Is dit werklik diefstal?
MOSES ABIODUN was ’n senior kelner in ’n groot hotel in Nigerië. Terwyl hy een aand besig was om die banketsaal te sluit, het hy op ’n sak afgekom waarin die ekwivalent van R6 066 was. Hy het die geld sonder versuim gaan ingee en die eienaar, wat ’n gas by die hotel was, het dit later kom opeis. Die hotelbestuur het Moses met ’n dubbele bevordering beloon en hom hulle toekenning vir die “beste werker van die jaar” gegee. Die eienaar van die geld het hom ook beloon.
Quality, ’n plaaslike tydskrif, het ’n artikel daaroor gepubliseer, waarin Moses Abiodun ’n “Barmhartige Samaritaan” genoem is. Toe hy deur Quality gevra is of hy in die versoeking gekom het om die geld vir homself te hou, het Moses gesê: ‘Ek is een van Jehovah se Getuies. As ek dus iets vind wat nie aan my behoort nie, gee ek dit terug aan die eienaar.’
Baie in die gemeenskap was verbaas oor Moses se eerlike optrede. Moses se mede-Getuies was bly oor wat gebeur het, maar hulle was nie verbaas nie. Jehovah se Getuies is wêreldwyd bekend vir hulle hoë beginsels. Onder hulle is eerlikheid nie die uitsondering nie; dit is die reël, ’n noodsaaklike deel van die ware Christelike geloof.
Maar af en toe is daar omstandighede waarin dit skynbaar nie so maklik is om te onderskei tussen wat eerlik en wat oneerlik is nie. Beskou hierdie situasie. Festus, wat na die bydraes en rekeninge in ’n gemeente van Jehovah se Getuies in Wes-Afrika omgesien het, het geld dringend nodig gehad.a Sy vrou moes ’n ernstige operasie ondergaan, wat volgens haar dokters nie uitgestel kon word nie. Die hospitaal wou hê dat die helfte van die geld vooruitbetaal moes word.
Festus het nie die geld gehad nie. Hy het verskeie mense om ’n lening genader, maar sy versoeke is geweier. Toe het hy aan die geld in sy sorg gedink en geredeneer: ‘Is dit reg dat ek toelaat dat my vrou se lewe in gevaar gestel word wanneer ek iets kan doen om dit te verhoed? Waarom kan ek nie net van die gemeente se geld “leen” nie? Ek kan dit terugsit wanneer van die mense wat my geld skuld my betaal.’
Festus het daardie geld wat nie syne was nie, gebruik om die hospitaal te betaal. Het hy reg geredeneer? Kon sy optrede, met die oog op die noodsituasie waarvoor hy te staan gekom het, geregverdig word?
Wie se geld is dit?
Laat ons hierdie vrae ontleed en kortliks ’n paar punte hersien in verband met die bron en doel van die geld wat Festus geneem het. Die geld kom van vrywillige bydraes wat deur lede van die gemeente gegee is om Jehovah se reine aanbidding te bevorder (2 Korinthiërs 9:7). Dit word nie gebruik om salarisse te betaal nie, aangesien niemand betaal word vir wat hulle in die gemeente doen nie. Inteendeel, die bydraes word hoofsaaklik gebruik om ’n vergaderplek, gewoonlik ’n Koninkryksaal, te bekom en in stand te hou. Dit voorsien ’n geskikte en gerieflike plek waar mense—oud en jonk, ryk en arm—vir Bybelonderrigting bymekaar kan kom.
Wie se geld is dit? Dit behoort aan die hele gemeente. Geen individuele lid besluit waarvoor die geld aangewend gaan word nie. Die liggaam van ouere manne sien toe dat gereelde gemeentelike uitgawes betaal word, maar wanneer ’n ongewone betaling gemaak moet word, lê die ouere manne die saak aan die hele gemeente voor vir goedkeuring.
’n Lening of diefstal?
Omdat Festus van plan was om die geld so gou moontlik terug te sit, het hy dit as ’n lening beskou. Maar Webster’s New Dictionary of Synonyms gebruik ander woorde vir die volgende: “Om ’n ander se eiendom heimlik of sonder sy wete en altyd sonder sy toestemming te neem of te verwyder.” Die woorde is “diefstal” en “dief”. Festus het geld wat aan die gemeente behoort het sonder toestemming of magtiging geneem. Ja, hy was dus skuldig aan diefstal. Hy was ’n dief.
Daar is natuurlik grade van berispelikheid wat verband hou met die beweegrede vir diefstal. Ons kan dit sien uit die voorbeeld van Judas Iskariot, aan wie die geld toevertrou is wat aan Jesus en die getroue apostels behoort het. Die Bybel sê: ‘Judas was ’n dief en het die beurs gehad en het die bydraes geneem’ (Johannes 12:6). Omdat Judas deur ’n verdorwe hart en pure hebsug beweeg is, het hy al hoe slegter geword. Hy het uiteindelik so laag gedaal dat hy die Seun van God verraai het—vir 30 silwerstukke.—Mattheüs 26:14-16.
Festus se beweegrede was egter besorgdheid oor sy siek vrou. Beteken dit dat hy geen skuld gedra het nie? Glad nie. Kyk wat sê die Bybel oor diefstal in ’n ander skynbare noodsituasie: “’n Dief word nie verag as hy steel om sy begeerte te bevredig nie, omdat hy honger het; en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig vergoeding gee; al die goed van sy huis moet hy gee” (Spreuke 6:30, 31). Met ander woorde, wanneer die dief gevang word, kry hy die volle straf wat hom deur die wet opgelê word. Volgens die Mosaïese Wet moes ’n dief vir sy misdaad betaal. In die Bybel word diefstal dus nie voorgestaan of verskoon nie, maar dit waarsku eerder dat diefstal selfs in noodsituasies tot ekonomiese verlies, oneer en bowenal die verlies van God se goedkeuring kan lei.
As Getuies van Jehovah moet alle ware Christene, veral dié aan wie verantwoordelikhede in die gemeente toevertrou is, voorbeeldig, “onberispelik”, wees (1 Timotheüs 3:10). Festus het nie die geld gekry waarop hy gewag het nie en kon dus nie die geld terugsit wat hy geneem het nie. Sy daad het aan die lig gekom. Wat het met hom gebeur? As hy ’n onberouvolle dief was, sou hy uit die rein Christengemeente gesit gewees het (1 Petrus 4:15). Maar hy was diep bedroef en het berou getoon. Hy kon derhalwe in die gemeente bly, hoewel hy sy diensvoorregte verloor het.
Vertrou op God
Die apostel Paulus het gewaarsku dat iemand wat sê dat hy Jehovah dien en dan steel oneer op God se naam en op Sy naamvolk kan bring. Paulus het geskryf: “Jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy? Want . . . die Naam van God word om julle ontwil . . . gelaster.”—Romeine 2:21, 24.
Agur, ’n wyse man van die ou tyd, het dieselfde punt aangevoer. In sy gebed het hy gevra dat hy ‘nie arm word, steel en hom aan die Naam van sy God vergryp nie’ (Spreuke 30:9). Let daarop dat die wyse man erken het dat armoede omstandighede kan skep wat selfs ’n regverdige persoon in die versoeking kan bring om te steel. Ja, moeilike tye kan ’n Christen se geloof in Jehovah se vermoë om in die behoeftes van sy volk te voorsien op die proef stel.
Maar lojale Getuies van Jehovah, dié wat arm is inkluis, het die geloof dat God “’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Hulle weet dat Jehovah sy getroue knegte beloon deur hulle te help om in hulle behoeftes te voorsien. Jesus het dit in sy Bergpredikasie duidelik gestel toe hy gesê het: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? . . . Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Mattheüs 6:31-33.
Hoe sorg God vir behoeftiges in die Christengemeente? Op baie maniere. Een manier is deur medegelowiges. God se volk betoon opregte liefde vir mekaar. Hulle neem hierdie Bybelse vermaning ernstig op: “Wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.”—1 Johannes 3:17, 18.
Meer as vier en ’n half miljoen Getuies van Jehovah in meer as 73 000 gemeentes wêreldwyd strewe ywerig daarna om God in ooreenstemming met sy regverdige beginsels te dien. Hulle weet dat God nooit sy lojale knegte sal verlaat nie. Diegene wat Jehovah al baie jare lank dien, verhef hulle stemme saam met dié van koning Dawid, wat geskryf het: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.”—Psalm 37:25.
Hoeveel beter is dit tog om eerder geloof in die God te stel wat daardie woorde geïnspireer het as om voor die versoeking te swig om te steel en God se guns moontlik vir ewig te verloor!—1 Korinthiërs 6:9, 10.
[Voetnoot]
a Die naam is verander.