Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 3/15 bl. 3-7
  • Die Here se Aandmaal—Hoe dikwels moet dit gevier word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Here se Aandmaal—Hoe dikwels moet dit gevier word?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die één viering
  • Die apostoliese gebruik verkeer in gevaar
  • ’n Geskil ontstaan
  • Afvalligheid ontwikkel
  • Wat van vandag?
  • Waarom moet ons die Here se Aandmaal vier?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • 14 Nisan—’n gedenkdag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • ‘Dit moet vir julle as ’n gedagtenis dien’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Van seder tot redding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 3/15 bl. 3-7

Die Here se Aandmaal—Hoe dikwels moet dit gevier word?

KERSFEES, Paasfees, dae van die “heiliges”. Daar is baie vakansiedae en feeste wat deur die kerke van die Christendom gevier word. Maar weet jy hoeveel vierings Jesus Christus sy volgelinge beveel het om te hou? Die antwoord is: Net een! Nie een van die ander feeste is deur die Stigter van die ware Christelike godsdiens ingestel nie.

Indien Jesus net een viering ingestel het, moet dit ongetwyfeld baie belangrik wees. Christene moet dit vier presies soos Jesus beveel het. Wat was hierdie unieke viering?

Die één viering

Hierdie viering is deur Jesus ingestel die dag toe hy gesterf het. Hy het die Joodse Pasgafees saam met sy apostels herdenk. Toe het hy van die ongesuurde Pasgabrood omgestuur en gesê: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word.” Daarna het Jesus ’n beker wyn omgestuur en gesê: “Hierdie beker is die nuwe testament [“verbond”, NW] in my bloed wat vir julle uitgestort word.” Hy het ook gesê: “Doen dit tot my gedagtenis” (Lukas 22:19, 20; 1 Korinthiërs 11:24-26). Hierdie viering word die Here se Aandmaal, of die Gedenkmaal, genoem. Dit is die enigste viering wat Jesus sy volgelinge beveel het om te hou.

Baie kerke sê dat hulle hierdie viering sowel as al hulle ander feeste hou, maar die meeste van hulle herdenk dit nie soos Jesus beveel het nie. Die opmerklikste verskil is waarskynlik hoe dikwels hierdie viering plaasvind. Party kerke vier dit maandeliks, weekliks of selfs daagliks. Is dit wat Jesus in gedagte gehad het toe hy vir sy volgelinge gesê het: “Doen dit tot my gedagtenis”? The New English Bible sê: “Doen dit as ’n herdenking aan my” (1 Korinthiërs 11:24, 25). Hoe dikwels word ’n gedenkfees of ’n herdenking gevier? Gewoonlik net een maal per jaar.

Hou ook in gedagte dat Jesus hierdie viering op 14 Nisan, volgens die Joodse kalender, ingestel het en toe op daardie dag gesterf het.a Dit was die dag van die Pasga, ’n fees wat die Jode herinner het aan hulle groot verlossing uit Egipte in die 16de eeu v.G.J. Deur ’n lam te offer, is die redding van die Joodse eersgeborenes destyds bewerkstellig, terwyl Jehovah se engel al die eersgeborenes van Egipte om die lewe gebring het.—Exodus 12:21, 24-27.

Hoe help hierdie feite ons? Wel, die Christenapostel Paulus het geskryf: “Ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korinthiërs 5:7). Jesus se dood was ’n groter Pasga-offer, wat die mensdom die geleentheid op ’n veel groter redding bied. Vir Christene het die herdenking van Christus se dood dus die Joodse Pasga vervang.—Johannes 3:16.

Die Pasga was ’n jaarlikse viering. Die Gedenkmaal is dus logieserwys ook ’n jaarlikse viering. Die Pasga—die dag waarop Jesus gesterf het—het altyd op die 14de dag van die Joodse maand Nisan geval. Christus se dood moet derhalwe een keer per jaar herdenk word op die kalenderdag wat met 14 Nisan ooreenstem. In 1994 val daardie dag op Saterdag, 26 Maart, ná sononder. Maar waarom het die kerke van die Christendom nie hierdie dag vir ’n spesiale viering opsy gesit nie? ’n Vlugtige kykie na die geskiedenis sal hierdie vraag beantwoord.

Die apostoliese gebruik verkeer in gevaar

Dit ly geen twyfel nie dat diegene wat gedurende die eerste eeu G.J. deur Jesus se apostels gelei is die Here se Aandmaal gevier het presies soos hy beveel het. Maar gedurende die tweede eeu het party die tyd van hierdie herdenking begin verander. Hulle het die Gedenkmaal op die eerste dag van die week (wat nou ’n Sondag is) gehou, en nie op die dag wat met 14 Nisan ooreenstem nie. Waarom het hulle dit gedoen?

Die Jode se dag het omstreeks sesuur in die aand begin en tot dieselfde tyd die volgende dag geduur. Jesus het op 14 Nisan, 33 G.J., gesterf, ’n dag wat Donderdagaand begin het en Vrydagaand geëindig het. Hy is op die derde dag, vroeg Sondagoggend, opgewek. Party wou hê dat Jesus se dood elke jaar op ’n spesifieke dag van die week herdenk moes word, in plaas van op die dag waarop 14 Nisan geval het. Hulle het ook die dag van Jesus se opstanding belangriker geag as die dag van sy dood. Daarom het hulle op Sondag besluit.

Jesus het beveel dat sy dóód, nie sy opstanding nie, herdenk moet word. En aangesien die Joodse Pasga, volgens die Gregoriaanse kalender wat ons nou gebruik, elke jaar op ’n ander dag val, is dit net logies dat dieselfde vir die Gedenkmaal sal geld. Baie het dus by die oorspronklike reëling gebly en die Here se Aandmaal elke jaar op 14 Nisan gevier. Hulle is mettertyd die Quartodecimane genoem, wat “Veertienders” beteken.

Party geleerdes het erken dat hierdie “Veertienders” die oorspronklike apostoliese patroon gevolg het. Een geskiedskrywer het gesê: “Wat die dag vir die viering van die Pase [die Here se Aandmaal] betref, die gebruik van die Quartodecimaanse kerke van Asië het gestrook met dié van die kerk in Jerusalem. In die 2de eeu het hierdie kerke tydens hulle Pase op die 14de Nisan die verlossing herdenk wat die dood van Christus teweeggebring het.”—Studia Patristica, Deel V, 1962, bladsy 8.

’n Geskil ontstaan

Hoewel baie in Klein-Asië die apostoliese gebruik gevolg het, is Sondag vir die viering in Rome opsy gesit. In ongeveer 155 G.J. het Polycarpus van Smirna, ’n verteenwoordiger van die gemeentes in Asië, Rome besoek om hierdie en ander probleme te bespreek. Ongelukkig is geen ooreenkoms oor hierdie aangeleentheid bereik nie.

Ireneus van Lyon het in ’n brief geskryf: “Anicetus [van Rome] kon Polycarpus nie oorreed om nie te vier wat hy altyd saam met Johannes, die dissipel van ons Here, en die ander apostels met wie hy omgegaan het, gevier het nie; en Polycarpus kon ook nie vir Anicetus oorreed om dit te vier nie, want Anicetus het gesê hy moet hou by die gebruike van die ouderlinge voor hom” (Eusebius, Deel 5, hoofstuk 24). Let daarop dat Polycarpus blykbaar sy standpunt op die gesag van die apostels gebaseer het, terwyl Anicetus hom op die gebruik van die vorige ouderlinge in Rome beroep het.

Hierdie geskil het teen die einde van die tweede eeu G.J. verskerp. In ongeveer 190 G.J. is ’n sekere Victor as biskop van Rome verkies. Hy het geglo dat die Here se Aandmaal op ’n Sondag gevier moet word en het die ondersteuning van soveel ander leiers as moontlik probeer verkry. Victor het druk op die gemeentes in Asië uitgeoefen om die viering na ’n Sondag te verskuif.

Polukrates van Efese het namens diegene in Klein-Asië geantwoord en geweier om voor hierdie druk te swig. Hy het gesê: “Ons vier die dag sonder om daaraan te verander—ons voeg niks by nie en neem niks weg nie.” Hy het toe talle gesaghebbendes se name genoem, waaronder die apostel Johannes. “Hulle almal”, het hy volgehou, “het volgens die Evangelie die Pase op die veertiende dag gevier en het hoegenaamd nie daarvan afgewyk nie.” Polukrates het bygevoeg: “Wat my betref, broeders, . . . ek word nie deur dreigemente afgeskrik nie. Want dié wat my meerderes was, het gesê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Eusebius, Deel 5, hoofstuk 24.

Victor was ontevrede oor hierdie antwoord. Een geskiedkundige werk sê dat hy “al die Asiatiese Kerke geëkskommunikeer het, en hy het sy omsendbriewe aan al die Kerke gestuur wat sy mening gedeel het en hulle aangesê om geen gemeenskap met hulle te hou nie”. Maar “al die verstandige en nugterdenkende manne onder sy eie ondersteuners was verontwaardig oor hierdie voortvarende en vermetele daad van hom en heelparty het sterk briewe aan hom geskryf en hom gemaan . . . om die liefde, eenheid en vrede te bewaar”.—Bingham se Antiquities of the Christian Church, Deel 20, hoofstuk 5.

Afvalligheid ontwikkel

Ondanks sulke besware is die Christene in Klein-Asië al hoe minder betrek in die kwessie oor wanneer die Here se Aandmaal gevier moes word. Verskillende gebruike het elders ingesluip. Party het die Aandmaal van 14 Nisan af tot die volgende Sondag gevier. Ander het die geleentheid meer dikwels gevier—elke week op ’n Sondag.

In 314 G.J. het die Konsilie van Arles (Frankryk) die Romeinse reëling verpligtend probeer maak en enige ander reëling probeer smoor. Die oorblywende Quartodecimane het by hulle standpunt gebly. Die heidense keiser Konstantyn het in 325 G.J. ’n ekumeniese sinode, die Konsilie van Nicea, belê om besluite te neem oor hierdie en ander sake wat die verklaarde Christene in sy ryk verdeel het. Dit het ’n dekreet uitgevaardig wat almal in Klein-Asië beveel het om die Romeinse gebruik aan te neem.

Dit is interessant om te let op een van die vernaamste argumente wat voorgelê is as ’n rede om nie meer die herdenking van Christus se dood volgens die datum op die Joodse kalender te hou nie. A History of the Christian Councils, deur K. J. Hefele, sê: “Daar is verklaar dat dit besonder onvanpas was om hierdie, die heiligste van alle feeste, te hou volgens die gebruik (die berekening) van die Jode, wat hulle hande bevlek het met die allerverskriklikste misdaad en wat in hulle verstand verblind was” (Deel 1, bladsy 322). Om in so ’n posisie te wees, is beskou as ’n “‘vernederende onderworpenheid’ aan die Sinagoge wat die Kerk ergernis veroorsaak het”, sê J. Juster, volgens die aanhaling in Studia Patristica, Deel IV, 1961, bladsy 412.

Antisemitisme! Dié wat die herdenking van Jesus se dood op die dag van sy dood gevier het, is as Judaïseerders beskou. Daar is vergeet dat Jesus self ’n Jood was en dat hý aan die dag sy betekenis gegee het deur sy lewe op daardie dag ten behoewe van die mensdom op te offer. Die Quartodecimane is van toe af as ketters en skismatici veroordeel en is vervolg. Die Konsilie van Antiochië het in 341 G.J. beveel dat hulle geëkskommunikeer moet word. Daar was nietemin in 400 G.J. nog baie van hulle, en lank daarna het klein groepies van hulle nog voorgekom.

Die Christendom het sedertdien nie weer na Jesus se oorspronklike reëling teruggekeer nie. Professor William Bright het erken: “Toe ’n spesiale dag, Goeie Vrydag, vir die herdenking van die Passie self aangewys is, was dit te laat om dit te beperk tot die ‘pasgale’ assosiasies wat deur St. Paulus met die offerdood gekoppel is: die assosiasies is vryelik met die Opstandingsfees self gekoppel, en ’n verwarring van idees het in die rituele voorskrifte van die Griekse en Latynse Christendom ontstaan.”—The Age of the Fathers, Deel 1, bladsy 102.

Wat van vandag?

Jy vra dalk: ‘Maak dit werklik ná al hierdie jare saak wanneer die Gedenkmaal gehou word?’ Ja, dit maak saak. Veranderinge is deur wilskragtige manne gemaak wat vir hulle mag wou inpalm. Mense het hulle eie idees gevolg pleks van Jesus Christus te gehoorsaam. Dit was ’n duidelike vervulling van die apostel Paulus se waarskuwing: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle [die Christene] sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.”—Handelinge 20:29, 30.

Gehoorsaamheid is hier ter sprake. Jesus het net een viering vir Christene ingestel. Die Bybel toon duidelik wanneer en hoe dit gevier moet word. Wie het dan die reg om dit te verander? Die eertydse Quartodecimane was bereid om eerder vervolg en geëkskommunikeer te word as om hulle standpunt hieroor prys te gee.

Jy sal dit dalk interessant vind om te weet dat daar steeds Christene op aarde is wat Jesus se wense respekteer en die herdenking van sy dood vier op die dag wat hy vasgestel het. Vanjaar sal Jehovah se Getuies op Saterdag, 26 Maart, ná 6:00 nm.—wanneer die 14de dag van Nisan begin—in hulle Koninkryksale reg rondom die wêreld vergader. Hulle sal dan doen presies wat Jesus gesê het op hierdie allerbelangrikste tyd gedoen moet word. Vergader gerus saam met hulle om die Here se Aandmaal te vier. As jy teenwoordig is, kan ook jy jou respek vir Jesus Christus se wense toon.

[Voetnoot]

a  Nisan, die eerste maand van die Joodse kalender, het met die eerste verskyning van die nuwemaan begin. Die veertiende Nisan het dus altyd op volmaan geval.

[Venster op bladsy 6]

“DAARDIE KOSBARE LOSPRYS”

Die losprysoffer van Jesus Christus is nie bloot ’n leerstelling nie. Jesus het aangaande homself gesê: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Markus 10:45). Hy het ook verduidelik: “So lief het God die wêreld [of, die mensdom] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die losprys maak dit vir die dooies moontlik om ’n opstanding te kry en die vooruitsig op die ewige lewe te hê.—Johannes 5:28, 29.

Dit is die uiters belangrike dood van Jesus Christus wat by vierings van die Here se Aandmaal herdenk word. Sy offerande bring soveel tot stand! ’n Vrou wat deur godvrugtige ouers opgevoed is en wat al dekades lank in God se waarheid wandel, het haar dankbaarheid met hierdie woorde uitgedruk:

“Ons sien uit na die Gedenkmaal. Dit word elke jaar meer spesiaal. Ek onthou hoe ek 20 jaar gelede in die roukamer na my dierbare pa gestaan en kyk het en tot ’n opregte, hartgrondige waardering vir die losprys gekom het. Dit was voorheen iets akademies. Ja, ek het al die tekste geken en het geweet hoe om hulle te verduidelik! Maar dit was eers toe ek die wrede werklikheid van die dood ondervind het dat my hart werklik met vreugde vervul is oor wat deur middel van daardie kosbare losprys vir ons gedoen gaan word.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel