Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 9/15 bl. 4-7
  • Waarom vergewensgesind wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom vergewensgesind wees?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die skade wat onvergewensgesindheid aanrig
  • Leer om te vergewe
  • Die strewe na balans
  • Die voordele van vergifnis
  • ‘Hou aan om mekaar vryelik te vergewe’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Vergewe mekaar vryelik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Vergewe jy soos Jehovah vergewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Jehovah – Die beste voorbeeld van vergifnis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 9/15 bl. 4-7

Waarom vergewensgesind wees?

DIE Joodse geleerde en skrywer Joseph Jacobs het vergifnis eenkeer beskryf as “die mees verhewe en moeilikste van alle sedelesse”. Trouens, baie vind dit uiters moeilik om die woorde “ek vergewe jou” te sê.

Dit lyk of vergifnis baie soos geld is. Dit kan vrylik en barmhartig aan ander gegee word of kan inhalig vir jouself gehou word. Eersgenoemde is die godvrugtige weg. Ons moet leer om vrygewig te wees wanneer dit by vergifnis kom. Waarom? Omdat God dit voorstaan, en omdat ’n onvergewensgesinde, wraaksugtige gees sake net vererger.

’n Mens hoor dikwels die woorde: “Ek word nie kwaad nie; ek betaal met gelyke munt terug!” Dit is betreurenswaardig dat hierdie woorde vandag ’n rigsnoer in baie se lewe is. Een vrou het byvoorbeeld meer as sewe jaar lank geweier om met haar skoonsuster te praat omdat, soos die vrou sê, “sy my gemeen behandel het en ek haar nog nooit kon vergewe nie”. Maar wanneer swygsaamheid gebruik word om van die beskuldigde ’n verskoning af te dwing of as ’n wapen om iemand mee te straf, bevredig dit selde die wraaksug. Dit kan daarenteen net die geskil uitrek en ’n ernstige wrok laat ontwikkel. As hierdie kringloop van pyn nie verbreek word nie, kan die kragtige greep van wraak verhoudinge en selfs ’n mens se gesondheid verwoes.

Die skade wat onvergewensgesindheid aanrig

Wanneer iemand onvergewensgesind is, lei die geskil wat hieruit voortspruit tot spanning. Spanning kan weer tot ernstige siektes lei. Dr. William S. Sadler het geskryf: “Niemand kan beter as ’n dokter besef hoeveel van mense se siekte en lyding direk toe te skryf is aan bekommernis, vrees, konflik, . . . ongesonde denke en ’n onreine lewenswyse nie.” Maar hoeveel skade rig emosionele ontsteltenis werklik aan? Een mediese publikasie antwoord: “Statistiek . . . het getoon dat twee derdes van die pasiënte wat ’n geneesheer gaan spreek het simptome gehad het wat deur geestespanning veroorsaak is of daardeur vererger is.”

Ja, bitterheid, gegriefdheid en kwaadwilligheid is alles behalwe onskadelik. Hierdie verterende emosies is soos roes wat die bakwerk van ’n motor stadig verweer. Die buitekant van die motor lyk miskien nog mooi, maar onder die verf is ’n vernietigingsproses aan die gang.

Wat selfs belangriker is, is dat ons onsself ook geestelike skade kan berokken as ons weier om ander te vergewe wanneer daar ’n grondslag vir genade bestaan. In Jehovah God se oë kan ons word soos die dienskneg in Jesus se gelykenis. Die dienskneg se heer het hom ’n ontsaglike skuld kwytgeskeld. Maar toe sy mededienskneg hom gesmeek het om hom ’n betreklik nietige skuld kwyt te skeld, was hy hard en onvergewensgesind. Jesus het dit duidelik gestel dat Jehovah ook sal weier om ons ons sondes te vergewe as ons so onwillig is om ander te vergewe (Mattheüs 18:21-35). As ons dus onvergewensgesind is, kan ons ons rein gewete voor God en selfs ons hoop op die toekoms verloor! (Vergelyk 2 Timotheüs 1:3.) Wat kan ons dan doen?

Leer om te vergewe

Ware vergifnis kom uit die hart. Dit sluit in dat ’n oortreder se misstap vergewe word en van enige begeerte om wraak te neem, afgesien word. Gevolglik word uiteindelike geregtigheid en moontlike vergelding aan Jehovah oorgelaat.—Romeine 12:19.

Ons moet egter daarop let dat die hart, aangesien hy ‘bedrieglik is bo alle dinge, ja verdorwe is’, nie eers wanneer hy moet altyd bereid is om te vergewe nie (Jeremia 17:9). Jesus self het gesê: “Uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.”—Mattheüs 15:19.

Gelukkig kan ons hart geleer word om te doen wat reg is. Maar die onderrig wat ons nodig het, moet van ’n hoër bron kom. Ons kan dit nie op ons eie doen nie (Jeremia 10:23). ’n Goddelik geïnspireerde psalmis het dit besef en God se leiding gevra. Hy het Jehovah in gebed gesmeek: “Leer my u insettinge! Laat my die weg van u bevele verstaan.”—Psalm 119:26, 27.

Volgens ’n ander psalm het koning Dawid van eertydse Israel mettertyd “die weg” van Jehovah “verstaan”. Hy het dit self ervaar en daaruit geleer. Daarom kon hy sê: “Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.”—Psalm 103:8, 13.

Ons moet leer doen wat koning Dawid gedoen het. Ons moet biddend God se volmaakte voorbeeld van vergifnis, asook dié van sy Seun, bestudeer. Sodoende kan ons leer hoe om uit die hart te vergewe.

Maar sommige sal heel moontlik vra: Wat van ernstige sonde? Moet alle sondes vergewe word?

Die strewe na balans

As iemand ’n ernstige onreg aangedoen is, kan die pyn baie erg wees. Dit is veral waar as iemand die onskuldige slagoffer van ’n ernstige sonde is. Sommige kan selfs wonder: ‘Hoe kan ek iemand vergewe wat my kwaadwillig verraai en seergemaak het?’ In die geval van ’n growwe sonde waarvoor iemand uitgesit kan word, moet die slagoffer dalk die raad van Mattheüs 18:15-17 toepas.

Baie hang in elk geval van die oortreder af. Was daar sedert die oortreding enige teken van opregte berou? Het die sondaar verander, miskien selfs werklik probeer vergoed? In Jehovah se oë is sodanige berou ’n sleutelfaktor vir vergifnis, selfs in die geval van verskriklike sondes. Jehovah het Manasse, een van die goddeloosste konings in Israel se geskiedenis, byvoorbeeld vergewe. Op grond waarvan? God het dit gedoen omdat Manasse hom uiteindelik verootmoedig en van sy gruwelike weë bekeer het.—2 Kronieke 33:12, 13.

In die Bybel beteken ware bekering ’n opregte verandering van gesindheid, hartgrondige berou oor enige sondes wat gepleeg is. Waar dit gepas en moontlik is, gaan bekering gepaard met ’n poging om die slagoffer van die sonde te vergoed (Lukas 19:7-10; 2 Korinthiërs 7:11). Waar daar nie so ’n bekering is nie, vergewe Jehovah nie.a God verwag bowendien nie dat Christene diegene moet vergewe wat eenmaal geestelik verlig was, maar wat nou opsetlik en onberouvol verkeerde dinge beoefen nie (Hebreërs 10:26-31). In uiterste gevalle is vergifnis heel moontlik nie gepas nie.—Psalm 139:21, 22; Esegiël 18:30-32.

Afgesien daarvan of vergifnis moontlik is of nie, wil ’n slagoffer van ernstige sonde moontlik ook ’n ander vraag oorweeg: Moet ek in ’n toestand van ernstige emosionele ontsteltenis bly en bitter seergemaak en woedend voel totdat die saak heeltemal opgelos is? Kyk na ’n voorbeeld. Koning Dawid was bitter seergemaak toe sy generaal, Joab, Abner en Amasa, “twee manne, regverdiger en beter as [Joab]”, vermoor het (1 Konings 2:32). Dawid het met woorde en ongetwyfeld ook in gebed tot Jehovah aan sy woede uiting gegee. Maar mettertyd het die felheid van Dawid se gevoelens waarskynlik afgeneem. Hy is nie tot aan die einde van sy lewe deur woede oorheers nie. Dawid het selfs voortgegaan om saam met Joab te werk, maar hy het nie hierdie onberouvolle moordenaar eenvoudig vergewe nie. Dawid het toegesien dat geregtigheid op die ou end geskied.—2 Samuel 3:28-39; 1 Konings 2:5, 6.

Dit kan tyd en werk verg voordat diegene wat deur die ernstige sondes van ander seergemaak is oor hulle aanvanklike woede kom. Die genesingsproses vind dalk baie makliker plaas wanneer die oortreder sy sonde erken en berou toon. Maar ’n onskuldige slagoffer van sonde behoort troos en verligting te vind in sy kennis van Jehovah se geregtigheid en wysheid en in die Christengemeente, ongeag wat die oortreder doen.

As jy ’n sondaar vergewe, moet jy ook besef dat dit nie beteken dat jy die sonde vergoeilik nie. Vir die Christen beteken vergifnis dat hy met vertroue die saak aan Jehovah oorlaat. Hy is die regverdige Regter van die ganse heelal, en hy sal op die regte tyd geregtigheid laat geskied. Dit sluit in dat hy ook die “hoereerders en egbrekers” sal oordeel.—Hebreërs 13:4.

Die voordele van vergifnis

Die psalmis Dawid het gesing: “Want U, o Here, is goed en vergewensgesind en groot van goedertierenheid vir almal wat U aanroep” (Psalm 86:5). Is jy, soos Jehovah, “vergewensgesind”? Dit hou baie voordele in.

Eerstens bevorder vergifnis goeie verhoudinge. Die Bybel vermaan Christene: “Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.”—Efesiërs 4:32.

Tweedens bring vergifnis vrede mee. Dit is nie net vrede met jou medemens nie, maar ook innerlike vrede.—Romeine 14:19; Kolossense 3:13-15.

Derdens help die feit dat ons ander vergewe ons om te onthou dat ons self vergifnis nodig het. Ja, “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”.—Romeine 3:23.

Laastens baan dit die weg vir God om ons sondes te vergewe as ons ander vergewe. Jesus het gesê: “As julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.”—Mattheüs 6:14.

Stel jou voor hoeveel dinge daar in Jesus se gedagte moes gemaal het die middag van sy dood. Hy was besorg oor sy dissipels, die predikingswerk en veral oor sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah. Maar waaroor het hy gepraat selfs toe hy ontsettende lyding aan die folterpaal verduur het? Van sy laaste woorde was: “Vader, vergewe hulle” (Lukas 23:34). Ons kan Jesus se volmaakte voorbeeld navolg deur ander uit ons hart te vergewe.

[Voetnoot]

a Maar Jehovah neem ander faktore in aanmerking wanneer hy vergifnis oorweeg. As ’n oortreder byvoorbeeld nie God se standaarde ken nie, kan sodanige onkunde die skuldlas verminder. Toe Jesus sy Vader gevra het om sy teregstellers te vergewe, het Jesus klaarblyklik van die Romeinse soldate gepraat wat hom tereggestel het. Hulle ‘het nie geweet wat hulle doen nie’, want hulle het nie geweet wie hy werklik was nie. Die godsdiensleiers wat agter daardie teregstelling gesit het, het egter baie groter skuld gehad—en vir baie van hulle was geen vergifnis moontlik nie.—Johannes 11:45-53; vergelyk Handelinge 17:30.

[Prente op bladsy 5]

Het jy die les in Jesus se gelykenis van die onvergewensgesinde dienskneg gesnap?

[Prente op bladsy 7]

Vergifnis bevorder goeie verhoudinge en bring geluk mee

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel