Verbly julle in Jehovah!
“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!”—FILIPPENSE 4:4.
1. Waarom wonder ons dalk wat Paulus bedoel het toe hy gesê het dat Christene hulle altyd moet verbly?
DEESDAE lyk dit dalk of daar maar baie selde rede tot blydskap is. Mense van stof, selfs ware Christene, kom voor situasies te staan wat droefheid veroorsaak—werkloosheid, siekte, die dood van geliefdes, persoonlikheidsprobleme of teenkanting van ongelowige gesinslede of eertydse vriende. Hoe moet ons dan Paulus se vermaning: “Verbly julle altyd”, verstaan? Is dit enigsins moontlik, met die oog op die onaangename en moeilike omstandighede waarmee ons almal moet worstel? ’n Bespreking van die konteks van hierdie woorde sal die saak help opklaar.
Verbly julle—Waarom en hoe?
2, 3. Hoe belangrik is vreugde, soos toegelig word in die geval van Jesus en die eertydse Israeliete?
2 “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” Dit herinner ons moontlik aan die woorde wat sowat 24 eeue gelede aan die Israeliete gerig is: “Die vreugde van Jehovah is julle vesting” (NW) of, volgens die Moffatt-vertaling: “Om jou in die Ewige te verbly, is jou krag” (Nehemia 8:10). Vreugde gee ’n mens krag en is soos ’n vesting waarheen jy vir vertroosting en beskerming kan gaan. Vreugde het selfs die volmaakte mens Jesus gehelp om te volhard. “Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en aan die regterhand van die troon van God gaan sit” (Hebreërs 12:2, NW). Dit is duidelik dat dit noodsaaklik is vir redding om jou ondanks probleme te verbly.
3 Voordat die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, is hulle beveel: “Jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die HERE jou God jou en jou huis gegee het; jy en die Leviet en die vreemdeling wat by jou is.” Die gevolge van versuim om Jehovah met blydskap te dien, sou ernstig wees. “Al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy verdelg is . . . Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie.”—Deuteronomium 26:11; 28:45-47.
4. Wat kan die rede wees dat ons ons nie verbly nie?
4 Hoe noodsaaklik is dit dan tog dat die hedendaagse gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle, die “ander skape”, hulle verbly! (Johannes 10:16). Deur te sê “ek herhaal”, het Paulus die belangrikheid daarvan beklemtoon dat ons ons moet verbly oor al die goeie dinge wat Jehovah vir ons doen. Doen ons dit? Of raak ons so by die alledaagse lewensroetine betrokke dat ons soms ons baie redes tot vreugde uit die oog verloor? Het ons soveel probleme dat dit ons uitsig op die Koninkryk en die seëninge daarvan belemmer? Laat ons toe dat ander dinge—soos ongehoorsaamheid aan God se wette, verontagsaming van Goddelike beginsels of verwaarlosing van Christelike pligte—ons van ons vreugde beroof?
5. Waarom vind ’n onredelike mens dit moeilik om hom te verbly?
5 “Laat julle vriendelikheid [“redelikheid”, NW] aan alle mense bekend word. Die Here is naby” (Filippense 4:5). ’n Onredelike mens is nie gebalanseerd nie. Hy verwaarloos dalk sy gesondheid deur sy liggaam onnodig aan oormatige spanning of angs bloot te stel. Miskien het hy nie geleer om sy beperkinge te aanvaar en daarvolgens te lewe nie. Hy stel moontlik sy doelwitte te hoog en probeer hulle dan tot elke prys bereik. Of hy gebruik dalk sy beperkinge as ’n verskoning om traag te word of te verslap. Omdat hy nie gebalanseerd is nie en onredelik is, vind hy dit moeilik om hom te verbly.
6. (a) Wat moet mede-Christene in ons sien, en wanneer alleen sal dit die geval wees? (b) Hoe help Paulus se woorde in 2 Korinthiërs 1:24 en Romeine 14:4 ons om redelik te wees?
6 Selfs wanneer teenstanders dink dat ons fanaties is, moet mede-Christene altyd ons redelikheid kan sien. En dit sal so wees as ons gebalanseerd is en nie volmaaktheid van onsself of van ander verwag nie. Bowenal moet ons ons daarvan weerhou om ander mense laste op te lê wat nie deur God se Woord vereis word nie. Die apostel Paulus het gesê: “Nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap” (2 Korinthiërs 1:24). Paulus, wat eers ’n Fariseër was, het goed geweet dat onbuigsame reëls wat deur diegene in gesagsposisies neergelê en afgedwing word vreugde onderdruk, terwyl nuttige wenke deur medewerkers vreugde vermeerder. Die feit dat ‘die Here naby is’, moet die redelike mens daaraan herinner dat ons nie ‘die huiskneg van ’n ander moet oordeel nie. Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer.’—Romeine 14:4.
7, 8. Waarom moet Christene probleme te wagte wees, maar hoe is dit vir hulle moontlik om hulle voortdurend te verbly?
7 “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Ons ondervind vandag die ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ waarvan Paulus geskryf het (2 Timotheüs 3:1-5, vgl. NW). Christene moet dus probleme te wagte wees. Paulus se woorde “verbly julle altyd” sluit nie die moontlikheid uit dat ’n lojale Christen soms terneergedruk of ontmoedig sal voel nie. Paulus het realisties van homself erken: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie” (2 Korinthiërs 4:8, 9). ’n Christen se vreugde help egter om tydelike kommer en droefheid te verlig en dit uiteindelik te oorkom. Dit verskaf die nodige krag sodat hy vasbeslote kan voortgaan en nooit die talle redes tot vreugde uit die oog verloor nie.
8 Wanneer probleme van watter aard ook al ontstaan, smeek die vreugdevolle Christen Jehovah nederig deur gebed om hulp. Hy gee nie toe aan uiterste angs nie. Nadat hy gedoen het wat hy redelikerwys kan doen om die probleem op te los, laat hy dit in Jehovah se hande in ooreenstemming met die uitnodiging: “Werp jou sorg op die HERE, en Hý sal jou onderhou.” Intussen dank die Christen Jehovah voortdurend vir al Sy goedheid.—Psalm 55:23; sien ook Mattheüs 6:25-34.
9. Hoe gee kennis van die waarheid gemoedsrus, en watter goeie uitwerking het dit op ’n Christen?
9 “Die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:7). Kennis van Bybelwaarheid bevry die Christen se verstand van valshede en help hom om ’n gesonde denkpatroon te ontwikkel (2 Timotheüs 1:13). Hy word sodoende gehelp om verkeerde of onverstandige gedrag te vermy wat vreedsame betrekkinge met ander in gevaar kan stel. Pleks van gefrustreerd te voel oor ongeregtigheid en goddeloosheid stel hy sy vertroue in Jehovah om die mensdom se probleme deur middel van die Koninkryk op te los. Hierdie gemoedsrus bewaar sy hart, hou sy beweegredes suiwer en rig sy denke op die weg van geregtigheid. Suiwer beweegredes en die regte denkwyse verskaf op hulle beurt tallose redes tot vreugde ondanks die probleme en druk wat deur ’n chaotiese wêreld veroorsaak word.
10. Waaroor moet ’n mens praat of dink as jy ware vreugde wil ondervind?
10 “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit” (Filippense 4:8). ’n Christen put geen genot daaruit om oor slegte dinge te praat of te dink nie. Dit skakel baie van die wêreld se vermaak outomaties uit. Niemand kan Christelike vreugde behou as hy sy verstand en hart met leuens, dwase praatjies en dinge wat goddeloos, onsedelik, sonder deug, haatlik en verfoeilik is, vul nie. Kortom, niemand kan ware vreugde vind deur sy verstand en hart met verfoeilike dinge te vul nie. Hoe opbouend is dit tog om te weet dat Christene, selfs in Satan se verdorwe wêreld, soveel goeie dinge het om oor te dink en te bespreek!
Tallose redes tot vreugde
11. (a) Wat moet nooit as vanselfsprekend aangeneem word nie, en waarom nie? (b) Watter uitwerking het die bywoning van ’n internasionale byeenkoms op ’n byeenkomsganger en sy vrou gehad?
11 Wanneer ons van redes tot vreugde praat, moet ons nie ons internasionale broederskap vergeet nie (1 Petrus 2:17). Terwyl wêreldse nasionale en etniese groepe mekaar intens haat, kom God se volk in liefde al hoe nader aan mekaar. Hulle eenheid kan veral by internasionale byeenkomste gesien word. Oor die een wat in 1993 in Kiëf, in die Oekraïne, gehou is, het ’n byeenkomsganger uit die Verenigde State geskryf: “Die vreugdestrane, die stralende oë, die broederlike omhelsings so ver as wat jy gaan en die groete wat oor die speelveld gestuur is deur groepe wat kleurvolle sambrele en sakdoeke gewaai het, was ’n duidelike blyk van teokratiese eenheid. Ons harte swel van trots oor wat Jehovah op wonderdadige wyse in die wêreldwye broederskap tot stand gebring het. Dit het my en my vrou diep geraak en nuwe dimensies aan ons geloof gegee.”
12. Hoe word Jesaja 60:22 reg voor ons oë vervul?
12 Hoe geloofversterkend is dit tog vir hedendaagse Christene om te sien hoe Bybelprofesieë voor hulle oë vervul word! Let byvoorbeeld op die woorde van Jesaja 60:22: “Die kleine self sal duisend word‚ en die geringe ’n magtige nasie. Ek self‚ Jehovah‚ sal dit op die tyd daarvoor bespoedig” (NW). Ten tye van die Koninkryk se geboorte in 1914 was net 5 100—’n kleine—in die predikingswerk bedrywig. Maar gedurende die afgelope vyf jaar het die grootte van die wêreldwye broederskap met gemiddeld 5 628 pas gedoopte Getuies per week toegeneem! In 1993 is ’n hoogtepunt van 4 709 889 bedrywige bedienaars bereik. Stel jou dit net voor! Dit beteken dat “die kleine” van 1914 letterlik al byna “duisend” geword het!
13. (a) Wat vind sedert 1914 plaas? (b) Hoe volg Jehovah se Getuies die beginsel van Paulus se woorde in 2 Korinthiërs 9:7?
13 Sedert 1914 heers die Messiaanse Koning te midde van sy vyande. Sy heerskappy word ondersteun deur gewillige menslike volgelinge wat tyd, energie en geld vir die wêreldwye predikingswerk asook ’n internasionale boukampanje bydra (Psalm 110:2, 3). Jehovah se Getuies is verheug dat geldelike bydraes gemaak word sodat hierdie projekte voltooi kan word, hoewel geld selde by hulle vergaderinge gemeld word.a (Vergelyk 1 Kronieke 29:9.) Ware Christene hoef nie aangepor te word om te gee nie; hulle beskou dit as ’n voorreg om hulle Koning te ondersteun in die mate wat hulle omstandighede dit toelaat, elkeen “soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie”.—2 Korinthiërs 9:7.
14. Wat kan sedert 1919 onder God se volk gesien word, en watter rede tot vreugde gee dit hulle?
14 Die voorspelde herstelling van ware aanbidding onder God se volk het daartoe gelei dat ’n geestelike paradys geskep is. Sedert 1919 word die grense daarvan al hoe verder uitgebrei (Psalm 14:7; Jesaja 52:9, 10). Die gevolg? Ware Christene ondervind “vreugde en blydskap” (Jesaja 51:11). Die gevolglike goeie vrugte bewys wat God se heilige gees deur middel van onvolmaakte mense kan vermag. Alle erkenning en eer gaan aan Jehovah, maar watter groter voorreg kan daar wees as om ’n medewerker van God te word? (1 Korinthiërs 3:9). Jehovah is magtig genoeg om, indien nodig, die klippe die boodskap van waarheid te laat uitroep. Tog het hy verkies om nie hierdie metode te gebruik nie, maar eerder om gewillige skepsele wat van stof gemaak is, te beweeg om sy wil uit te voer.—Lukas 19:40.
15. (a) Watter hedendaagse gebeure volg ons met belangstelling? (b) Na watter gebeurtenis sien ons met vreugde uit?
15 Jehovah se knegte kyk nou met ontsag toe hoe wêreldgebeure met onvervulde Bybelprofesieë verband hou. Die nasies probeer hard—maar tevergeefs—om duursame vrede tot stand te bring. Gebeure dwing hulle om op die Verenigde Nasies-organisasie staat te maak om in die wêreld se probleemgebiede op te tree (Openbaring 13:15-17). Intussen sien God se volk reeds met groot verwagting uit na een van die vreugdevolste gebeurtenisse van alle tye, een wat by die dag nader kom. “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.”—Openbaring 19:7.
Die predikingswerk—’n Las of ’n vreugde?
16. Lig toe hoe dit ’n Christen van sy vreugde kan beroof as hy nie toepas wat hy geleer het nie.
16 “En wat julle geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het, doen dit, en die God van vrede sal met julle wees” (Filippense 4:9). Deur toe te pas wat hulle geleer het, kan Christene verwag om God se seën te verkry. Een van die belangrikste dinge wat hulle geleer het, is die noodsaaklikheid daarvan om die goeie nuus aan ander te verkondig. Trouens, wie kan gemoedsrus geniet of vreugdevol wees as hy inligting weerhou van opregtes wie se lewe daarvan afhang dat hulle dit hoor?—Esegiël 3:17-21; 1 Korinthiërs 9:16; 1 Timotheüs 4:16.
17. Waarom moet ons predikingswerk altyd ’n bron van vreugde wees?
17 Wat ’n vreugde is dit tog om skaapgeaardes te vind wat gewillig is om van Jehovah te leer! Diegene wat met die regte beweegrede dien, sal Koninkryksdiens inderdaad altyd as ’n bron van vreugde beskou. Dit is omdat ’n mens hoofsaaklik ’n Getuie van Jehovah is om Sy naam te loof en Sy posisie as Soewereine Heerser hoog te hou (1 Kronieke 16:31). Die persoon wat hierdie feit erken, sal hom verbly selfs wanneer mense op onverstandige wyse die goeie nuus verwerp wat hy bring. Hy weet dat ons eendag gaan ophou om vir ongelowiges te getuig; Jehovah se naam sal egter vir ewig geloof word.
18. Wat beweeg ’n Christen om Jehovah se wil te doen?
18 Ware godsdiens beweeg diegene wat dit beoefen om die dinge te doen wat Jehovah van hulle vereis, nie omdat hulle moet nie maar omdat hulle wil (Psalm 40:9; Johannes 4:34). Baie mense vind dit moeilik om te verstaan. ’n Vrou het eenkeer vir ’n Getuie gesê wat haar besoek het: “Ek moet jou prys. Ek sal beslis nooit van huis tot huis gaan en oor my godsdiens preek soos jy nie.” Met ’n glimlag het die Getuie geantwoord: “Ek kan verstaan hoe jy voel. Voordat ek een van Jehovah se Getuies geword het, sou jy my nie sover kon kry om na ander mense toe te gaan om oor godsdiens te praat nie. Maar nou wíl ek dit doen.” Die vrou het ’n oomblik lank nagedink en toe gesê: “Dit is duidelik dat jou godsdiens iets bied wat myne nie bied nie. Miskien moet ek ondersoek instel.”
19. Waarom is dit nou die tyd om ons soos nog nooit tevore nie te verbly?
19 Die jaarteks vir 1994 wat duidelik in ons Koninkryksale vertoon word, herinner ons gereeld: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart” (Spreuke 3:5, NW). Kan daar ’n groter rede tot vreugde wees as dat ons ons vertroue kan stel in Jehovah, ons vesting by wie ons skuil? Psalm 64:11 NW verduidelik: “Die regverdige sal bly wees in die HERE en by Hom skuil.” Dit is nie nou die tyd om besluiteloos te wees of moed op te gee nie. Elke maand wat verbygaan, bring ons nader aan die werklikheid waarna knegte van Jehovah al sedert die dae van Abel smag. Dit is nou die tyd om met ons hele hart op Jehovah te vertrou omdat ons weet dat ons nog nooit tevore soveel redes gehad het om ons te verbly nie!
[Voetnoot]
a By byeenkomste en een keer per maand in gemeentes word ’n kort verslag gelees waartydens die bedrag aangegee word van vrywillige bydraes wat ontvang is asook die onkoste wat aangegaan is. Soms word briewe uitgestuur wat aandui hoe bydraes aangewend word. Almal word sodoende aan die geldelike situasie van die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies herinner.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom moet ons ons volgens Nehemia 8:10 verbly?
◻ Hoe toon Deuteronomium 26:11 en 28:45-47 vir ons hoe belangrik dit is om ons te verbly?
◻ Hoe kan Filippense 4:4-9 ons help om ons altyd te verbly?
◻ Watter rede gee die jaarteks vir 1994 ons om ons te verbly?
[Prent op bladsy 16]
Russiese en Duitse Getuies verbly hulle omdat hulle ’n deel van ’n internasionale broederskap is
[Prent op bladsy 17]
Dit is ’n rede tot vreugde om die waarheid aan ander te verkondig