Hierdie goeie nuus moet eers verkondig word
“Die goeie nuus [moet] eers in al die nasies verkondig word.”—MARKUS 13:10, NW.
1, 2. Waaraan word die Getuies uitgeken, en waarom?
WAAROM volhard Jehovah se Getuies so in die predikingswerk? Ons is beslis wêreldwyd vir ons openbare bediening bekend, of dit nou van huis tot huis, op straat of in informele situasies is. By elke gepaste geleentheid identifiseer ons ons as Getuies en probeer ons die goeie nuus, wat vir ons kosbaar is, taktvol bekend maak. Trouens, ons kan sê dat ons aan hierdie bediening uitgeken word!—Kolossense 4:6.
2 Dink net daaraan—wat is mense se eerste gedagte gewoonlik wanneer hulle ’n groep welgeklede mans, vrouens en kinders met aktetasse in hulle buurt sien? Is dit: ‘O, hier kom die Katolieke (of die mense van die Ortodokse Kerk) weer!’ of: ‘Hier kom die mense van die Pinksterkerke (of die Baptiste) weer!’ Nee. Mense weet dat daar in sulke godsdienste nie hele gesinne is wat aan die huis-tot-huis-bediening deelneem nie. Party godsdiensgroepe stuur moontlik ’n paar “sendelinge” vir ’n tydperk van twee jaar na sekere gebiede toe, maar hulle gewone lidmate neem nie aan so ’n bediening deel nie. Net Jehovah se Getuies word wêreldwyd herken aan hulle ywer om hulle boodskap by elke gepaste geleentheid aan ander bekend te maak. En hulle is bekend vir hulle tydskrifte Die Wagtoring en die Ontwaak!—Jesaja 43:10-12; Handelinge 1:8.
Anders as die Christendom se geestelikes
3, 4. Hoe word die Christendom se geestelikes dikwels deur die media uitgebeeld?
3 In skerp teenstelling daarmee het nuusberigte al keer op keer getoon dat baie van die geestelikes in party lande pedofiele, onsedelike swendelaars en bedrieërs is. Hulle werke van die vlees en hulle weelderige lewenstyle is vir almal duidelik sigbaar. Een gewilde liedjieskrywer het dit goed uitgedruk in sy liedjie getiteld: “Sou Jesus ’n Rolex [’n baie duur goue horlosie] op Sy televisieprogram dra?” Hy vra die vraag: “Sou Jesus polities aktief wees as Hy sou terugkom Aarde toe? Sou Hy sy tweede huis in Palm Springs [’n rykmansbuurt in Kalifornië] hê en Sy rykdom probeer wegsteek?” Hoe gepas is Jakobus se woorde tog nie: “Julle het op die aarde ’n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op ’n slagdag.”—Jakobus 5:5; Galasiërs 5:19-21.
4 Die geestelikes se omgang met politici en die feit dat hulle selfs tydens verkiesings politieke kandidate is, stel hulle as hedendaagse skrifgeleerdes en Fariseërs aan die kaak. Terselfdertyd loop die godsdienste se geldkoffers leeg in lande soos die Verenigde State en Kanada vanweë die hoë koste van regsgedinge en uitsprake teen die geestelikes as gevolg van hulle sedelose gedrag teenoor kinders en volwassenes.—Mattheüs 23:1-3.
5. Waarom is die Christendom se geestelikes nie “die getroue en verstandige dienskneg” nie?
5 Jesus kon tereg vir die geestelikes van sy dag sê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.” God het dus nie vir die Christendom se geestelikes, of hulle nou Katolieke, Protestantse, Ortodokse of niekerklike geestelikes is, die opdrag gegee om die goeie nuus te verkondig nie. Hulle is nie die voorspelde “getroue en verstandige dienskneg” nie.—Mattheüs 23:27, 28; 24:45-47.
Waarom moet die goeie nuus eers verkondig word?
6. Watter gebeurtenisse gaan binnekort plaasvind?
6 In sy bondige weergawe van Jesus se opdrag om die goeie nuus in al die nasies te verkondig, is dit net Markus wat die woord “eers” gebruik. (Markus 13:10, NW; vergelyk Mattheüs 24:14.) J. B. Phillips se vertaling lui: “Want voor die einde kom, moet die evangelie aan al die nasies verkondig word.” Die bywoordelike gebruik van “eers” gee te kenne dat daar ander gebeurtenisse op die wêreldwye evangelisasiewerk sal volg. Daardie gebeurtenisse sal die beloofde groot verdrukking en Christus se regverdige heerskappy oor die nuwe wêreld insluit.—Mattheüs 24:21-31; Openbaring 16:14-16; 21:1-4.
7. Waarom wil God hê dat die goeie nuus eers verkondig moet word?
7 Waarom wil God dan hê dat die goeie nuus eers verkondig moet word? Een rede is dat hy ’n God van liefde, geregtigheid, wysheid en krag is. In die vervulling van Jesus se woorde wat in Mattheüs 24:14 en Markus 13:10 opgeteken is, tref ons ’n indrukwekkende openbaring van hierdie eienskappe van Jehovah aan. Laat ons hulle kortliks een vir een ondersoek en sien hoe hulle met die verkondiging van die goeie nuus verband hou.
Die goeie nuus en Jehovah se liefde
8. Hoe is die verkondiging van die goeie nuus ’n blyk van God se liefde? (1 Johannes 4:7-16).
8 Hoe weerspieël die verkondiging van die goeie nuus God se liefde? Eerstens, omdat dit nie ’n boodskap is wat uitsluitlik vir een ras of groep bedoel is nie. Dit is die goeie nuus vir “al die nasies”. God het die mensdom so lief dat hy sy eniggebore Seun na die aarde toe gestuur het as ’n losprysoffer vir die sondes van die hele mensdom en nie net vir een ras nie. Die apostel Johannes het geskryf: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Johannes 3:16, 17). Die goeie nuus, ’n boodskap wat ’n nuwe wêreld van vrede, harmonie en geregtigheid belowe, is inderdaad ’n blyk van God se liefde.—2 Petrus 3:13.
Die goeie nuus en Jehovah se krag
9. Waarom gebruik Jehovah nie die Christendom se invloedryke godsdienste om die goeie nuus te verkondig nie?
9 Hoe word Jehovah se krag deur die verkondiging van die goeie nuus geopenbaar? Beskou die volgende: Wie gebruik hy om hierdie opdrag uit te voer? Is dit die Christendom se invloedrykste godsdiensorganisasies, soos die Rooms-Katolieke Kerk of prominente Protestantse kerke? Nee, hulle betrokkenheid by die politiek diskwalifiseer hulle vir die toewysing (Johannes 15:19; 17:14; Jakobus 4:4). Hulle mate van rykdom en hulle betrekkinge met en invloed onder die heersende eliteklas, asook hulle tradisievaste teologie, beïndruk Jehovah God nie. Menslike krag is nie nodig om God se wil gedoen te kry nie.—Sagaria 4:6.
10. Wie is deur God gekies om die predikingswerk te doen?
10 Dit is soos die apostel Paulus in sy brief aan die Korinthiese gemeente gesê het: “Let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.”—1 Korinthiërs 1:26-29.
11. Watter feite omtrent die Getuies maak hulle uniek?
11 Jehovah se Getuies het baie min rykes onder hulle en beslis niemand met politieke mag nie. Hulle streng neutraliteit in politieke aangeleenthede beteken dat hulle geen politieke invloed kan uitoefen nie. Inteendeel, hulle was gedurende hierdie 20ste eeu al dikwels die slagoffers van skandelike vervolging wat deur godsdiens- en politieke leiers aangestig is. Ten spyte van die wrede teëstand wat deur die dissipels van Nazisme, Fascisme, Kommunisme, nasionalisme en valse godsdiens teen hulle aangestig is, verkondig die Getuies nie net die goeie nuus in die hele wêreld nie, maar het hulle getalle ook op verbasende wyse toegeneem.—Jesaja 60:22.
12. Waarom behaal die Getuies sukses?
12 Waaraan skryf die Getuies hulle sukses toe? Jesus het sy dissipels belowe: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.” Wat presies is dan die bron van hulle sukses? Jesus het gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom.” Krag van God af, en nie menslike vermoë nie, is vandag eweneens die sleutel tot die Getuies se sukses in hulle wêreldwye bediening. Deur die oënskynlik swakste mense te gebruik, verrig God die grootste onderrigtingswerk in die geskiedenis.—Handelinge 1:8; Jesaja 54:13.
Die goeie nuus en Jehovah se wysheid
13. (a) Waarom dien die Getuies vrywillig en sonder betaling? (b) Hoe het Jehovah Satan se smadende uitdaging beantwoord?
13 Die goeie nuus word deur vrywilligers verkondig. Jesus het gesê: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Mattheüs 10:8). Geeneen van Jehovah se Getuies ontvang dus ’n salaris vir hulle diens aan God nie, en hulle verwag ook geen betaling nie. Trouens, hulle hou nie eers kollektes by hulle vergaderinge nie. Dit is vir hulle ’n vreugde om God, deur hulle onselfsugtige diens, van ’n antwoord teenoor sy aanklaer, Satan die Duiwel, te voorsien. Hierdie geestelike teenstander van God het in werklikheid gesê dat mense God nie uit ’n onselfsugtige beweegrede sal dien nie. Jehovah het in sy wysheid ’n onweerlegbare antwoord op Satan se smadende uitdaging verskaf—miljoene lojale Christengetuies wat die goeie nuus van huis tot huis, op straat en informeel verkondig.—Job 1:8-11; 2:3-5; Spreuke 27:11.
14. Wat is “die verborge wysheid” waarna Paulus verwys?
14 Nog ’n bewys van God se wysheid om die goeie nuus te laat verkondig, is die feit dat die Koninkryksbelofte op sigself ’n openbaring van God se wysheid is. Die apostel Paulus het geskryf: “En ons spreek wysheid onder dié wat volwasse is, maar nie die wysheid van hierdie stelsel van dinge of van hierdie stelsel van dinge se heersers, wat gaan vergaan nie. Maar ons spreek God se wysheid in ’n heilige geheim, die verborge wysheid, wat God voor die stelsels van dinge tot ons heerlikheid voorbestem het.” Daardie “verborge wysheid” verwys na die wyse manier waarop God ’n einde gaan maak aan die opstand wat in Eden begin het. Die wysheid van daardie heilige geheim is in Jesus Christus geopenbaar, wat die hoofrol vervul in die goeie nuus van God se Koninkryk.a—1 Korinthiërs 2:6, 7, NW; Kolossense 1:26-28, NW.
Die goeie nuus en God se geregtigheid
15. Hoe weet ons dat Jehovah ’n God van geregtigheid is? (Deuteronomium 32:4, NW; Psalm 33:5).
15 Dit is veral in verband met geregtigheid wat ons die belangrikheid van die woord “eers” in Markus 13:10 sien. Jehovah is ’n God van geregtigheid wat deur liefderyke goedhartigheid getemper is. Hy sê deur sy profeet Jeremia: “Laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid [“liefderyke goedhartigheid”, NW], reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae, spreek die HERE.”—Jeremia 9:24.
16. Hoe kan ons toelig dat geregtigheid vereis dat daar eers ’n waarskuwing gegee word?
16 Hoe word Jehovah se geregtigheid getoon met betrekking tot die verkondiging van die goeie nuus? Kom ons lig dit toe met ’n ma wat ’n heerlike sjokoladekoek gebak het vir besoekers wat later die dag kom. Gestel sy laat dit op die kombuistafel sonder om enigiets vir haar kinders te sê oor wanneer dit geëet gaan word. Wat sal die kinders se natuurlike neiging wees? Ons was almal eenmaal kinders! Die een of ander vingertjie sal daardie koek wil toets! As ma nie vooraf gewaarsku het nie, sal sy nie eintlik straf kan uitdeel nie. Maar as sy duidelik sê dat die koek later geëet sal word wanneer die gaste kom en hulle dus daarvan moet wegbly, het sy ’n duidelike waarskuwing gegee. As hulle dan ongehoorsaam is, het sy die reg om ferm en regverdig op te tree.—Spreuke 29:15.
17. Hoe openbaar Jehovah sedert 1919 geregtigheid op ’n spesiale wyse?
17 Vanweë Jehovah se geregtigheid sal hy nie geregtelik teen hierdie goddelose stelsel optree sonder dat hy eers die nodige waarskuwing gee nie. Daarom laat Jehovah sy Getuies veral sedert 1919, nadat die Eerste Wêreldoorlog “die smarte” laat begin het, die goeie nuus ywerig oor die hele aarde verkondig (Mattheüs 24:7, 8, 14). Die nasies kan nie met reg sê dat hulle nie van hierdie unieke waarskuwing bewus is nie.
Op watter skaal is die goeie nuus al wêreldwyd verkondig?
18. (a) Watter getuienis is daar van die Getuies se bedrywigheid in afgeleë gebiede? (b) Van watter ander voorbeelde weet jy nog?
18 ’n Aanduiding van die doeltreffendheid van hierdie wêreldwye onderrigtingswerk kan in die boek Last Places—A Journey in the North gesien word. Die skrywer vertel dat hy die afgeleë eiland Foula, een van die Shetland-eilande noord van Skotland, op seekaarte gesoek het wat aangedui het dat daar “rondom die eiland WKE (wrakke), RTE (rotse) RTLE (rotslyste) en VSPS (versperrings)” was. Dit “het die voornemende seevaarder gewaarsku om weg te bly. Die see om Foula is ’n vreesaanjaende mynveld wat seevaarders, dagbesoekers en selfs Haar Majesteit se departement van openbare werke van die eiland af weggehou het, maar nie—het ek binne ’n paar dae uitgevind—Jehovah se Getuies nie.” Hy het verder gesê: “Net soos hulle groot stedelike krotbuurte en die Derde Wêreld vir bekeerlinge gefynkam het, het hulle ook proseliete vir hulle geloof op die afgeleë Foula gesoek.” Hy het erken dat ’n plaaslike inwoner, Andrew, ’n paar maande tevore ’n eksemplaar van Die Wagtoring op sy drumpel gekry het. Toe het hy bygevoeg: “’n Week later het ek ’n eksemplaar van [die Ontwaak! in Deens] op die Faroëse Eilande [in die Noordsee] gesien en twee maande later ’n eksemplaar van [Die Wagtoring in Deens] in Nuuq, Groenland.” Watter veelseggende getuienis is dit tog van die ywerige bedrywigheid van Jehovah se Getuies in daardie noordelike streke!
Wat hou die Getuies aan die gang?
19, 20. (a) Wat beweeg Jehovah se Getuies om aan te hou preek? (b) Watter vrae sal vervolgens beantwoord word?
19 Dit is natuurlik glad nie maklik om van huis tot huis vir vreemdelinge te getuig nie, ongeag hoeveel jaar jy al ’n Getuie is. Wat hou hierdie Christene dan aan die gang? Hulle Christelike toegewydheid en ’n verantwoordelikheidsin. Paulus het geskryf: “Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” Ware Christene het ’n boodskap wat die lewe beteken, en dit is dus vir hulle onmoontlik om daaroor te swyg. Die beginsel dat ’n mens bloedskuldig is as jy in ’n tyd van gevaar versuim om ’n waarskuwing te gee, is op sigself ’n dwingende rede om die goeie nuus te verkondig.—1 Korinthiërs 9:16; Esegiël 3:17-21.
20 Hoe word die goeie nuus dan verkondig? Wat is die sleutel tot die Getuies se sukses? Watter aspekte van hulle bediening en organisasie help om hulle as die ware godsdiens te identifiseer? Ons volgende artikel sal hierdie vrae beantwoord.
[Voetnoot]
a Vir ’n verdere verduideliking van God se wysheid en die “heilige geheim” sien Insight on the Scriptures, Deel II, bladsy 1190, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.
Onthou jy?
◻ Wat onderskei Jehovah se Getuies van die geestelikes?
◻ Hoe weerspieël die predikingswerk God se liefde, krag en wysheid?
◻ Hoe weerspieël die verkondiging van die goeie nuus God se geregtigheid?
◻ Wat hou Jehovah se Getuies aan die gang in hulle bediening?
[Prente op bladsy 15]
Jehovah se Getuies wil mense bereik ongeag hoe afgesonderd hulle is