Kan jy geduld beoefen?
JEHOVAH het vir Abram gesê: “Gaan jy uit jou land . . . na die land wat Ek jou sal wys. En ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam . . . groot maak” (Genesis 12:1, 2). Abram was toe 75 jaar oud. Hy was gehoorsaam en het wyslik die res van sy lewe geduldig op Jehovah gewag.
Later het God die geduldige Abraham (Abram) hierdie belofte gegee: “Voorwaar, Ek sal jou ryklik seën en jou grootliks vermeerder.” Die apostel Paulus het bygevoeg: “En so het [Abraham] die belofte verkry nadat hy geduldig gewag het.”—Hebreërs 6:13-15.
Wat is geduld? Woordeboeke omskryf dit as die vermoë om “kalm vir iets te wag” of om “ondanks uittarting of druk verdraagsaamheid” te openbaar. Jou geduld word dus op die proef gestel wanneer jy vir iemand of iets moet wag of wanneer jy deur iemand uitgetart word of aan spanning onderwerp word. Die geduldige mens bly in sulke situasies bedaard; die ongeduldige mens raak opvlieënd en moeilik.
Ons ongeduldige moderne wêreld
Veral in baie stedelike gebiede word die klem nie op geduld nie, maar op spoed geplaas. Vir miljoene mense wat in digbevolkte stede woon, begin hulle dag wanneer die wekker soggens lui. Dit begin die dolle gejaag—om iewers te kom, om iemand te sien, om iets gedoen te kry. Moet ons dan enigsins verbaas wees dat baie mense gespanne en ongeduldig is?
Krap dit jou om wanneer jy met die tekortkominge van ander te doen het? “Ek hou nie daarvan as mense nie stiptelik is nie”, sê Albert. Die meeste mense sal saamstem dat dit spanningsvol is om vir iemand te wag wat laat is, veral as ’n tydgrens gehaal moet word. Oor die hertog van Newcastle, ’n 18de-eeuse Britse politikus, is daar gesê: ‘Hy verloor soggens ’n halfuur, en hy probeer dit die res van die dag inhaal sonder om dit ooit reg te kry.’ Sou jy geduldig gebly het as jy dag ná dag op so iemand moes staatmaak?
Vererg jy jou gou, is jy teësinnig om te wag of is jy geneig om te vinnig te ry wanneer jy motor bestuur? Onder sulke omstandighede voorspel ongeduld dikwels rampspoed. Gedurende 1989 het meer as 400 000 hoofwegongelukke in die destydse Wes-Duitsland beserings of die dood tot gevolg gehad. Van hierdie ongelukke is 1 uit 3 veroorsaak omdat daar te vinnig of te naby aan die voorste voertuig gery is. Ongeduld was dus ten minste in ’n sekere mate verantwoordelik vir die beserings of die dood van meer as 137 000 mense. Wat ’n prys om vir ongeduld te betaal!
“Ek vind dit moeilik om geduldig te bly wanneer iemand ’n mens gedurig in die rede val”, kla Ann, “of wanneer iemand baie spog.” Karl-Hermann erken dat sy geduld op die proef gestel word deur “jonger mense wat nie respek vir die bejaardes het nie”.
Hierdie en ander situasies maak jou moontlik ongeduldig. Hoe kan jy dan groter geduld aankweek?
Jehovah kan jou geduldiger maak
Baie mense dink dat geduld ’n teken van besluiteloosheid of swakheid is. Maar vir Jehovah is dit ’n aanduiding van krag. Hy self “is geduldig . . . omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Petrus 3:9, NAV). Om jou verdraagsaamheid te versterk, moet jy dus na aan Jehovah bly en met jou hele hart op hom vertrou. As jy jou verhouding met God wil versterk, is dié belangrikste stap om ’n geduldige gesindheid aan te kweek.
Daarbenewens is dit noodsaaklik om Jehovah se voornemens vir die aarde en die mens te ken. Abraham “het die stad verwag wat [“ware”, NW] fondamente het [God se Koninkryk], waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebreërs 11:10). Dit sal eweneens nuttig wees om Goddelike beloftes duidelik voor oë te hou en tevrede te wees om op Jehovah te wag. Dan sal jy besef dat geduld glad nie ’n teken van wankelmoedigheid is nie, maar in werklikheid mense vir ware aanbidding wen. ‘Beskou dus die geduld van onse Here as redding.’—2 Petrus 3:15, NW.
Sê nou jou persoonlike omstandighede beproef jou geduld tot die uiterste? Plaas ongelowiges jou onder baie groot druk? Is jy al so lank siek dat dit vir jou eindeloos voel? In so ’n geval moet jy die dissipel Jakobus se woorde ter harte neem. Nadat hy gepraat het van die voorbeeld wat die profete in die beoefening van geduld gestel het, het hy getoon wat die geheim daarvan is om ten spyte van kwaai druk kalm te bly. Jakobus het gesê: “Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid.”—Jakobus 5:10, 13.
Vra God opreg in gebed om jou geduldiger te maak en jou te help om jou gees te beheers wanneer jy voor beproewinge te staan kom. Wend jou herhaaldelik tot Jehovah, en hy sal jou help om die omstandighede of die gewoontes van ander te identifiseer wat veral ’n gevaar vir jou kalmte inhou. As jy bid voor jy jou in ’n potensieel moeilike situasie bevind, kan dit jou help om kalm te bly.
’n Gepaste beskouing van jouself en ander
As jy kalm wil bly, moet jy ’n gepaste beskouing van jouself en ander hê. Dit is moontlik deur ’n studie van die Bybel, want dit toon dat almal onvolmaakthede geërf het en dus swakhede het. Bybelkennis sal jou ook help om in liefde te groei. Hierdie eienskap is noodsaaklik as jy geduld teenoor ander wil betoon.—Johannes 13:34, 35; Romeine 5:12; Filippense 1:9.
Liefde en ’n begeerte om te vergewe, kan jou kalmeer wanneer jy ontsteld raak. As iemand se gewoontes jou omkrap, sal liefde jou daaraan herinner dat dit die gewoontes is waarvan jy nie hou nie, en nie die persoon nie. Dink net hoe dikwels jou swakhede God se geduld op die proef moet stel en ander ergerlik moet maak.
’n Regte beskouing van jouself sal jou ook help om geduldig te wag. Streef jy byvoorbeeld voorregte na in Jehovah se diens, maar word telkens teleurgestel? Voel dit vir jou of jou geduld soos die laaste sandkorrels in ’n uurglas uitloop? As dit die geval is, moet jy onthou dat ongeduld dikwels uit hoogmoed voortspruit. “Geduld is beter as hoogmoed”, het Salomo gesê (Prediker 7:8, NAV). Ja, hoogmoed is ’n groot struikelblok as jy geduld wil aankweek. Is dit nie waar dat die nederige persoon dit makliker vind om kalm te wag nie? As jy dus nederigheid aankweek, sal dit vir jou makliker wees om ’n vertraging met gemoedsrus te aanvaar.—Spreuke 15:33.
Geduld word ryklik beloon
Abraham is veral bekend vir sy geloof (Romeine 4:11). Maar geduld het sy geloof duursaam gemaak. Hoe is hy beloon omdat hy op Jehovah gewag het?
Abraham het Jehovah se toenemende vertroue geniet. Abraham se naam het gevolglik groot geword en sy nakomelinge ’n magtige nasie. Alle nasies van die aarde kan hulleself deur sy saad seën. Abraham het as ’n woordvoerder vir God gedien en het selfs die Skepper afgebeeld. Kon Abraham ’n groter beloning vir sy geloof en geduld ontvang het?
‘Jehovah is baie teer in geneentheid’ teenoor Christene wat geduldig beproewinge verduur (Jakobus 5:10, 11, NW). Sulke mense het ’n skoon gewete omdat hulle sy wil doen. As jy dan op Jehovah wag en geduldig beproewinge verduur, sal jou verdraagsaamheid ook tot Jehovah se goedkeuring en seën lei.
Geduld strek God se volk in elke aspek van die lewe tot voordeel. Twee van Jehovah se knegte, Christian en Agnes, het dit ontdek toe hulle besluit het om verloof te raak. Hulle het die verlowing uitgestel uit respek vir Christian se ouers, wat tyd nodig gehad het om Agnes te leer ken. Wat was die gevolg van hierdie gebaar?
“Ons het eers later uitgevind hoeveel ons geduld vir my ouers beteken het”, verduidelik Christian. “Die feit dat ons geduldig gewag het, het nie die verhouding tussen my en my vrou beëindig nie. Maar dit was die eerste bousteen in ons verhouding met my ouers.” Ja, geduld word ryklik beloon.
Geduld bevorder ook vrede. Familie en vriende sal dankbaar wees as jy nie ’n geskil maak van elke fout wat hulle begaan nie. As jy kalm is en begrip aan die dag lê wanneer ander foute begaan, sal dit verleentheid spaar. ’n Chinese spreuk sê: “Geduld in ’n oomblik van woede, sal jou honderd dae van sielesmart spaar.”
Geduld verbeter jou persoonlikheid en voorsien in werklikheid ’n lagie vernis sodat jou ander goeie eienskappe behoue bly. Dit maak jou geloof duursaam, jou vrede standhoudend en jou liefde onwankelbaar. As jy geduldig is, sal dit jou help om vreugdevol te wees terwyl jy vriendelikheid, goedheid en sagmoedigheid aan die dag lê. As ’n mens geduld beoefen, bou jy die krag op wat so noodsaaklik is om lankmoedigheid en selfbeheersing aan te kweek.
Wag geduldig op die vervulling van Jehovah se beloftes, en dan kan jy van ’n wonderlike toekoms seker wees. Mag jy, soos Abraham, “deur geloof en geduld ’n erfgenaam van die belofte word”.—Hebreërs 6:12, NW.
[Prent op bladsy 23]
’n Hegte verhouding met Jehovah sal jou help om, soos Abraham, geduld aan die dag te lê