Die Maria-Hemelvaart—Is dit ’n dogma wat deur God geopenbaar is?
DIE Maria-Hemelvaart—die leerstelling dat Maria, die moeder van Jesus, met haar vleeslike liggaam na die hemel opgevaar het—lê miljoene Rooms-Katolieke na aan die hart. Die geskiedkundige George William Douglas sê: “Die Assumpsie, of tenhemelopneming, van die Maagd Maria word al [lank] as die grootste van haar feeste en as een van die belangrikste plegtighede van die Kerkjaar vereer.”
Katolieke teoloë erken egter dat die Bybel nie sê dat Maria so na die hemel opgevaar het nie. Min Katolieke besef in werklikheid dat hierdie geliefde leerstelling al eeue lank ’n onderwerp van geskille en venynige polemiek is. Hoe het dit nou eintlik gekom dat die kerk die Maria-Hemelvaart as ’n dogma aanvaar het?a Bestaan daar enige rede om dit as ’n Goddelike openbaring te beskou? Die antwoorde op hierdie vrae is nie bloot teoreties nie. Hulle is van groot belang vir almal wat die waarheid liefhet.
Die ontwikkeling van ’n dogma
Dit sal jou dalk verbaas om te weet dat die Christene in die eerste eeue ná Jesus se dood glad nie aan die tenhemelopneming van Maria geglo het nie. Die Katolieke teoloog Jean Galot skryf in L’Osservatore Romano: “Aanvanklik was geen herdenking van Maria se dood met die Christengemeenskap in verband gebring nie.”
Nadat die Drie-eenheidsleer egter ’n amptelike kerkleerstelling geword het, is daar begin om ’n al hoe belangriker rol aan Maria toe te skryf. Daar is begin om vererende uitdrukkings, soos “Moeder van God”, “verwek sonder sonde”, “Middelares” en “Koningin van die hemel”, aan haar te gee. Mettertyd, sê die teoloog Jean Galot, “het die swye wat die tradisie oorspronklik oor die dood van Maria gehandhaaf het nie meer dié Christene bevredig wat Maria as volmaak beskou het en haar wou vereer nie. Omskrywings van die Maria-Hemelvaart, wat die resultaat van gewilde verbeeldingsvlugte was, het dus vorm aangeneem.”
Teen ongeveer die vierde eeu G.J. is daar begin om die sogenoemde apokriewe oor die Maria-Hemelvaart in omloop te bring. Hierdie geskrifte het denkbeeldige verslae van Maria se veronderstelde hemelvaart bevat. Neem byvoorbeeld die teks met die titel “Toe die Heilige Moeder van God ontslaap het”. Dit is aan niemand anders as die apostel Johannes toegeskryf nie, maar dit is meer waarskynlik dat dit bykans 400 jaar ná Johannes se dood saamgestel is. Volgens hierdie valse verslag is Christus se apostels op wonderdadige wyse voor Maria byeengebring, waar hulle gesien het hoe sy die blindes, dowes en verlamdes genees. Uiteindelik, soos hierin beweer word, het die apostels gehoor hoe die Here vir Maria sê: “Kyk, van nou af sal jou kosbare liggaam na die paradys oorgeplaas word, en jou heilige siel sal in onoortreflike glans in die skatkamers van my Vader in die hemele wees, waar daar voortdurend vrede en die gejuig van die heilige engele is.”
Wat was gelowiges se reaksie op hierdie geskrifte? Die Marioloog René Laurentin verduidelik: “Die reaksies was baie uiteenlopend. Die goedgelowigstes, wat dit sonder meer aanvaar het, is om die bos gelei deur die bekoring van die mooi verhaal. Ander verag hierdie teenstrydige verslae, wat mekaar dikwels weerspreek en nie gesaghebbend is nie.” Die Maria-Hemelvaartteorie het dus nie maklik amptelike erkenning verkry nie. Wat tot die verwarring bygedra het, was die feit dat relieke wat na bewering oorblyfsels van Maria se liggaam was op sekere plekke vereer is. Dit kon beswaarlik verenig word met die opvatting dat haar vleeslike liggaam in die hemel opgeneem is.
In die 13de eeu het Thomas Aquinas, soos baie ander teoloë, volgehou dat dit nie moontlik was om die Maria-Hemelvaart tot dogma te verklaar nie, aangesien “dit nie in die Skrif voorkom nie”. Die opvatting het nogtans in gewildheid toegeneem en al hoe meer voorstellings van Maria se veronderstelde tenhemelopneming deur beroemde kunstenaars, soos Rafael, Correggio, Titiaan, Carracci en Rubens, het die lig gesien.
Die geskilpunt het tot onlangs toe onopgelos gebly. Volgens die Jesuïet Giuseppe Filograssi het Katolieke geleerdes nog tot in die eerste helfte van ons eeu voortgegaan om “studies en besprekings wat nie altyd bevorderlik” vir die Maria-Hemelvaartteorie was nie te publiseer. Selfs pouse, soos Leo XIII, Pius X en Benedictus XV, “was maar versigtig om hul mening daaroor uit te spreek”. Maar op 1 November 1950 het die kerk uiteindelik ’n definitiewe standpunt ingeneem. Pous Pius XII het aangekondig: “Ons verklaar dit as ’n dogma wat deur God geopenbaar is dat die Onbevlekte Moeder van God, die ewige Maagd Maria, aan die einde van haar aardse lewe met liggaam en siel tot in die heerlikheid van die hemel opgeneem is.”—Munificentissimus Deus.
Die opvatting dat Maria se liggaam hemel toe gegaan het, was nie meer fakultatief onder Katolieke nie—dit was nou ’n Kerkdogma. Pous Pius XII het verklaar dat “as enigiemand . . . dit sou waag om wat ‘Ons verklaar het’ te ontken of doelbewus daaroor twyfel te saai hy moet weet dat hy nie aan die voorskrifte van die Goddelike en Katolieke Geloof voldoen het nie”.
Wat die Skrif werklik sê
Maar op grond waarvan het die kerk hierdie sterk standpunt ingeneem? Pous Pius XII het beweer dat die Maria-Hemelvaartdogma “sy wesenlike ontstaan in die Heilige Skrif” het. Lukas 1:28, 42 is een van die tekste wat dikwels as bewys van Maria se tenhemelopneming aangehaal word. Hierdie verse sê van Maria: “Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue . . . en geseënd is die vrug van jou skoot!” Die Assumpsioniste redeneer dat Maria nooit gesterf het nie aangesien sy ‘begenadig’ was. En aangesien sy “geseënd” was soos die ‘vrug van haar skoot’ moet sy dieselfde voorregte as Jesus hê—wat sy hemelvaart insluit. Dink jy dat dit ’n grondige redenasie is?
Om maar een ding te noem: taalgeleerdes sê dat die uitdrukking “begenadigde” ’n onnoukeurige vertaling is en dat die oorspronklike Griekse uitdrukking wat Lukas gebruik het meer akkuraat as “voorwerp van God se guns” weergegee word. Die Katolieke Jerusalem Bible gee Lukas 1:28 dus soos volg weer: “Wees verheug, o hoog begunstigde!” Daar bestaan geen rede om tot die slotsom te kom dat Maria se liggaam in die hemel opgeneem is net omdat sy ‘hoog begunstig’ was deur God nie. Die Katolieke Douay-Bybel sê eweneens dat die eerste Christenmartelaar, Stefanus, hoog begunstig of ‘begenadig’ was—en daar word nie gesê dat sý vleeslike liggaam opgewek is nie.—Handelinge 6:8.
Maar was Maria dan nie geseënd of begunstig nie? Ja, maar dit is interessant dat die vrou met die naam Jael in die dae van Israel se rigters as “geseënd onder die vroue” beskou is (Rigters 5:24, Dy). Tog sal niemand beweer dat Jael se liggaam ook in die hemel opgeneem is nie. Daarbenewens word die hele idee van die Maria-Hemelvaart op die veronderstelling gegrond dat Jesus self met sy vleeslike liggaam na die hemel opgevaar het. Die Bybel sê egter dat Jesus “lewend gemaak” is, of opgewek is, “in die Gees”. (1 Petrus 3:18, Dy; vergelyk 1 Korinthiërs 15:45.) Die apostel Paulus sê verder dat “vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie”.—1 Korinthiërs 15:42-50.
Die Bybel praat weliswaar van ’n hemelse opstanding vir getroue Christene wat deur die gees gesalf is. Maar 1 Thessalonicense 4:13-17 toon duidelik dat hierdie opstanding nie voor “die wederkoms [“teenwoordigheid”, NW] van die Here”, gedurende die laaste dae van hierdie goddelose geslag, sou begin nie. Tot dan sou Maria in die dood geslaap het, saam met duisende ander getroue Christene.—1 Korinthiërs 15:51, 52.
Maria—’n vrou van geloof
Wees verseker dat ons nie hiermee te kenne wil gee dat ons Maria nie eerbiedig nie. Maria was ongetwyfeld ’n voorbeeldige vrou—een met navolgenswaardige geloof. Sy het die bevoorregte verantwoordelikheid om die moeder van Jesus te word geredelik aanvaar, tesame met al die beproewinge en opofferings wat dit sou meebring (Lukas 1:38; 2:34, 35). Saam met Josef het sy Jesus in Goddelike wysheid grootgemaak (Lukas 2:51, 52). Sy het by Jesus gebly terwyl hy aan die folterpaal gely het (Johannes 19:25-27). En as ’n getroue dissipel was sy gehoorsaam aan die bevel om in Jerusalem te bly en het sy die uitgieting van God se gees op Pinkster ervaar.—Handelinge 1:13, 14; 2:1-4.
’n Verdraaide beskouing van Maria strek nie die Skepper óf Maria tot eer nie. Die Maria-Hemelvaartdogma probeer krag verleen aan die ongegronde bewering dat Maria ’n voorspraak by God is. Maar het Jesus Christus ooit so ’n lering ondersteun? Hy het eerder gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” (Johannes 14:6, 14; vergelyk Handelinge 4:12.) Ja, net Jesus Christus, en nie Maria nie, is ’n voorspraak by die Skepper. Dit is deur Jesus—en nie deur Maria nie—dat ons ons Lewegewer om “hulp ten tye van nood” moet nader.—Hebreërs 4:16, Revised Standard Version, Catholic Edition.
Vir party is dit dalk pynlik om die waarheid omtrent Maria te aanvaar. Op sy allerminste kan dit beteken dat ’n mens van sommige lank gehuldigde opvattings en gekoesterde idees moet afsien. Maar hoewel die waarheid soms pynlik is, sal dit jou op die lange duur “vrymaak” (Johannes 8:32). Jesus het gesê dat sy Vader diegene soek wat hom “in gees en waarheid” aanbid (Johannes 4:24, Dy). Vir opregte Katolieke bied hierdie woorde ’n uitdaging.
[Voetnoot]
a In Katolisisme word ’n dogma, in teenstelling met ’n blote opvatting, as ’n waarheid beskou wat plegtig geformuleer is deur óf ’n ekumeniese raad óf deur die pous se “onfeilbare leergesag”. Die Maria-Hemelvaart is een van die leerstellings wat onlangs as sodanig deur die Katolieke Kerk geformuleer is.
[Venster op bladsy 27]
HET MARIA GESTERF?
Het Maria voor haar veronderstelde hemelvaart gesterf? Katolieke teoloë bevind hulle in ’n teologiese dilemma oor hierdie geskil. Nuovo dizionario di teologia wys daarop dat “’n mens beswaarlik sal kan sê dat Maria teen die dood gevrywaar was as nie eers Christus hierdie voorreg geniet het nie”. Om aan die ander kant te sê dat Maria wel gesterf het, gee aanleiding tot net so ’n moeilike geskil. Die teoloog Kari Børresen sê dat “die dood die straf vir die oorspronklike sonde is wat, volgens [die “Onbevlekte Ontvangenis”-leerstelling], nie op Maria van toepassing was nie”. Op grond waarvan sou sy dan sterf? Dit is geen wonder dat pous Pius XII die hele geskil van Maria se dood versigtig omseil het toe hy die Maria-Hemelvaartdogma omskryf het nie.
Die Bybel se leerstellings is gelukkig glad nie verwarrend nie. Nêrens sê dit—of gee dit selfs te kenne—dat Maria die produk van “onbevlekte ontvangenis” was nie. Dit toon eerder dat Maria ’n onvolmaakte mens was wat verlossing nodig gehad het. Daarom het sy, ná Jesus se geboorte, na die tempel toe gegaan en ’n sondoffer aan God gebring (Levitikus 12:1-8; Lukas 2:22-24). Maria het, soos alle ander onvolmaakte mense, uiteindelik gesterf.—Romeine 3:23; 6:23.
Hierdie eenvoudige waarheid vorm ’n sterk teenstelling met die onbeantwoordbare vrae wat die Maria-Hemelvaartdogma laat ontstaan het.
[Prent op bladsy 26]
‘Die Assumpsie van die Maagd’, soos geskilder deur Titiaan (ca. 1488-1576)
[Erkenning]
Giraudon/Art Resource, N.Y.
[Prent op bladsy 28]
Maria het haarself as ’n sondaar verklaar wat verlossing nodig gehad het toe sy ná Jesus se geboorte ’n sondoffer na die tempel toe gebring het