Ek dien saam met die progressiefste organisasie
SOOS VERTEL DEUR ROBERT HATZFELD
Vandag skakel baie mense die televisie met ’n afstandskontrole aan om in volle kleur na die aandnuus te kyk, en hulle dink glad nie dat dit iets buitengewoons is nie. Tog voel dit net soos gister dat ek as ’n 12-jarige seun grootoog na die groter as lewensgroot beeld van ’n man op ’n rolprentskerm gekyk het, en hy het gepraat!
DIT is nie juis groot nuus nie, dink jy dalk. Maar in 1915, in die vroeë dae van die swart-en-wit-stilprente, het dit vir my beslis na ’n hedendaagse wonderwerk gelyk. ’n Waardige man met ’n baard het op die skerm verskyn en gesê: “Die Fotodrama van die Skepping word aangebied deur IBSA, die Internasionale Bybelstudente-vereniging.” Die volgende twee uur het die Bybel se verhaal voor ons oë ontvou. Die skriftuurlike boodskap daarvan was duidelik en verkwikkend. Maar dit was die rolprent wat met kleurskyfies afgewissel is en die gesinchroniseerde klank wat my eintlik geboei het.
Hoewel ek dit nie toe besef het nie, was my jeugdige geesdrif oor daardie epogmakende tegnologie ’n voorspel tot ’n lewenslange loopbaan saam met die progressiefste organisasie op aarde.
Die vroeë dae
My pa het in 1891 van Dillenburg, Duitsland, na die Duitse gemeenskap in Allegheny, Pennsilvanië, VSA, gekom. Daar het hy later ’n meisie uit ’n Duitse gesin ontmoet, en hulle is getroud. Ek is op 7 Julie 1903 gebore en het Duits- en Engelssprekend grootgeword. Net voor die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het, het albei my ouers tydens ’n tuberkulose-epidemie gesterf en is ek wees gelaat. My oupa het min of meer dieselfde tyd weens beroerte gesterf.
My tannie, Minna Boemer, het my goedgunstiglik ingeneem. “Ek het vyf kinders”, het sy gesê. “Nog een sal nie ’n verskil maak nie.” Hoewel ek na my ouers verlang het, het tannie Minna my ’n goeie tuiste gegee.
My tannie was al lank lid van die Allegheny-gemeente van die Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies in daardie dae bekend gestaan het). Voor 1909 was broer C. T. Russell, wat toe die president van die Wagtoringgenootskap was, ook in daardie gemeente. Tannie Minna het my na die vergaderinge toe geneem. Hoewel ons gesin destyds nie ’n doelbewuste poging aangewend het om te studeer of te preek nie, het ons alles wat ons by die vergaderinge gehoor het informeel aan kennisse vertel.
Dit was gedurende hierdie tyd dat die “Fotodrama” my met verwondering vervul het. Aangesien ek meganies aangelê was, het die nuwe fotografiese tegnieke en die klank-en-beeld-sinchronisering, asook die tydsverloopfotografie, my geboei. Dit was opwindend om te sien hoe die blomme oopgaan!
Ons was baie hartseer oor broer Russell se dood in 1916. Aangesien ons daar in Allegheny gewoon het, het ons sy begrafnis in die Carnegie-saal bygewoon. Dit was die saal waar die debat in 1903 tussen broer Russell en E. L. Eaton plaasgevind het. Ek het staaltjies oor hierdie Metodisties-Episkopaalse leraar gehoor wat C. T. Russell tot ’n sesdaagse debat uitgedaag het en gehoop het om broer Russell se reputasie as ’n Bybelgeleerde onder verdenking te plaas. Pleks daarvan is daar gesê dat broer Russell ‘die brandslang op die hel gerig het’. Sara Kaelin, ’n welbekende kolporteur in Pittsburgh, het die Russells persoonlik geken. By die begrafnis het sy gesien hoe Maria Russell blomme in die kis gesit het met die kaartjie: “Aan my geliefde man.” Hoewel Maria hom ’n paar jaar vantevore verlaat het, het sy hom steeds as haar man erken.
Met die verloop van jare het ek baie geleenthede gehad om tegniese bekwaamhede te ontwikkel wat nuttig was vir my toekomstige loopbaan. Die oom wat my voog was, was ’n boukontrakteur. Gedurende my skoolvakansies het hy my saam met sy elektrisiëns laat werk om ou herehuise se gasbeligting na elektrisiteit te verander. In 1918 het die leerlinge in ons skool amateurradiotelegraaftoerusting gebou. Ons het saans bymekaargekom om te studeer en veldeksperimente met elektrisiteit en magnetisme te doen. In 1926 het ek en ’n vriend besluit om ’n droom uit ons kinderdae te verwesenlik—om op skepe te werk en deur die wêreld te reis. Ons het by die skool vir radiotelegraafoperateurs van die Radiokorporasie van Amerika aangesluit.
’n Nuwe lewe in Bethel
Die radioskool wat ons bygewoon het, was in New York-stad, en ek het dus die Bybelstudente se vergaderinge oorkant die rivier in Brooklyn bygewoon wat in die gehuurde ouditorium van die ou Vrymesselaarstempel gehou is. Destyds was daar net een gemeente vir die hele New York. Toe die broers van Bethel (die tuiste van die Bybelstudente se hoofkwartiergesin) uitgevind het dat ek vir ’n handelsradiolisensie studeer, het hulle gesê: “Waarom wil jy matroos word? Ons het ’n radiostasie hier en het ’n operateur nodig.” Hulle het my gevra om vir ’n onderhoud na die kantoor toe te kom. Ek het niks omtrent Bethel geweet nie, behalwe dat dit die Bybelstudente se hoofkwartier is.
Die broers het ’n onderhoud met my gevoer en aanbeveel dat ek my opleiding voltooi, ’n lisensie kry en dan na Bethel toe kom. Toe ek my opleiding voltooi het, het ek, pleks van op ’n skip te klim en na die oop see te vaar, my paar kledingstukke gepak en ’n moltrein Bethel toe gehaal. Hoewel ek aan Jehovah toegewy was en al jare aan die predikingswerk deelgeneem het, is ek eers in Desember 1926 gedoop, twee weke nadat ek by Bethel aangekom het. Destyds was dit niks ongewoons nie.
Met 150 lede was Bethel daardie dae oorvol. Ons was vier mans in ’n kamer. Ek het weldra die meeste van hulle leer ken, aangesien ons almal in dieselfde kompleks geëet, gewerk en geslaap het, en ons almal was natuurlik in die enigste gemeente in New York-stad. Die nuwe Bethelhuis is in 1927 in Columbia Heights 124 voltooi, en toe kon ons twee-twee in ’n kamer woon.
In 1927 is die nuwe fabriek in Adamsstraat 117 ook geopen. Ek het gehelp om die toerusting van die ou fabriek in Concordstraat 55 te verskuif. Benewens die radiotoerusting was daar in die fabriek ook hysers, drukperse, wasserytoerusting, oliebranders—as dit drade gehad het, het ek daaraan gewerk.
Bethel was egter meer as net ’n fabriek. Agter elke boek, elke traktaat, elke tydskrif was daar ’n menigte nederige, hardwerkende knegte. Hulle was nie daarop uit om in die wêreld te presteer nie. Hulle wou eerder net die Here se werk gedoen kry—en daar was baie om te doen!
Assosiasie met broer Rutherford
Ek het grootliks daarby baat gevind om saam met Joseph F. Rutherford, die Genootskap se tweede president, te werk. Hy was ’n groot man, oor die 1,8 meter lank, nie vet nie, maar stewig gebou. Baie van die jonger broers by Bethel was ’n bietjie bang vir hom totdat hulle hom leer ken het. Hy het voortdurend gestudeer en geskrewe materiaal voorberei.
Broer Rutherford het ’n goeie humorsin gehad. Daar was twee ouer susters in die Bethelgesin wat al sedert broer Russell se tyd daar was. Hulle was taamlik nougeset en het geglo dat dit onbetaamlik is om hard te lag selfs wanneer iets snaaks was. Soms het broer Rutherford tydens middagete iets vertel wat almal laat lag het, en dit het hierdie twee susters omgekrap. Maar hy het dikwels ook ernstige Bybelbesprekings tydens maaltye gehou.
Broer Rutherford was ’n goeie kok en het dit geniet om maaltye vir vriende voor te berei. Eenkeer het die Bethelkokke van die hoenderbeentjies laat versplinter toe hulle die hoenders opgesny het. Hy het in die kombuis ingestap en vir hulle gewys hoe om ’n hoender reg op te sny. Hy het nie van splinters in sy kos gehou nie!
Ek het dikwels ook op ’n informele grondslag met broer Rutherford te doen gehad, soos by ons radiostasie, WBBR, of in sy studeerkamer op Staten Island. Hy was ’n baie vriendelike mens en sy dade het met sy woorde gestrook. Hy het niks van ander verwag wat hy self nie sou doen nie. In teenstelling met persone in verantwoordelike posisies in baie ander godsdiensorganisasies het broer Rutherford hom op geestelike en morele gebied uitstekend gedra. Dit was duidelik dat hy vir Jehovah se Koninkryk gelewe het.
Moeilike finansiële tye
’n Paar jaar nadat ek by Bethel aangekom het, het die wêreld die Groot Depressie ondervind. Finansiële markte en die pryse van handelsartikels het in duie gestort. Werk en geld was skaars. Die werk by Bethel het van bydraes afgehang, en Jehovah het altyd gesorg dat daar genoeg was om na die werk om te sien. Ons was nooit sonder kos nie, hoewel dit moontlik nie altyd was wat ’n mens graag sou wou gehad het nie. Ons het so spaarsaam as moontlik gelewe, en die broers buite Bethel het ons gehelp waar hulle kon.
In 1932 het broer Robert Martin, die getroue opsiener van ons fabriek, gesterf. Die 27-jarige Nathan Knorr is in sy plek aangestel. Hy was ’n baie bekwame jong man. Ek kan nie onthou dat dit vir enigiemand moeilik was om hom as die fabrieksopsiener te aanvaar nie. Ander getroue broers, onder andere John Kurzen, George Kelly, Doug Galbraith, Ralph Leffler en Ed Becker—al my dierbare medewerkers—het hulle vakmanskap en vindingrykheid gewillig aan die Koninkryksdiens gewy.—Vergelyk Exodus 35:34, 35.
Radiowerk
Ons organisasie was deur en deur daaraan gewy om die goeie nuus op enige moontlike manier te verkondig. Die hele wêreld moes van die Koninkryk hoor, maar ons was maar ’n paar duisend. Die radiotegnologie het ná die Eerste Wêreldoorlog nog in sy kinderskoene gestaan. Maar broers met goeie insig het gevoel dat dit die kommunikasiemetode was wat Jehovah destyds voorsien het. Daarom het hulle in 1923 die WBBR-radiostasie op Staten Island, een van die vyf munisipaliteite van New York-stad, gebou.
Soms was ek die enigste operateur van ons stasie. Ek het daar op Staten Island gewoon, maar het die drie uur lange boot- en treinrit na die fabriek in Brooklyn afgelê om elektriese of werktuigkundige werk te doen. Om ons radiostasie so te sê selfstandig te maak, het ons ’n dieselkragopwekker geïnstalleer. Op Staten Island het ons ook ons eie boorgate gehad en ’n tuin wat voedsel aan die klein personeel daar, asook aan die Bethelgesin in Brooklyn, voorsien het.
Totdat daar later meer hulp gekom het, het die verantwoordelikhede van die radiowerk my vergaderingbywoning en velddiens grootliks beperk. Daar was geen tyd vir sosiale funksies of naweekuitstappies behalwe ons jaarlikse vakansie nie. Iemand het my eenkeer gevra: “Het jy nooit met so ’n veeleisende rooster daaraan gedink om Bethel te verlaat nie?” Ek moes eerlik sê: “Nee.” Dit was nog altyd ’n voorreg en vreugde om saam met soveel toegewyde broers en susters te woon en te werk. En daar was altyd werk wat gedoen moes word, die een of ander nuwe projek om aan te pak.
Ons het roerende radiodramas opgevoer en uitgesaai. Omdat ons geen plate met spesiale effekte gehad het nie, moes ons ons eie metodes uitdink. Ons het ’n masjien gemaak wat die klank van ’n sagte briesie of ’n kwaai storm kon namaak. Die klank van halwe kokosneutdoppe op gestoffeerde planke het perdehoewe geword wat op klipstrate hardloop. Elke drama was ’n skitterende sukses. En mense het geluister. In daardie dae toe daar maar min afleiding was, het baie mense nog gesit en aandagtig geluister.
In die twintiger- en dertigerjare het die Genootskap radiogeskiedenis gemaak toe hulle keer op keer die grootste aantal stasies vir ’n enkele program deur middel van radio en telefoonlyne verbind het. Die Koninkryksnuus het dus miljoene wêreldwyd bereik.
Die grammofoon
In die middel-dertiger- en die vroeë veertigerjare het ons transkripsiemasjiene, grammofone en ander klanktoerusting ontwerp en gebou. Met ’n spesiale draaibank het ons die meesterplate uit seepgladde byewasskywe gesny. Dan het ons elke meesterplaat sorgvuldig onder ’n mikroskoop bestudeer om seker te maak dat dit geen swak plekke het nie. As daar enige foute was, moes ons die opnamesessie herhaal en nog ’n plaat sny. Dan het ons die oorspronklike byewasskywe na ’n platemaatskappy gestuur wat die grammofoon- en transkripsieplate gemaak het.
Een opwindende gebeurtenis wat ek baie goed onthou, is broer Rutherford se toespraak in 1933 getiteld: “Uitwerking van die heilige jaar op vrede en voorspoed.” Die pous het daardie jaar as ’n “heilige jaar” verklaar, en deur middel van radio-uitsendings en grammofone het ons dit blootgelê en getoon dat dit op niks heiligs sou uitloop nie. Dit het toe ook gebeur dat Hitler daardie jaar met die steun van die Katolieke Kerk aan die bewind gekom het, en enige hoop op vrede het derhalwe verdwyn.
Die Katolieke Aksie-organisasie is in die Verenigde State gevorm om te doen wat die kerk wou hê. Hulle het hulle eie manne op die redaksiebestuur van die vernaamste koerante, tydskrifte en boekuitgewers geplaas. Hulle het hulle met die politiek bemoei en gedreig om enige stasie te boikot wat ons Bybeltoesprake uitsaai. Baie Getuies is deur Katolieke Aksie-groepe aangeval, veral in die nabygeleë New Jersey. Dit was ’n spanningsvolle tyd!
Vreugdevolle werk in die veld
Teen die middel-vyftigerjare het die groeiende geledere van Koninkryksverkondigers meer mense by hulle huis bereik. Dit was baie doeltreffender as die radio om mense te help om Bybelwaarheid te verstaan. Daar is dus in 1957 besluit om WBBR te verkoop en ons middele vir die groeiende sendingdiens in ander lande aan te wend.
In 1955 is ek na die Bedford-gemeente in Brooklyn gestuur waar ek gereeld die Wagtoring-studie gehou het. Die Genootskap het my ook as ’n reisende spreker na die noordelike deel van New York, Pennsilvanië, Connecticut en New Jersey gestuur. Toe ek na die Bedford-gemeente toe gestuur is, het ek vir myself gesê: ‘Ek is oor die 50. Ek moet maar liewer nóú soveel moontlik in die velddiens doen. Later het ek dalk jig en sal ek dit nie soveel geniet nie.’
Nadat ek al daardie jare aan die tegniese kant gewerk het deur Koninkryksaad deur middel van die radio uit te saai, was dit vir my ’n ware vreugde om sade van Bybelwaarheid regstreeks by mense te plant en nat te maak. Ek het dit werklik geniet om saam met die gemeente te werk. Verskillendes het my aangeneem en my baie tuis laat voel. Party van daardie kindertjies, wat nou al groot is, noem my steeds oupa. Ons het 30 jaar lank goeie tye saam in die veldbediening geniet totdat probleme met my bene en voete dit vir my onmoontlik gemaak het om trappe te klim of met die moltrein te ry. In 1985 het ek na die Brooklyn Heights-gemeente toe begin gaan wat hier by Bethel bymekaarkom.
Namate Jehovah se organisasie grootliks uitgebrei het, het ek die voorreg gehad om self te sien hoe hy die veld in die buiteland seën toe ek groot byeenkomste van Jehovah se Getuies in afgeleë lande bygewoon het. Ek kon toe tog deur die wêreld reis! Van die vyftigerjare af het party van ons Betheliete Londen, Parys, Rome, Neurenberg en Kopenhagen besoek. Ons het met omgeboude bomwerpers, skepe en treine gereis. Ons het natuurlik skilderagtige tonele gesien, maar die opwindendste gesig was altyd die skares vriendelike broers wat ons verwelkom het. In latere dekades het ek na die Ooste, weer na Wes-Europa en heel onlangs na Oos-Europa toe gereis. Die wonderlike byeenkomste in Pole, Duitsland en Tsjeggo-Slowakye was oorweldigend. Hoe het ons teokratiese familie tog nie gegroei van die tyd toe ek ’n deel daarvan geword het nie!
Goddelike leiding
Wat na klein treetjies deur die organisasie gelyk het, was op die ou end reuseskredes. Wie sou die geweldige groei kon voorsien het toe ons aanvanklik aan nuwe projekte gewerk het wat bloot instrumente was om ons met die getuieniswerk te help? Ons het in geloof voortgegaan en op Jehovah se leiding gereageer.
Hierdie progressiewe organisasie was nie bang om die jongste beskikbare tegnologie te gebruik om sy eie tegnologie te ontwikkel en so na die wêreldveld om te sien nie. Van die metodes wat gebruik is om die Koninkryksverkondigingswerk te bevorder, is die predikingswerk van huis tot huis, die gebruik van radionetwerke, die getuieniswerk met grammofone en ’n program om Bybelstudies in mense se huise te hou. Die oprigting van ons eie drukkery in die vroeë dae, en nou die gebruik van gerekenariseerde fotosetwerk en rubberdrukwerk in baie tale, is ’n groot prestasie. Die Wagtoring-Bybelskool Gilead, die Teokratiese Bedieningskool en die gereelde byeenkomste het almal ’n rol daarin gespeel om Jehovah God en sy Seun te verheerlik. Dit was my voorreg om al hierdie gebeurtenisse self te sien en ’n deel daaraan te hê.
Dit is vir my duidelik dat Jehovah se geesgerigte organisasie op die aarde leiding ontvang oor wat gedoen moet word en hoe dit gedoen moet word. Sy hele universele organisasie, sigbaar en onsigbaar, werk saam.
Ek was nog nooit spyt dat ek as jong man my planne om matroos te word, opgegee het nie. Die opwindendste, sinvolste ontwikkelings ter wêreld vind dan hier in Jehovah se organisasie plaas! My reis op pad na “die hoë roeping” is gekenmerk deur baie, baie vreugdes en seëninge en geen selfverwyte nie.—Filippense 3:13, 14.
Ek sê altyd vir jongmense om 1914 te onthou—dit wil sê Psalm 19:14 wat sê: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam word voor u, o Jehovah my Rots en my Verlosser” (NW). Ons wil Jehovah in alles behaag en soos Dawid bid: “HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag” (Psalm 25:4, 5). Daardie woorde sê baie. As ons hulle onthou, kan dit ons help om op die regte pad te bly, koers te hou, en met Jehovah se progressiewe organisasie tred te hou.
[Prent op bladsy 23]
Broer Rutherford het dit geniet om maaltye vir vriende voor te berei
[Prent op bladsy 25]
Robert Hatzfeld by die kontroles van die WBBR-radiostasie
[Prent op bladsy 26]
’n Onlangse foto van broer Hatzfeld