeuring weg nie (1 Korinthiërs 13:1-3). En ons almal, nie net die ouere manne nie, moet ‘vervul wees met die juiste kennis van Jehovah se wil in alle wysheid en geestelike insig’.—Kolossense 1:9, vgl. NW.
18. (a) Waarom is ’n bloot oppervlakkige kennis van die waarheid nie genoeg nie? (b) Hoe kan ons almal met juiste kennis vervul word?
18 Oud en jonk kom gedurig voor moeilike besluite te staan in hulle strewe om getrou te bly ondanks die feit dat hulle in Satan se wêreld lewe. Vir party is die wêreld se neigings ten opsigte van kleredrag, musiek, rolprente en literatuur ’n toets van hulle geestelikheid. ’n Oppervlakkige kennis van die waarheid is nie genoeg om ons ons balans te help handhaaf nie. As ons wil verseker dat ons getrou sal bly, moet ons met juiste kennis vervul wees. Ons het die onderskeidingsvermoë en wysheid nodig wat slegs God se Woord ons kan gee (Spreuke 2:1-5, vgl. NW). Dit beteken dat ons goeie studiegewoontes moet aankweek, moet peins oor wat ons leer en dit moet toepas (Psalm 1:1-3; Openbaring 1:3). Paulus het aan alle Christene, nie net aan ouere manne nie, geskryf toe hy gesê het: “Vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.”—Hebreërs 5:14.
Herders en skape werk saam
19, 20. Watter vermanings word aan almal gegee om met die ouere manne saam te werk, en waarom?
19 Ten laaste moet daar gesê word dat diegene wat die ouere manne hulle samewerking gee ’n waarlik teokratiese gesindheid aan die dag lê. Paulus het aan Timotheüs geskryf: “Laat die ouderlinge [“ouer manne”, NW] wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer” (1 Timotheüs 5:17; 1 Petrus 5:5, 6). Dit is ’n wonderlike voorreg om ’n ouere man te wees, maar die meeste ouere manne is gesinsmanne wat elke dag hulle sekulêre werk doen en wat ’n vrou en kinders het na wie hulle moet omsien. Hoewel hulle met graagte dien, is dit vir hulle makliker en verskaf dit hulle groter bevrediging wanneer die gemeente hulle ondersteun en nie te krities en veeleisend is nie.—Hebreërs 13:17.
20 Die apostel Paulus het gesê: “Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem, wat die woord van God tot julle gespreek het, en volg hulle geloof na terwyl julle die uiteinde van hulle gedrag betrag” (Hebreërs 13:7, NW). Nee, Paulus het nie die broers aangemoedig om navolgers van die ouere manne te wees nie (1 Korinthiërs 1:12). Dit is onteokraties om ’n mens na te volg. Maar dit is beslis verstandig om die beproefde geloof na te volg van ’n teokratiese ouere man wat bedrywig in die evangelisasiewerk is, vergaderinge gereeld bywoon en nederig en liefdevol in sy handelinge met die gemeente is.
’n Bewys van geloof
21. Hoe toon Christene dat hulle sterk geloof soos dié van Moses het?
21 Die bestaan van ’n teokratiese organisasie in hierdie mees verdorwe tyd in die mensegeskiedenis getuig van die Groot Teokraat se krag (Jesaja 2:2-5). Dit getuig ook van die geloof van byna vyfmiljoen Christenmanne, -vroue en -kinders, wat met die daaglikse lewensprobleme worstel maar nooit vergeet dat Jehovah hulle Heerser is nie. Net soos die getroue Moses ‘volgehou het soos een wat die Onsienlike sien’, het Christene vandag eweneens sterk geloof (Hebreërs 11:27). Hulle geniet die voorreg om in ’n teokrasie te lewe, en hulle dank Jehovah elke dag daarvoor (Psalm 100:4, 5). Aangesien hulle die reddende krag van Jehovah ondervind, verklaar hulle met vreugde: “Die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons Koning: Hý sal ons verlos.”—Jesaja 33:22.
[Voetnoot]
a Een van hierdie publikasies is die boek ‘Gee ag op julleself en op die hele kudde’, wat skriftuurlike riglyne bevat en aan aangestelde gemeentelike opsieners, of ouere manne, voorsien word.
Wat toon die Bybel?
◻ Hoe onderwerp Christene hulle aan teokrasie?
◻ Hoe word teokrasie vandag georganiseer?
◻ Op watter maniere moet ouere manne hulle voorberei om hulle verantwoordelikhede na te kom?
◻ Watter Christelike eienskappe moet ouere manne aankweek en openbaar?
◻ Watter verhouding moet daar tussen die skape en die herders in die teokrasie bestaan?
[Prent op bladsy 16]
Adam en Eva het die Paradys verloor omdat hulle self wou besluit wat reg en verkeerd is
[Prent op bladsy 18]
As ’n ouere man nederig en liefdevol in sy handelinge met die skape is, sal hy altyd ’n krag ten goede wees