“Wys die valse stories af”
DIE Bybel is vol ondervindinge en verhale oor mense. Dit is nie net aangenaam om te lees nie, maar ons vind ook daarby baat. Die apostel Paulus het aan die Christengemeente in Rome geskryf: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.”—Romeine 15:4.
Paulus self het ondervindinge vertel. Die Bybel sê die volgende van Paulus en Barnabas aan die einde van hulle eerste sendingreis: “En toe hulle daar kom [in Siriese Antiochië] en die gemeente saamgeroep het, het hulle verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het” (Handelinge 14:27). Die broers is ongetwyfeld grootliks deur hierdie ondervindinge bemoedig.
Maar nie alle ondervindinge is opbouend nie. Paulus het Timotheüs onder inspirasie gemaan: “Wys die valse stories af wat skend wat heilig is en wat ouvroupraatjies is” (1 Timotheüs 4:7, NW). En aan Titus het hy geskryf dat lojale Christene hulle nie moet “besig hou met Joodse fabels en gebooie van mense wat van die waarheid afwyk nie”.—Titus 1:14.
Wat was hierdie valse stories, of fabels? Albei woorde kom van die Griekse myʹthos (“mite”). The International Standard Bible Encyclopaedia sê hierdie woord beskryf “’n (godsdienstige) verhaal wat glad nie met die werklikheid verband hou nie”.
Die wêreld van Paulus se dag was vol sulke verhale. ’n Voorbeeld is die apokriewe boek Tobias wat waarskynlik meer as tweehonderd jaar voor Paulus se tyd geskryf is. Hierdie verhaal handel oor Tobias, ’n vroom Jood, wat blind word wanneer voëlmis in sy oë val. Later stuur hy sy seun, Tobias, om ’n skuld in te vorder. Op pad rig ’n engel Tobias om die hart, lewer en gal van ’n vis in die hande te kry. Daarna kom hy ’n weduwee teë wat, hoewel sy sewe keer getroud was, ’n maagd gebly het omdat al haar mans op die huweliksnag deur ’n bose gees doodgemaak is. Die engel spoor Tobias aan om met haar te trou, en Tobias verdryf die demoon deur die hart en lewer van die vis te verbrand. Tobias gebruik later die vis se gal om sy vader se sig te herstel.
Dit is duidelik dat hierdie verhaal nie waar is nie. Buiten dat dit denkbeeldig is en op bygelowigheid berus, is dit ook onjuis. Die verslag sê byvoorbeeld dat Tobias die opstand van die noordelike stamme asook die wegvoering van die Israeliete na Ninevé aanskou het, en hierdie gebeure in Israel se geskiedenis het 257 jaar ná mekaar plaasgevind. Tog sê die verhaal dat Tobias 112 jaar oud was toe hy gesterf het.—Tobias 1:4, 11; 14:1, Die Bybel met Deutero-Kanonieke Boeke.
Sulke fabels is strydig met die waarheidsgetroue “patroon van gesonde woorde” wat deur getroue knegte van God verkondig word (2 Timotheüs 1:13, NW). Dit is skimme van die verbeelding, is in stryd met geskiedkundige feite en is die soort stories wat deur goddelose ou vrouens vertel word. Christene moes dié soort stories afwys.
Toets die woorde van waarheid
Soortgelyke stories is vandag volop. Paulus het geskryf: “Daar sal ’n tyd wees wanneer [mense] die gesonde leer nie sal verdra nie, maar . . . die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Timotheüs 4:3, 4). In sekere wêrelddele is verhale oor die bonatuurlike algemeen en gewild. Daarom is dit verstandig dat Christene “[die] woorde toets” van godsdienstige verhale om te sien of hulle met die Bybel ooreenstem.—Job 12:11.
Dit is duidelik dat baie van hulle nie met die Bybel ooreenstem nie. Dit is in baie wêrelddele byvoorbeeld algemeen om verhale te hoor wat die opvatting steun dat die mensesiel onsterflik is. Hierdie verhale beskryf hoe iemand sterf en dan weer in die liggaam van ’n pasgebore baba, as ’n gees, as ’n dier of as iemand op ’n ander plek verskyn.
Maar God se Woord toon dat mensesiele nie onsterflik is nie; siele sterf (Esegiël 18:4). Daarbenewens sê die Bybel dat die dooies leweloos in die graf is en nie kan dink, praat of enigiets anders kan doen nie (Prediker 9:5, 10; Romeine 6:23). Diegene wat deur valse stories mislei word wat die opvatting bevorder dat die siel onsterflik is, word dus, soos Paulus gesê het, ‘afgewend’ van die Bybel se “gesonde leer”.
Verhale oor die bonatuurlike
Ander verhale vestig die aandag op die dade van hekse en towenaars. In dele van Afrika word daar byvoorbeeld gesê dat hierdie werktuie van die bose met verskriklike magte toegerus is wat hulleself of ander in reptiele, ape en voëls kan verander; deur die lug kan vlieg om hulle opdragte uit te voer; kan verskyn en verdwyn; deur mure kan loop en voorwerpe kan sien wat begrawe is.
Die blote oorvloed van sulke stories en die feit dat soveel mense daaraan glo, kan sommige in die Christengemeente beïnvloed om ook te glo dat dit waar is. Hulle redeneer moontlik dat gewone mense nie sulke dinge kan doen nie, maar dat diegene wat bonatuurlike magte van die geesskepsele, die demone, ontvang dit wel kan doen. ’n Skynbare grondslag vir hierdie gevolgtrekking is 2 Thessalonicense 2:9, 10 wat sê: “[Die wettelose”, NW] wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.”
Hoewel hierdie teks weliswaar toon dat Satan tot kragtige dade in staat is, meld dit dat Satan ook die bron van “tekens en wonders van die leuen” asook van die “verleiding van ongeregtigheid” is. Die Bybel toon deurgaans dat Satan die aartsbedrieër is wat “die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Hy is ’n meester daarin om mense dinge te laat glo wat nie waar is nie.
As gevolg hiervan is selfs die getuienis en belydenisse van diegene wat by spiritisme en towery betrokke was dikwels alles behalwe betroubaar. Sulke mense glo dalk opreg dat hulle sekere dinge gesien, gehoor of ondervind het; maar dit is in werklikheid nie die geval nie. Daar is byvoorbeeld diegene wat dink dat hulle met die geeste van dooies gekommunikeer het. Maar hulle is verkeerd, mislei, slagoffers van ’n sataniese bedrieëry. Die Bybel sê dat die dooies “na die stilte neerdaal”.—Psalm 115:17.
Met die oog op die Duiwel se geskiedenis van bedrog is die geloofwaardigheid van verhale oor die bonatuurlike buitendien uiters verdag. Die meeste is die versinsels van bygelowige verbeeldings wat oordryf raak namate dit oor en oor vertel word.
Wanneer sulke fabels oorvertel word, bevorder dit die belange van die vader van die leuen, Satan die Duiwel (Johannes 8:44). Dit wakker belangstelling aan in okkulte gebruike wat vir Jehovah ’n gruwel is (Deuteronomium 18:10-12). Dit verstrik mense in ’n web van angs en bygelowigheid. Dit is dus geen wonder nie dat Paulus Christene gewaarsku het om hulle “nie besig [te] hou met fabels . . . nie”.—1 Timotheüs 1:3, 4.
Verwerp die getuienis van demone
Maar gestel die verhale klink geloofwaardig? Soms word ondervindinge vertel van geeste of spiritiste wat die oppergesag van Jehovah en die waaragtigheid van sy Getuies erken. Moet Christene sulke verhale oorvertel?
Nee, hulle moenie. Die Bybel sê toe onreine geeste uitgeroep het dat Jesus die Seun van God is, het hy hulle “streng gebied om Hom nie bekend te maak nie” (Markus 3:12). Toe ’n waarsêende gees ’n meisie aangespoor het om Paulus en Barnabas as “dienaars van God, die Allerhoogste” en as verkondigers van “die weg van verlossing” te identifiseer, het Paulus eweneens die gees uit haar gedryf (Handelinge 16:16-18). Nie Jesus, Paulus of enige van die Bybelskrywers het toegelaat dat die demone oor God se voorneme of sy gekose knegte getuig nie.
Dit is ook noemenswaardig dat Jesus Christus in die geesteryk gewoon het voordat hy aarde toe gekom het. Hy het Satan persoonlik geken. Tog het Jesus nie sy dissipels vermaak met verhale oor Satan se bedrywighede nie, en hy het ook nie besonderhede verskaf oor wat die Duiwel kan en nie kan doen nie. Satan en sy demone was nie vriende van Jesus nie. Hulle was uitgeworpenes, opstandelinge, haters van wat heilig is en vyande van God.
Die Bybel sê vir ons wat ons moet weet. Dit verduidelik wie die demone is, hoe hulle mense mislei en hoe ons hulle kan vermy. Dit toon dat Jehovah en Jesus magtiger as die demone is. En dit sê vir ons dat die bose geeste ons nie permanente skade kan berokken as ons Jehovah lojaal dien nie.—Jakobus 4:7.
Dit is dus met goeie rede dat Christene valse stories afwys, stories wat niks meer doen as om die belange te bevorder van diegene wat God teenstaan nie. Net soos Jesus ‘vir die waarheid getuig het’, doen sy volgelinge dit vandag ook (Johannes 18:37). Hulle is verstandig deur op die Bybel se waarskuwing ag te slaan: “Alles wat waar is . . . bedink dit.”—Filippense 4:8.
[Prent op bladsy 31]
Christene moet alle verskynsels van die okkulte ten alle koste vermy