Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 7/15 bl. 28-30
  • Hoe akkuraat is die Joodse kalender?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe akkuraat is die Joodse kalender?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die beginpunt word vasgestel
  • Die “Skeppingsjaartelling”
  • Die grondslag vir die chronologie
  • Tradisies en uitleggings
  • ’n Godsdiensreliek
  • Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie
    Die mensdom se soeke na God
  • Studie nommer 3—Die plasing van gebeurtenisse in die tydstroom
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Jaartalle
    Redenering uit die Skrif
  • Hoe Daniël se profesie die koms van die Messias voorspel
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 7/15 bl. 28-30

Hoe akkuraat is die Joodse kalender?

VOLGENS die Joodse kalender was Donderdag, 16 September 1993, die feesdag Roosj Hasjana. Volgens oorlewering is die ramshoringtrompet toe geblaas om die nuwe jaar aan te kondig. Daardie jaar is 5754 (volgens die Joodse kalender) en dit loop van 16 September 1993 tot 5 September 1994.

Ons merk dadelik op dat daar ’n verskil van 3 760 jaar tussen die Joodse tydsberekening en die Westerse, of Gregoriaanse, kalender is wat nou algemeen gebruik word. Waarom is daar so ’n verskil? En hoe akkuraat is die Joodse kalender?

Die beginpunt word vasgestel

Enige stelsel van tydsberekening moet ’n spesifieke begin- of uitgangspunt hê. Die Christendom bereken tyd byvoorbeeld vanaf die jaar waarin hulle meen Jesus Christus gebore is. Daar word gesê dat jaartalle sedertdien in die Christelike jaartelling val. Dit word dikwels aangedui deur die skryfwyse AD, volgens die Latynse anno Domini, wat beteken “in die jaar van ons Here”. Jaartalle voor daardie tyd word as v.C., “voor Christus”, aangedui.a Die tradisionele Chinese bereken tyd eweneens vanaf 2698 v.G.J., die begin van die bewind van die legendariese Hoeang-Ti, die Geel Keiser. Daarom het 10 Februarie 1994 die begin van die Chinese maanjaar 4692 aangedui. Maar wat van die Joodse kalender?

The Jewish Encyclopedia sê: “Die metode wat tans oor die algemeen deur Jode gebruik word om die datum van ’n gebeurtenis aan te dui, is om die aantal jare aan te gee wat sedert die skepping van die wêreld verstryk het.” Hierdie stelsel, wat onder Jode as die Skeppingsjaartelling bekend staan, is omstreeks die negende eeu G.J. algemeen begin gebruik. Jaartalle op die Joodse kalender word dus gewoonlik deur die aanduiding AM voorafgegaan. Dit beteken anno mundi, wat ’n verkorte vorm van ab creatione mundi is en “sedert die skepping van die wêreld” beteken. Aangesien die huidige jaar, volgens hierdie stelsel van tydsberekening, AM 5754 is, word daar gesê dat “die skepping van die wêreld” 5 753 jaar gelede plaasgevind het. Kom ons kyk hoe dit vasgestel is.

Die “Skeppingsjaartelling”

Die Encyclopaedia Judaica (1971) gee hierdie verduideliking: “Volgens verskeie rabbynse berekenings het die ‘Skeppingsjaartelling’ in die herfs van een van die jare tussen 3762 en 3758 v.G.J. begin. Sedert die 12de eeu G.J. is daar egter begin aanvaar dat die ‘Skeppingsjaartelling’ in 3761 v.G.J. (op 7 Okt. van daardie jaar, om presies te wees) begin het. Hierdie berekening is gegrond op sinchronismes van chronologiese faktore wat in die Bybel voorkom en chronologiese inligting wat in vroeë na-Bybelse Joodse lektuur gevind word.”

Die dateringstelsel van “die skepping van die wêreld” af is hoofsaaklik op rabbynse uitleggings van die Bybelverslag gegrond. Aangesien rabbynse geleerdes, sowel as dié van die Christendom, glo dat die wêreld en alles daarin in ses letterlike dae van 24 uur elk geskep is, glo hulle dat die skepping van die eerste mens, Adam, in dieselfde jaar as die skepping van die wêreld plaasgevind het. Dit is egter alles behalwe akkuraat.

Die eerste hoofstuk van Genesis begin deur te sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Dan beskryf dit wat God in ses opeenvolgende “dae” gedoen het om die aarde van ’n toestand wat “woes en leeg” was tot ’n habitat geskik vir mense te omskep (Genesis 1:1, 2). Miljoene jare kon tussen hierdie twee stadiums verloop het. Daarbenewens was die skeppingsdae nie tydperke van 24 uur, asof die Skepper se werksaamhede deur so ’n beperking gestuit kon word nie. Genesis 2:4 toon dat ’n “dag” in hierdie konteks langer as 24 uur kan wees, want dit praat van al die skeppingstydperke as een “dag”. Baie duisende jare het verloop van die eerste tot die sesde skeppingsdag, toe Adam geskep is. Om te sê dat Adam terselfdertyd as die fisiese hemel en aarde geskep is, is nie skriftuurlik óf wetenskaplik korrek nie. Maar hoe is daar vasgestel dat die “Skeppingsjaartelling” in 3761 v.G.J. begin het?

Die grondslag vir die chronologie

Ongelukkig bestaan die meeste van die Joodse lektuur waarop die berekenings onder bespreking gegrond is nie meer nie. Wat oorbly, is ’n chronologiese werkstuk wat oorspronklik Seder ʽOlam (Orde van die wêreld) genoem is. Dit word toegeskryf aan Yose ben Halafta, ’n Talmoediese geleerde van die tweede eeu G.J. Hierdie werkstuk (wat later Seder ʽOlam Rabbah genoem is om dit van ’n Middeleeuse kroniek met die titel Seder ʽOlam Zuṭa te onderskei) verskaf ’n chronologiese geskiedenis van Adam af tot die Joodse opstand teen Rome onder die valse Messias Bar Kokhba in die tweede eeu G.J. Hoe het die skrywer hierdie inligting verkry?

Hoewel Yose ben Halafta by die Bybel se verslag probeer hou het, het hy sy eie uitleggings bygevoeg waar die teks onduidelik was met betrekking tot die betrokke jaartalle. “In baie gevalle . . . het hy tradisionele jaartalle gegee en daarbenewens het hy die uitdrukkings en halakot [tradisies] van vorige rabbi’s en dié van sy tydgenote ingevoeg”, sê The Jewish Encyclopedia. Ander is nie so vriendelik in hulle beoordeling nie. The Book of Jewish Knowledge sê: “Hy het van die Skeppingsjaartal af getel en dienooreenkomstig onbewese jaartalle vir verskillende Joodse gebeurtenisse gebruik wat hy aangeneem het van Adam, die eerste mens, se tyd af tot by Alexander die Grote plaasgevind het.” Maar presies watter uitwerking het sulke uitleggings en invoegings op die akkuraatheid en egtheid van die Joodse chronologie gehad? Kom ons kyk.

Tradisies en uitleggings

Yose ben Halafta het ooreenkomstig die rabbynse tradisie bereken dat die tweede tempel in Jerusalem altesaam 420 jaar gestaan het. Dit was op die rabbynse uitlegging van Daniël se profesie van “sewentig sewetalle”, of 490 jaar, gegrond (Daniël 9:24). Hierdie tydperk is gebruik vir die periode van die vernietiging van die eerste tempel af tot die verwoesting van die tweede. Yose ben Halafta het 70 jaar vir die Babiloniese ballingskap toegelaat en tot die slotsom gekom dat die tweede tempel 420 jaar gestaan het.

Maar hierdie uitlegging lewer ’n ernstige probleem op. Die jaar waarin Babilon tot ’n val gekom het (539 v.G.J.) sowel as die jaar waarin die tweede tempel vernietig is (70 G.J.), is bekende geskiedkundige jaartalle. Die tydperk van die tweede tempel moet dus 605 jaar wees en nie 420 jaar nie. Aangesien Joodse chronologie slegs 420 jaar vir hierdie tydperk toelaat, kom dit 185 jaar kort.

Daniël se profesie gaan nie oor hoe lank die tempel in Jerusalem sou bly staan nie. Dit het eerder die tyd voorspel wanneer die Messias sou verskyn. Die profesie toon duidelik dat “van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, . . . sewe sewetalle . . . en twee-en-sestig sewetalle” sou wees (Daniël 9:25, 26). Hoewel die tempel se fondament gelê is in die tweede jaar van die Jode se terugkeer uit ballingskap (536 v.G.J.) het “die woord” om die stad Jerusalem te herbou eers in “die twintigste jaar van koning Artasasta” uitgegaan (Nehemia 2:1-8). Akkurate sekulêre geskiedenis bevestig dat daardie jaar 455 v.G.J. is. As ons 69 “sewetalle”, of 483 jaar, vorentoe tel, bring dit ons by 29 G.J. Dit was die tyd toe die Messias verskyn het, toe Jesus gedoop is.b

Nog iets in die rabbynse uitlegging wat ’n groot teenstrydigheid in Joodse chronologie tot gevolg gehad het, is die tyd van Abraham se geboorte. Die rabbi’s het die jare van die opeenvolgende geslagte wat in Genesis 11:10-26 opgeteken is, bymekaargetel en 292 jaar gebruik vir die tydperk van die Sondvloed af tot Abraham (Abram) se geboorte. Die probleem lê egter in die rabbynse uitlegging van vers 26, wat sê: “Tera het sewentig jaar voortgeleef, waarna hy die vader van Abram, Nahor en Haran geword het” (NW). Die Joodse tradisie lei hieruit af dat Tera 70 jaar oud was toe Abram gebore is. Maar die vers sê nie spesifiek dat Tera 70 was toe hy die vader van Abraham geword het nie. Dit sê eerder net dat hy die vader van drie seuns geword het nadat hy 70 jaar oud was.

Om uit te vind hoe oud Tera werklik was toe Abraham gebore is, hoef ons net verder te lees in die Bybelverslag. In Genesis 11:32–12:4 sien ons dat Abraham en sy gesin Haran op Jehovah se bevel verlaat het nadat Tera op die ouderdom van 205 gesterf het. Abraham was toe 75 jaar oud. Abraham moes dus gebore gewees het toe Tera 130 jaar oud was en nie 70 nie. Die tydperk vanaf die Sondvloed tot Abraham se geboorte was dus 352 jaar en nie 292 jaar nie. Hier is die Joodse chronologie 60 jaar uit.

’n Godsdiensreliek

Sulke foute en teenstrydighede in Seder ‘Olam Rabbah en ander Talmoediese chronologiese werkstukke het baie verleentheid en talle besprekings onder Joodse geleerdes tot gevolg gehad. Hoewel talle pogings al aangewend is om hierdie chronologie in ooreenstemming te bring met die historiese feite wat bekend is, was dit nie heeltemal suksesvol nie. Waarom nie? “Hulle belangstelling was meer godsdienstig as akademies”, sê die Encyclopaedia Judaica. “Die tradisie moes tot elke prys hooggehou word, veral in die aangesig van andersdenkende sektariërs.” Pleks dat Joodse geleerdes die verwarring uitgeskakel het wat deur hulle tradisies veroorsaak is, het party die geloofwaardigheid van die Bybelverslae probeer aantas. Ander het steun in Babiloniese, Egiptiese en Hindoelegendes en -tradisies probeer vind.

Gevolglik beskou geskiedkundiges nie meer die “Skeppingsjaartelling” as ’n betroubare chronologiese werkstuk nie. Min Joodse geleerdes sal dit probeer verdedig, en selfs gesaghebbende naslaanwerke soos The Jewish Encyclopedia en die Encyclopaedia Judaica beskou dit oor die algemeen in ’n negatiewe lig. Die tradisionele Joodse metode van tydsberekening van die skepping van die wêreld af kan dus nie as akkuraat beskou word met die oog op Bybelchronologie, Jehovah God se profetiese tydrooster wat hom ontvou, nie.

[Voetnote]

a Bybelse sowel as geskiedkundige bewyse dui daarop dat Jesus Christus in die jaar 2 v.C. gebore is. Ter wille van akkuraatheid verkies baie derhalwe om die letters G.J. (Gewone Jaartelling) en v.G.J. (voor die Gewone Jaartelling) te gebruik, en dit is hoe jaartalle in die Wagtoringgenootskap se publikasies aangedui word.

b Vir besonderhede sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 614-16, 900-902; Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig, Studie nommer 3, par. 18, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., en ook Die Wagtoring van 1 Oktober 1992, bladsy 11, par. 8-11.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel