Vasbeslote om Jehovah te dien!
“JY GAAN nie uit om te preek nie!” “Hou daardie mense van jou hier weg!” Baie Christenvrouens moet hierdie en soortgelyke uitinge van hulle mans aanhoor wat teen die waarheid gekant is. Maar wanneer hierdie mans in die weermag is, kom hulle vrouens voor besonderse uitdagings ten opsigte van hulle geloof te staan (Jesaja 2:4; Johannes 17:16). Hoe kry hierdie Christenvrouens dit dan reg om geestelik sterk en bedrywig in die Koninkryksdiens te bly?
Lojaliteit aan Jehovah God tesame met persoonlike vasbeslotenheid help hulle om te volhard. “Ek dink dit was pure vasbeslotenheid van my kant af”, verduidelik Yvonne, ’n soldaat se vrou. “Ek het geweet daar moet maniere wees om my man se teëstand die hoof te bied.” Daar was inderdaad.
’n Ander Christenvrou, wat met ’n leëroffisier getroud is, vertel hoe haar ferm standpunt selfs die lewe vir haar man makliker maak. “Hy ken my rooster so goed soos sy eie, en militêre mense waardeer dit”, verduidelik sy. Dit is nietemin nie vir haar maklik om Jehovah te bly dien nie.
Hoe om eensaamheid te oorkom
Dit is dikwels vir vrouens wie se mans in die weermag is ’n uitdaging wanneer hulle mans na ’n plek ver van die huis af verplaas word en hulle op ’n paar dae se kennisgewing moet trek. Wanneer hulle hulle dan in ’n vreemde omgewing bevind, is dit maklik om afgesonderd te voel. Maar dit hoef nie so te wees nie. Diegene wat Jehovah dien, het ’n voordeel bo ander. Wat is dit? Volgens die Christenapostel Petrus is dit “die hele gemeenskap van broers”. Jehovah se Getuies, wat nou in die miljoene tel en in 231 lande bedrywig is, is soos ’n groot Christengesin, ’n “broederskap”. Jy kom hulle feitlik oral teë.—1 Petrus 2:17, vgl. NW.
Susan is skielik van haar tuisomgewing ontwortel toe sy by die lugmagbasis moes gaan woon waarheen haar man verplaas is. Sy was nuut in die geloof en haar ongelowige man het druk op haar uitgeoefen om nie meer aan die Christenbediening deel te neem nie. Sy sê: “Ek het dadelik die plaaslike vergaderinge begin bywoon, en daar kon ek met ander susters sit en gesels. Ek kan werklik sê dat dit hierdie omgang was wat my aan die gang gehou het.”
Partykeer veroorsaak eensaamheid terneergedruktheid. Selfs dan bring goeie nuus ’n welkome gemoedsverandering mee. Glenys, ’n suster van Engeland wat saam met haar man gegaan het toe hy na die buiteland verplaas is, sê: “Toe ek baie terneergedruk was, het iemand wat ek jare tevore geken het toe ek self in die weermag was onverwags vir my geskryf en gesê dat sy onlangs as een van Jehovah se Getuies gedoop is. Dit het my net op die regte tyd bemoedig.”
Jane, wat saam met haar man na Kenia toe is, het gevind dat Christelike vergaderinge onontbeerlik was, al is dit in tale gehou wat sy nie kon verstaan nie. “Ek het geweet dit is waar Jehovah wil hê ek moet wees”, verduidelik sy. “Ek was by my broers, en hulle het my baie bemoedig. Hulle het my verwelkom, en ek het gevoel dat ons ’n gesin is.”
Jane is maar een van talle in hierdie omstandighede wat geestelike familielede ontdek het waarvan sy voorheen nie eens bewus was nie!—Markus 10:29, 30.
Standvastig ondanks teëstand
“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie”, het Jesus gewaarsku. “Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard” (Mattheüs 10:34). Wat het hy bedoel? Selfs in ’n gesin, waar ’n mens vrede sou verwag, kan “die swaard skielik gewerp word”, sê A. T. Robertson in Word Pictures in the New Testament. Jesus het gesê: “’n Mens se huisgenote sal sy vyande wees” (Mattheüs 10:36). Hoe waar is hierdie woorde tog wanneer ’n huweliksmaat teen die waarheid gekant is!
Toe Diane die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, was haar man, ’n lugmagoffisier, baie ontevrede daaroor. Watter uitwerking het dit op hulle huwelik gehad? “Dit was asof ’n blok ys tussen ons gekom het”, verduidelik Diane. “Ons was voorheen gelukkig getroud. Skielik het ons net in dieselfde huis gewoon.” Hoe het sy dit toe die hoof gebied? “Persoonlike oortuiging en vasbeslotenheid, tesame met hulp van Jehovah en sy gees, was baie belangrik.” Diane het die Bybelse voorbeeld van die profeet Daniël ter harte geneem.
Toe Daniël in ballingskap na Babilon weggevoer is en voedsel aangebied is wat vir ’n kneg van God onaanvaarbaar was, het hy “hom [“in sy hart”, NW] voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die koning . . . nie”. Ja, Daniël het ’n weloorwoë besluit geneem. Hy het hom in sy hart voorgeneem om hom nooit te verontreinig deur daardie voedsel te eet nie. Watter standvastigheid het hy tog daarna aan die dag gelê toe ‘hy die owerste van die hofdienaars vergunning bly vra het dat hy hom nie hoef te verontreinig nie’! Wat was die resultaat? Jehovah het sy vasbeslotenheid geseën.—Daniël 1:8, 9, 17, vgl. NW.
In ons tyd kan ’n man wat teen die waarheid gekant is eweneens daarop aandring dat sy vrou ophou om gemeentelike vergaderinge by te woon. Hoe moet sy daarop reageer? Jane het haar in hierdie situasie bevind. Sy verduidelik: “Ek het nooit aan die druk toegegee nie. Ek het geweet dat ek nooit my geloof kan prysgee nie. Ek moes vir hom toon hoeveel die vergaderinge vir my beteken.” Jehovah het haar vasbeslotenheid om die vergaderinge by te woon, geseën.
“My man het my probeer keer om die vergaderinge by te woon, maar dit het nie baie lank aangehou nie”, sê Glenys. “Ek het steeds gegaan. Wanneer ek by die huis gekom het, het hy my partykeer geslaan, en ander kere is ek met stilswye begroet.” Maar sy het dit verduur en voortdurend gebid. Twee van die gemeentelike ouere manne het ook gereeld saam met haar gebid, wat haar baie aangemoedig het om die vergaderinge te bly bywoon.—Jakobus 5:13-15; 1 Petrus 2:23.
Partykeer oefen die hoër offisiere druk op ’n man uit om sy vrou af te raai om die goeie nuus te verkondig. Diane het gevind dat sy haar prioriteite baie duidelik aan haar man moes stel. Sy het gesê: “Ek was bereid om die gevolge te dra omdat ek bly preek het.” Dit is soortgelyk aan die apostels se standpunt! (Handelinge 4:29, 31). Sy het nietemin haar predikingswerk op omsigtige wyse gedoen. Sy sê: “Ek het gewoonlik mense vir koffie oorgenooi en dan vir almal ’n Waarheid-boek aangebied.”—Mattheüs 10:16; 24:14.
Onderdanigheid sonder om jou geloof prys te gee
Hoewel die spanning in die huwelik Christenvrouens ontstel, hou hulle hulle oë op die toekoms gevestig en vertrou hulle op Jehovah. Dit help hulle om ’n gebalanseerde beskouing te handhaaf. Hulle ondersteun hulle mans na die beste van hulle vermoë sonder om hulle geloof prys te gee. Deur dit te doen, pas hulle Petrus se geïnspireerde raad toe: “Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees” (1 Petrus 3:1, NAV). In The Amplified New Testament lui hierdie apostoliese opdrag: “Onderwerp julle as ondergeskik aan en afhanklik van hulle, en pas julle by hulle aan.” Let op hoe Jane hierdie raad toegepas het. “My man het vir my gesê dat die dinge wat ek wil doen nie op sy loopbaan moet inbreuk maak nie”, verduidelik sy. “Ek het derhalwe na maniere gesoek waarop ek hom kon help.”
Party Christenvrouens het gevolglik ingestem om sosiale geleenthede by te woon waarheen hulle mans uitgenooi is. Maar hulle is steeds vasbeslote om nooit hulle geloof prys te gee nie. Jane het tyd afgestaan om dit met haar man te bespreek. Sy het vriendelik verduidelik dat sy bereid is om saam met hom te gaan, maar dat sy nie wil hê haar teenwoordigheid moet hom in die verleentheid stel nie. “Ek het geweet dat daar partykeer van almal wat teenwoordig is, verwag word om op te staan en ’n heildronk te beantwoord. Ek het geleer dat die eer Jehovah alleen toekom en dat daar meer by ’n heildronk betrokke is as die blote betoning van respek. My man het besef hoe ongemaklik die situasie kon wees, en daarom het hy eenvoudig gesê: ‘Moenie kom nie!’ Ek het na hom geluister.”
Glenys het daarenteen haar man na so ’n geleentheid vergesel, maar sy het die offisiere aan die hoof van die tafel dopgehou. Toe sy sien dat hulle hulle gereed maak om ’n heildronk in te stel, het sy na die kleedkamer weggeglip! Ja, hierdie vrouens het hulle by hulle omstandighede aangepas, maar het nooit hulle geloof prysgegee nie.
‘Win hulle sonder woorde’
“As ek my eie hoedanighede as ’n vrou verbeter, sal my man sien dat die waarheid my verander”, het Yvonne geredeneer. Sy het dus die hoofstuk in die Gesinslewe-boek met die titel “’n Vrou wat innig bemin word” ’n paar keer deurgelees.a “Ek het veral gelet op die inligting onder die tussenhofie ‘Vrouens wat huil, of wat sanik’! Maar ek het gevind hoe meer ek met my man probeer praat het, hoe erger het sake geword.” Sy het egter uiteindelik daarin geslaag om haar man te help om Jehovah te dien. Hoe? Deur die beginsel in 1 Petrus 3:1 toe te pas, naamlik dat mans “sonder woorde gewin” kan word.
Die manier waarop Christenvrouens na hulle gesin omsien, dra baie daartoe by om die ware Christelike geloof by ander aan te beveel. “Ek het die waarheid so aantreklik as moontlik probeer maak”, sê Diane. “Wanneer ek vergaderinge bygewoon het, het my man baie afgeskeep gevoel, en daarom het ek altyd vir die kinders gesê om hulle baie goed te gedra wanneer ons by die huis kom. Ek het hom ook baie aandag gegee wanneer ons teruggekom het.” Haar man se gesindheid het geleidelik verander namate hy op sy gesin se liefdevolle bedagsaamheid gereageer het.
Medeknegte van Jehovah kan ook help. Jane sê dat haar man die geselskap van die Getuiesendelinge geniet het wat hy in Kenia ontmoet het. “Hulle het met hom vriende gemaak en oor sokker gesels, en hulle was baie gasvry. Ons is verskeie kere na verskillende sendinghuise genooi vir ’n maaltyd.” Haar man het later verduidelik: “Ek het Jane se geloof uit ’n heel ander oogpunt begin sien. Haar vriende was baie intelligente mense wat oor ’n verskeidenheid van onderwerpe kon gesels.” Diane se man het eweneens sy beskouing van die waarheid verander. Toe die motor waarin hy gery het onklaar geraak het, het ’n jong Getuie hom te hulp gekom. “Dit het my werklik beïndruk”, sê hy.
Dit spreek vanself dat nie alle huweliksmaats die waarheid sal aanneem nie. Wat dan? Jehovah voorsien hulp sodat getroues kan volhard (1 Korinthiërs 10:13). Hou Glenys se bemoediging vir diegene wat in soortgelyke omstandighede as sy is in gedagte: “Moet nooit, nooit daaraan twyfel dat Jehovah die Insteller van die huwelik is en dat hy wil hê dat egpare bymekaar moet bly nie. Ongeag wat die man dus doen of watter teëstand jy van diegene om jou kry, Jehovah sal nooit toelaat dat jy wankel nie.” Hoewel haar man Jehovah nog nie dien nie, het sy gesindheid teenoor haar en die waarheid versag.
‘Saai met trane; maai met gejubel’
Hierdie Christenvrouens is waarlik vasbeslote om Jehovah te dien. As jy jou in soortgelyke omstandighede bevind, moet jy dit ook jou voorneme maak. Onthou die vermaning: “Die HERE jou God moet jy vrees, Hom moet jy dien en Hom moet jy aanhang.”—Deuteronomium 10:20.
“Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra”, verklaar die psalmis (Psalm 126:6). “’n Mens stort soveel trane terwyl jy jou huweliksmaat probeer oortuig dat dit die waarheid is, of dit nou met of sonder woorde is”, erken een Getuie. “Maar op die ou end jubel jy, want selfs al aanvaar hy nie die waarheid nie, seën Jehovah jou vir die poging wat jy aanwend.”
Almal wat Jehovah, ondanks teëstand by die huis, getrou dien, moet werklik geprys word. Hulle verdien ondersteuning en liefde. Mag hulle hulle onversetlike standpunt handhaaf, vasbeslote om Jehovah te dien!
[Voetnoot]
a Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word (1981).
[Prent op bladsy 28]
Studie wat met gebed gepaardgaan, versterk ’n Christen se vasbeslotenheid