Doen jy God se wil?
TWEE van Jehovah se Getuies het tydens hulle bediening van huis tot huis ’n priester van die Episkopaalse Kerk teëgekom. Hy was ’n vriendelike, bebaarde man van ongeveer 60 met ’n T-hemp aan waarop die naam van sy kerk gepryk het. Hy het in een asem gesê: “Ek wens ons kerklidmate was so ywerig soos julle om die Woord te verkondig, maar ek sal julle moet vra om nie meer na my huis toe te kom nie.”
Ja, baie mense bewonder die werk van Jehovah se Getuies en prys hulle vir hulle ywer en geesdrif. Tog stel hulle glad nie belang in wat die Getuies doen nie, en hulle sal dit ook nie oorweeg om self die werk te doen nie. Hierdie klaarblyklike teenstrydigheid is egter niks nuuts nie. Jesus het dit al in sy tyd gesien, en hy het hierdie punt deur middel van ’n gedagteprikkelende illustrasie sterk beklemtoon.
“Wat dink julle? ’n Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan. Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie. Wie van die twee het die wil van die vader gedoen?”—Mattheüs 21:28-31.
Die antwoord is voor die hand liggend. Soos die skare wat na Jesus geluister het, sal ons antwoord: “Die eerste.” Wat egter nie so voor die hand liggend is nie, is dat Jesus deur middel van daardie illustrasie ons aandag op die feit gevestig het dat dit die doen van die vader se wil is wat getel het. Hoewel die eerste seun gesê het dat hy nie wil gaan nie, het hy tog gegaan en is hy daarvoor geprys. Dit is net so belangrik om die regte soort werk te doen. Die eerste seun het handelend opgetree deur in die vader se wingerd te werk; hy het nie in sy eie wingerd gaan werk nie.
Wat beteken dit alles vir ons? Wat verwag God vandag van aanbidders? Wat kan ons uit Jesus se lewe leer wat ons sal help om sy Vader se wil te doen? Dit is belangrike vrae, en ons moet ter wille van ons ewige welsyn die regte antwoorde daarop vind, aangesien ‘hy wat die wil van God doen, vir ewig bly’.—1 Johannes 2:17; Efesiërs 5:17.
Wat is die “wil van God”?
Die selfstandige naamwoord “wil” kom meer as 80 keer in die Comprehensive Concordance of the New World Translation of the Holy Scriptures voor. In ongeveer 60 van hierdie gevalle (of ongeveer 75 persent van die kere) verwys dit na God se wil. Uitdrukkings soos “wil van God”, “wil van my Vader” en “God se wil” verskyn meer as 20 keer. Hieruit kan ons sien dat die Goddelike wil vir ons van die grootste belang moet wees. Om God se wil te doen, moet die hoofsaak in ons lewe wees.
Die Afrikaanse selfstandige naamwoord “wil” beteken ‘begeerte, wens, vaste voorneme, strewe, veral ’n keuse of vaste voorneme van iemand wat mag of gesag het’. Jehovah, die Opperste Gesag, het dus ’n wil, ’n begeerte of ’n vaste voorneme. Wat is dit? Die Skrif sê vir ons dat God deels “wil hê dat alle mense gered word en tot [“juiste”, NW] kennis van die waarheid kom” (1 Timotheüs 2:4). Jesus Christus en die vroeë Christene het heelhartig gewerk om hierdie juiste kennis na ander te neem.—Mattheüs 9:35; Handelinge 5:42; Filippense 2:19, 22.
Wie doen vandag God se wil? Hoeveel onder die byna tweemiljard mense wat beweer dat hulle volgelinge van Jesus Christus is, is soos die eerste seun in Jesus se illustrasie wat die wil van sy vader gaan doen het? Dit is nie moeilik om die antwoord te vind nie. Ware voetstapnavolgers van Jesus Christus sou besig wees met die werk wat hy gesê het hulle sou doen: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” (Markus 13:10). Jehovah se Getuies, wat wêreldwyd meer as vier en ’n half miljoen tel, is inderdaad besig om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en ander te onderrig deur die aandag op die Koninkryk te vestig as die mens se enigste hoop vir vrede en veiligheid. Het jy ’n volle aandeel daaraan om die wil van God te doen? Verkondig jy, soos Jesus, die goeie nuus van die Koninkryk?—Handelinge 10:42; Hebreërs 10:7.
Put vreugde daaruit om God se wil te doen
Hoewel dit vreugde verskaf om te leer wat die Vader se wil is, verskaf dit groter vreugde om ander te leer wat God se wil is. Jesus het vreugde daaruit geput om mense van sy Vader te leer. Dit was vir hom soos voedsel (Johannes 4:34). Ons sal ook ware vreugde ondervind as ons doen wat Jesus gedoen het, naamlik om die dinge wat hy ander geleer het, die dinge wat hy van sy Vader ontvang het, aan ander te vertel en te leer (Mattheüs 28:19). “As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen”, het Jesus belowe.—Johannes 13:17.
Ter toeligting: ’n Ma wat onlangs weer die voltydse pionierbediening betree het, het gesê: “Dit is so opwindend om te sien hoe die gesig van ’n Bybelstudent verhelder namate verskillende Bybelwaarhede die persoon se hart raak! Dit is vir my so ’n vreugde om te sien hoe een spesifieke student al die tekste voor die studie uitskryf en tydens die studie aantekeninge maak sodat sy later alle hersieningsvrae kan beantwoord.” Nog een van haar Bybelstudente het in haar vroeë tienderjare kontak met die waarheid gehad. Sy was nou getroud en bekommerd oor persoonlike probleme en het gewens sy kon met die Getuies in aanraking kom. Hoe bly was sy tog toe die pioniersuster haar gevind het! Die jong vrou was verheug om haar Bybelstudie voort te sit.
Behou die vreugde om God se wil te doen
Koning Dawid van eertydse Israel was iemand wat sy hele lewe lank daarna gestrewe het om God se wil te doen. Ten spyte van die baie ontberinge en druk waarmee hy te kampe gehad het, is hy geïnspireer om te sê: “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande” (Psalm 40:9). Om Jehovah se wil te doen, was ’n deel van Dawid se siel, sy wese. Dit was die geheim van sy onverwelklike vreugde in Jehovah se diens. Dit was nie vir Dawid moeilik om God se wil te doen nie. Dit was eerder ’n genot, iets wat uit sy hart gekom het. Hy het sy hele lewe lank daarna gestrewe om sy God, Jehovah, na sy beste vermoë te dien al het hy soms gesondig en te kort geskiet.
Ons vreugde kan soms afneem. Ons kan moeg of mismoedig raak. Miskien spook ons verlede by ons omdat ons gewete ons kwel oor die een of ander sonde wat ons lank gelede gedoen het. Ons kan hierdie gevoelens dikwels oorwin deur ’n deegliker studie van God se Woord te maak. Ons kan daarna strewe om, soos Dawid, God se wet op ons “ingewande” te skryf. As ons God se wil van harte, dit wil sê na ons beste vermoë, probeer doen, sal hy ons dienooreenkomstig beloon omdat hy getrou is.—Efesiërs 6:6; Hebreërs 6:10-12; 1 Petrus 4:19.
Dit is interessant dat die apostel Paulus in Hebreërs 10:5-7 Dawid se woorde in Psalm 40:7-9 aangehaal en hulle op Jesus Christus toegepas het. Daardeur het Paulus getoon hoe na Jesus aan sy Vader was. Die Hebreeuse woord vir “wil” dra die gedagte oor van ‘genot, begeerte, guns of behae’. Psalm 40:9 sê dus as ’t ware van die Christus: “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen.”a Jesus wou doen wat sy Vader behaag. Jesus het meer gedoen as wat van hom verwag is. Hy het gedoen wat sy Vader na aan die hart gelê het, en hy het dit geniet.
Die middelpunt van Jesus se hele lewe was om ander te leer wat God se wil is en wat hulle moet doen om God se seën te verkry. Hy was ’n voltydse prediker en onderrigter en het baie vreugde uit daardie werk geput. Hoe meer ons Jehovah se werk doen, des te meer vreugde sal ons ondervind. Kan jy ook aan die voltydse predikingswerk deelneem sodat jou vreugde ook oorvloedig kan wees?
Nog iets wat ons kan help om ons vreugde te behou wanneer ons God se wil doen, is om die toekoms duidelik voor oë te hou. Dit is wat Jesus gedoen het. “Vir die vreugde wat vir hom in die vooruitsig gestel is, het hy ’n folterpaal verduur, die skande verag.” Vir hom het die vreugde daarin gelê dat hy tot die einde toe getrou aan God gebly het en daarna die beloning van koningskap aan sy Vader se regterhand ontvang het.—Hebreërs 12:2, NW.
Stel jou net die toekomstige vreugde voor van diegene wat aanhou om God se wil te doen. Hulle sal sien hoe diegene vernietig word wat daarop aandring om hulle eie, selfsugtige wil te doen selfs as dit lyding veroorsaak vir ander wat God se wil probeer doen (2 Thessalonicense 1:7, 8). Dink aan die vreugde van verrese geliefdes wat die geleentheid gebied word om God se wil te leer en te doen. Of dink aan God se voorneme om die aarde tot die Paradys te herstel. En stel jou laastens die vryheid voor wat dit sal meebring wanneer Satan, die teenstander van Jehovah se wil, heeltemal vernietig word.
Ja, as ’n mens God se wil doen, sal dit vandag baie vreugde meebring en eindelose geluk in die toekoms. Ongeag wat mense se reaksie op die predikingswerk is, ons moet Jesus se voorbeeld navolg deur vreugde daaruit te put om sy Vader se wil te doen.
[Voetnoot]
a Sien voetnoot oor Psalm 40:8 in NW.