Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 3/15 bl. 26-28
  • William Whiston—Ketter of opregte Bybelkenner?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • William Whiston—Ketter of opregte Bybelkenner?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Bybelkenner
  • Uiteenlopende persoonlikhede
  • Hy word verstoot
  • Tot die einde toe ’n omstrede figuur
  • William Whiston
    Ontwaak!—2014
  • Onthou jy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2014
  • Die ewige lewe op aarde—’n Herontdekte hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 3/15 bl. 26-28

William Whiston—Ketter of opregte Bybelkenner?

SOU jy bereid wees om jou loopbaan ter wille van jou geloofsoortuiging prys te gee? William Whiston het dit gedoen.

Hy het in die vroeë 18de eeu ’n omstrede godsdiensfiguur geword toe hy met die Anglikaanse Kerk oor die Bybel se leringe verskil het. Hy is gevolglik later as ’n ketter gebrandmerk. Vanweë hierdie weg wat hy ingeslaan het, is hy bespot, maar hy het ook mense se respek afgedwing.

Wie was William Whiston? En wat het hy tot stand gebring?

’n Bybelkenner

William Whiston was ’n briljante kollega van sir Isaac Newton aan die Universiteit van Cambridge. As jy die Engelse weergawe van die geskrifte van die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Flavius Josephus raadpleeg, sal jy waarskynlik die vertaling lees wat in 1736 deur Whiston gedoen is. Hoewel daar ander vertalings hiervan bestaan, is sy vakkundige vertaling, tesame met sy kommentare en essays, onoortreflik en word dit vandag nog gedruk. Baie beskou hierdie werk as die toppunt van Whiston se prestasies.

’n Mens moet egter nie die Primitive New Testament, Whiston se vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte, oor die hoof sien nie. Dit is in 1745 gepubliseer, toe hy 77 jaar oud was. Whiston het die vier Evangelies en die Handelinge van die Apostels uit die Codex Bezae vertaal, Paulus se briewe uit die Clermont Codex en die oorblywende gedeelte, waaronder Openbaring, uit die Alexandrynse Manuskrip. Hy het noulettend die onegte deel van 1 Johannes 5:7 uitgelaat. Whiston het hierdie drie ou Griekse bronne gekies as die beste bronne wat op daardie tydstip beskikbaar was.

’n Liefde vir die Bybel was blykbaar die beweegrede vir wat Whiston gedoen het. In sy tyd was deïsme, die lering dat die rede alleen ’n genoegsame grondslag is om in God te glo, baie gewild. Volgens die boek William Whiston—Honest Newtonian was hy ’n baie groot voorstander van “die tradisionalistiese beskouing dat die Bybel die enigste onfeilbare bron van antieke geskiedenis is”. Die term “Newtonian” verwys hier na Isaac Newton, wat veral bekend is vir sy Principia, waarin hy die wet van die universele swaartekrag uiteensit. Newton se idees het ’n diepgaande invloed op William Whiston gehad. In watter opsig?

Uiteenlopende persoonlikhede

William Whiston is in 1667 gebore en was die seun van ’n Anglikaanse geestelike. Nadat hy in 1693 geordineer is, het hy na die Universiteit van Cambridge teruggekeer om wiskunde te studeer en ’n assistent van Newton te word. ’n Hegte band het tussen hulle ontwikkel. Toe Newton ongeveer drie jaar later uit sy posisie as wiskundeprofessor bedank het, het hy seker gemaak dat Whiston in sy plek aangestel is. Whiston het met sy loopbaan as dosent in sterrekunde en wiskunde voortgegaan, maar Newton se invloed het hom ook tot ’n groter belangstelling in Bybelchronologie en -leringe aangespoor.

Newton was ’n godsdienstige man. As iemand wat vas geglo het in die Bybelse Millennium het hy baie oor die profesieë van Daniël en Openbaring geskryf. Maar bitter min van hierdie geskrifte is gedurende sy lewe gepubliseer. Hy het die Drie-eenheidsleer verwerp. Maar toe sy bewyse teen die Drie-eenheid gepubliseer sou word, “het Newton dit onttrek uit vrees dat sy anti-Trinitariese opvattings bekend sou word”, sê The New Encyclopædia Britannica. F. E. Manuel stel dit soos volg in Isaac Newton, Historian: “Newton se groep het óf hulle beskouings geheim gehou óf hulle geesdrif bedwing. . . . In teenstelling met Newton wat sy opvattings geheim gehou het, het Whiston syne van die dakke af verkondig.” Hierdie twee manne het dus uiteenlopende persoonlikhede gehad.

Hy word verstoot

In Julie 1708 het Whiston aan die aartsbiskop van Kantelberg sowel as aan die aartsbiskop van York geskryf en hulle aangespoor om die leerstellings van die Anglikaanse Kerk te hervorm na aanleiding van die feit dat die Drie-eenheidsleer, soos dit in die Athanasiaanse Geloofsbelydenis uiteengesit is, ’n valse leerstelling is. Dit is te verstane dat hy aangeraai is om versigtig op te tree. Maar Whiston het volgehou. “Ek het hierdie punte tot in die diepste besonderhede bestudeer”, het hy gesê, “en ek is heeltemal oortuig dat die christelike kerk al lank ernstig hierin bedrieg word; en as dit, met God se seën, in my mag is, sal die bedrog nie voortgaan nie.”

Newton was bang dat hy sy sosiale en akademiese status sou verloor. Whiston was egter nie daarvoor bang nie. Nadat hy sy anti-Trinitariese oortuiging geformuleer het, het hy ’n pamflet geskryf waarin hy sy opvattings voorgelê het. Maar in Augustus 1708 het die Universiteit van Cambridge Whiston ’n lisensie geweier om hierdie materiaal te druk, aangesien dit as onortodoks beskou is.

In 1710 is Whiston daarvan aangekla dat hy leerstellings verkondig wat in stryd is met dié van die Anglikaanse Kerk. Hy is skuldig bevind, sy professorskap ontneem en uit Cambridge gesit. Maar ten spyte van geregtelike stappe teen hom, wat byna ’n verdere vyf jaar voortgeduur het, is Whiston nooit aan kettery skuldig bevind nie.

Hoewel Newton dieselfde anti-Trinitariese opvattings as Whiston gehad het, het hy nie vir sy vriend opgekom nie en het hy uiteindelik alle bande met hom verbreek. Newton se Bybelverhandeling waarin die waarheid omtrent die Drie-eenheid blootgelê is, is uiteindelik in 1754—27 jaar ná sy dood—gepubliseer. Maar dit was te laat om Whiston, wat twee jaar tevore oorlede is, van enige hulp te wees.

Newton was glo ook daarvoor verantwoordelik dat Whiston uit die vooraanstaande Royal Society uitgesluit is. Maar Whiston is nie daardeur ontmoedig nie. Hy en sy gesin het na Londen verhuis, waar hy ’n Genootskap vir die Bevordering van die Vroeë Christelike Geloof gestig het. Hy het al sy kragte daaraan gewy om te skryf, en sy belangrikste werk tot op daardie tydstip was die vier boekdele van Primitive Christianity Revived.

Tot die einde toe ’n omstrede figuur

As wetenskaplike het Whiston verskillende metodes probeer uitwerk waarvolgens seevaarders lengtegrade op see kon bepaal. Hoewel sy idees nie aanvaar is nie, het sy deursettingsvermoë uiteindelik tot die ontwerp van die skeepshorlosie gelei. Hoewel baie van Whiston se opvattings oor Bybelprofesieë, soos dié van sy tydgenote, nie akkuraat was nie, het hy geen steen onaangeroer gelaat in sy soeke na waarheid nie. Sy traktate oor die wentelbaan van komete en sy veronderstellings oor die uitwerking van die Vloed van Noag se dag is van die talle geskrifte wat hy geskryf het om wetenskaplike sowel as Bybelwaarheid te verdedig. Maar die noemenswaardigste van al sy geskrifte was dié wat die onskriftuurlikheid van die Drie-eenheidsleer blootgelê het.

Soos ’n mens kon verwag, het Whiston die Anglikaanse Kerk in 1747 verlaat. Hy het dit letterlik sowel as figuurlik gedoen toe hy uit die kerk uitgestap het toe ’n geestelike die Athanasiaanse Geloofsbelydenis begin lees het. A Religious Encyclopædia sê aangaande Whiston: “’n Mens moet die manmoedige openhartigheid en opregtheid van sy karakter, die bestendigheid van sy lewe en sy daadwerklike optrede bewonder.”

In William Whiston se oë kon geen kompromis met betrekking tot die waarheid aangegaan word nie, en persoonlike oortuiging was kosbaarder as die erkenning en eer van mense. Hoewel Whiston ’n omstrede figuur was, was hy ’n opregte Bybelkenner wat die Bybel onbevrees as die Woord van God voorgestaan het.—2 Timotheüs 3:16, 17.

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Copyright British Museum

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel