Kennis van die regte godsdiens gaan met verantwoordelikheid gepaard
“Salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.”—LUKAS 11:28.
1. Watter soort mense bou hulle lewe om die regte godsdiens wanneer hulle dit gevind het?
DIT is nie genoeg om bloot die regte godsdiens te identifiseer nie. As ons liefhebbers is van wat reg en waar is, sal ons, wanneer ons die regte godsdiens gevind het, ons lewe daarom bou. Die ware godsdiens is nie net ’n lewensbeskouing nie; dit is ’n lewenswyse.—Psalm 119:105; Jesaja 2:3; vergelyk Handelinge 9:2.
2, 3. (a) Hoe het Jesus die belangrikheid daarvan beklemtoon om God se wil te doen? (b) Watter verantwoordelikheid rus daar op elkeen wat die regte godsdiens ken?
2 Jesus Christus het beklemtoon hoe belangrik dit is om te doen wat God getoon het Sy wil is. Ter afsluiting van wat nou as die Bergpredikasie bekend staan, het Jesus gesê dat nie almal wat hom as Here aanspreek (en dus bely dat hulle Christene is) in die Koninkryk sal ingaan nie; dit sal net dié wees wat die wil van sy Vader doen. Ander, het hy gesê, sal as “werkers van wetteloosheid” verwerp word. Waarom wetteloosheid? Omdat die Bybel sê dat versuim om God se wil te doen sonde is, en alle sonde is wetteloosheid. (Mattheüs 7:21-23, vgl. NW; 1 Johannes 3:4; vergelyk Romeine 10:2, 3.) Iemand ken moontlik die regte godsdiens, hy prys moontlik diegene wat dit verkondig en hy praat moontlik met lof van diegene wat dit beoefen, maar hy het ook die verantwoordelikheid om dit in sy eie lewe toe te pas (Jakobus 4:17). As hy daardie verantwoordelikheid aanvaar, sal hy vind dat sy lewe verryk word en sal hy die vreugde ondervind wat op geen ander manier verkry kan word nie.
3 In die vorige artikel het ons ses van die kenmerke van die ware godsdiens bespreek. Elkeen van daardie kenmerke help ons nie net om die regte godsdiens te identifiseer nie, maar bied ons persoonlik ook uitdagings en geleenthede. Hoe so?
Hoe reageer jy op God se Woord?
4. (a) Wat sien nuwelinge gou ten opsigte van Jehovah se Getuies se gebruik van die Bybel wanneer hulle met die Getuies begin assosieer? (b) Watter uitwerking het goeie geestelike voeding op Jehovah se knegte?
4 Terwyl Jehovah se Getuies die Bybel met belangstellendes studeer, besef baie van hierdie nuwelinge gou dat dit wat hulle geleer word uit die Bybel kom. Hulle word nie in antwoord op hulle vrae na geloofsbelydenisse, mensetradisies of die opinies van vooraanstaande mense verwys nie. God se Woord self is die gesag. Wanneer hulle na die Koninkryksaal toe gaan, sien hulle dat die Bybel ook daar die vernaamste handboek is. Dit neem mense wat opreg na die waarheid soek nie lank om te besef dat ’n groot rede vir die vreugde wat hulle onder Jehovah se Getuies sien die feit is dat hulle goeie geestelike voeding uit God se Woord ontvang nie.—Jesaja 65:13, 14.
5. (a) Voor watter uitdaging staan diegene wat sien wat Jehovah se Getuies doen? (b) Hoe kan hulle in die Getuies se vreugde deel?
5 Indien jy dit besef, hoe reageer jy daarop? As jy dit verstaan, kan jy nie met reg net ’n passiewe waarnemer wees nie, en jy moet dit ook nie wil wees nie. Die Bybel toon dat dié wat “net hoorders”, maar nie “daders van die woord” is nie ‘hulleself met valse redenering bedrieg’ (Jakobus 1:22, NW). Hulle bedrieg hulleself omdat hulle nie besef dat hulle deur hulle versuim om God te gehoorsaam, toon dat hulle hom, ongeag wat hulle sê, nie werklik liefhet nie. As ’n mens bely dat jy geloof het, maar dit nie met werke gepaardgaan nie, is jou geloof dood (Jakobus 2:18-26; 1 Johannes 5:3). Daarteenoor sal die een wat deur liefde vir Jehovah beweeg word om “’n dader van die werk” te wees “gelukkig wees in wat hy doen”. Ja, soos Jesus Christus verduidelik het, “salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar”.—Jakobus 1:25; Lukas 11:28; Johannes 13:17.
6. Watter geleenthede sal ons persoonlik probeer aangryp as ons werklik God se Woord waardeer?
6 Daardie vreugde sal vermeerder namate jou kennis van God se wil toeneem en jy die nuwe dinge wat jy leer, toepas. Hoeveel sal jy jou inspan om God se Woord te bestudeer? Tienduisende ongeletterdes het al hard gewerk om te leer lees, en hulle het dit spesifiek gedoen sodat hulle die Skrif kan lees en ander mense daaruit kan leer. Ander staan soggens vroeg op sodat hulle elke dag ’n gedeelte uit die Bybel en Bybelstudiehulpe, soos Die Wagtoring, kan lees. Terwyl jy die Bybel persoonlik deurlees of die teksverwysings in ander studiemateriaal naslaan, moet jy sorgvuldig van Jehovah se wette en gebooie kennis neem en daarna strewe om die talle beginsels wat vir ons as rigsnoere dien daarin te identifiseer. Peins oor wat elke gedeelte oor God, sy voorneme en sy handelinge met die mensdom openbaar. Laat tyd toe dat dit jou hart vorm. Dink aan moontlike maniere waarop jy die Bybel se raad in ’n groter mate in jou lewe kan toepas.—Psalm 1:1, 2; 19:8-12; 1 Thessalonicense 4:1.
Is jy volkome aan Jehovah toegewy?
7. (a) Hoe het die Drie-eenheidsleerstelling mense se pogings beïnvloed om God te aanbid? (b) Wat kan gebeur as iemand die waarheid oor Jehovah leer?
7 Dit was al vir miljoene mense ’n verligting om uit te vind dat die ware God nie ’n Drie-eenheid is nie. Die verduideliking “dit is ’n verborgenheid” het hulle nooit tevrede gestel nie. Hoe kon hulle nader kom aan ’n God wat onverstaanbaar is? As gevolg van daardie leerstelling was hulle geneig om die Vader (wie se naam hulle nooit in die kerk gehoor het nie) te ignoreer en Jesus as God te aanbid of hulle aanbidding tot Maria (wat hulle geleer is die “Moeder van God” is) te rig. Maar dit het hulle hart verbly toe een van Jehovah se Getuies die Bybel oopgemaak en vir hulle God se persoonlike naam, Jehovah, gewys het (Psalm 83:18, NW). Een Venezolaanse vrou was so bly toe die Goddelike naam vir haar gewys is, dat sy die jong Getuie wat haar daardie kosbare waarheid geleer het letterlik omhels en tot ’n tuisbybelstudie ingestem het. Wanneer sulke mense uitvind dat Jesus van sy Vader as “my God en julle God” gepraat het en dat Jesus sy Vader as “die enige waaragtige God” aangespreek het, besef hulle dat wat die Bybel oor God leer nie onverstaanbaar is nie (Johannes 17:3; 20:17). Namate hulle Jehovah se eienskappe leer ken, voel hulle tot hom aangetrokke, begin hulle tot hom bid en wil hulle hom behaag. Wat is die resultaat?
8. (a) Wat het miljoene mense gedoen vanweë hulle liefde vir Jehovah en hulle begeerte om hom te behaag? (b) Waarom is Christendoop lewensbelangrik?
8 Gedurende die afgelope tien jaar het 2 528 524 mense op ses vastelande en op talle eilande hulle lewe aan Jehovah toegewy en daarna hierdie toewyding deur waterdoop gesimboliseer. Was jy een van hulle, of berei jy jou nou voor om gedoop te word? Doop is ’n belangrike mylpaal in die lewe van elke ware Christen. Jesus het sy volgelinge opdrag gegee om dissipels van mense van al die nasies te maak en hulle te doop (Mattheüs 28:19). Dit is ook noemenswaardig dat Jehovah self direk ná Jesus se doop uit die hemel gespreek en gesê het: “U is my geliefde Seun; in U het Ek ’n welbehae.”—Lukas 3:21, 22.
9. Wat moet ons doen om ’n goedgekeurde verhouding met Jehovah te behou?
9 ’n Goedgekeurde verhouding met Jehovah is iets wat gekoester moet word. As jy deur toewyding en doop so ’n verhouding aangeknoop het, moet jy enigiets vermy wat dit kan benadeel. Moenie toelaat dat die sorge van die lewe en besorgdheid oor materiële dinge dit minder belangrik maak nie (1 Timotheüs 6:8-12). Leef waarlik in ooreenstemming met die raad van Spreuke 3:6: “Ken [Jehovah] in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”
Hoe diep raak Christus se liefde jou?
10. Waarom lei ons aanbidding van Jehovah nie daartoe dat ons Jesus ignoreer nie?
10 Gepaste waardering vir Jehovah as die enigste ware God lei natuurlik nie daartoe dat ’n mens Jesus Christus ignoreer nie. Inteendeel, Openbaring 19:10 sê: “Dit is die aflegging van getuienis van Jesus wat profesie inspireer” (NW). Van Genesis tot Openbaring voorsien die geïnspireerde profesieë besonderhede oor Jesus Christus se rol in Jehovah se voorneme. Namate ’n mens daardie besonderhede leer ken, kom daar ’n fassinerende beeld te voorskyn wat vry is van die verdraaidheid en misvattings wat die gevolg van die Christendom se valse leerstellings is.
11. Watter uitwerking het dit op ’n vrou in Pole gehad toe sy uitgevind het wat die Bybel werklik oor God se Seun leer?
11 As ’n mens die waarheid oor God se Seun begryp, kan dit ’n diepgaande invloed op jou hê. Dit is wat met Danuta, ’n vrou in Pole, gebeur het. Sy het agt jaar lank kontak met Jehovah se Getuies gehad en geniet wat sy geleer het, maar sy het nie ware aanbidding haar lewenswyse gemaak nie. Toe het sy ’n eksemplaar ontvang van die boek Die grootste mens wat nog geleef het, waarin die lewe van Christus op ’n maklik verstaanbare manier weergegee word.a Sy het die aand laat die boek oopgemaak en was van plan om net een hoofstuk te lees. Maar sy het die boek eers teen dagbreek neergesit nadat sy dit deurgelees het. Sy het in trane uitgebars. “Jehovah, vergewe my”, het sy gesmeek. As gevolg van wat sy gelees het, het sy duideliker as ooit tevore besef hoe groot Jehovah en sy Seun se liefde is. Sy het besef dat sy agt jaar lank op ondankbare wyse die hulp van die hand gewys het wat God haar geduldig aangebied het. Sy is in 1993 gedoop as ’n simbool van haar toewyding aan Jehovah op grond van geloof in Jesus Christus.
12. Hoe beïnvloed juiste kennis van Jesus Christus ons lewe?
12 “Juiste kennis van ons Here Jesus Christus” behels dat ’n mens ’n bedrywige en produktiewe Christen is (2 Petrus 1:8, NW). In watter mate sal jy aan hierdie bedrywigheid deelneem en die Koninkryksboodskap aan ander verkondig? Hóéveel individue kan doen, word deur verskillende omstandighede bepaal (Mattheüs 13:18-23). Daar is sekere omstandighede waaraan ons niks kan verander nie; ander kan ons verander. Wat sal ons beweeg om die veranderinge wat aangebring kan word, te identifiseer en aan te bring? Die apostel Paulus het geskryf: “Die liefde van Christus dring ons”; met ander woorde, die liefde wat hy teenoor ons betoon het deur sy lewe ten behoewe van ons af te lê, is so uitsonderlik dat dit ons hart diep sal raak namate ons waardering daarvoor toeneem. Ons besef gevolglik dat dit heeltemal ongepas sal wees om selfsugtige doelwitte na te jaag en hoofsaaklik te lewe om onsself te behaag. Ons pas eerder ons sake aan sodat ons die werk wat Christus sy dissipels leer doen het eerste kan stel.—2 Korinthiërs 5:14, 15.
Afgeskeidenheid van die wêreld—In watter mate?
13. Waarom moet ons geen aandeel wil hê aan ’n godsdiens wat ’n deel van die wêreld geword het nie?
13 Dit is nie moeilik om te sien watter reputasie die Christendom en ander godsdienste opgebou het omdat hulle ’n deel van die wêreld wil wees nie. Kerkfondse word gebruik om revolusionêre bedrywighede te finansier. Priesters word guerrillavegters. Koerante bevat dag ná dag berigte oor godsdiensfaksies in verskillende wêrelddele wat teen mekaar veg. Hulle hande is vol bloed (Jesaja 1:15). En wêreldwyd probeer die geestelikes steeds die politieke toneel manipuleer. Ware aanbidders het geen aandeel daaraan nie.—Jakobus 4:1-4.
14. (a) Wat moet ons persoonlik vermy as ons afgeskeie van die wêreld wil bly? (b) Wat kan ons help om nie deur wêreldse gesindhede en gebruike verstrik te raak nie?
14 Maar afgeskeidenheid van die wêreld behels meer as dit. Die wêreld word gekenmerk deur die liefde vir geld en wat geld kan vermag, die begeerte na vernaamheid en ’n aanhoudende najaging van plesier asook dinge soos ’n gebrek aan ware belangstelling in ander, leuens en skeltaal, opstand teen gesag en versuim om selfbeheersing te beoefen (2 Timotheüs 3:2-5; 1 Johannes 2:15, 16). Weens ons eie onvolmaaktheid kan ons soms op die een of ander manier van daardie eienskappe openbaar. Wat kan ons help in ons stryd om sulke strikke te vermy? Ons moet ons herinner aan wie agter al hierdie dinge sit. ‘Die hele wêreld lê in die mag van die Bose’ (1 Johannes 5:19). Ongeag hoe aanloklik ’n sekere handelswyse lyk, ongeag hoeveel ander mense so lewe, wanneer ons sien dat Jehovah se vernaamste teenstander, Satan die Duiwel, daaragter sit, besef ons hoe lelik dit werklik is.—Psalm 97:10.
Hoe ver reik jou liefde?
15. Hoe het die onselfsugtige liefde wat jy gesien het jou gehelp om die regte godsdiens te identifiseer?
15 Toe jy aanvanklik met Jehovah se Getuies begin assosieer het, het die liefde onder hulle jou ongetwyfeld aangetrek omdat dit so anders as die gees van die wêreld is. Klem op onselfsugtige liefde onderskei die ware aanbidding van Jehovah van alle ander vorme van aanbidding. Dit is moontlik wat jou oortuig het dat Jehovah se Getuies inderdaad die regte godsdiens beoefen. Jesus Christus self het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.
16. Watter geleenthede is daar moontlik vir ons persoonlik om in ons liefde verruim te word?
16 Identifiseer daardie eienskap jou ook as een van Christus se dissipels? Is daar maniere waarop jy in die betoning van jou liefde verruim kan word? Ons almal kan dit ongetwyfeld doen. Liefde behels meer as om vriendelik teenoor ander in die Koninkryksaal te wees. En sal ons werklik anders as die wêreld wees as ons net liefde sou betoon teenoor diegene wat aan ons liefde betoon? “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê”, spoor die Bybel ons aan (1 Petrus 4:8). Teenoor wie kan ons groter liefde betoon? Is dit ’n Christenbroer of -suster wie se agtergrond van ons s’n verskil en wie se manier om sekere dinge te doen ons irriteer? Is dit iemand wat, as gevolg van siekte of ouderdom, nie die vergaderinge gereeld kan bywoon nie? Is dit ons huweliksmaat? Of is dit miskien ons bejaarde ouers? Sommige wat die vrugte van die gees, waaronder liefde, met welslae aan die dag gelê het, het gevoel asof hulle al hierdie eienskappe van nuuts af geleer het wanneer hulle voor die baie moeilike situasies te staan gekom het wat kan ontstaan as ’n gesinslid wat ernstig gestremd geraak het met byna alles gehelp moet word. Selfs wanneer ons voor hierdie situasies te staan kom, moet ons liefde natuurlik ook verder as ons huisgesin reik.
Koninkrykspredikingswerk—Hoe belangrik is dit vir jou?
17. Wat moet ons nou wil doen as ons persoonlik by die besoeke van Jehovah se Getuies baat gevind het?
17 ’n Belangrike manier waarop ons liefde teenoor ons medemense betoon, is deur vir hulle oor God se Koninkryk te getuig. Net een groep mense doen hierdie werk wat Jesus voorspel het (Markus 13:10). Dit is Jehovah se Getuies. Ons het persoonlik daarby baat gevind. Nou is dit ons voorreg om ander te help. As ons God se beskouing van die saak het, sal hierdie werk ’n belangrike plek in ons lewe inneem.
18. Hoe kan dit ons aandeel aan die Koninkryksgetuieniswerk beïnvloed as ons die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk lees?
18 Die opwindende verslag oor hoe die Koninkryksboodskap gedurende hierdie laaste dae tot in die mees afgeleë dele van die aarde verkondig is, word in die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk gegee. As dit in jou taal beskikbaar is, moet jy nie versuim om dit te lees nie. En terwyl jy dit lees, moet jy besondere aandag skenk aan al die maniere waarop mense ’n aandeel aan die Koninkryksgetuieniswerk gehad het. Is daar sommige wie se voorbeeld jy kan volg? Daar is vir ons almal baie geleenthede wat ons kan aangryp. Mag ons liefde vir Jehovah ons beweeg om dit goed te gebruik.
19. Hoe vind ons daarby baat wanneer ons die verantwoordelikheid aanvaar wat met kennis van die regte godsdiens gepaardgaan?
19 As ons ons dus daarop toelê om Jehovah se wil te doen, sal ons die antwoord vind op die vraag: Wat is die doel van die lewe? (Openbaring 4:11). Ons sal nie meer in die donker rondtas of ’n gevoel van leegheid ervaar nie. Daar is geen loopbaan waaraan jy jou kan wy wat groter tevredenheid sal bring as om jou heelhartig op die diens van Jehovah God toe te lê nie. En wat ’n wonderlike toekoms hou dit tog nie vir ons in nie! ’n Bevredigende lewe vir ewig in sy nuwe wêreld, waar ons al ons talente ten volle sal kan gebruik in ooreenstemming met die liefdevolle doel waarvoor God die mens geskep het.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom is dit noodsaaklik dat ’n godsdiens die Bybel as God se Woord aanvaar en Jehovah as die ware God eer?
◻ Wat leer die ware godsdiens ten opsigte van Jesus se rol as die Verlosser?
◻ Waarom moet Christene afgeskeie van die wêreld bly en onselfsugtige liefde aan die dag lê?
◻ Watter rol speel die Koninkryksgetuieniswerk in die regte godsdiens?
[Prente op bladsy 16]
Doop is ’n noodsaaklike stap in die aanvaarding van die verantwoordelikhede van ware aanbidding. Elke maand doen sowat 25 000 oor die hele wêreld daardie stap
Rusland
Senegal
Papoea-Nieu-Guinee
VSA
[Prente op bladsy 17]
Dit maak deel uit van ware aanbidding om Bybelwaarhede aan ander te verkondig
VSA
Brasilië
VSA
Hong-kong