Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 3/1 bl. 8-13
  • Jehovah se oordeel teen valse leraars

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se oordeel teen valse leraars
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle “gaan om met leuens”
  • Hulle laakbare gedrag word aan die kaak gestel
  • Die oordeel oor die valse leraars
  • “Die las van Jehovah” word verkondig
  • Die Christendom word ontmasker as die voorstander van valse aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • God se oordele moet verkondig word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Glanspunte uit die boek Jeremia
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Bybelboek nommer 24—Jeremia
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 3/1 bl. 8-13

Jehovah se oordeel teen valse leraars

“By die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens . . . Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra.”—JEREMIA 23:14.

1. Waarom neem enigeen wat ander aangaande God onderrig ’n baie ernstige verantwoordelikheid op hom?

ENIGEEN wat ander aangaande God onderrig, neem ’n baie ernstige verantwoordelikheid op hom. Jakobus 3:1 waarsku: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ’n groter oordeel sal ondergaan.” Ja, diegene wat ander in God se Woord onderrig, het ’n groter verantwoordelikheid om aanneemlike rekenskap te gee as wat Christene oor die algemeen het. Wat sal dit vir diegene beteken wat valse leraars is? Kom ons neem die situasie in Jeremia se dag in oënskou. Ons sal sien hoe dit die dinge voorafgeskadu het wat vandag plaasvind.

2, 3. Watter oordeel het Jehovah deur Jeremia oor Jerusalem se valse leraars uitgespreek?

2 In 647 v.G.J., die 13de jaar van koning Josia se bewind, het Jeremia sy opdrag ontvang om as Jehovah se profeet op te tree. Jehovah het ’n klag teen Juda gehad en het toe vir Jeremia gestuur om dit bekend te maak. Jerusalem se valse profete, of leraars, het gedoen “wat afskuwelik is” in God se oë. Hulle was so verdorwe dat God Jerusalem en Juda met Sodom en Gomorra vergelyk het. Jeremia hoofstuk 23 vertel ons hieromtrent. Vers 14 sê:

3 “By die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra.”

4. Hoe kom die slegte sedelike voorbeeld van Jerusalem se leraars vandag met dié van die Christendom ooreen?

4 Ja, hierdie profete, of leraars, het self ’n uiters slegte sedelike voorbeeld gestel en het die mense in werklikheid aangemoedig om te doen wat húlle doen. Beskou die toestande in die Christendom vandag! Is dit nie net soos die toestande wat in Jeremia se dag geheers het nie? Vandag laat die geestelikes toe dat egbrekers en homoseksuele in hulle geledere bly en laat selfs toe dat hulle kerkdienste lei. Moet dit ons dan enigsins verbaas dat so baie kerklidmate ook onsedelik is?

5. Waarom is die Christendom se onsedelike toestand erger as dié van Sodom en Gomorra?

5 Jehovah het die inwoners van Jerusalem met dié van Sodom en Gomorra vergelyk. Maar die Christendom se onsedelike toestand is erger as dié van Sodom en Gomorra. Ja, in Jehovah se oë is hulle selfs laakbaarder. Hulle leraars maak ’n bespotting van die Christelike sedewette. En dit skep ’n klimaat van sedelike verdorwenheid waarin daar allerlei verraderlike versoekings is om verkeerde dinge te doen. Hierdie sedelike situasie is so algemeen dat verdorwenheid vandag as normaal beskou word.

Hulle “gaan om met leuens”

6. Wat het Jeremia oor die verdorwenheid van Jerusalem se profete gesê?

6 Let nou op wat vers 14 oor die profete van Jerusalem sê. Hulle het ‘met leuens omgegaan’. En die tweede deel van vers 15 sê: “Van die profete van Jerusalem het goddeloosheid [“afvalligheid”, NW] in die hele land uitgegaan.” Dan voeg vers 16 by: “So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie.”

7, 8. Waarom is die Christendom se geestelikes soos Jerusalem se valse profete, en watter uitwerking het dit op kerkgangers?

7 Net soos die valse profete van Jerusalem gaan die Christendom se geestelikes ook met leuens om deur afvallige leerstellings te verkondig, leerstellings wat nie in God se Woord voorkom nie. Wat is van hierdie valse leerstellings? Die onsterflikheid van die siel, die Drie-eenheid, die vaevuur en ’n helse vuur waarin mense vir ewig gepynig word. Hulle streel ook die gehoor van hulle luisteraars deur dinge te verkondig wat die mense graag wil hoor. Hulle verkondig aanhoudend dat geen onheil die Christendom bedreig nie omdat hulle God se vrede geniet. Maar die geestelikes verkondig “gesigte uit hul eie hart”. Dit is valshede. Diegene wat sulke leuens glo, word geestelik vergiftig. Hulle word mislei en dit sal tot hulle vernietiging lei!

8 Let op wat Jehovah in vers 21 van hierdie valse leraars sê: “Ek het die profete nie gestuur nie, tog het hulle geloop; Ek het nie met hulle gespreek nie, tog het hulle geprofeteer.” Die hedendaagse geestelikes is eweneens nie deur God gestuur nie en hulle verkondig ook nie sy waarhede nie. Met watter gevolg? Daar heers ’n skokkende gebrek aan Bybelkennis onder kerkgangers omdat hulle leraars wêreldse filosofieë aan hulle opdis.

9, 10. (a) Watter soort drome het Jerusalem se valse leraars gehad? (b) Hoe het die Christendom se geestelikes eweneens “leuenagtige drome” verkondig?

9 Boonop verkondig die geestelikes vandag valse verwagtinge. Let op wat vers 25 sê: “Ek het gehoor wat die profete sê, wat in my Naam vals profeteer met die woorde: Ek het gedroom, ek het gedroom!” Watter soort drome is dit? Vers 32 deel ons mee: “Kyk, Ek het dit teen hulle wat leuenagtige drome profeteer, spreek die HERE, en dit rondvertel en my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery, terwyl Ek hulle nie gestuur en aan hulle geen bevel gegee het nie, en hulle vir hierdie volk hoegenaamd geen voordeel bring nie, spreek die HERE.”

10 Watter leuenagtige drome, of verwagtinge, het die geestelikes verkondig? Dat die mens se enigste hoop op vrede en veiligheid vandag die Verenigde Nasies is. In onlangse jare het hulle die VN “die laaste hoop op harmonie en vrede”, “die hoogste forum vir vrede en geregtigheid” en “die vernaamste wêreldlike hoop op wêreldvrede” genoem. Wat ’n leuen! Die mensdom se enigste hoop is God se Koninkryk. Maar die geestelikes verkondig en leer mense nie die waarheid aangaande hierdie hemelse regering, wat die hooftema van Jesus se prediking was, nie.

11. (a) Watter slegte uitwerking het Jerusalem se valse leraars op God se naam gehad? (b) Wat het die hedendaagse valse godsdiensleraars, in teenstelling met die Jeremia-klas, met betrekking tot die Goddelike naam gedoen?

11 Vers 27 vertel ons meer. “Hulle dink hulle sal my volk my Naam laat vergeet met die drome wat hulle vir mekaar vertel, net soos hulle voorvaders my Naam deur die Baäl vergeet het” (NAV). Die valse profete van Jerusalem het die volk God se naam laat vergeet. Doen die hedendaagse valse godsdiensleraars dit nie ook nie? Hulle doen eintlik iets ergers: Hulle verberg God se naam, Jehovah. Hulle leer mense dat dit nie nodig is om dit te gebruik nie, en hulle verwyder dit uit hulle Bybelvertalings. Hulle staan enigeen ten sterkste teë wat die mense leer dat God se naam Jehovah is. Maar die Jeremia-klas, die oorblyfsel van geesgesalfde Christene, tesame met hulle metgeselle, het gedoen presies wat Jesus gedoen het. Hulle het miljoene mense geleer wat God se naam is.—Johannes 17:6.

Hulle laakbare gedrag word aan die kaak gestel

12. (a) Waarom rus daar groot bloedskuld op die valse godsdiensleraars? (b) Watter rol het die geestelikes in die twee wêreldoorloë gespeel?

12 Die Jeremia-klas het die geestelikes al herhaaldelik aan die kaak gestel as valse leraars wat hulle kuddes op die breë weg na vernietiging lei. Ja, die oorblyfsel het ondubbelsinnig verklaar waarom daardie dromers Jehovah se ongunstige oordeel verdien. Jehovah se knegte het byvoorbeeld al dikwels na Openbaring 18:24 verwys, wat sê dat die bloed van “almal wat op die aarde gedood is” in Babilon die Grote gevind is. Dink aan al die oorloë wat al weens godsdiensgeskille gevoer is. Hoe groot is die bloedskuld tog wat op die valse godsdiensleraars rus! Hulle leringe het verdeeldheid veroorsaak en haat aangeblaas teenoor mense van ander gelowe en nasionaliteite. Die boek Preachers Present Arms sê die volgende aangaande die Eerste Wêreldoorlog: “Die geestelikes het aan die oorlog sy vurige geestelike betekenis en dryfkrag verleen. . . . Sodoende het die kerk ’n integrerende deel van die oorlogstelsel geword.” Dit was ook gedurende die Tweede Wêreldoorlog die geval. Die geestelikes het die strydende nasies ten volle ondersteun en hulle troepe geseën. Twee wêreldoorloë waarin mense van dieselfde geloof mekaar afgemaai het, het in die Christendom ontstaan. Sekulêre en godsdiensfaksies binne die Christendom veroorsaak tot vandag toe nog bloedvergieting. Watter verskriklike gevolge het hulle valse leringe tog nie gehad nie!

13. Hoe toon Jeremia 23:22 dat die Christendom se geestelikes geen verhouding met Jehovah het nie?

13 Let nou op wat Jeremia hoofstuk 23, vers 22, sê: “As hulle in my raad [“intieme groep”, NW] gestaan het, moet hulle my volk my woorde laat hoor en hulle terugbring van hul verkeerde weg en van die boosheid van hul handelinge.” As die Christendom se godsdiensprofete in Jehovah se intieme groep gestaan het en ’n hegte verhouding soos ’n getroue en verstandige kneg met hom geniet het, sou hulle ook volgens God se standaarde gelewe het. Hulle sou ook die volke van die Christendom God se eie woorde laat hoor het. In plaas daarvan het die hedendaagse valse leraars hulle volgelinge verblinde knegte van God se Teenstander, Satan die Duiwel, gemaak.

14. Watter kragtige verklaring omtrent die Christendom se geestelikes is in 1958 voorgelees?

14 Die geestelikes is op ’n kragtige wyse deur die Jeremia-klas aan die kaak gestel. By die Goddelike Wil- Internasionale Byeenkoms van Jehovah se Getuies in 1958 in die stad New York het die visepresident van die Wagtoringgenootskap byvoorbeeld ’n verklaring voorgelees wat ten dele gelui het: “Sonder enige dubbelsinnigheid of aarseling verklaar ons dat hierdie grondoorsaak van al die misdaad, bandeloosheid, haat, twis, vooroordeel . . . en dolle verwarring verkeerde godsdiens, valse godsdiens, is, waaragter die mens se onsigbare vyand, Satan die Duiwel, sit. Die mense wat mees aanspreeklik is vir die wêreldtoestand is die godsdiensonderrigters en -leiers, en die laakbaarste van hulle is die geestelikes van die Christendom. . . . Ná al hierdie jare sedert die Eerste Wêreldoorlog staan die Christendom in ’n verhouding met God soortgelyk aan dié van Israel in Jeremia se dag. Ja, die Christendom staan voor ’n vernietiging wat meer skrikwekkend en verwoestend is as dié wat Jeremia met Jerusalem en sy tempel sien gebeur het.”

Die oordeel oor die valse leraars

15. Watter profesieë oor vrede het die geestelikes verkondig? Sal hulle vervul word?

15 Hoe het die geestelikes sedertdien, ondanks hierdie waarskuwing, opgetree? Presies soos vers 17 dit beskryf: “Hulle sê gedurig aan my veragters: Die HERE het gespreek: Julle sal vrede hê; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie.” Is dit waar? Nee! Jehovah sal die valsheid van hierdie profesieë van die geestelikes blootlê. Hy sal nie die dinge vervul wat hulle in sy naam verkondig nie. Die geestelikes se valse versekering van vrede met God is nietemin baie misleidend!

16. (a) Wat is die sedelike klimaat van hierdie wêreld, en wie dra ook die verantwoordelikheid daarvoor? (b) Wat doen die Jeremia-klas omtrent die verdorwe sedelike beskouings van hierdie wêreld?

16 Dink jy dalk: ‘Wat! Sal ek my deur die geestelikes se valse leringe laat mislei? Nooit!’ Wel, moenie so seker wees nie! Hou in gedagte dat die geestelikes se valse leringe ’n verraderlike, gruwelike sedelike klimaat bevorder het. Hulle permissiewe leringe regverdig feitlik enigiets, al is dit ook hoe onsedelik. En hierdie verdorwe sedelike klimaat dring tot alle vorme van vermaak, rolprente, TV, tydskrifte en musiek deur. Daarom moet ons uiters versigtig wees dat ons nie beïnvloed word deur hierdie verdorwe, maar subtiel aanloklike, sedelike atmosfeer nie. Jongmense kan in verderflike video’s en musiek verstrik raak. Onthou dat hierdie gesindheid van die mense vandag, naamlik dat alles toelaatbaar is, ’n regstreekse gevolg is van die geestelikes se valse leringe en hulle versuim om God se regverdige standaarde te handhaaf. Die Jeremia-klas beveg hierdie onsedelike beskouings en help Jehovah se knegte om die verdorwenheid te verwerp wat in die Christendom hoogty vier.

17. (a) Watter oordeel sou volgens Jeremia oor die goddelose Jerusalem kom? (b) Wat gaan binnekort met die Christendom gebeur?

17 Watter oordeel sal die Christendom se valse leraars van Jehovah, die groot Regter, ontvang? Verse 19, 20, 39 en 40 verstrek die antwoord: “Kyk, ’n storm van die HERE, grimmigheid het uitgegaan, ja, ’n dwarrelstorm! Op die hoof van die goddelose mense breek dit los. Die toorn van die HERE sal nie afgewend word nie, totdat Hy uitgevoer en tot stand gebring het die raadslae van sy hart; . . . Ek sal julle sekerlik ophef en julle, saam met die stad wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, van my aangesig af wegwerp; en Ek sal julle ’n ewige smaad oplê en ’n ewige skande wat nie vergeet sal word nie.” Dit alles het met die goddelose Jerusalem en sy tempel gebeur, en nou gaan ’n soortgelyke onheil binnekort die goddelose Christendom tref!

“Die las van Jehovah” word verkondig

18, 19. Watter “las van Jehovah” het Jeremia aan Juda verkondig, en wat sou dit vir hulle beteken?

18 Watter verantwoordelikheid rus derhalwe op die Jeremia-klas en hulle metgeselle? Vers 33 deel ons mee: “Wanneer hierdie volk of die profeet of priester jou vra en sê: ‘Wat is die las van Jehovah?’ moet jy ook vir hulle sê: ‘“Julle is—o wat ’n las! En ek sal julle gewis verlaat”, is die uitspraak van Jehovah.’”—NW.

19 Die Hebreeuse woord vir “las” het twee betekenisse. Dit kan verwys na ’n gewigtige Goddelike uitspraak of na iets wat swaar op ’n mens rus en jou uitput. Hier verwys die uitdrukking “las van Jehovah” na ’n gewigtige profesie—die uitspraak dat Jerusalem tot vernietiging gedoem was. Het die volk daarvan gehou om hierdie gewigtige profetiese uitsprake aan te hoor wat Jeremia herhaaldelik van Jehovah af aan hulle oorgedra het? Nee, die volk het Jeremia uitgejou: ‘Watter profesie (las) het jy nou? Ons is seker jou profesie sal nóg ’n vermoeiende las wees!’ Maar wat het Jehovah vir hulle gesê? Die volgende: “Julle is—o wat ’n las! En ek sal julle gewis verlaat.” Ja, hierdie volk was ’n las vir Jehovah en hy sou van hulle ontslae raak sodat hulle nie meer ’n las vir hom sou wees nie.

20. Wat is “die las van Jehovah” vandag?

20 Wat is “die las van Jehovah” vandag? Dit is die gewigtige profetiese boodskap van God se Woord. Dit is gelaai met verdoeming, want dit kondig die Christendom se dreigende vernietiging aan. Wat Jehovah se volk betref, op ons rus die ernstige verantwoordelikheid om hierdie “las van Jehovah” bekend te maak. Namate die einde nader kom, moet ons aan almal verkondig dat die Christendom se afvallige mense vir Jehovah God ’n “las”, ja, “o wat ’n las!” is en dat hy hom binnekort van hierdie “las” gaan bevry deur die Christendom aan vernietiging oor te gee.

21. (a) Waarom is Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig? (b) Wat het ná Jerusalem se vernietiging met die valse profete en met Jehovah se ware profeet gebeur, en watter versekering gee dit ons vandag?

21 Jehovah se oordeel is in Jeremia se dag voltrek toe die Babiloniërs Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig het. Soos voorspel is, was dit vir daardie hardnekkige, ontroue Israeliete ‘’n smaad en ’n skande’ (Jeremia 23:39, 40). Dit het hulle laat besef dat Jehovah, vir wie hulle herhaaldelik gesmaad het, hulle uiteindelik verlaat het om die gevolge van hulle verdorwenheid te dra. Die monde van hulle vermetele valse profete is uiteindelik gesnoer. Maar Jeremia se mond het aangehou profeteer. Jehovah het hom nie verlaat nie. Net soos in die geval van Jeremia sal Jehovah ook nie die Jeremia-klas verlaat wanneer die voltrekking van sy gewigtige beslissing die lewe uit die Christendom se geestelikes en die mense wat hulle leuens glo, uitpers nie.

22. Tot watter toestand sal die Christendom as gevolg van Jehovah se oordele gebring word?

22 Ja, die godsdienstige Christendom sal, nadat sy van haar rykdom gestroop en skandelik aan die kaak gestel is, in net so ’n verlate en onbewoonde toestand wees as wat Jerusalem ná 607 v.G.J. was. Dít is die verdiende oordeel wat Jehovah oor die valse leraars gevel het. Daardie oordeel sal beslis voltrek word. Net soos al Jeremia se geïnspireerde waarskuwingsboodskappe in die verlede bewaarheid is, sal hulle ook in hulle hedendaagse vervulling bewaarheid word. Laat ons dus soos Jeremia wees. Laat ons die profetiese las van Jehovah onverskrokke aan die mense bekend maak, sodat hulle sal weet waarom die volle maat van sy regverdige oordeel oor alle valse godsdiensleraars gaan kom!

Hersieningsvrae

◻ Hoe verdorwe was eertydse Jerusalem in Jehovah se oë?

◻ In watter opsigte het die Christendom ‘met leuens omgegaan’?

◻ Hoe is die laakbare gedrag van die hedendaagse geestelikes aan die kaak gestel?

◻ Watter “las van Jehovah” word nou verkondig?

[Prent op bladsy 8]

Jerusalem se profete het gedoen ‘wat afskuwelik was’

[Prent op bladsy 9]

“Gesigte uit hul eie hart verkondig hulle”

[Prent op bladsy 10]

Jerusalem ná sy vernietiging toon wat uiteindelik met die Christendom gaan gebeur

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel